Nuuskommentaar: Kiss, S.O.C.C.E.R., en nou ‘The Good, the Bad and the Ugly’

Foto: Maroela Media

In hierdie ongewone nuuskommentaar word ’n tong-in-die-kies‑gids saamgestel om kiesers te help kies uit die groot verskeidenheid partye wat aan die 2019 algemene verkiesing gaan deelneem.

Suid-Afrikaners gaan in 2019 weer ’n groot verskeidenheid partye hê om uit te kies wanneer hulle hul kruisies gaan trek. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie is 563 partye geregistreer. Nie almal sal egter deelneem nie – die deposito’s is groot, veral op nasionale vlak.

Tog, sedert 1994 kon alle kiesers hul stemme uitbring vir partye met die vreemdste name en die vreemdste beleide. Sommiges het ten spyte van enorme bedrae wat aan deposito’s verloor is omdat hulle nie ’n enkele setel kon verower nie, meer as een verkiesing uitgehou.

Agter dié vermoë skuil natuurlik minstens een persoon met volop geld. Eksentriek wees, is dikwels ook deel van die pakket, soos die stigter en leier van een van die partye met ’n vreemde naam wat ten tyde van ’n onthaal by haar luukse woning voor die gaste kaalbas in die swembad gaan spring het.

Die leser wat nie reeds weet watter party dit was nie, kan maar ’n raaiskoot waag.

Ander partye gooi na een verkiesing die handdoek in. Een so ’n party was een wat hom vir die afskaffing van persoonlike belasting beywer het. Dit het, vreemd genoeg, nie genoeg stemme vir ’n setel getrek nie. Met die land se huidige hoë belastingkoers wonder ’n mens of die party nou weer ’n probeerslag van stapel kan stuur.

Met die 1994-verkiesing het Afrikaans ook ’n harde hou op die neus gekry. Nie net het die oorgrote aantal partye net Engelse name geregistreer nie, maar Afrikaanse joernaliste, soms bygestaan deur politici, het met Afrikaanse terme begin kleitrap. So het “setels” knaende “sitplekke” geword, ook in groot Afrikaanse dagblaaie. Ook Patricia de Lille, nou van die Good-party, het jare gelede al verduidelik hoeveel “sitplekke” sy wil verower. Dis natuurlik afgelei van die Engelse “seat”.

Nog so ’n abortiewe “vertaling” is die gebruik om ’n artikel in ’n wet, met “afdeling” te gaan vertaal. Dis natuurlik baie beter as om die Engelse “section” met “seksie” te gaan vertaal. Selfs ervare joernaliste volhard met dié seksie wetgewing.

Dit is seker onbillik om De Lille se nuwe party, Good, se naam in dieselfde gees te adem as Kiss en S.O.C.C.E.R. Maar werklikwaar … die naam leen hom daartoe.

Maar as De Lille se party die Good-party is, watter is die “the Bad and the Ugly”?

Kandidate is volop. Onder Jacob Zuma, so blyk dit nou uit getuienis voor die Zondo-kommissie en uit die verslag van die Nugent-kommissie, sou die ANC loshande met die titel van “bad” politieke party weggestap het. Nou, so lyk dit, sal die EFF en die BLF sterk kompetisie bied. Miskien sou ’n nuwe naam, HS & R Front (Hate Speech & Racist Front) die EFF beter pas. Die BLF sou dan kon doen met ’n nuwe naam, HS & R Party on Steroids.

En die Ugly? Dis nou ’n gevoelige kwessie. Zuma se kabinet sou van die ANC ’n gedugte kandidaat maak. In alle billikheid, een van die skoonhede is ook een van die beste ministers, hoewel sy die amptelike tale van die SA Ruimte-agentskap tot Sepedi, Zoeloe en Engels gaan beperk het.

Maar oor die algemeen is hierdie groepie ook diegene op wie se ontslag die publiek die hardste aandring – nie oor hul “skoonheidsvlakke” nie, maar oor hul geskiktheid en bekwaamheid as ministers. Een se kop het wel gerol. Sy oorweeg glo om die Faith Party te stig.

Dan tree Hlaudi Motsoeneng, voormalige de facto-grootbaas van die SAUK, ook tot die verkiesing toe. Sy party kon nie ’n beter naam kies as Arrogance Party nie.

’n Nuwe sosialistiese werkersparty gaan ook deelneem, glo die Utopia Party.

Daar steek geen waarheid daarin dat die DA sy naam na die Anti‑colonialist Heritage Party wil herdoop nie. Buckshot in the Bottom League word ook nie oorweeg nie.

Die komende verkiesing sal ook toon of ’n beter naam vir Cope nie Cannot Cope is nie.

En by watter party sou die naam, “Stupid Party” die beste pas?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HPV ·

Die stembrief sal seker in boekvorm met ‘n inhoudsopgawe uitgegee word.

Gert ·

Eintlik is “sitplek” in hierdie land ‘n meer gepaste term as “setel”, want loshande die meeste sit net en wag vir hulle pay.

Paul ·

Herman, wat so lekker is, dit interessant maak, is as iemand wat wyd belese en ingelig is, sy produk keurig aan die lesers (sy aanhangers?) kan voorsit. As mens koffie kan ruik, kan jy die verskillende geure waarin jy jou skrywes voorsit ewe eens ervaar. Vandag bv ruik ek Jacobs Krönung, nou die dag het ek Voortrekker geruik, more is dit dalk Vyf Rose, of Laager Rooibos se beurt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.