Nuuskommentaar: Knyp die kat in die donker

zwelinzima vavi

Dit is reeds lank bekend dat een van die magtigste mense in Suid-Afrika, die baas van Cosatu Zwelinzima Vavi, se kop in die visier van ander magtige politici is.

Nou, so lyk dit, het sy vyande ‘n klassieke Delila getrek om die Simson van die vakbondwese te laat sneuwel …

Die mees onlangse oorsig van die vorige week se peilings in die VSA deur die peilingsagentskap, Rasmussen, toon ‘n merkwaardige ooreenkoms in kwessies met dié van Suid-Afrika. Benewens die spioenasie-onthullings in die VSA, is die kwessie van politici wat die kat in die donker knyp ‘n sterk besprekingspunt, en was daar selfs ‘n ontleding oor hoekom sommige ontblote politici en ander hoës nie daarmee wegkom nie, terwyl sommige politici steeds ongesteurd deur die kiesers gesteun word.

Pres. Barack Obama se stelling dat die kiesers nou ‘n slag van “petty scandals” moet vergeet en op ekonomiese herstel moet fokus, het die president se gewildheid in een dag met drie persentasiepunte laat tuimel.

Tog het die Monica Lewinsky-skandaal nie die destydse president Bill Clinton politiek laat sneuwel nie. Te “petty” dalk daarvoor?

Maar kom dit by hoës wat skelmpies die kat in die donker knyp is daar op die oog af nie werklike lande wat Suid-Afrika die loef kan afsteek nie. Pres. Jacob Zuma word gewoonlik as die vernaamste voorbeeld genoem, en spesifiek hoe hy owerspel suksesvol as verweer teen ‘n aanklag van verkragting gebruik het. Die owerspel het kwalik ‘n rimpeling veroorsaak, veral in vergelyking met die beroemde stort wat Zuma na die voorval geneem het om, soos hy geglo het, te keer dat hy Vigs opdoen weens seks met ‘n MIV-positiewe persoon. Verskeie kinders is ook buite die eg verwek, met sommiges wat later deur ‘n poligame huwelik binne-egtelik geword het, maar minstens een wat (steeds) buite die eg is.

Die ANC het besluit dat Zuma hul gesig vir aanstaande jaar se algemene verkiesing sal wees…

Maar Zuma was nie die eerste president van die land wat groener weide opgesoek het nie. Ook meld berigte byna terloops van ‘n buite-egtelike verhouding wat ‘n vroulike opposisiepolitikus eens sou gehad het, maar verskaf nie besonderhede daaroor nie.

Oor die omvang kan ‘n mens net bespiegel. In ‘n stadium was beide rektore van ‘n kleinerige stad se twee universiteite gelyktydig nie net openlik in buite-egtelike verhoudings betrokke nie, maar het ook hierdie dames fenomenaal laat bevorder, openlik saamgeneem op buitelandse reise en het in die proses die respek van hul universiteite en die stad se inwoners verloor. ‘n Vorige direkteur-generaal in die stad het dieselfde paadjie geloop en sy verlowing aan die provinsie se skakelbeampte is die dag na sy egskeiding in die koerant gepubliseer is, in die einste koerant met voorbladfoto en al aangekondig.

Vavi het sy vrou en die land om verskoning gevra. In hierdie leeuwêreld is dit tragies seldsaam dat die leepoog nog dink dis nodig om verskoning te vra.

Die bekende joernalis, Ranjeni Munusami, twiet “One thing we could all learn from #Vavi scandal is how so much abnormal behaviour passes as normal in politics. Wakeup call for everyone.

Is hierdie soort gedrag inderdaad meer “normaal” onder politici? Of is dit bloot ‘n persepsie dat dit so is, en dat hoë bome die meeste wind vang? Of maak die vet inkomstes en skynbare mag van suksesvolle politici (en ander hoës) hulle aantreklik vir die eietydse Delila’s?

Die grens tussen ‘n buite-egtelike verhouding by die werk en seksuele teistering is dikwels sielkundig baie nou verweef.

Die eindresultaat is egter dat die publiek ‘n baie negatiewe beeld van politici in die algemeen kry. ‘n Onlangse peiling in die VSA het aangetoon dat die meerderheid kiesers toe geglo het dat sou die verkose kongreslede met mense wat lukraak uit die telefoongids gekies word, vervang word sou hierdie “nuwe kongreslede” beter as die verkose lede vaar.

Dit is soos ‘n kanker in die morele samestelling van ‘n gemeenskap as sy leiers ‘n swak morele voorbeeld stel.

As na die omvang van korrupsie in Suid-Afrika gekyk word, is dit baie duidelik dat ‘n morele herlewing in die land nie net broodnodig is nie, maar dat die impak daarvan so sterk op die politiek moet slaan dat immorele optrede nie by die stembus geduld word nie.

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae