Nuuskommentaar: Koalisie vir Demokrasie

verkiesingDie langverwagte aankondiging oor ‘n samewerkingsooreenkoms tussen uiteindelik vyf opposisiepartye het toe gistermiddag laat gekom. Nog gans te min werklike betroubare inligting is bekend om sinvol oor die kanse van hierdie Koalisie vir Demokrasie, soos dit bekend staan, analises te doen. Verskeie sterk, maar ook swak punte is in die individuele deelnemers ingebou.

Die vyf partye wat hulle tot twintig beginsels verbind het, en wat binnekort byeenkom om ‘n lys saam te stel van die room van elk se kandidatepoel, is die Vryheidsfront Plus, Cope, die IVP, die UCDP en die ACDP. Elke party sal steeds bestaan, wat aan kiesers die geleentheid bied om vir ‘n party van hul eie beginsels te stem, of dan so na as moontlik vir hul eie beginsels, maar tog rondom twintig sleutelbeginsels kragte en talente saam te snoer. Die behoud van eie beginsels is by veral sommige van die deelnemende partye ‘n belangrike vereiste omdat daardie partye eintlik nispartye is.

Die aksie, wat as ‘n Cope-inisiatief beskryf is, is na berig word oor jare uitgevoer. Uiteindelik het die UDM in taamlike bitterbektaal besluit om nie deel te neem nie.
Die koalisie is egter oop vir ander partye om deel te neem, mits hulle hul tot die twintig ooreengekome beginsels verbind.

Hierdie beginsels sluit volgens SAPA in die prioretisering van onderwys en opleiding, om die Wet op die Beskerming van Staatsinligting na die konstitusionele hof te verwys, die streng skeiding tussen party en staat te verseker, en die hersiening van die “geswolle” regering om doeltreffendheid en bekostigbaarheid te verseker.
Niemand by sy volle positiewe kan fout hiermee vind nie.

In ‘n behoorlike SWOT-analise sou ‘n horde positiewe punte op die tafel geplaas kon word. Veral danksy die Vryheidsfront Plus het die koalisie toegang tot ‘n uitstekende mediakommunikasievermoë. Saam het hulle ‘n taamlik uitgebreide infrastruktuur. Saam het hulle ‘n betreklike groot staatstoekenning wat partye wat in die parlement of provinsiale wetgewers verteenwoordig is, ‘n baie groot voorsprong bied bo partye wat nie sulke verteenwoordiging het nie.

Die SWOT-analise sou egter ook verskeie swakhede en bedreigings opper. Van hierdie partye beleef ‘n ernstige afwaartse kurwe, soos byvoorbeeld uit die mees onlangse tussenverkiesings in Tlokwe blyk toe die UCDP (die enigste van hierdie partye wat kandidate gestel het) bitter swak gevaar het. In slegs een wyk kon die UCDP net-net ‘n dubbelsyfer aan stemme haal, en in een wyk slegs een stem trek. Die kreeftegang blyk al ‘n geruime tyd uit uitslae in tussenverkiesings. Die ACDP, ten spyte van goeie en selfs uitstekende parlementslede, betaal die prys van die leier, eerw. Meshoe, se jarelange uitdryf van knap en dinamiese mense uit die party.
Cope het sy kwota probleme maar glo dit is nou agtergelaat en dat die party van die steun kan herwin wat dit kort na sy stigting gehad het. Die IVP het moontlik die kreeftegang begin stuit wat onder meer deur die opgang van die Nasionale Vryheidsparty se wegbreek begin het. Die opgang wat Jacob Zuma gemaak het, het klaarblyklik ook diep onder IVP-steun in KwaZulu-Natal geëis.

Die Vryheidsfront Plus is die enigste van die deelnemende partye wat onlangs teen die verskerpte rassemaatreëls rondom “regstellende aksie” gestem het. Vanoggend, met die opstel van hierdie nuuskommentaar het nog geen van die deelnemende partye ‘n volledig stel inligting, soos die twintig beginsels, op hul webwerwe beskikbaar gestel nie. Dit maak dit dus moeilik om te beoordeel in watter rigting die koalisie nie-rassigheid wil aanpak – die meer “liberale” benadering waar nie-rassigheid die wegdoen van rassediskriminerende maatreëls behels, of die meer Afrikanistiese denke waar rassediskriminerende maatreëls teen almal wat nie “African Africans” is nie toegepas word tot sosio-ekonomiese ongelykhede uitgeskakel is en sekere gemeenskappe se vermoë om uit te presteer in die proses gestraf word?

Om nog partye, veral partye wat nie in die parlement verteenwoordig is nie, te betrek gaan in veral sommige gevalle die wegwerk van berge van wantroue behels. Verskeie van hierdie deelnemende partye was tot onlangs individueel en selfs kollektief met ander partye in gesprekke oor samewerking, sonder dat laat blyk is dat hulle ook in ander gesprekke betrokke was. In enkele gevalle is selfs die koue skouer uitgedeel – steeds sonder om te laat blyk hoekom. Enorme werk om vertroue te herstel lê dus voor voordat die koalisie tot sy werklike potensiaal sal kan groei.

Enige finale oordeel oor die potensiaal van die koalisie sal eers gemaak kan word wanneer meer inligting bekend word, en daar sterker aanduidings is oor hoe die partye se ondersteuners daarop reageer.

Dit kan egter aanvaar word dat lesse van die verlede hard en duidelik geleer is, soos die geval was met die voorverkiesingskoalisies soos Alliansie 2000 Plus en soortgelyk, toe dit geblyk het dat twee plus twee soms in die politiek = 1 kan wees. Die sukses van die DA in hierdie opsig sou die aandag van die argitekte getrek het.

Voorverkiesingskoalisies is nie heeltemal vreemd nie. Die bekendste is stellig die vaste koalisie tussen die twee Christen-demokratiese partye in Duitsland, die CDU van kanselier Angela Merkel, en die Beierse CSU.

In Nederland word die hibridegeval aangetref van twee klein partye in die gereformeerde sfeer, die ChristenUnie en die SGP wat op allerlei maniere ooreenkomste sluit soos vir verteenwoordiging in die Europese Parlement en die Eerste Kamer.

Gewoonlik is koalisies iets wat na verkiesings gevorm word, wat ‘n alledaagse verskynsel in proporsionele kiesstelsels is. Die koalisiegesprekke na ‘n verkiesing is ‘n omvattende proses, en die uiteindelike opstel van ‘n beleidsdokument – so dik soos ‘n ensiklopedie – ‘n intensiewe proses.

Die Koalisie vir Demokrasie is nou in baie opsigte met baanbrekerswerk besig. En baie sal ook afhang van hoe die media op die koalisie gaan reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Hoe gaan dit presies werk?Daar word gese die partye gaan indivudueel aan die verkiesing deelneem,maar daar word ook gepraat van een lys kandidate,so hoe gaan dit werk?Volgens my kennis stem jy vir n spesifieke party op die stembrief.
Enige koalisie wat gevorm word om beter samewerking teen die ANC te verseker is goed.Ek wil egter net graag weet,gaan VF+ leiers en ondersteuners nog steeds die DA brandmerk as ANC lite?Aangesien hulle nou in koalisie is met COPE,wat hulle ook ANC lite genoem het.Verder is die VF+ die enigste party wat onlangs teen die rasse kwota wet in die parlement gestem het.Al die ander partye in hierdie koalisie het vir daardie rasse kwota wet gestem.Nou is die VF+ in koalisie met hulle?
Hierdie koalisie is nie iets om oor opgewonde te raak nie.Ons almal weet hoe diep verdeeld COPE was,hulle is nie n dinamiese party nie,hulle het nie eers n behoorlike webwerf nie.Die IVP is n gestagneerde party,sy leier Mangosuthu Buthelezi is al oor die 80,en dit lyk of hy wil vasklou aan die leierskap tot hy 100 is,en daar niks van die party oorbly nie.Die VF+,en die ACDP gaan nie meer as 1% van die uitgebragte stemme elk kry nie,en die UCDP het byna geen steun nie.
Na my mening is dit nie nodig vir n klomp klein nis partye nie,wat geen dinamika aan die politiek gee nie.En geen bedreiging vir die ANC bied nie.
Wat nodig is,is een groot en dinamiese,goed georganiseerde party met n sterk leier,wat staan vir vaste beginsels en waardes,en daardie vaste beginsels en waardes goed kommunikeer.n Party waar alle Suid Afrikaners welkom is,en daar omgegee word vir alle Suid Afrikaners,ook Afrikaners.Daar is net een party soos daardie wat ek sien op die politieke toneel,en daardie party is die DA,die DA het my stem.

Demokraat ·

Danie, jou beoordeling van die partye betrokke by die ooreenkoms asook die huidige politieke toneel waarbinne hulle figureer, is inderdaad in die kol en het die samewerkings-ooreenkoms tussen die genoemde partye tans nie regtig veel om die lyf nie.

Maar andersyds wil mens die ooreenkoms ook nie noodwendig van die tafel vee nie want ‘n ander groot waarheid is dat, in menige gevalle, die verdeling van die opposisie, die regerende party bevoordeel het.

Die beste uitkoms sal wees dat die partye ‘n koalisie moet oorweeg om op daardie wyse die tipiese “stemverdeling” te oorbrug. So ‘n koalsie-ooreenkoms sal alle kiesers, wie ondersteuners van enige van die betrokke partye is, aanspoor om te gaan stem – en dit op sigself is alreeds ‘n baie groot stap vorentoe want dit maak die stemkrag teen die regerende party soveel te meer groter. Want, alhoewel ek ook die DA sal ondersteun, moet aanvaar word dat die DA nie die noodwendige keuse is van alle anti-ANC stemgeregtigdes nie.

Dis sal interessant wees om te sien hoe die saak tussen die betrokke partye verder gaan ontwikkel – in alle gevalle egter tot die voordeel van die demokrasie in Suid-Afrika.

Ant ·

Dis ‘n goeie begin en die enigste manier om die massas wat die ANC ondersteun teen te werk. Ek sou graag die DA betrokke wil sien. Hierdie tipe stelsel word wereld wyd suksesvol toegepas om die groot arbeider partye teen te staan. Die droom van een party wat vir almal staan is slegs ‘n droom. Maar slim politieke leierskap kan Suid Afrika opsies gee wat dit nie tans het nie.

Danie ·

Ant,ek stem DA en klaar.Hierdie koalisie gaan nie werk nie.Hierdie partye het nie dieselfde ideologiese basis nie.So die koalisie gaan nie hou nie.Die VF+ praat in vae terme van selfbeskikking,hoe hulle dit wil regkry weet nugter.Hul ondersteuners hunker almal terug na apartheid,maar die VF+ se leiers het nie die moed om die harde politieke werklikhede aan hul ondersteuners te verduidelik nie.COPE is n wegbreek groep uit die ANC,wat Thabo Mbeki se uitskop nie kon verwerk nie,hul ideologie is gebaseer op die freedom charter.Nou is die 2 bedmaats in een koalisie,dink jy dit gaan werk?Ek hoop net die VF+ noem die DA nie meer ANC lite nie,want hulle het COPE ook voorheen ANC lite genoem.Nog n laaste punt,die DA steun nie die rassse kwota wet wat nou reeds anvaar is nie,COPE het daarvoor gestem.So dit meen die VF+ is nou in koalisie met n party wat daarvoor gestem het,ACDP het ook daarvoor gestem.Verder sit Pieter Mulder knus in die regering,as n adjunk minister.My voorspelling is,hierdie hele koalisie gaan minder as 5% van die stemme kry.Die DA mik na 30% van die stemme,en ek dink hulle gaan dit kry,want genoeg mense sien die wysheid in om hulle te steun.Eerder n sterk ,verenigde en beginsevaste party van waardes ,met n sterk leier soos Helen Zille,as n groepering klein partytjies wat uit innerlike oortuiging eintlik nie saam hoort nie,en dus nie die toets van tyd kan deurstaan nie.

Nico ·

Ek wil nie alles herhaal wat ek reeds by ‘n ander berig geskryf het nie, maar ek (wat nog altyd vir die VF gestem het) glo dit gaan hulle niks in die sak bring nie. Hulle is besig om met verloorders saam te gaan. (Ek wil ook weet of daar net een kandidate lys gaan wees vir almal. En Danie, in die proporsionele stelsel het ons nie een sterk opposisie nodig nie.

Robby ·

Politiek was maar nog altyd ‘n kopkrapper, ek weet nie meer of dit ‘n goeie ding is om te stem omrede alles wat deur die jare ogebou was deur die ou regering is besig om plat te val – onder andere die regs stelsel – die polisie – die weermag praat ons nie eers van nie – en die lugmag en laastens die vloot. So waarvoor stem ons dit gaan nooit beter word nie. Almal wil regstellende aksies uitvoer en op die ou einde van die dag val alles uit mekaar agv onervare opgeleide mense in bestuurs posisies en mense wat nie weet hoe om werks druk te hanteer nie of die uitvoering van sulke take. As al die blanke mense sodanig ryk is en almal vat hulle geld en hulle self uit die land, wat bly dan oor ? “‘n 2de ZIMBABWE” almal vrek van die honger. My eerlike opinie dink ek miskien is dit nou die tyd om vir die VF+ te stem en miskien staan Suid afrika ‘n kans op oorlewing in die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.