Nuuskommentaar: Kieslyste ’n beheptheid met sub-middelmatigheid

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse regering se herhaalde verklaring van erg gebrekkige verkiesings in Zimbabwe as “vry en regverdig” het kommentators laat waarsku dit voorspel niks goeds vir wat uiteindelik in Suid-Afrika as “vry en regverdig” aanvaarbaar sal wees nie. Met die adresdebakel van die OVK, en ná die gebreke in die Tlokwe-tussenverkiesings reeds gebruik is om bedrog te pleeg, is die vraag nou voor die deur geplaas. Werkbare maar terselfdertyd bevredigende oplossings moet nou gou gevind word.

Gans te veel vrae bly onbeantwoord ná die OVK nou al ’n paar keer probeer verduidelik het hoekom ou kiesers se name of adresse, of albei, van die kieslys verdwyn het. Hoe gebeur dit byvoorbeeld dat iemand wat met die vorige registrasiegeleentheid gaan seker maak het sy besonderhede is reg, die afgelope naweek toe hy weer gaan doodseker maak het, moes agterkom dat hy nou volgens die OVK geen adres het nie?

Of ’n gesin van drie wat destyds saam-saam geregistreer het, het twee verskillende adresse, albei hopeloos verkeerd, terwyl die derde adresloos is? Volgens die OVK is daar fout met 16 miljoen Suid-Afrikaners se adresse.

Hoe kon so ’n chaos ontwikkel het terwyl die wet sedert 2003 bepaal dat kiesers se adresse op die kieslys moet wees – en dit boonop die korrekte adresse?

Op die sosiale media loop die suur sop behoorlik uit, en volgens mediaberigte is die publiek hoogs ontstoke. Ook Maroela Media het ’n paar hoeke in die see gehad, en die vangs van probleme was ontstellend.

Die kanse is ook goed dat die ontevredenheid sal bly kook solank die OVK se verduidelikings nie strook met die ondervindings wat mense in die praktyk beleef het nie. By baie sal dit noodwendig die vermoede laat ontstaan dat die een of ander vorm van vuil spel teenwoordig was.

Die ergste is dat vuil spel wel deeglik reeds plaasgevind het met die tussenverkiesings in Tlokwe.

Dit is moeilik om te begryp hoe die OVK in die eerste plek kon dink adresse is nie belangrik nie. Met munisipale verkiesings word daar naas die proporsionele setels ook vir kandidate gestem om spesifieke geografiese wyke in die munisipale rade te verteenwoordig. Trouens, die helfte van die raadslede is proporsioneel. Vanselfsprekend moet die kiesers wat vir ’n kandidaat in ’n bepaalde wyk stem, die een of ander belang by daardie wyk hê, en volgens die kieswet is dit dat hy daar moet woon. Of anders gestel, hy moet ’n woonadres daar hê.

Min of meer dieselfde geld vir provinsiale verkiesings. Dit kan immers nie aanvaarbaar wees as groot getalle kiesers uit provinsies waar ’n party ’n groot “surplus” aan kiesers het, na ’n ander provinsie aangery word om te keer dat dit in opposisiehande val nie.

Die konsep van die plooiing van stemme is nie vreemd nie. Die  woord “gerrymandering” het in 1812 in die Amerikaanse deelstaat Massachusetts ontstaan toe die destydse goewerneur, Elbridge Gerry, die kiesafdelingsgrense vir senatore so getrek het dat dit sy Demokratiese Party bevoordeel. Om ’n Demokratiese meerderheid in een van die kiesafdelings te verseker is die grense daarvan so getrek dat dit soos ’n salmander gelyk het.

Om dit vir kiesers moontlik te maak om op ’n bedrieglike wyse in die verkeerde wyke te stem, word meer as net gerrymandering gepleeg, daar word bedrog gepleeg.

Verkiesingsbedrog is ’n ernstige saak. In die vorige bedeling is ’n jong LP tronk toe gestuur nadat hy onder meer dooies vir hom laat stem het.

Die OVK se verweer dat baie mense in informele gebiede woon en geen formele adresse het nie, gaan nie behoorlik op nie. Om ’n selfoon, TV of bankrekening te besit moet ’n persoon nie net ’n woonadres hê nie, hy moet dit bewys ook. Daar moet gereeld ge-Fika en ge-Rica word, en dis nie altyd so maklik nie, want mense wat byvoorbeeld op plase woon se pos gaan na posbusse in die stad of dorp – hulle het dus nie noodwendig ’n geskrewe bewys van woonadres nie. Maar daardie probleme word oorkom.

Maar die OVK, waar die bewyslas van ’n adres veel minder is, het as rede vir hul traagheid om adresse (reg) op te neem aangevoer dis moeilik om adresse aan inwoners van informele woongebiede te gee – van dieselfde mense wat tog ge-Fika en ge-Rica kon word. (Het die OVK nog nie van GPS as moontlike oplossing gehoor nie?)

Ten spyte van die bewese bedrog wat met die Tlokwe-tussenverkiesings gepleeg is, het die OVK die adreskwessie opnuut na die konstitusionele hof geneem. Dit word op 9 Mei aangehoor, en tensy die konstitusionele hof, soos dit sy gebruik is, met ’n vindingryke uitspraak kom, al is dit net om die verkiesing wat vir 3 Augustus geskeduleer is te beredder, is daar ’n groot logistieke moeilikheid. Media 24 se opskrifte lui vanoggend juis “Verkiesingsramp dreig”.

Kommentators waarsku al lank dat die wyse waarop Suid-Afrika die een bedenklike verkiesing in Zimbabwe ná die ander as “vry en regverdig,” of “voldoende vry en regverdig” verklaar rede tot kommer bied oor wat die regering in Suid-Afrika as vry en regverdig, of voldoende vry en regverdig sal beskou.

’n Koerant het by geleentheid in sy hoofartikel die ANC-regering van ’n “beheptheid met middelmatigheid” beskuldig, maar wat ons op talle terreine sien is nie middelmatigheid nie, maar sub-middelmatigheid om dit sagkens te stel.

Tot tyd en wyl die OVK meer bevredigende antwoorde verskaf, sal die vermoede bestaan dat die kommissie bereid was om die verkiesing op ’n wyse te laat verloop wat baie ver verwyder is van die normale begrip van ’n vry en regverdige verkiesing. Die OVK is, soos die openbare beskermer, ’n hoofstuk 9-instelling van die Grondwet (art 190). Artikel 190 (1) (b) van die Grondwet vereis dat die OVK moet verseker dat verkiesings vry en regverdig verloop. Soos sake nou staan, lê daar harde werk vir die OVK voor, nie net om brouwerk reg te stel nie, maar om die skade wat sy beeld veral sedert die Tlokwe-tussenverkiesings gelei het, herstel te kry.

Stemreg is nie die enigste demokratiese middel in die hande van burgers nie, maar dis waarskynlik die belangrikste. Om kiesers moontlik weens administratiewe laksheid of ander duistere redes te ontkieser, is baie ernstig.

Die OVK moet nou vinger trek as die konstitusionele hof nie nou ’n tegemoetkomendheid improviseer nie. Daar rus wel ook ’n verantwoordelikheid op kiesers om die perd op te saal en na die OVK-kantore te gaan om seker te maak. Daar is egter baie mense wat weens gesondheids- of werksredes dit nie kan doen nie, of dit baie moeilik kan doen, veral as die miljoene wie se adresse soek is saam met ander wat bang is hul adresse het ook voete gekry, in die kort tydjie wat oor is op die kantore toesak en daar dalk lang ure gewag moet word.  Bedlêendes wat sonder dat hulle die geringste aandeel daarin het, nou skielik ontkieser is en op die aarde niks daaraan kan doen nie, is maar een tragiese maar onaanvaarbare gevolg.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarie ·

Miskien is dit ‘n manier om sekere mense met sekere vanne waarvan die ANC seker is dat hulle nie vir hulle gaan stem te verwyder. Dit word dan lukraak gedoen en moontlik is een gesinslid nog op die lys. Miskien moet die howe ‘n lys van die adresloses aanvra. Sal nie verbaas wees die meeste is in die Wes-Kaap nie. Waar lieg en bedrieg inkom is hulle defnitief nie middelmatig nie, maar briljant.

Tiger ·

Hier is sonder twyfel by my en my man dat ‘n geknoeiery deur die OVK gepleeg is.Iets MOET hieraan gedoen kan word deur die talle opposisie partye??Van vry en regverdige verkiesings vorentoe sien ons niks as dinge nie DRASTIES verander word by die OVK nie.Van ‘n demokratiese verkiesing is daar geen sprake nou nie.

Bielie ·

Lyk my die aanstelling van die nuwe OVK kommisaris deur JZ is vooraf deur die Guptas goedgekeur. Hier kom ‘n geknoeiery waar stembusse verdwyn en weer later gevind word met nuwe stembriefies in.

Otter ·

Ek dink dis onwaarskynlik dat die OVK dit sal regkry om betyds vir Augustus hulle sake reg te kry. Dit is baie sleg dat adresse verdwyn want ek het geen bewys dat ek eens gerigestreer was nie.

Johannes Meintjes ·

Ek gaan stem in die komende munisipale verkiesings in Aug 2016, en verwag van OVK verkeisingsbeamptes om my met ‘n ondertekende brief by die stemlokaal toe te rus as ek nie kan stem nie, met welke brief daar vervolging vir OVK/ ANC/ regerings pligsveruim, wanadministrasie en verkeisingbedrog moet kan plaasvind

Martie ·

Ag tog, dis maar net nog ‘n manifestering van totale onbevoegdheid. En ja, hiermee saam, patetiese pogings om bedrog ongesiens te pleeg. Solank as wat die meeste leiers (op alle vlakke) geen integriteit het nie, sal ons met hierdie soort gemors opgeskeep sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.