Nuuskommentaar: Koalisiepolitiek ’n luukse met dorings

Ná maande lange onderhandelings nadat Nederland reeds in Maart vanjaar verkiesing gehou het, lyk dit of dié land nou voor die einde van die maand ’n nuwe koalisieregering gaan kry. Met Suid-Afrika wat in 2019 dalk ook ’n koalisieregering sal moet kry, is dit nodig dat die kiesers hulself vir dié moontlikheid begin oriënteer, en solank kennis neem van die beste praktyke.

Met ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse politieke landskap wat verstaanbaar hoopvol uitsien na ’n koalisieregering ná 2019, ’n koalisie wat hopelik die ANC sal uitsluit en nie van die EFF afhanklik sal wees om te regeer nie, stuur Nederland nou op ’n “unieke koalisie” af.

Wat in Nederland gebeur, moet nou in die wêreldmedia meeding teen ander groot politieke gebeure, soos die vraag of Katalonië vandag eensydig onafhanklikheid van Spanje sal verklaar, en pres. Donald Trump, wat die aspirasies van die jong “Dreamers” om in die VSA te kan bly, koppel aan finansiering van sy muur tussen die VSA en Meksiko. Trouens, Trump word nou uit eie geledere daarvan beskuldig dat hy besig is om ’n derde wêreldoorlog te stook.

Wat die Nederlandse politiek betref, het Nederlandse politieke joernaliste al opgemerk dat die Nederlandse politiek ver te skisofrenies is vir ’n buitestander om te verstaan.

Tog beteken dit nie dat Suid-Afrikaners daarom nie ’n belangstelling behoort te toon nie. Suid-Afrika het ’n baie soortgelyke kiesstelsel as dié van Nederland, en die geskiedenis toon dat lande met dié kiesstelsel tot koalisieregerings neig omdat een party selde ’n volstrekte meerderheid behaal. Dit bied weer grootliks ’n gemoedsrus teen magsmisbruik en korrupsie, hoewel korrupsie uiteraard nie afwesig is nie.

Suid-Afrika is tot dusver ’n uitsondering op die reël wat betref hoe verkiesingsuitslae lyk, en word beskou as ’n tydelike manifestasie terwyl demokrasie volwassenheid bereik.

Soos sake nou staan, sal die Nederlandse premier, Mark Rutte, voor die einde van die maand opnuut as premier sy eed aflê. Die teikendatum is 23 Oktober. Dit sal die derde keer wees wat hy aan die hoof van die regering staan, wat ná elke verkiesing anders saamgestel is.

Die nuwe regering, so lyk dit, sal bestaan uit Rutte se eie party, die Volksparty vir Vryheid en Demokrasie (VVD), ’n liberale politieke party, die Christen-Demokratiese Appèl (CDA), die Christen-Unie (CU) en die D66.

Die vier partye het ’n uiteenlopende politieke agtergrond, en waarnemers maak talle afleidings hieroor, soos dat dit lyk of konserwatiewe Christene wel met vrysinnige liberale kan saamwerk.

Tog word ook uitgewys dat dit saamgestel is omdat dit moes. Nederland is reeds in Maart vanjaar na die stembus. Sedertdien is intensief onderhandel oor die saamstel van ʼn nuwe regering. Dit verg ’n baie hoë vlak van politieke volwassenheid om so lank ’n land te kan bestuur terwyl die onderhandelings eintlik normale politieke prosesse opskort.

’n Deel van die onderhandelingsproses herinner aan ’n klein Kodesa. ’n Lywige beleidsdokument vir ’n koalisieregering word moeisaam saamgestel, wat beteken dat nie een party ten volle sy sin kry nie. So is daar telkemale partye ingesluit wat teen aborsies op aanvraag gekant is, maar nie genoeg steun kan monster om dit deel van die koalisieregering se beleidsdokument te maak nie.

Trouw som die koalisievorming soos volg op: “De grootste gemene deler blijft echter dat alle vier partijen vooral deelnemen omdat het moet, omdat er geen alternatief is, omdat het land nou eenmaal geregeerd moet worden.”

Die insluiting van die Christen-Unie in die koalisieregering is nietemin interessant. Dié party is baie suiwer gereformeerd, maar herinner in styl nogal aan die Christen-demokratiese partye van die Nuwe Wêreld. Dit verskil hemelsbreed van ander partye wat in hul naam Christen-demokraties is soos die CDA, maar ook die CDU van Angela Merkel in Duitsland en die CD&V in België, wat eintlik as volkspartye bekend staan.

Suid-Afrika kry nou reeds voorsmakies van koalisiepolitiek, veral in van die groot metro’s. Dit gaan nie aldag klopdisselboom nie, soos wanneer iemand geskors moet word omdat hy skeeftrap, maar daardie skeeftrapper ’n groot vriend is van die leier van sy politieke party.

Daar gaan ook ’n groot mate van onstabiliteit gepaard met die afhanklikheid van die gedoogde steun van die EFF om sekere koalisies aan bewind te hou.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Leahim ·

Geen party moet weer n oorgrote meerderheid he nie n koalisieregering is nie die ideaal nie maar al wat sal werk in n komplekse land soos Suid Afrika.

Hendrik ·

Ek voel dat homogene kulturele gemeenskappe moet ook verteenwoordig word in die plaaslike owerhede. Dit kan dan ook gebeur dat so ‘n gemeenskap die sleutel (kings maker) kan wees in die koalisie politiek. Daar word ook geen politieke partye toegelaat in die verkiesing van leiers in die kulterele gemeenskap, net suiwer leier verkiesing uit die gemeenskap. Daar sal dan gevind word dat meer sulke gemeenskappe ontstaan en die Plan B is dan ook nie so ver weg is as wat mense dit sal maak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.