Nuuskommentaar: KKNK se nag van lang messe

Argieffoto

Argieffoto

’n Spesiale TV-opname met Steph Hofmeijr, Beesstert *issing en Preek Komkommerson.

Die toneel speel hom af in ’n nagemaakte saal van die Kangogrotte waar Preek ʼn regstreekse opname doen vir KTV en Intertass. Sy gaste by hierdie spesiale uitsending is Steph Hofmeijr en Beesstert *issing. Die akteurs is nie outentiek nie, want die oorspronklike Steph is persona non grata by die KKNK en die oorspronklike Beesstert kan nie Afrikaans praat nie. Sagte gekleurde liggies skyn deur die nagemaakte stalagmiete en stalaktiete wat deur die Graad 3’s van die laerskool Neelsie gebou en blink gepolitoer is. Daar is nie veel mense in die gehoor nie, want Steph se ondersteuners boikot mos die KKNK.

Preek: “Goeienaand aan ons gaste Steph en Beesstert, ons gehoor en die kykers tuis.”
Steph (bot): “Goeienaand.”
Beesstert: “Halala Preek, en hoekom is Steph so suurg*t?”
Steph gee vir Beesstert ’n sn*tklap dat daar ʼn yslike wit kraak oor Beesstert se voorkop verskyn. “Lyk my jy weet nie dat ek hier by die KKNK nogal knap is om mense se bril van hul koppe af te klap as hulle k** kwytraak nie.”
Beesstert, huilend: “Maar my naam is nie Jon-Jon Jouplassie nie! En wat van vryheid van spraak?”
Steph: “En wat van vryheid om te twiet? Namens wie praat jy nogal? Namens die swart van jou vel, of die wit wat deur die kraak wys? Jy’s ʼn coconut man!”
Preek: “Stadig mense, ons het nie te goed begin nie. Ons moet mekaar ’n bietjie ruimte gun.”
Steph: “Maar hy het begin! Tipies van iemand wat na Jan van Riebeeck verlang!”
Beesstert: “Maar om skoor te soek en die ander ou in die rede te val is my hele repertoire! Daarsonder is ek niks!”
Steph: “Vertel ons iets wat ons nie weet nie. Jy het darem nog jou groot bek al is jy net iemand se handpop! Go figure.”
Beesstert: “Noem jy ’n swart pop iemand se handpop? Dis mos rassisties!”
Steph: “’n Coconut-handpop.”
Preek: “Stadig, stadig mense, laat ons mekaar nie nou met die teerkwas… e ê oor rassisme beledig nie. Wat dink julle van pres. Jacob Zuma?
Beesstert: “Halala, Umshini wami.”
Preek: “Steph, jy sê dan niks.”
Steph: “Ek kan niks sê van iets waarvan ek niks dink nie.”
Beesstert terwyl hy Steph om die nek gryp: “Maar dan is ons mos bloedbroers!”
Net daar breek beurtkrag aan, maar voor die klank ook uitdoof word ’n vreeslike gekraak gehoor. Oor die dorp, waar daar weens die Steph-boikot in elk geval nie veel mense is nie, raak die effense geroesemoes ook stil.

Die “uitbeelding” hierbo is so absurd dat dit stellig nie tot die satire gereken kan word nie, maar dit raak die aan ’n paar werklikheidslyne wat deur die land loop. Die beurtkrag en nie ideologie nie, slaan bykans oral, behalwe Nkandla, ewe hard. Links, regs en die middelgrond is hartlik siek van Zuma.

Maar wat nog grootliks as ’n relletjie buite die hoofstroom voorgehou word, is daar ’n veldtog hoofsaaklik in die kuberruim om die KKNK te boikot.

Die ideologie, uitgangspunte, motiewe en ander oorwegings agter die hele debakel is kompleks, baie kompleks. Die feit dat dit in ’n kunste-omgewing plaasvind waar die grense van wat te banaal, te gewaagd is, baie verder as in die “gewone” samelewing lê, maak dit nog komplekser.

Die baie duisende mense wat reeds hul steun aan die Boikot KKNK-veldtog toegesê het, moet reeds gevaarligte laat flikker. Oudtshoorn se ekonomie reken op die stewige inspuiting wat die KKNK jaarliks bring. Dit wissel van afgetredenes wie se huise ’n ruk lank as gastehuise dien, tot bitter armes wat hetsy as deel van die hoofstroomverrigtinge of daarbuite handewerkies en ander ten toon stel. Selfs net ’n gedeeltelike suksesvolle boikotaksie gaan nie net die organiseerders hard slaan nie, maar ’n massa onskuldige mense wat niks met die hele saak uit te waai het nie.

Uiteindelik is die meriete of Steve toegelaat moes gewees het ’n bysaak. Hy het immers self weens ander planne nie ’n voorstel voorgelê om deel te neem nie. Die organiseerders het dit egter op ʼn uiters onvolwasse manier nodig geag om aan te kondig dat Steve in elk geval nie welkom sou wees nie.

Om Steve van rassisme en soortgelyk te beskuldig (al is hy sover bekend nog nooit daaraan skuldig bevind nie) is effe pikant teen die agtergrond dat ANC-gesinde kunstenaars skynbaar welkom is, al is die ANC nou op die voorpunt van nie net die toepassing van rassisme nie, maar die aanblaas daarvan. Al ontken Zuma dat sy Jan van Riebeeck-opmerking rassisties is, het sy ontkenning egter juis dit bevestig toe hy nie eers van sy feite gaan seker maak het toe die storm losgebars het nie.

Om bloot te ontken iemand is ’n rassis, is duidelik nie meer genoeg nie. Die persoon hoef maar bloot deur (’n deel van) die media skuldig bevind te word, soms deur die opperste vorme van hoernalistiek, en die skuldigbevinding geld oor die hele samelewing, en die vonnis is elke moontlike vorm van verguising.

Selfs waar die beskuldigde dadelik en onvoorwaardelik om verskoning vra, sal die verguising nie in hul spore stuit nie. Die lyk moet eers opgegraaf en agter ’n perd aan deur die strate gesleep word om die boodskap duidelik tuis te bring.

Voor die derms te ver uitgeryg word, die volwasse manier van doen deur die KKNK-ringkoppe sou wees om met Steve in gesprek te tree en die lug te probeer suiwer. En dan gefundeerde uitsprake te maak.

Daar is egter nou ’n norm gestel, en die KKNK se toets sal nou wees om konsekwent te wees. Daar moet nou ewe hard en verbaal met mense met ’n reputasie of assosiasie met rassisme na alle kante opgetree word, ongeag ideologie, ras of klas.

Die implikasies is selfs meer absurd as die kamma-opname van Preek Komkommerson hierbo. Om te begin, geen joernalis van die Black Journalist Association behoort akkreditasie kry om enige nuusdekking te gee nie. Geen akteur wat lid is van die National Association of Black Actors & Supporters (NABAS) durf toegelaat word om aan die KKNK deel te neem nie, want hul uitgangspunt is ras. Alle Nafcoc-lede se sake-ondernemings op Oudtshoorn behoort geboikot te word, want hulle druk hulself volgens ras uit.

Sportlui van sportkodes wat kwotas afdwing, behoort baie stief by die KKNK ontvang te word.

Of het die KKNK se ringkoppe ’n geheime formule ontrafel om net halfpad rasbehep te wees? Daardie helfte wat op ’n manier aanvaarbaar en selfs wenslik geromantiseer word? So ver bekend het die ANC-regering nog die alleenmandaat daarop.

Dit is nie een of twee keer al gesê nie, maar van ongeveer 1991 het die Afrikaner-hoofstroom afgestap van ras as norm, en probeer om die internasionale norm, soos vervat in die internasionale reg en in artikel 235 van die grondwet vir die identifikasie van minderhede toe te pas. Dit is egter van ANC-kant beantwoord met ’n stel rassewetgewing en -praktyke wat in blote getal waarskynlik ongeëwenaard in die geskiedenis van die wêreld is, met beloftes van verskerping. Dit geld van die wieg tot die graf.

Uiteraard lei dit tot frustrasie en dat daar rassistiese reaksies in veral die kuberruim is, is ongetwyfeld so.

Wanneer die KKNK-ringkoppe die kunste wil reguleer om die opwelling van rassisme hok te slaan, is die blote klap na simptome (aan die een kant) ’n baie oppervlakkige manier van doen. Daar moet eerder na ’n veel omvattender strategie gekyk word wat die kunste se bydrae tot die oorsake, soos of die kunste plaasaanvalle wat byna altyd oor rassegrense heen plaasvind, voldoende aanspreek. En net soos die kunste in die dae van apartheid na die wortel – die regering – geslaan het, so moet die leiers nou ook daarvoor voor stok gekry word.

Dan, en dan eers, word ’n geskryf werklike letterkunde, word skilderye meer as net mooi (en soms ook nie so mooi nie) prentjies, en slaan die uitvoerende kunste die relevansiespyker op sy kop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Nico ·

Nie net moet die KKNK met Steve gesels nie, maar veral ook met Chris Chameleon na sy uitstekende skrywe en teregwysing gister op Netwerk24, hulle het nie ‘n ander keuse nie (dit het nou die kat in die duiwehok losgelaat en sien die mense hom in ‘n toet en taal ander lig, nie net as sanger en kunstenaar nie, maar met beginsels waarmee hulle kan assosieer) en ook met die ander groot kanonne.

Anders kan hier dinge kom wat groter as die KKNK en die ander feeste is soos Inniebos, waaroor hulle spyt sal wees.

Laat hierdie ook ‘n lessie vir die koerante en die regering wees, dié met die agendas.

Hanlie ·

Wat se die ATKV Van alles. Hoekom staan hulle nie nou op nie? Vreemd !!!!!!!!

Peter Briel ·

PLEASE UNDERSTAND THE PRINCIPLE:

We all have to respect a blind person and we must support such a person, but we cannot
turn emotional and allow a blind person to fly an aircraft.

This principle of logical thinking, should be applied in all our circumstances and we should not be called racists.

Nienie ·

Die hele debakel rondom Steve en die kunstefeeste is absurd. Duidelik is hierdie feeste gekaap vir politieke doeleindes. Dit blyk ook in die media dat die borge, wat nou veronderstel was om baie ongelukkig te wees, hulle nie juis aan die debakel steur nie. Dit is soos uitgewys, die arme ringkoppe wat op die feesterade sit. Siestog, hulle wil ook belangrik wees. So by so, dat daar nie `n flenter omgegee word dat dubbele standaarde toegepas word nie. En van wanneer af is Die Stem verbode? Die lied is nie amptelik verban nie en geen landswet word dus oortree nie. Sover ek weet is Die Stem deel van ons volkslied. Sekere groepe kan by sekere plekke net hul deel vd lied sing en geen mediastorm volg daarop nie.

Henry ·

Innie kol Nienie.
Begin van die einde vir ‘kultuur feeste’ waar politieke korrektheid op ons afgedwing word.

Rentia Preite ·

Dit is nou baie goed opgesom. Het die ringkoppe maar liewer stilgebly het die hele herrie nie plaasgevind nie

Henriette ·

Ag wat, die KKNK loop dieselfde pad as die Grahamstad fees!!

Lydia Grobler ·

Stem saam Gaan Steve by Afr is Groot 2015 wees? Indien nie, groot ramp vir Afrikaanse musiek! Baie goeie ander kunstenaars maar hoekom die beste weggooi omdat hy mans genoeg is om nie “go with the flow”

marietjie ·

smile a while and while u smile there be miles and miles of smiles and life wourth while because u smile

Piet Snot ·

Herman, jy’t my nou laat glimlag. As jy nie omgee nie, gaan ek voortaan met jou kalwers ploeg: “Gelukkig is die KKNK darem nie heeltemal rassisties nie; net halfpad”.
Uitstekend.

Eduan ·

Herman dit het my Vrydag gemaak!! Baie goeie stuk. Dankie vir julle daar by Maroela wat nie die Hoofstroom Media se agendas navolg nie.

Marlene ·

Ons woon in ‘n land met vele kulture. Net so trots as wat ek is op my kultuur, is die volgende kultuur ook. Nelspruit en Outshoorn se kultuurfeeate was nog altyd die feeste van Afrikaanssprekendes. So het ander kulture ook hul feeste. Die dag as ons ons kultuur moet inboet omdat dit ander grief, het ons verloor…gaan ons nie meer kan bestaan nie. Dit is ook ons land, ons taal en ons hoef nie daaroor skuldig te voel dat ons aanspraak maak op ons deel nie.

Ella Nell ·

Steve Hofmeyr is beslis nie ‘n rassis nie!! Net omdat hy ons trotse volkslied gesing het, word hy gekruisig! Waarom mag ons nie vashou aan dit wat vir ons kosbaar en eerbaar is nie? DIE STEM is uiters nog steeds ‘n deel van die huidige SA se lied, maar waarom mag ons dit nie voluit en uit volle bors sing soos ons dit geleer het nie? DIE STEM le my nog al die jare baie na aan die hart! En ek onthou hoe ons altyd op aandag gestaan het uit eer vir ons Skepper en Almagtige! Dit gee my nou nog hoendervleis! Dit is deel van ons kultuur en ons SAL dit nie prysgee nie!!

trienie oosthuysen ·

Langenhoven, ‘n skrywer van die einste Oudtshoorn het gesê: Skeur jou weg van jou volk en verwonder jou nie dat die vyand(lees gerus Afrikaanse media en by uitstek Beeld se liberale Basson in ‘vyand’) oormekaar val om jou land in te neem nie. Sal die stiksienige stommerike wat KKNK organiseer dit ter harte neem? Of sidder hulle van vrees dat hulle aanstoot gee?

christien ·

Geen Steve geen kknk Steve is die enigste man wat die rug graad het om op te staan vir afrikaans saam Steve sing ek die stem uit volle bors vir jou suid-afrika

Jan Hartzer ·

Hierdie lot word so deur die ANC en hulle kaders geintimideer dat hulle sonder dat hulle iets gese het hulle sommer self begin reels maak wat hulle op ‘n uiters glade afdraande pad plaas. Ek dink dit is tyd dat mense wat werklik belangstel om die kunste te bevorder sonder om in politiek betrokke te raak aan die stuur van sake kom.

Susan Pieterse ·

Hoekom laat die organiseerders van die kunstefeeste toe dat dit deur politiek gekaap word? Ons offer ons hele kultuur op en buig agteroor om op te maak vir foute wat in die verlede gemaak is. Dit is skokkend om te sien dat daar soveel gatkruipers onder die Afrikaner nasie is…draadsitters..wat nie standpunt kan ineem nie. Wat het geword van vryheid van spraak? of geld dit net vir sekere groepe? Hel rassisme nou nie maar net oor na die anderkant toe nie?? Genoeg is genoeg!

Dawn ·

Sien ons as Afrikaners nie wat aangaan . Ons staan nie saam nie daarom gaan dit so. Hoekom moet ons ons kultuur en kuns prysgee. Die ander kunstenaars kan gerus ook begin saamstaan waar is die ruggraat van ons Afrikaners.

JZ ·

kknk en opdiekoppie moet geboikot word oor hul politieke oordeele want kunste is by hulle tweede,miskien wil hulle die selfde pad loop as Gramstad.Inelk geval het ek meer respek vir Steef hy gee nie toe aandruk van mense wat teen dinge is wat vir afriekaans en wittes na aan die hart le nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.