Nuuskommentaar: Koerdiese referendum vir onafhanklikheid

Mense wag buite die parlementêre gebou van die Koerdistan-streek van Irak. Foto: (Xinhua/Khalil Dawood)

Wanneer dit kom by ’n volk, selfs ’n groot volk soos die Koerde, se strewe om onafhanklikheid, weeg magspolitiek vir die wêreld swaarder as moraliteitspolitiek.

Die uitslag van ’n nie-bindendende referendum onder Irakse Koerde is dié week gehou en die uitslag is Woensdag bekend gemaak. Altesaam 92,73 % van die Koerde wat gaan stem het, het vir die onafhanklikheid van Koerdistan gestem. Die opkoms was meer as 72 %. Dit is ’n nie-bindende referendum (Irak noem dit ongrondwetlik), maar het nogtans die hare in Ankara en Bagdad laat regop staan, met ook Iran wat bekommerd kan wees.

Met die trek van die grense van die lande wat eens deel van die Ottomaanse Ryk was, het die politieke kartograwe voor groot, veral Arabiese, druk geswig en geen land vir die Koerde uitgekerf nie. Die Koerde is nie Semities soos die Arabiere nie, maar wel Indo-Germane soos ook die Iraniërs. Volgens een tradisie is hulle die afstammelinge van die Mede waarvan in die Bybel gelees word. Hulle is meestal Moslem.

Dit het beteken dat die Koerde as minderhede in lande soos Turkye, Iran, Sirië en Iran beland het, en in al drie lande aan vorme van onderdrukking onderwerp is.

Met die eerste Amerikaans geleide inval in Irak, het die destydse president George Bush ’n vlug-spersone afgekondig oor Irak se Koerdistan, onder meer om te verhinder dat Saddam Hoesein die Koerde weer met gifgas of chemiese wapens bestook. Die afgelope kwarteeu het Irak se Koerdistan dus self as ’n de facto-land ontwikkel, aangehelp deur aansienlike oliebronne. Ná die tweede Amerikaans geleide inval in Irak het Koerdistan dieselfde outonomie gekry as die Soenie en Sjiïtiese dele van die land. Saddam is verhoor en tereggestel vir sy wandade teenoor die Sjiïete nog voor hy vir die misdade teen die mensdom teen die Koerde verhoor kon word.

Met ISIS se herowering van groot dele van Irak, het die Koerde ’n belangrike rol gespeel, en sou ’n hartliker tipe verhouding tussen die Sjiïties gedomineerde regering in Bagdad en die Koerde verwag kon wees. Dit is egter nie die geval nie.

En nou die referendum.

Turkye, wat onder die leiding van die Jong Turke heeltemal probeer verturks het, het byvoorbeeld in ’n stadium die gebruik van die Koerdiese taal verbied, en Koerdiese stede het Turkse name gekry. Die Koerde is afgemaak as ’n onbeduidende minderheid, al maak hulle (ná ’n volksmoord) sowat 20 % van die bevolking uit. Die Turkse geskiedenisboeke is herskryf om die gebeure te verswyg.

Dit het min of meer saamgeval met die volksmoorde op die Christen-Armeniërs, die Christen-Assiriërs en die sigeuners.

Die posisie van die Koerde in Turkye bly wipplank ry, maar meestal afwaarts. Turkye loop gereeld onder terreuraanvalle van die Koerde deur, wat soms vanuit basisse in afgeleë dele van Irak se Koerdistan, en ook uit Sirië opereer. Turkye beantwoord dit gereeld met hewige lugaanvalle.

Die internasionale reaksie is veel meer op magspolitiek, as op dit wat reg of verkeerd is, gerig. Die VN het vooraf die referendum afgekeur. Turkye is ’n lid van Navo (hoewel die verhouding nou stram is).

Die gebeure val saam met die beoogde Kataloniese referendum oor onafhanklikheid op 1 Oktober. Hier het die Spaanse regering hardhandig opgetree.

Twee volke se onafhanklikheidstrewes, so lyk dit, gaan nog lank net strewes bly, en die wêreld is taamlik swygsaam daaroor – want ander belange as moraliteit domineer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Erick ·

Die Afrikaner kan parallelle trek met dié geskiedenis en ons eie droom om ‘n onafhanklike staat binne ‘n land. Dit sal net ‘n droom bly, ‘n lekker een maar steeds net ‘n droom.

Eish ·

Uit die artikel kan n mens ook aflei wat die buiteland se houding is teenoor diegene wat hul in n derglike situasies bevind, soos die blankes in die helhool. Dalk groepe om fyn dop te hou ten einde gemeenskaplike grond te vind en duur lesse deur hul geleer teen afslapryse te bekom.

John ·

?.. en as die Afrikaners ‘n referendum wil hou oor ‘n eie onafhanklike grondgebied in SA, waar begin ons? En as dit soos in Spanje , met hand en tand beveg word? Op watter stadium van die stryd gaan die Boerevolk ‘n eie grondgebied opeis of vat, of hoop ons ewiglik op beter dae? Die kwessie oor aan wie Afrika nou eintlik behoort, kan dalk ‘n paar verrassings oplewer vir die diegene wat so daarop aanspraak maak. Genetiese toetse kan bv aandui dat sekere staatshoofde van elders stam… soos van bo uit Afrika. Sommige Zoeloe-grootmonde se voorsate kom bv dalk eintlik uit die Ooste… en dit sommer onlangs. Sou Afrikaners geen bestaansreg gegun word nie, kan geen Indier of Sjinees of Maleisieer hier grond besit nie. Ons bure moet ok ligloop. Mogabe self het dalk voorvaders wat suid gerubber-boot, -gewiel of -gevoetpad het agter die reuk aan van die kospotte van die eerste setlaars. Die San het dalk die eerste reg op die sleutels vir SA se toegangshek, maar dalk ook nie… met voorsate die pigmies van Midde-Afrika. Nie eers die huidige inwoners van Egipte se dns stem ooreen met die van die antieke adelike mummies s’n nie. So?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.