Nuuskommentaar: Koalisies en samewerking

Maimane en Malema

Maimane en Malema

Die “gedoogde” steun waarmee die EFF die DA (die duiwel volgens Malema) of DA-koalisies aan bewind help in verskeie munisipaliteite, is nog ongetoets in Suid-Afrika, en elders in die wêreld nie baie suksesvol waar die gedoogde steun van heethoof-leiers gekom het nie. Sal dit in Suid-Afrika kan werk, of gaan dit kort voor lank op ’n breekspul uitloop?

Suid-Afrika se suiwer proporsionele kiesstelsel is gebruik om te probeer verseker dat elke belangegroep ten minste in die parlement verteenwoordig is. Slegs ’n kwartpersent-steun waarborg ’n setel, en omdat met grootste breuke van “reste” gewerk word, kan ’n party met selfs heelwat minder steun ’n setel, of bykomende setel, opneem. In die meeste lande waar die stelsel gebruik word, soos in Wes-Europa, lei dit byna onvermydelik tot die noodsaak van koalisies.

Dit is eintlik ironies dat die eerste grootskaalse koalisievorming nou op munisipale vlak moet plaasvind waar net die helfte van die setels gewoonlik proporsioneel is, en die ander volgens wyke geskied. Dit beteken ook dat een party meer stemme kon getrek het, maar minder setels verwerf – iets wat die ANC reeds aangedui het hy ná die afgelope verkiesing oor langlippie is.

Koalisiepolitiek is nie vreemd aan Suid-Afrika nie, en ook nie aan die post-1994-Suid-Afrika nie. Die Nasionale Party het aanvanklik Kaapstad en die Wes-Kaap met koalisies regeer, en die DA het later ook so gemaak.

Voor die jongste verkiesing is ’n paar munisipaliteite ook deur koalisies regeer, waaronder Swellendam, wat as beste munisipaliteit aangewys is, waar die DA deur die ACDP gesteun is.

Ironies is daar vanjaar, veral uit akademiese kringe, groot gewag gemaak oor die negatiewe aspekte van koalisies, soos dat dit uiters onstabiel kan wees. Soms kan ’n klein opposisieparty wie se steun nodig is vir die koalisie, buitengewoon baie mag hê as ’n soort “afpersing”. As iemand ’n hond wil slaan, is ’n stok altyd …

Daar is egter ook heelwat te sê vir koalisies. Om onstabiliteit te voorkom, moet daar deeglik oor ’n koalisie besin word. In Europa wys die staatshoof gewoonlik iemand aan as formateur of rapporteur, wat eintlik as ’n fasiliteerder optree om partye tot ’n koalisie in te bind. Dit kan soms baie lank duur, en in die proses word ’n lywige beleidsdokument vir die koalisieregering opgestel. Dit is ’n proses van gee en neem.

’n Breër deel van die bevolking word dus ingebind, en topkundiges uit verskeie partye kan in leiersposisies soos die burgemeesterskomitees (munisipale kabinette) dien.

In Suid-Afrika kon die hoogs gerespekteerde Louis Michael van die ACDP ’n Wes-Kaapse minister word.Trouens, hierdie voordeel is so sterk dat regerende partye soms knap opposisielede betrek om ministers of adjunkministers te word.

In dié soort stelsel is daar nie net die twee opsies van koalisie of geen koalisie nie, maar dat ’n party wat die skaal kan swaai, maar nie deel van die koalisie wil wees nie, ’n koalisie sy “gedoogde” steun toesê. ’n Betreklik onlangse voorbeeld was toe Geert Wilders sy party se steun aan ’n koalisie “gedoog” het, en later onttrek het. Na afloop van die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesing was dit ironies die EFF wat gereeld dié opsie genoem het. Dit het uiteindelik ook so “uitgewerk” en die Nederlandse pers berig ook oor Malema se “gedoogde” steun aan die DA (wat hy die duiwel noem).

Die laaste ding wat ’n regering op enige vlak nodig het, is ’n “gedoogde vennoot” wat sy mening aanpas elke keer dat die wind sy koers aanpas, en dit sal niemand verbaas as die nuwe munisipale regerings wat van die EFF se gedoogde steun afhanklik is, kort voor lank teenspoed gaan kry nie.

As die EFF besluit die ANC is nie meer “erger” as die duiwel nie (soos as Zuma by die ANC die trekpas kry, of bietjie later, wanneer sy opvolger aangewys word), kan die ANC plek-plek dalk aan bewind gehelp word. Andersins kan tussenverkiesings volg, of in uitsonderlike gevalle, soos voor die verkiesing met Oudtshoorn die geval was, die munisipaliteit onder administrasie geplaas word. Dat die EFF se anti-ANC-sentimente hoofsaaklik te wyte is aan ’n groot onlekkerte tussen Zuma en Malema, kan by Zuma se vertrek tot ’n heel nuwe situasie lei.

Die onsekerhede wat met die EFF saamhang, beteken ongelukkig dat ’n mens nou so op die huidige moet konsentreer, dat dit moeilik is om te fokus op hoe die nuwe situasie die volgende nasionale en provinsiale verkiesing gaan beïnvloed. Dit sal so jammer wees dat, as dit sou gebeur dat die ANC sy huidige afwaartse trajek bly volg en nie ’n volstrekte meerderheid behaal nie, dit weer nodig sal wees om die EFF in die oë te kyk. Die EFF het immers sy kaarte reeds gespeel deur vir koalisiegesprekke van die DA te vereis dat Die Stem-gedeelte in die volkslied in die slag bly, en dat banke genasionaliseer word.

Die EFF se politieke voorkeure plaas ’n baie belangrike aspek van koalisiepolitiek onder druk, naamlik ’n minder verdeelde samelewing weens politiek. In die VSA is byvoorbeeld die afgelope aantal jare baie geskryf oor hoe politieke verdeeldheid ontwikkel het van beskaafde politieke teenstand tot venynige vyandskap. As voorbeeld is gemeld dat twee Amerikaanse bure nog oor en weer by mekaar sou braai, al is die een Demokraat en die ander Republikein. Maar met die klemverskuiwing was hierdie soort uitstyg bo die politiek ook van die baan. Hillary Clinton, die Demokrate se presidentskandidaat, het juis hierin getrap met haar verkiesingslagspreuk van “Stronger Together”.

Hierdie uitreik, in beginsel, skep weer lewensruimte vir professionele politieke brugbouers. Een so ’n brugbouer en president van die Mediators Foundation, Mark Gerzon, skryf egter in ’n onlangse artikel in die Christian Science Monitor dat dit nie lyk of die Demokrate hulle by hul eie slagspreuk hou nie.

Sou die nuwe situasie daartoe lei dat Suid-Afrika ook professionele politieke brugbouers kry, gaan hulle, met die EFF in die prentjie, hare op hul tande nodig hê om die wa op sy spore te hou. Tensy natuurlik die EFF vir ’n slag besluit om volwasse politiek te bedryf.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Rynhardt ·

Albei die DA en EFF is voorstanders van regstellende aksie/transformasie en sal nie goeie dienslewering kan handhaaf nie.Albei het hul eie sienings van hoe SA moet lyk,en dit is nie goed nie.Die een groot vyand ondersteun die een vyand nou,maar vir hoe lank,voordat die moeilikheid gaan kom? Die slang gaan beslis lelik sy kop uitsteek.

Koos Koek ·

En was is dan die alternatief? Die EFF wat dan saam met die ANC werk? IS dit dan beter as die ANC saam met die EFF Pretoria en Johannesburg reageer? Want daar is nie ander alternatiewe nie. Al die ander kleine partye saam het nie eers genoeg stemme om te regeer nie. So dit is of die DA regeer met die EFF en dit gaan maar met stampe en stoote of die EFF gaan saam met die ANC. Watter een verkies jy?

Rynhardt ·

Ou Koos Koek,ek verkies nie een nie.Jy word gespeel deur Anc faksies!Sopas het E-tv berig dat die EFF is klaar ontevrede met DA se kandidaat vir burgemeester, vir Johannesburg.Malema se woorde wergalm weer:”We are caught between two devils!”Dit sluit alles aan by my eerste kommentaar waarna ek reeds verwys het.Ou Koos Koek,ek verstaan die politiek meesterlik en val nie vir arrogante politici se mooi woorde nie!

Loeis ·

“Die EFF het… van die DA vereis dat Die Stem-gedeelte in die volkslied in die slag bly, en dat banke genasionaliseer word.”

Hierdie (uiters belangrike) stukkie inligting is het jy toi nogal laat in die artikel gelaat, Herman.

Persoonlik gee ek nie om dat Die Stem uit die volkslied gelaat word nie – die huidige opset is ‘n belediging vir Die Stem.

Maar nasionalisering van banke?! En die DA steun dit?! Uhm. Vir wie het jy gestem, leser?

Kan sulke nasionalisering die toets van die grondwet deurstaan?

Herman Toerien ·

@Loeis. Soos ek verstaan het die DA nie daartoe ingestem nie, en daarom is ook geen koalisie tussen die DA en die EFF gesluit nie. Dié sake het egter niks met munisipale sake te doene nie. Die Pretoria-Tshwane-naamkwessie en die verandering van straatname waaroor Afriforum en die (ou raad) van Tshwane op pad hof toe was gaan seker wel moeilikheid oplewer.

Loeis ·

Die EFF gaan verwag om iets terug te kry in ruil vir hul steun aan die DA se kandidate. Jy is reg dat sakke soos nasionalisering verder as dienslewering strek. In Kaapstad was dit die DA wat Afrikaanse straatname verander het, so in Pretoria gaan hierdie twee partye mekaar maklik vind wat dit aanbetref. Die volgende vraag is hoe hierdie ondersteuning verhoudings in die parlement, wat wel oor beleidsake besluit, gaan beinvloed.

Hein ·

Interresant toe die VF+ in koalisie was met die DA in Kaapstad en die DA straatname wou verander het die VF+ dit gestop. Die DA het gou vergeet dat die VF+ oorspronklik die DA in ‘n koalisie gehelp het om Kaapstad vanaf die ANC te neem. Ons sal sien wat die EFF nou regkry met die DA in Pretoria. Die EFF kan enigiets doen in PTa. Die EFF kan saam met die DA stem om dienslewering te verbeter en saam met die ANC stem om HOP huise in alle oop ruimtes te ontwikkel, straatname te verander en lekker hoe belastings op die inwoners van die “suburbs” te hef . Hier kom lekker moeilikheid en die EFF was slim om hom nie aan enige koalisie te verbind nie. Dit is nou lekker afrika demokrasie waar twee wolwe en een skaap beluit wat hulle vir ete gaan kry.

Bruno Stef ·

Vir Malema gaan dit net om die totale mag te bekom of andersins soos in die huidige omstandighede n mes teen die keel van die opposisie te hou.Ek wil dit weereens waag om te se soos by vorige geleenthede dat die ANC gaan skeur en dat gematigde ANC ondersteuners by die DA sal aansluit en die res by die EFF. Dit kan gebeur nog voor 2019 of net daarna Malema het die vermoe om die land in n burgeroorlog te dompel solank hy net die totale mag kan bekom soos sy leermeester Mugabe hom geleer het n diktatorskap.

Anti DA ·

Ek het nuwe waardering gekry vir die DA hulle het nie toegegee aan Malema se ongrondwetlike rassistiese eise nie dankie daarvoor as hulle die beloftes wat hulle gemaak het voor die verkiesing nakom glo ek nie sal hulle nie die eff nodig kry in die volgende verkiesing nie.

Kaufman ·

Hier is die EFF sê strategie: wees nou met hierdie munisipale verkiesing nederig en moet nie te veel mag gryp nie vir 2 redes: 1) ons kom voor as beginselvas, nie magsbehep nie en asof ons regtig omgee, en 2) ons regeer nie nou al munisipaliteite wat ons onkunde gaan bewys nie so ons behou die persepsie dat ons effektief is vir nog langer.

Dan wen ons vertroue vir die groot, eintlik belangrike nasionale verkiesing, dan vat ons groot, dan het ons toegang tot nasionale beleid en kan maak wat ons wil. Briljante strategie!

Kaufman ·

Die DA kan nou n baie slim skuif maak in Jhb: probeer die huidige burgermeester wat eintlik baie goed is oortuig om oor te stap DA toe en die burger meester te bly. Dit sal sentiment wen by baie, onder andere by baie EFF en ANC lede, en julle wen een van die min goeies oor in die ANC.

Klaas ·

Herman, is jy seker van jou stelling dat die DA die nasionalisering van banke steun? Ek kry dit nêrens in hulle beleidsdokument nie en dit val vreemd op die oor, gegewe die DA se sterk ondersteuning vir privaatinisiatiewe. Luister maar na hulle benadering oor werkskepping: Die owerheid op alle vlakke moet ruimte skep vir die privaatsektor om werkgeleenthede deur ondernemerskap te skep.

Herman Toerien ·

@Klaas, ek sien dit ook nêrens en kan nie onthou dat ek so ‘n stelling sou gemaak het nie.

hans brits ·

Wat n deurmekaar spul,ek is net bly ek het reg gestem al is hulle klein.

poot ·

@ hans brits.
En het jou stem, “al was dit klein” ‘n verskil gemaak? Partykeer moet mens jou verstand inspan en die hart so bietjie eenkant laat staan.

Hein ·

Poot ek verstaan nie jou redenasie nie. Indien jy vir die VF+ gestem het kan dit tog nie sleg wees nie want hulle beleid is tog teen “AA” , kwotas ens. Hulle is tog saam met ‘n koalisie met die opposisie en sal tog die regte besluite neem tot voordeel van die gebruikers. Hoe kan dit sleg wees want jy kan tog staatmaak op hulle soos toe hulle saam met die DA Kaapstad ‘n paar jaar gelede. in koalisie, bestuur het. Jammer ek verstaan nie jou redenasie nie en miskien verstaan jy nie die politieke stelsel van proposionele sitplek nie. O ja ek het nie gestem nie want ek stem dat ons heeltemal ontrek uit S.A. politiek totdat alle diskriminerende wetgewing teen witmense gestop word. Onthou die munisipaliteite is in ‘n gemors agv die regstellende poste en hulle gaan nog steeds daar sit as die nuwe koalisies regeer. Dit is net die mense in die raadsale wat verander en nie die mense wat die werk doen nie.

Louwrens ·

Hein, nou verstaan ek weer nie jou redenasie nie. Jy het self nie gestem nie maar beweer dat n stem vir die VF+ sou gehelp het teen kwotas en AA en vir al die ander regte dinge…! Nou hoe op aarde werk jou kerk…? Dan moes jy mos juis gaan stem het ou maat.

Herman ek wil beroep op jou doen om die manifeste van die DA, EFF, ANC en VF+ so in kort saam te vat in n volgende artikel. Hier is darem n paar lesers wat wat nie n benul het waarvoor die onderskeie partye hulle beywer nie en dan sommer hulle eie afleidings as die waarheid verkondig.

Wern ·

Interessante opmerking. Ek dink baie mense weet gladnie wat partye voor staan nie, die stembesluit gaan meer oor persepsies en gesigte as waarvoor hulle staan. Dalk kom dit wel uit in uitsprake oor sekere sake wat die nuus haal, soos die DA wat zuma hof toe vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.