Nuuskommentaar: Kinderbeskermingsweek en die Z-generasie

kindersDie “Z-generasie” is nie die jong geslag wat die wrange vrugte van die Zuma-bewindsera gaan pluk nie, hoewel daar ironies reeds vele parallelle getrek kan word. Die Z-generasie volg op die Y-generasie oftewel die millennium-generasie, wat op hul beurt op die X-generasie (baby boomers) gevolg het en hulle op die generasie gevolg het wat die Tweede Wêreldoorlog en depressie beleef het.

Elke generasie het omstandighede probeer skep wat hulle gemeen het beter is as dít wat hulle self beleef het. Geleidelik het die eise aan die jonger geslag om altyd te presteer toegeneem, omdat dit eintlik die enigste waarborg sou wees om kop bo water te hou, en selfs uit te presteer.

En nou is die Z-generasie op pad, en die vooruitsigte klink nie goed nie. Dit is die geslag wat die nagevolge van die wêreld-ekonomiese krisis die hoof sal moet bied, hulle word gekonfronteer met die realiteit van hoë werkloosheid onder die jeug. Klimaatsverandering word ook hul erfenis, en so ook die energiekrisis. En, so lyk dit, tref hierdie aspekte die Suid-Afrikaanse Z-generasie boonop in die oortreffende trap.

In Suid-Afrika sou dit nie heeltemal onvanpas wees om hierdie generasie die Zuma-generasie te noem nie. Terwyl die Z-generasie in groot dele van die wêreld die tweede generasie is van rekenaars, selfone en ander tegnologie, spook ‘n groot deel van die Z-generasie hier met probleme soos die aflewering van skoolboeke; loodswaaier-leerkragte wat deur Sadou in watte toegedraai word; ‘n baie lae deurloopkoers van graad 1 tot matriek; en vir diegene wat matriek geslaag het, kom daar dikwels die ontnugtering dat die sertifikaat dikwels net deug om te raam en op te hang. Tersiêre inrigtings kla dat matriekvrystelling dikwels geen aanduiding is dat die jongeling geskikte universiteitsmateriaal is nie, en oorbruggingskursusse moet gevolg word.

Op die internasionale vlak word verwag dat die Z-generasie meer entrepreneursingesteld sal wees as die Y-generasie.

Intussen beskou baie analiste die Y-generasie as allermins gelukkig. Die Y-generasie self meen dikwels dit hou daarmee verband dat die X-generasie soveel druk op hulle plaas om te presteer. Hul klasmaats het nie meer die status van vertrouelinge met wie ernstige sake bespreek kan word nie, maar is konkurrente. Hulle kan nie waag om te leer vir dit wat hulle self graag wil word nie, maar hulle moet studeer vir dit waaraan daar behoeftes is. Die X-generasie beskryf die Y-generasie se ongelukkigheid dikwels as die gevolg van die realiteit wat nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Gister was Internasionale Kinderdag en ook wêreldwye ouerdag. Woensdag 4 Junie is dit internasionale kinderbeskermingsdag. In Suid-Afrika het kinderbeskermingsweek ook gister afgeskop.

Die sogenaamde ‘Huis van Gruwels’ het vanjaar ‘n baie sterk boodskap oor die belang van kinderbeskermingsweek uitgestuur. Waar internasionale kinderdag en die wêreldwye ouerdag eintlik die viering van gesonde verhoudinge tussen ouer en kind moes simboliseer, was daar bykans geen erkenning van of verwysing na die ouerdag nie, en kinderdag is in wese gelyk gestel met Woensdag se internasionale kinderbeskermingsdag – of meer korrek, internasionale dag vir onskuldige kinderslagoffers van aggressie.

Hoeveel kinders gaan die lewe met ʼn agterstand tegemoet omdat hulle met fetale alkoholsindroom gebore is? Plek-plek het Suid-Afrika van die hoogte voorkoms ter wêreld. Dan is daar kinderverkragtings van beide geslagte, ontvoerings en kort-kort word ‘n kindjie se lykie na ‘n groot soektog tussen die duine gevind.

Hoeveel kinders gaan honger skool toe? Voedingsprojekte word nie net tot skole beperk nie, maar selfs by sommige universiteite voortgesit. Die platinumkrisis plaas nie net die lot van stakende mynwerkers en hul gesinne in die platinumgordel sowel as die Oos-Kaap in die soeklig nie, maar ook die gesinne van nie-stakers. So skryf die Hervormde Kerk se leierskap in ‘n omsendsrywe aan alle gemeentes dat die staking nou krisisafmetings aanneem, en benewens die myne word kontrakteurs, sakeondernemings, skole en kerke word geraak.

‘n Aspek waarmee ‘n deel van Suid-Afrika se Z-generasie te make kry, is dat hulle gehoor gee aan die oproepe om te presteer. Hulle behaal ongelooflik baie onderskeidings in matriek – en word dan reeds vir hul velkleur gestraf deur nie vir kursusse van hul keuse gekeur te word nie. Hulle is intelligent, maar daar word van hulle verwag dat hulle die transformasieprys ter wille van nie-rassigheid moet betaal.

Hierna gaan hulle hul nog in werksaansoeke om dieselfde rede vasloop. Later met bevordering.

Die ironie is dat die Zuma-generasie as baie sterk protes manifesteer in die opkoms van Julius Malema en sy EFF. Waar Malema nog enkele jare gelede voor Zuma vir ‘n groot skare in Botshabelo gesê hy sal doodmaak vir Zuma, is hy nou een van Zuma se mees geswore vyande.

Terwyl ons hierdie week opgeskerp word oor kinders wat onder ons neuse hulp nodig het – laat ons nie vergeet dat die week met ouerdag en kinderdag afgeskop het nie. As jou kinders nog in die huis is, verseker hulle van liefde en die wil om hulle te ondersteun. As hulle al uit die huis is, tel die telefoon op en verseker hulle dat jou hart se punt na hulle trek. En die kinders kan maar ook laat blyk dat hulle hul ouers waardeer en liefhet.

Dan sal die geestesknale oop wees om die werklike lyding aan die ander kant van ons drumpel raak te sien en ‘n hart daarvoor te hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.