Nuuskommentaar: Klein begroting: Het die bottel nou gebars?

Minister van finansies, Nhlanhla Nene Foto: Departement van kommunikasie

Minister van finansies, Nhlanhla Nene Foto: Departement van kommunikasie

Die meer optimistiese ontleders soos Nedbank se Ekonomiese Eenheid meen die regering het ’n baie eng ruimte om op die pad van fiskale konsolidasie te speel.

Die meer negatiewe kant, soos  die hoofekonoom van Investment Solutions, Lesiba Mothata, twyfel of die regering in staat sal wees om te hou by sy voorneme om die bruto staatskuld op 50% van die BNP te stabiliseer. (Staatskuld het van die afloop van die resessie van 26% tot 47% vanjaar toegeneem, aldus Sacci.)

Min. Nene het juis ná afloop van die minibegroting aan verslaggewers gesê hy verwag nie die land sal verder afgegradeer word nie omdat beoog word om die staatskuldvlak te stabiliseer.

Waaroor daar konsensus is, is dat die staat se uitgawes danksy rojale uitgawes en ’n te groot staatsdiens met ’n hopeloos te groot gemiddelde salarisrekening per amptenaar vir die staat onhoudbaar is. Dié nuus is egter allesbehalwe nuut en ekonome maan al lankal vrugteloos teen ’n muur waar die kabinet se ekonomiese portefeuljes deur kleiharde kommuniste beheer word. Daar is ook al ’n ruim geskiedenis van burgemeesters wat hulle eenvoudig aan die minister se besparingsmaatreëls afvee soos met die aanskaf van luukse vuurwaens. Sal nou op groter skaal gehoor gegee word?

’n Groot deel van die probleem kan natuurlik na Suid-Afrika se enorme groot kabinet teruggevoer word waar die belaglike situasie bereik is dat Suid-Afrika 35 ministers het, en die VSA sewe. (Die VSA is ’n suiwerder federasie wat wel reeds uitgerafel is en ’n groot hoeveelheid adjunkministers verg.)

Die ironie is dat daar in die VSA ’n liederlike stryd woed met enersyds diegene wat meen die staat se aandeel in die samelewing het onder die bewind van pres. Barack Obama te groot geword, en andersyds diegene wat meen daar is nog ruimte vir uitbreiding. Vuilspel, soos die misbruik van die polisie om teenstanders van hierdie uitbreiding in die bek te ruk, is volgens gesaghebbende ontleders aan die orde van die dag. Trouens, as dit geloofwaardig is, het dit nogal baie gemeen met Suid-Afrika waar daar planne is om meningsvryheid (soos persvryheid) aan bande te lê en veral die strooptogte op fluitjieblasers wat streng gesproke deur die Grondwet nie net beskerm word nie, maar aangemoedig word. Lees gerus twee pas-verskene ontledings, Stop Obama’s War on Watchdogs en Forced Silence.

Die raakvlakke raak ’n bietjie meer onrusbarend met die waarskuwings (soms effe oorgedramatiseerd in die twee artikels) wanneer Mothata daarop wys dat die regering vasbeslote bly oor sy kernkraguitbreidingsprogram en die instelling van ’n nasionale gesondheidsversekeringsorgplan. Groot wolke van geheimhouding en weersprekings op die hoogste gesag tussen owerheidsliggame hang oor die kernontwikkelingsplan, terwyl die vertragings met die instelling van die gesondheidsorgplan (Suid-Afrika se ObamaCare wat in die VSA nog met groot groeipyne gepaardgaan) onlangs nog by die ANC se hoofraadskongres as een van die agt hoofprioriteite uitgewys is.

Nog lank voor min. Nene die klein begroting gelewer het, het ekonome en landbou-ekonome daarop gewys dat die regering se grondhervormingsdoelwitte hopeloos onbekostigbaar is. Die ANC se reaksie was om te sê dat die 50-50-misbaksel nou amptelike regeringsbeleid is.

’n Groot blok aan die been vir herstel is dat die minister nou voorsien dat waar die ekonomie in Februarie nog ’n groeikoers van 2% vir hierdie jaar voorsien het, dit nou net 1,5% sal wees, en volgende jaar 1,7% sal wees in plaas van 2,4%. Maar is daar oplossings?

Die Vryheidsfront Plus som dit soos volg op: “Ten einde sakevertroue te herstel en ekonomiese groei te stimuleer het Suid-Afrika spesiale maatreëls nodig om ons uit die huidige ekonomiese krisis te kry. Sakelui sit met miljarde rande wat hulle in Suid-Afrika wil belê, maar tans terughou omdat die klimaat nie gunstig daarvoor is nie. Mnr. Nene, minister van finansies, se toespraak was egter ‘besigheid soos altyd’ sonder enige verbeeldingryke voorstelle om die ekonomie te stimuleer of hierdie sakelui aan te moedig om te belê.

“Die minister se poging om beleggingsekerheid te skep, is weerspreek deur die gebeure binne en buite die parlement tydens die begrotingsrede. Die chaos stuur ’n boodskap dat die regering beheer verloor.

“Die VF Plus verwelkom die minister se aankondiging dat hy regulasies vir staatsondernemings beoog ten einde korrupsie en die mors van geld te voorkom. Die belastingbetaler kan nie meer hierdie ondernemings finansier waar hulle soos stout kinders geld mors en dan telkens terugkom vir verdere lenings en hulp nie. Privatisering bly die antwoord.” – Dr. Pieter Mulder.

Die kleinbegroting kom te midde van die landwye studentemoleste. Terwyl die ANC sy uiterste bes doen om nie afstand tussen hom en die studentesentimente te plaas nie, maak die Nene-feite dit in die praktyk byna onmoontlik en sal die EFF aan die een kant, en die Solidariteit Beweging se Plan B aan die ander kant, na verwagting as die groot “oorwinnaars” uit hierdie stryd (of chaos) tree.

Die ANC het self die lat vir sy alie gepluk deur pres. Jacob Zuma as president te behou. Dit ontneem hom nou die geleentheid om ’n staatshoof met statuur na die studente te stuur en die situasie te ontlont. Sy “regterhand” hier (eintlik erg links), dr. Blade Nzimande, het duidelik ook nie meer die gesag nie, en deur ’n klomp jabroers en -susters om hom te versamel, lyk dit ook nie of iemand anders uit die enorme kabinet die statuur gaan hê om sake te ontlont nie.

Die studente se veldtog gaan nog enorme druk op die uitgemelkte belastingkoei hê, en die geweld en vandalisme wat nou plek-plek uitslaan, gaan nie help nie.

Ekonome wys daarop dat die reusekabinet wel ’n enorme uitgawe behels, maar dat dit teen die groot geheel slegs ’n druppel aan die emmer is. Die duiwel sit in die uitkringeffek soos die talle onnodige departemente met peperduur topbesture (wat nie altyd bekwaam is nie), bykomende luukse reisuitgawes vir allerlei bedenklike redes, baie meer gevolglik onnodige tussendepartementele skakeling op alle vlakke, meer werk vir parlementêre portefeuljekomitees met gevolglik meer reise vir amptenare na Kaapstad waar hulle dikwels swak voorberei is terwyl van hul ministers in elk geval in hul afwesigheid skitter.

Met ’n president wat hande gevou sit waar hy moes vasvat, in plaas van dat hy hom met veronderstelde onafhanklike grondwetlike strukture soos die Openbare Beskermer en die Nasionale Vervolgingsgesag bemoei.

Het die bottel reeds gebars? Waarskynlik nee. Ekonome is intelligente mense en as span in sy geheel is daar gewoonlik heelwat planne om die ruimte vir beweging ongelooflik te rek. Maar op die politieke front brand die lont nou gevaarlik kort …

Wat steun vir Plan B ’n gesonde belegging maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik ·

Wat sou jy doen as jou klasgelde van R24 000 styg na R38 000 – soos volgende jaar op Kovsies gaan gebeur?

AfriForum Jeug sê hy is gekant teen die oordadige styging in klasgeld, maar die ontwrigting van kampusse is onnodig. Daar is niks verkeerd met die standpunt nie!

Winston ·

Stem saam met Afriforum se standpunt. Hulle maak hulle egter nie skuldig aan die ontwrigting van kampusse nie. Afriforum is n geordende organisasie wat met dialoog standpunte stel en oplossings probeer soek. In die huidige habitat is dit egter moeilik want het jy al n boom probeer oortuig hoe om te groei? Sonder n saag en skêr?

Christa ·

So het ALLES gestyg onder die regering. Moet ons nou almal breek, steel, moor, gryp rape en escape?
Nou die dag nog het ek R28.00 betaal vir 500 gram botter, nou is dit R44.00. En dis nie NET botter nie!!

Rynhardt ·

Die regeerders(Anc) het gedink hul kan net die wittes swaar belas,terwyl die lui lekker lewe gehandhaaf kan word.Die geldkraan is klaar,want ons mense kry swaar en bekwaamheid is uit by SA,nog n Afrikaland!Buitensporige salarisse van Anc en opposisie is verby!Sensuur teen SA media is nie nuut nie.Die Amerikaanse omroeper,Alex Jones het reeds berig dat Duitsland en Europa asook Engeland sensuur gaan toepas.Enige kritiek voortaan teen regerings gaan lei tot arrestasies!Die Obama-administrasie wil ook he dat sensuur moet uitgebrei word vir die internet!Bogenoemde weier die SAUK om vir jou uit te spel.SA is deel van die “Global village” wat alles na donkerte neem,alles in die naam van demokrasie!Die ou ooms in Parlement kan en wil niks insien van SA en wereld nie.Al waaraan die uitgevrete goed dink,is om vir oulaas sy vet tjek te kan kry,terwyl jy soos n ou viool gespeel word!

Leendert van Oostrum ·

Dit moet wees “keiharde”, nie “kleiharde” nie :-)

arie plaasboer ·

Ek het nog altyd gedink datdie “Golden Rule” geld nl “He who has the gold makes the rules”.
Nou vra ek myself af wie is die besitters van die goud in hierdie geval – die oorspronklike beleggers in die Universitiete en persone aangestel om dit behoorlik te bestuur OF is dit die studente wat nog nooit een enkele sent verdien het met hulle werk?
Die vraag skep nogal stof tot nadenke sou ek se !!

Johannes Meintjes ·

Soos wat die nugtere herbanderings rondom die dringende nodigheid t.o.v. selfbeskikking vir minderhede of dan selfbestuur aangroei, moet daar moonlik baie dringender en nugterder gekyk word na die nodige begroting en eie belastinbestuur vir hierdie minderheidsgroepe. Die huidige regering en politieke stelsel in SA is hopeloos onvoldoende en oneffektief, veral ten opsigte van die regverdige besteding van staatsfondse (my en jou belastinggeld).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.