Nuuskommentaar: Kleptokrasie in Afrika

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Rapport se onthulling oor pres. Jacob Zuma se beweerde rol in die bekom van reuse oliekonsessies van miljarde rande in die DRK ten bate van sy broerskind, Khulubuse Zuma, kort na ander berigte op nog ‘n beweerde “fasilitering” van nog ‘n transaksie in die Pretoriase presidentswoning, werp nuwe vrae oor die integriteit van die president.

Soortgelyke bewerings is in die media oor ‘n groep Suid-Afrikaanse politici gemaak toe Suid-Afrika inderhaas – in opdrag van Zuma – soldate op ‘n sending na die Sentraal-Afrikaanse Republiek gestuur het, wat byna-byna geblyk het ‘n selfmoordsending te wees.

Kan dit werklik wees dat Suid-Afrika se buitelandse beleid ten opsigte van Afrika grootliks bepaal word deur die mate waardeur hoë politici en hul uitgebreide families persoonlike voordeel trek? Dat selfs Suid-Afrikaanse soldate – soms op die koste van die VN, maar ook soms vir die rekening van die Suid-Afrikaanse belastingbetalers, gestuur word om die eietydse Mandaryne se persoonlike belange met hul lewens te gaan beskerm deur korrupte regeringsleiers in die stoel te hou?

Waar of onwaar, die probleem is dat dit nou vermoedes voed elke keer wat Zuma kommer oor destabilisasie elders in Afrika uitspreek, en sy haas uitspreek oor die vestiging van ‘n kontinentale intervensiemag. Dit staan in skrille kontras met die nodigheid van Vrystaat Landbou om die regering twee keer hof toe te neem om Vrystaters, en veral boere, te beskerm teen plunder- en selfs moordtogte vanuit Lesotho.

Syfers dui daarop dat Afrika se gemiddelde groeikoers heelwat hoër is as dié van Suid-Afrika. Dit word onder meer toegeskryf aan die ontdekking van groot oliebronne, maar ook ander minerale. Dit is nie net regerings wat hul hande op hierdie rykdomme probeer lê nie, maar rebelle en doodgewone misdadigers werp ook alles in die stryd om onder meer die sogenaamde bloeddiamante in die hande, en die opbrengs in hul sakke te kry.

Afgesette diktators, soos onder meer Mobotu Sese Seko en Ghaddafi, het geblyk terwyl hulle aan bewind was, reuse bedrae uit die staatskas te geskep het, en dikwels in buitelandse bankrekenings as neseier gaan wegsit het.

Uit die Weste is daar van regeringskant enorme druk op Afrikalande om korrupsie hok te slaan en behoorlike demokrasieë te bedryf. Die gevolg is soms skyndemokrasieë met erg gekookte verkiesings, wat deur versigtig-geselekteerde “onafhanklike” waarnemers vry en regverdig verklaar word.

Twee jaar gelede het die Daily Mail berig oor hoe veral Afrikaleiers onder meer reuse eiendomsportefeuljes in Parys, Frankryk, opbou uit geld wat van hul eie regerings gesteel is. Van die geld is ook ontwikkelingsfondse uit die weste. Die berig is saamgestel uit ‘n verslag van twee teen-korrupsieorganisasies, Transparency International en Sherpa.

Google lewer meer as tien miljoen trefslae op van berigte en artikels oor hoe Afrikaleiers hul eie lande besteel. Volgens die jongste korrupsie-persepsie-indeks van Transparency International het Suid-Afrika die afgelope aantal jare erg agteruit geboer, en beklee nou die 72ste plek. Hoewel dit baie sleg afsteek by Botswana se 30ste plek en ‘n paar ander Afrikalande, is dit baie beter as die 154de plek van die DRK, die 144ste van die Sentraal-Afrikaanse Republiek en die 174de van die Soedan – die drie lande waar Suid-Afrika soldate ontplooi het.

Dit is ongelukkig nie die hele prentjie nie. Op die omkoop-indeks vaar Suid-Afrika heelwat swakker as die DRK, Nigerië, Egipte en Ethiopië – byna die helfte van die RSA se inwoners het die jaar voor die indeks gemeet is, omkoopgeld vir dienste betaal. Toe ‘n regter onlangs ‘n voormalige Israelse premier, Ehud Olmert ses jaar tronk toe gestuur het vir omkopery het hy omkopery as hoogverraad beskryf. Hy het Olmert se optrede as moreel skandalig beskryf.

As in gedagte gehou word dat die Wêreldbank korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms beskryf, is die regter waarskynlik in die kol om dit met hoogverraad gelyk te stel.‘n Goeie voorbeeld van hoe die Weste druk tot demokratisering in ruil vir hulp uitoefen, het hom onlangs afgespeel. Luidens berigte sal die VSA $30 miljoen aan die Demokratiese Republiek van die Kongo skenk vir die bevordering van demokrasie, maar net as pres. Joseph Kabila aftree wanneer sy huidige termyn as president ten einde loop.

Dié boodskap is na berig word deur die VSA se vise-president, John Kerry, aan Kabila self oorgedra toe hulle onlangs ontmoet het. Die DRK se grondwet beperk die aantal termyne wat ‘n president mag dien tot twee, en Kabila nader die einde daarvan. Die volgende verkiesing behoort nie later nie as 2016 plaas te vind, maar daar is nog geen aanduiding dat die regering mik om daarby te hou nie.

Volgens ‘n DRK-regeringswoordvoerder, Lambert Mende, maak die grondwet voorsiening daarvoor dat dit onder “ongewone omstandighede” gewysig kan word. Onder bepaalde omstandighede kan die grondwet gewysig word om die termyn te verleng of dat meer termyne gedien kan word. Hy het gesinspeel dat die huidige insurgensies kan beteken dat verkiesings nie sal kan plaasvind soos die huidige grondwet vereis nie.

Te midde van die donker prentjie, het daar byna ongesiens in Suid-Afrika ‘n ligpuntjie ook uit die onlangse verkiesing na vore getree. Een van Agang SA se twee nuwe parlementslede is adv. Mike Tshishonga. Tshishonga het as destydse adjunk-direkteur-generaal van Justisie regsgeskiedenis gemaak toe hy, na hy alle ander opsies uitgeput het, ‘n nuuskonferensie belê het om die destydse minister, dr. Penuel Maduna se rol te openbaar in die volgehoue aanstelling van sy vriend, Enver Motala as likwidateur.

Tshishonga is afgedank, maar het ‘n epiese regstryd in die arbeidshof teen sy eertydse werkgewers gewen. Maduna se politieke kop het gerol. Intussen het die departement voorgegaan om Motala as likwidateur aan te stel, tot Solidariteit onthul het dat hy, toe hy nog ‘n ander van gehad het, aan verskeie kriminele oortredings skuldig bevind is wat hom gediskwalifiseer het om as likwidateur op te tree.

Sedertdien kruis die name van Khulubuse Zuma en Motala gereeld, soos met die likwidasie van die Aurora-myn. Vanoggend berig Volksblad onder meer soos volg: “Die direkteure van Aurora Empowerment Systems (AES), onder wie die voorsitter, Khulubuse Zuma, die maatskappy se regsverteenwoordigers en een van die likwidateurs wat glo ’n “dubbele rol” gespeel het by die likwidasie van die Grootvleimyn, behoort strafregtelik vervolg te word. Dít is van die aanbevelings wat vervat is in ’n “vertroulike” likwidateursverslag wat Volksblad onder oë gehad het.

Die likwidateurs van dié bankrotmyn wat aan Pamodzi Holdings behoort het en ’n paar maande lank deur AES bestuur is, soek nou na R1,8 miljard wat glo net weg is.”… “Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê dit is ‘ ’n skreiende skande’ dat Aurora se direkteurs, sonder om ’n sent vir die myn te betaal, na bewering honderde miljoene rande daaruit kon verduister. Solidariteit, as verteenwoordiger van die werkers, is een van die krediteure van die boedel. ‘Die bates is geplunder en alle moontlike wette en regulasies oortree. Bewyse teen die plunderaars is verdoemend en net hul politieke verbintenisse en geregsdienaars se rompslomp kan hulle red,’ het Du Plessis gesê.

Tshishonga is nie die enigste parlementslid wat uit sy pad sal gaan om korrupsie hok te slaan nie, maar hy het waarskynlik in sy lewe die grootste opoffering gemaak om dié euwel uit te roei.

Hoe lank gaan Zuma nog as president oorleef? In RSG se program, Kommentaar, het die bekende ontleder, Theo Venter, gesê hy verwag Zuma sal net aanbly tot na die ANC ‘n wet op die wetboek probeer plaas het wat voormalige presidente van vervolging sal vrywaar. So maklik gaan dit egter ook nie wees nie – die Suid-Afrikaanse grondwet bepaal dat almal gelyk voor die reg is, en daardie beginsel durf nie in die slag bly nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

henriette conradie ·

Wil julle regtig vir my se dat daar niemand I hierdie land is wat zuma kan uitsorteer nie. Hy se mos die dommes is sy ondersteuners Kan ons slimmes nie hierdie nar uitsorteer voor dit te laat is nie asseblief.

henriette conradie ·

Wil julle regtig vir my se dat daar niemand I hierdie land is wat zuma kan uitsorteer nie. Hy se mos die dommes is sy ondersteuners Kan ons slimmes nie hierdie nar uitsorteer voor dit te laat is nie asseblief.

anita ·

My vraag is, Zuma se prokureur het die mynregistrasie gedoen? en in ‘n belasting vrye land? as dit reg is beteken dit dat Neef Zuma nie belasting betaal op sy olie winste nie?

Vraag twee: die hulp van Pres. Zuma aan sy neef verleen, was daar fondse by betrokke, en van waar kom die fondse? is dit van ons belastinggeld?

Vraag drie: Wie op die boonste “Stelasie” hier ter plaatse het ook aandele in die myn? en waar gaan die inkomste heen? na ‘n buitelandse rekening.?

Ek dink dat miskien moet iemand Sassa se kinder toelae ondersoek, miskien ontvang hierdie
persone nog toelae ook van ons belasting betalers.

Belgie het konsessies gehad, hoe voel Belgie oor die stand van sake, en kan hulle enige inligting werp die gebruik kan word?

Ons land het nie veel persoonlikebelasting pligtiges nie, en tog leef sekere persone soos
konings.
Iemand het R500 duisend geerf, die dame het gesoek tot dat sy ‘n woonstel vind vir die geld, en moes soos ‘n krimineel verduidelik hoe/waar sy aan die geld kom, maar iemand kan vanaf R200duisend-tot een miljoen ,n kar koop sonder vrae? en dikwels is dit wit was fondse en kom die koper weg daarmee, waarom verander die wet nie dat die aankope van ‘n motor voertuig bo ‘n sekere bedrag vereis dat die koper se belasting nommer na gegaan word, en ook waar hy/sy werk, en of hy uit die werk die salaris ontvang om die reuse paaiement te betaal.

Hierdie saak van Neef Zuma is “onwelriekend” en benodig voledige ondersoek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.