Nuuskommentaar: Keuse tussen bietjie beter of nog slegter

zuma-gordhan-abrahamsDaar lê heelwat kenmerke van de facto-eenpartydenke in die “volksopstand” wat pas beleef is om aanklagte teen min. Pravin Gordhan geskrap te kry. Die “volksopstand” was nie net goed nie, maar noodsaaklik gegewe die implikasies van rommelstatus sou die “regte” mense uitgeskakel word, maar dit kan nie geskied ten koste van die behoorlike ontwikkeling van veelpartydemokrasie nie. En selfs dan het burgerlike organisasies ’n enorme rol om te speel.

Die afgelope weke het ’n debat en tweestryd in Suid-Afrika gewoed wat die voorkoms van ’n stryd tussen lig en duisternis gehad het. En plek-plek is dit met groot entoesiasme gevoer.

Aan die “goeie kant” was die sleutelfiguur, naamlik die minister van finansies, Pravin Gordhan, en aan die “slegte kant” het pres. Jacob Zuma en sy “laksman”, adv. Shaun Abrahams, gestaan.

Breedweg kon Gordhan en sy “vennote” niks verkeerd doen nie, en die president en sy “vennote” niks reg doen nie.

Die sop het duidelik suur uitgeloop. Zuma het Gordhan gruwelik beledig deur tydens die midtermynbegrotingstoespraak ’n uiltjie te knip, terwyl Gordhan in sy toespraak baie duidelik die vinger in Zuma se oog gesteek het deur te verwys na diegene wat van die staat se geld hul eie probeer maak.

Iemand wat tot onlangs nog kwalik geweet het van Abrahams en sy posisie as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, selfs ná sy rol om deur appèlle te probeer keer dat Zuma weer op die meer as 700 aanklagte van onder meer bedrog tereg te staan, het nou kennis geneem van Abrahams nadat Gordhan gedagvaar is om op eina-aanklagte in die hof te verskyn.

Die openbare druk om die aanklagte teen Gordhan te laat vaar was enorm. Die reaksie op ’n selfoon-petisie was onder meer so groot dat die internet gesukkel het om die volumes te hanteer, selfs ná dit rugbaar geword het dat die aanklagte laat vaar gaan word.

Hoewel baie regsgeleerdes en nie-regeringsorganisasies met ’n stewige juridiese grondslag tot die dispuut toegetree het, het dit op die oog af vir baie mense nie om die suiwer juridiese meriete gegaan nie, maar die ontsettende polities lomp proses, soos ’n aankondiging by ’n nuuskonferensie, wat die land se ekonomie oor die afgrond laat huiwer het. Politieke blaps op blaps is hierna begaan.

En met die wolk van ’n moontlike rommelstatus oor die land se kop, is daar nou ’n groot onverdraagsaamheid teenoor politieke uitsprake en optredes wat enigsins die potensiaal inhou om die pad na rommelstatus te teer.

Zuma, en sy ministers Van Rooyen en Zwane, se hofaansoeke oor die openbare beskermer se verslag oor staatskaping, val in hierdie konteks suiwer binne die raamwerk van die “bose” kant. Onthullings soos dat Van Rooyen voor Nenegate sewe keer by die Guptas gaan besoek aflê het, help ook nie om die persepsie te smoor dat duistere magte aan die werk is, en dat ’n invloedryke deel van die ANC hiermee verband hou nie.

En dit is so absoluut reg dat die publiek en hul burgerlike instellings saam met opposisiepartye sterk standpunt inneem.

Tog is daar ook ’n tikkie hartseer hierin opgesluit. Die “volksopstand” teen Zuma en sy kornuite gaan nie nou daaroor om ’n alternatiewe regering te begin posisioneer nie, maar om hand en tand te veg om die “beter” groepering binne die ANC op te hemel en in beheer te probeer kry. So sterk is die stroom dat die Zuma-lojaliste wat Zuma self in sleutelposte aangestel het sterk in die stroom begin buig en plek-plek begin lyk of hulle dalk losgespoel gaan word – of dan in een geval rondom die SAL, losgewaai kan word.

Dit dra in vele opsigte die kenmerke van ’n eenpartybedeling, en solank daar nie met ’n oop gemoed buite hierdie kassie gedink kan word nie, bly dit ook ’n geval van ’n keuse tussen die beter van twee euwels.

Die oplossing lê ook nie in ’n tweepartystelsel, of de facto-tweepartystelsel soos in die VSA nie. Soos sake nou staan, gaan die Amerikaners binnekort tussen twee kandidate moet kies wat albei erg omstrede is. Ja, tegnies is daar ’n derde, Libertynse, en selfs ’n vierde (’n Groene) keuse. Trouens, dit word aanvaar dat die Libertynse kandidaat loshande die beste van die kandidate is, maar hy sal na verwagting nie meer as vyf persent van die stemme kry nie. Die Amerikaanse kiesers se koppe is tot hul eie nadeel vasgeklem in ’n tweeparty-denkwyse.

Terwyl dit reg is dat die regerende ANC gedruk word om sinvol in belang van die land te regeer, moet die oog daarop gehou word dat dit in ’n demokrasie in die finale stadium handel oor ’n nuwe regering, en met die Suid-Afrikaanse kiesstelsel, waarskynlik ’n koalisie waar daar dan binne die koalisie kragte aan die werk is om ’n skoon regering te verseker.

Maar algemene verkiesings vind nie elke dag plaas sodat ’n regering wat ontspoor tot orde geroep kan word nie. Daarom is burgerlike instellings soos die Solidariteitbeweging, Outa en ander so belangrik om selfs die howe in te span om die regering tot orde te roep.

Hiermee saam speel ’n vrye media ook ’n groot rol – iets wat nie oral ter wêreld sonder meer ’n gegewe is nie. Volgens Verslaggewers Sonder Grense se jongste nuusbrief het die aantal joernaliste wat vanjaar reeds in die uitvoering van hul werk dood is, die 50-kerf bereik. Die meeste, naamlik 12, het in Meksiko omgekom waar ’n hewige dwelmoorlog woed.

Sirië (7), Irak (6), Jemen (5) en Brasilië (4) het vir die meeste van die ander sterftes gesorg.

Hierbenewens is 147 joernaliste oor die hele wêreld in aanhouding.

Voorts het 9 internet-joernaliste gesterf, en 152 bevind hulle agter tralies. Altesaam 8 media-assistente is dood, en 15 is in aanhouding.

Opposisiepartye kan ook nie in die tyd tussen verkiesings op hul louere rus nie. Hulle moet trouens hard werk om by die publiek die vertroue te wek dat hulle ’n beter regering sal vorm as die “goeie faksie” in die regerende party.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan ·

Die Here het verwaring onder hulle ingestuur.- gee tyd, en bly glo.

Vytjie ·

Ek stem Jan. Die Here se ook ons sal sien hoe hulle in verskillende rigtings vlug en beswyk

Grassie ·

Weereens ‘n uitstekende bydrae deur Herman wat ‘n mens tot nugtere denke stem.
Die kenmerke van ‘n eenpartybedeling waaroor berig word is volgens my mening op hierdie tydstip, op die kort termyn, noodsaaklik om die Zuma – “empaaier” te sink voor 2019. As hy dan nog aan bewind is, en steeds in ‘n magsposisie, voorsien ek ernstige probleme wat tot burgerlike opstand gaan lei, en na anargie. Dit is in landsbelang dat die opposisie die ” goeie faksie” nou ondersteun. Sodra Zoempas & Kie gesink is behoort die opposisiepartye te konsolideer en die ANC met mag en mening aan te vat, want die ANC bly die ANC wat ons nie ons grond, ons taal, ons voorspoedige voortbestaan in hierdie land gun nie.

Pieter Pille ·

Grassie, reg raakgevat, eers die eerste hekkie oorkom en dan die wat dan nou gesien word as die “goeie faksie” wat nog steeds ANC beleid sal uitvoer teen blank, teen Afrikaans asook teen deursigtige landsbestuur vir almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.