Nuuskommentaar: Kleurblinde regspraak

hof-hamer-skaal-geregtigheid

Foto: Succo/Pixabay.com

Mag dit tog maar nou wees dat die Suid-Afrikaanse regspraak die rassevlooie uit sy winterspels begin geskud kry. Suid-Afrika maak daarop aanspraak dat dit ’n grondwetlike demokrasie is, maar in die realiteit is die regspraak, wat veronderstel is om die toon aan te gee, ’n ernstige vlieg in die salf.

Op die oomblik is daar op die politieke terrein ’n ernstige gekibbel oor wat die term “nierassigheid” sou beteken. Wat die een ewe hoogheilig as nierassig voorhou, is vir die ander die toppunt van rassisme, soos om Fanon na te praat dat ’n swart persoon per definisie nie ’n rassis kan wees nie.

Maar dan ’n bruin persoon, wat in verskeie kontekste as swart deurgaan, skielik van bedrog te gaan aankla as hy na homself as swart verwys. Dit terwyl vername bruin mense soos prof. Jonathan Jansen nie net na homself as swart verwys nie, maar sommer na die vorige rektor van die US, wyle prof. Russel Botman, ook as swart verwys. Iewers is ’n ernstige graad van kleurblindheid ter sprake.

En dit maak saak, want die ANC het nie soos hulle tydig en ontydig aanspraak maak, apartheid vernietig nie, maar dit teruggebring. Die bruin mense is dikwels ’n pyn in die fondament, want hulle is in die Wes-Kaap “oorverteenwoordig”. En bruin mense sal onthou wat dit inhou, soos om van amper bo op ’n behuisingswaglys sommer ver terug te val, of selfs sommer heeltemal daarvan te verdwyn, en noodgedwonge by die brugmense te moet gaan aansluit. Of weens die “oorverteenwoordigende status” nie om bevorderingsposte by korrektiewe dienste te mag meeding nie.

Terwyl van die voorste bruin (optiese) swart (juridiese) “swart mense” in hul geskriffies aan die media na AfriForum en Solidariteit (van korrektiewe dienste-faam) as rassistiese organisasies verwys.

Maar dan is daar nog diegene wat persoonlik die een rassistiese uitlating na die ander maak, en rassisme toepas, maar hul verbaal ewe anti-rassisties hou. Die Gautengse LUR vir “onderwys”, Milner Lesufi, is seker die mees ekspressiewe en pikante voorbeeld hiervan. Slegs enkele dae na pres. Cyril Ramaphosa hom op TV uitdruklik uitgedruk het ten gunste van die selfbeskikkingsregte van volke, gaan skop Lesufi die president en ander wat saam met hom afsonderlike ontwikkeling se taal gaan afstof het, vol op die mond.

Ook onder ander partye is daar uiteenlopende begrippe wat die rassekwessie betref. En dit geld eintlik internasionaal, waar van die mees rassistiese organisasies na hulself as nierassige engeltjies verwys. Hieraan word (wit) Suid-Afrikaners deesdae bykans weekliks herinner, en nou pas weer met die appèlhof wat ʼn “skynverhoor” in die bek geruk het.

En ongelukkig is dit nie ʼn seldsaamheid nie. Wat hierdie soort sake betref, was die Reitz-4 se “verhoor” ’n yslike boendoehof sodat ’n uitstellanddros in die aanloop tot die verhoor die media en politici gewaarsku het om nie die uitkoms van die verhoor vooruit te loop nie. Die eerste Sondag daarna plaas ’n Afrikaanstalige koerant ’n brief waarin ’n leser na die Reitz-4 as boewe verwys. Die persombudsman het op die een of ander manier bevind dat dit nie minagting van die hof was nie.

Uiteindelik het die verhoorregter, die hooflanddros van Bloemfontein, die vier onder andere gevonnis vir iets waarvoor hulle nie eens aangekla was nie. Hieroor, en oor ander bevooroordeelde aannames, het die vier se appèl oor belangrike aspekte geslaag.

In die leeuplaas-verhoor is die plaaseienaar aan moord skuldig bevind. Onder appèl is hy aan moord onskuldig bevind omdat die oorledene reeds dood was voor die eienaar op die plaas opgedaag het. Dit was in pas met die getuienis van stellig die beste patoloog in die land.

In die doodskissaak was dit uit die appèl ook duidelik dat die verhoorregter erg bevooroordeeld was. En nou die Coligny-saak. So tussenin was daar die boendoe-hofsaak oor die juffrou van Schweizer-Reneke. Die een saak na die ander wat onder die hande van die Menseregtekommissie deurgeloop het, was knaend in die nuus, met veral die naam van Julius Malema wat loshande voorloop. Die een kommentator na die ander het gedelf in duidelike gevalle van onewehandigheid.

Ons soek dat dit klap na intelligente lewe iewers in die ruimte. Moet daar nie eerder eers gepoog word om intelligente lewe hier op moeder aarde te vind nie?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Althes ·

Bruin mense voel hul word ekonomies uitgesluit en verwys na hulself as swart om bevorderingsvoordele te kry.

Harry ·

Wanneer gaan die term Suid Afrikaner letterlik begin opneem en ons eie maak? Die res van die wereld word geken aan hulle land, hoekom nie ook ons nie?

Suzette ·

Veral die gedeelte oor … intelligente lewe hier op moeder aarde …

Onnie ·

Goed gesê my vriend! Net jammer almal hier op moeder aarde se koppe werk nie soos ons s’n nie.

annie ·

… onthou dit lees demo(krasie)… en beloof nog die ware jakob. Ras word ‘n magspel, selfs in die verlede tyd. Soos in 1984 word 1652- glads al ‘n raswapenspel. Waarheid en verdigsel is nou so opgekoek dat selfs ‘n ervare visserman daai vislyne nie wil en kan ontknoop nie. Arme ek en my velkleur is nou die lekkerste lekker soet eetgoed vir my pyn en lyding en so bekom ek mag om lei; ly en lei… what’s the difference? Pyn is nou mode en asseblief tog geen entstof of moeti vir my nie… Ouch!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.