Nuuskommentaar: Koalisies – is daar ander opsies?

Argieffoto: Pixabay

Hoe nader die verkiesing kom, hoe warmer raak die oond, en hoe moeiliker raak dit vir analiste om leemtes te identifiseer en met ’n tipe voorligting te skryf sonder om self by die gevolglike ruim vitrioeluitdelery betrokke te raak. So is daar nog baie om oor koalisiepolitiek te wete te kom.

Koalisies is nie so vreemd aan die Suid-Afrikaanse en Afrikanerpolitiek as wat dalk gemeen word nie. Trouens, min aspekte van dit wat nou oor koalisiepolitiek gesê word, is werklik nuut as ’n mens dr. DF Malan se dokument, Afrikaner-Volkseenheid / My manifes, lees. Selfs die openlike teenkanting met die vorige verkiesing uit akademiese kringe, veral in die Wes-Kaap, was nie nuut nie. (Op die oomblik lyk dit nie of daardie teenkanting weer uitgedruk sal word nie, waarskynlik teen die agtergrond dat koalisies nodig gaan wees om die ANC op soveel moontlik plekke, en teoreties dalk selfs landswyd, uit die regeerstoele te dwing.)

Sekere van Malan se opmerkings klink of dit so pas geskryf kon gewees het.

  1. Dis waarskynlik dat vandag of môre die Nasionale Party-regering van die toneel sal verdwyn het en dat in plaas daarvan daar ’n Nat-Sap-koalisie die land sal regeer.
  2. In hierdie verklaring, wat ek namens myself en ’n aansienlike getal ander Nasionale Party-parlementslede maak, bedoel ek nie om volledige inligting te verskaf nie. Mettertyd sal al die informasie wel tot die volk deursyfer.
  3. Dis begryplik dat onder omstandighede die Nasionaal-voelende volk, in sy verwarring en verbystering met ’n angstige hart die vraag sal doen: wat gaan nou gebeur ?
  4. Onderhewig aan hierdie voorbehoud sal ons die nuwe regering ondersteun. Ons kan egter onderneem om dit te bly doen alleen vir sover as hul geen Nasionale Party-beginsels verkrag of veronagsaam nie en alleen solank dit blyk dat die Nasionale Party oor die algemeen nog bereid is om die koalisie-regering te verdra.

Malan se besware en voorgestelde oplossings is kompleks, en hy maak dit ook duidelik dat hy nie in die manifes of andersins die kwessies in detail gaan bespreek nie, maar dat dit mettertyd self na die kiesers sal deursyfer.

’n Mens moet ook onthou dat dit wat Malan destyds gesê het, byna ’n eeu gelede gesê is. Die kennispoel waaruit vandag se kiesers moet put, se wortels strek dus eerder tot meer hedendaagse voorbeelde soos Europese lande wat ook op die beginsel van proporsionele kiesstelsels werk, en gevolglik standpunte deur akademici soos prof. Amanda Gouws wat na ’n meer simplistiese narratief gekyk het, naamlik dat koalisies ’n meer ingeboude onbestendigheid sou verteenwoordig.

Hierteenoor het ander akademici weer op talle voordele gewys, soos dat dit korrupsie deur die regering op alle vlakke bemoeilik.

Soos dr. Malan ook uitgewys het dat hy nie in ’n enkele dokument op alle aspekte en beginsels van koalisiepolitiek kan wys nie, en dat daardie kennis geleidelik na die kiesers moet deursyfer, moet die uwe ook bieg dat dit onmoontlik is om dit volledig in ’n enkele nuuskommentaar te hanteer. Die verhandeling wat nodig sal wees om dit te doen sal oneindig langer wees as die woordbeperking wat selfs losweg vir nuuskommentare geld.

As na die Wes-Europese voorbeelde gekyk word, is koalisies eerder die norm as die uitsondering, en grootliks die gevolg van die proporsionele kiesstelsel wat feitlik verseker dat geen party in ’n verkiesing ’n volstrekte meerderheid kan behaal nie.

Om ’n koalisie saam te stel, veral as die hele proses wag tot na die verkiesing, kan ’n tydrowende proses wees. In baie moeilike gevalle, soos België, kan dit omtrent die helfte van ’n regeertermyn neem om ’n koalisieregering saam te stel.

Die vind van die partye wat potensiële koalisievennote is, vereis ’n deeglike kennis van partye se beleid en die versoenbare aard van leiers se persoonlikhede. Die politieke geskiedenis speel ’n rol. Soos as twee partye mekaar voor die verkiesing woes geopponeer het, gaan die vind van mekaar daarna moeiliker wees as om koalisievennote onder klein partye te gaan oes met wie daar nie so ’n geskiedenis van stryd is nie. Hoe meer volwasse die demokrasie is, hoe makliker gaan dit gewoonlik om kleinlikhede te oorkom.

Oplaas kan ’n koalisie tot stand kom met die hulp van, wat in Nederlands bekend staan as gedoogde steun, ’n party wat radikaal van die breë koalisiebeleid verskil. Een van die beste voorbeelde was die gedoogde steun van Geert Wilders se PVV.

Die term, gedoogde steun, het sedertdien ook in Afrikaans vastrapplek gekry met die gedoogde steun wat die DA-geleide koalisies van die EFF verkry het. Dit geld op die oomblik op munisipale vlak, waar verskeie beleidskwessies van die DA en die EFF weens die beperkings van munisipale kompetensie nie so uiteenlopend is as die kompetensie op nasionale en provinsiale vlak nie. Om ’n koalisie op dié vlakke tussen die DA en EFF met gedoogde steun te laat oorleef gaan oneindig moeiliker wees as op munisipale vlak, waar dit in elk geval reeds baie moeilik is.

Een van die grootste take na ’n verkiesing vir koalisievennote is die opstel van ’n koalisie-beleidsdokument. Elke verkiesing word dan deur ’n Kodesa-tipe proses gevolg, en ’n koalisie-beleidsdokument wat neig om die duisend bladsye te nader, is die gevolg. Soms word potensiële koalisievennote in hierdie proses deur ander vervang.

Dit is ’n proses van gee en neem.

Is dit wys dat potensiële koalisievennote mekaar voor die verkiesing met vitrioel te lyf gaan? Dit hang af van hoe gevestig sekere praktyke is, met volwasse demokrasieë wat die kritiek nie sommer “kop” toe vat nie. Dieselfde partye wat mekaar met die ergste vitrioel bestook het, sit dan na die verkiesing snoesig saam en werk aan die vorming van ’n koalisie.

So is dit Mmusi Maimane se eie keuse of hy bereid is om kiesers se reaksie by die stembus te trotseer op sy oproep dat kiesers tog nie vir kultuur-sektorale partye moet stem nie. Dit raak komplekser as hy in die proses soveel aanstoot gee dat dit sekere partye so ontstig dat hulle nie sommer in koalisie-gesprekke sal wil tree nie.

Kortom, wat is die beste? Om voor die verkiesing potensiële koalisievennote met dieselfde felheid te looi as sy werklike opponente, of om logistiek en andersins saam te werk en mekaar nie onnodig met ’n vrot vis te kletter nie?

Die instink gaan immers wees om suksesvolle koalisies in byvoorbeeld Pretoria en Johannesburg op die sterkste vennoot se brood te smeer, terwyl van die kleiner partye se aandeel soms buitengewoon groot kon wees. Die kleiner partye sal dan verkies om in hul verkiesingsveldtog dit as koalisie-suksesse te beklemtoon, en veral hul eie bydrae daarin wil beklemtoon.

Terwyl sommige kiesers, geoordeel aan “vars” leserskommentare op Maroela, steeds klou aan die storie, eers van Marthinus van Schalkwyk, destyds NNP-leier, oor stemme “vermors” deur vir klein partytjies te stem, en daarna deur die DA wat eers baie kwaad vir Kortbroek was. Ondersteuners van ander partye reageer soos klokslag daarop deur daarop te wys dat so iets hoegenaamd nie in koalisiepolitiek ter sprake is nie.

Opsommend kan gesê word dit is duidelik dat kiesers oor die algemeen nog oor te min kennis oor koalisiepolitiek beskik. En dit kan nie met ’n enkele nuuskommentaar soos hierdie reggestel word nie.

Dit gaan nog moeiliker word hoe nader die verkiesing kom, en die politieke klimaat kookpunt begin nader, en die tyd vir onverbonde “voorligting” raak bitter min. Hoe warmer die “debatte” word, hoe meer vitrioel volg gewoonlik. Selfs die analiste word van kantkiesery en deelname aan die ad hominem-aanvalle beskuldig namate kiesers se velle dunner raak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hendrik ·

Ons is in die middel van die demokratiese stelsel met al sy gebreke. Volgens my stem die party, in elke raad, volgens die mandaat van jou kiesers. Die vraag is wie is jou naaste bondgenote? Daar is egter geen ander party regs van sentrum anders as VF+. Dit hang af wat die onderwerp van besprekings is. As dit aborsiewet is sal ACDP in bondgenootskap wees met VF+ en as die besprekingspunt grondonteining is sal VF+, COPE en DA. Meeste van die partye is links van sentrum en meeste staan alles voor wat teen ons indruis.

Johann M van Heerden ·

Koalisies sal waarskynlik nodig wees, maar sal so onstabiel wees dat normale regering feitlik onmoontlik sal wees. Die PE geval is ‘n bewys. Die swart mense stem ook ANC klaar en verstaan duidelik nie die demokratiese proses nie. Weens die swak samestelling van ons huidige politieke bedeling waarin die werklikheid van ras geignoreer word met die hersinskim van ‘n reenboognasie ontbloot van alle waarheid. Ons moes nooit ‘n een mens een stem bedeling gehad het nie. Nou is dit te laat en ons kan dit nie verander nie. Ons gaan dus in die grond in ‘geregeer’ word deur ‘n swart meerderheid soos in die meeste Afrika lande. Korrupsie sal dus eenvoudig voortgaan. Die verotting loop te diep en alle staats en semistaats organisasies sal vervang moet word en dit sal tog nie gebeur nie. Ons is dus gedoem om as ‘wit’ mense magtelose toeskouers te wees van die verval.

Liza ·

Naar, maar waar Johann. Maar dit is water onder die brug. Wat gaan ons nou doen?

willem Botha ·

Koalisie regering is die enigste manier om S.A. reg te kry en ongelukkig verstaan die meerderheid burgers nie hierdie konsep nie daarom is daar mense wat DA stem omrede dit n “groot” party alhoewel hulle hart en verstand sê hulle moet VF+ stem,net so stem die meerderheid swart kiesers vir die anc alhoewel hulle ontevrede is met die anc .Ek wil in kort sê stem wat die beste vir jou en jou kinders se toekoms gaan wees ,n simpel voorbeeld is as die anc 10 stemme het en die VF+,DA en cope saam 15 stemme het en laasgenoemde vorm n koalisie regeer hulle gesaminlik gaan regeer en die korrupte anc word dan die opposisie.

piper ·

e k stem vf+. n DA koalisie saam met die vf+ is n beter koalisie as saam met die EFF. meer eenvoudig kan dit nie gestel word nie.

Eben ·

Ons is enige politieke seggenskap ontneem bloot deur getalle. ‘n Demokrasie kan *dalk* werk wanneer die besluitnemers stemgetalle het wat kan meeding met mekaar. Ons het dit eenvoudig nie. Die blanke in hierdie land word bloot geignoreer. Sonder selfbeskikking kan mens maar netsowel die stemmery los. Daar gaan oor ons gestoomroller word. Ons moet uit hierdie grap van ‘n SA kom en die VF+ gaan dit eenvoudig nie doen nie. Hulle is 100% op die multikulturele trein. Sonder selfbeskikking is vlugtelingstatus ons voorland… .

Alida ·

Die DA het die beste kans as die VF Cope en nog n paar ander hulle steun.

Adam ·

Die SA politieke landskap is effe anders as wat ons gewoonlik met koalisies assosieer. Die ANC het die troefkaart gespeel deur ‘n alliansie met die SAKP en Cosatu te sluit en dit het hulle tot op hede ‘n volstrekte meerderheid besorg. Ons koalisies is dus in wsese ‘n koalisie (soos ons dit ken) met ‘n “koalisie” (lees alliansie) daarbinne wat die voordele van ‘n koalisieregering afwater omrede een groep met ‘n beduidende volstrekte meerderheid sit. Dit is ‘n reuse probleem, veral inaggenome dat die EFF ook die ANC steun tov sekere aspekte, ongeag wat hulle graag wil sien ons glo. Hoe gouer die ANC en sy alliansie-vennote uitmekaar gaan, hoe beter vir koalisiepolitiek.

Logika ·

Herman

In jou vorige skrywe skryf jy ten opsigte van nie-stemmers, dat hulle nie “ontvanklik” is vir enige argument tot die teendeel nie. Die indruk wat dit skep, is dat “daar nie met hulle geredeneer kan word nie”. In dieselfde berig word daar, met tye, ‘n baie gebrekkige voorstelling van hulle argumente teen deelname aan die verkiesing gemaak.

Kan ek dus aanvaar dat dit nie jou bedoeling was nie, en dat jy wel bereid is om ‘n oop debat te voer in die opsig?

Andreas ·

Logika, ek glo die regte pad om te volg sal wees om met ‘n Brief aan Maroela jou standpunt te stel en dan sal die skrywer van die artikel daarop reageer, maar ek dink nie dit is vanpas dat die skrywer van ‘n artikel met ‘n kommentator onderaan sy artikel in ‘n debat betrokke raak nie, dit worfd net nie gedoen nie.

Logika ·

@Andreas

Op hierdie stadium vra ek nie ‘n debat met Herman nie, bloot net ‘n opklaring op ‘n stelling wat blyk te wees dat daar nie met nie-stemmers gedebateer kan/moet word nie.

Hy het immers vantevore in die kommentaar-afdeling al gereageer op kommentaar wat op sy opinie-stukke gelewer is, so ek glo nie dit is ongehoord, onvanpas of ‘n onredelike versoek nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.