Nuuskommentaar: Koes, die spulle is op ons!

Foto: GCIS

Foto: GCIS

Wanneer wyle oupa Nic gesê het die spulle is in die dorp, het hy die sirkus bedoel.

Dit is moeilik om te sê presies wie Woensdag die meeste bygedra het tot die spulle se landswye opmars. Sommiges sal sê dit is ongetwyfeld die EFF se rooi opmars in die parlement en in provinsiale wetgewers – in sommige gevalle maar taamlik stormagtig.

Of was dit diegene wat dit vir die EFF moeilik probeer maak het omdat dit die waardigheid van die Huise in gedrang sou bring?
“Watter waardigheid?” sou baie vra.

Van waardigheid was daar nie veel sprake toe die ANC gejil en gegil het toe pres. Jacob Zuma vir sy tweede termyn herkies is nie.
Van waardigheid was daar nie sprake toe hoofregter Mogoeng Mogoeng ‘n grappie gemaak het toe die DA ‘n mosie probeer indien het om Zuma as nie geskik vir president te verklaar nie.

Mogoeng het dalk nie “kostes” vir die afwys van die DA-mosie toegestaan nie, maar iemand gaan die prys betaal.

Die pogings om Zuma ingevolge die grondwet as nie geskik as president te laat verklaar nie kom al ‘n ruk. Afgesien van uitgerekte hofsake, was daar voor die algemene verkiesing versoeke aan die OVK om Zuma as kandidaat te laat diskwalifiseer.

Die deursigtigheid waarmee die ANC met die aanwysing van Baleka Mbete as speaker opgedwing het – om Zuma se rug te dek en Nkandla-verslag te begrawe – bring ook nie baie waardigheid na die parlement nie.

Die opskrif van ‘n hoofartikel van die Nederlandse koerant, Trouw, vat die buitelandse siening oor die kwessie mooi saam: De dominantie van het ANC is niet gezond voor Zuid-Afrika.

In die Christian Science Monitor skryf Sisonke Msimang, skrywer en analis, asook direkteur van Sonke Gender Justice soos volg oor hoekom sy nie weer vir die ANC gaan stem het nie: “The ANC has become increasingly preoccupied with commandeering state resources either for the benefit of its leaders or for the party itself. Worse, in seeking to protect President Jacob Zuma from the many scandals in which he has become embroiled, the party has used its majority in parliament to try to change our laws. In its original form, the ominous Secrecy Bill – which was bravely resisted by ordinary citizens – would have jailed journalists who published ‘classified’ information.’ A modified version remains on the legislative agenda for this year.”

Die kort en die lank is dat die ANC die president se ampseed oneer aangedoen het, en in die proses die vinger diep in die grondwet se oog gedruk het.

Die volgende vyf jaar – of hoe lank die ANC Zuma as president sal duld – gaan die uiterste eise aan opposisiepartye stel om bo hul gewigsklas te baklei. Die howe gaan gereeld getoets word. Die media sal sy kant moet bring om as waghond te dien. Die rol van burgerlike instellings gaan vergroot.

Minderhede gaan onder druk bly, en dit is reeds duidelik gemaak dat minderhede wat die beperkings oorkom en uitpresteer, eenvoudig harder vir uitmuntendheid gestraf gaan word. Die nuwe leier van die Afrikanerbond, Jaco Schoeman, sê die uitslag van die 2014-verkiesing dwing alle burgerlike organisasies daartoe om as medebewakers van die grondwetlike demokrasie op te tree.

Dit is ook redelik voorspelbaar dat daar toenemende versoeke, en moontlik selfs druk, op Solidariteit en AfriForum sal wees om ‘n politieke party op die been te bring. Die huidige politieke landskap, en die feit dat Solidariteit deel van die internasionale Christelike vakbondwese is, skep ‘n natuurlike “aanvoeling” dat daar heelwat heil te vinde is in ‘n nuwe politieke party wat naby aan Solidariteit staan.

Daar is goeie redes, wat Solidariteit en AfriForum gereeld stel, hoekom dit nie wenslik is nie. Maar wanneer kiesers moedeloos raak met dit wat hulle nou deur bestaande politieke partye in die hand het, is dit ‘n natuurlike verskynsel dat die hoop verskuif na waar daar sigbare walgooiery en selfsorgsaamheid is.

Intussen moet mediagebruikers hulle vir vyf jaar van verdere “Zuma-bashing” reg maak. Een van die argumente wêreldwyd oor hoekom dit demokraties onwenslik is om ‘n president tot twee ampstermyne te beperk, is dat so ‘n president aan die einde van sy tweede termyn eintlik ‘n “lame duck” word. Niemand vrees hom meer nie, want hy gaan nie nog ‘n termyn kry om dwarstrekkerige of minagtende amptenare aan die pen te laat ry nie. Daar kan dus ‘n geleidelike opbou van openlike afvalligheid begin ontwikkel wat nie die presidentsamp goed gaan doen nie.

Vir nog vyf jaar gaan Zuma via die TV ‘n gereelde besoeker in huise se voorvertrekke wees. Vir nog vyf jaar gaan Zuma ‘n skadelike verdelende faktor in die land wees.

Die uitdaging is dat die bevolking, en veral minderhede, moet oorleef ongeag Zuma, nie danksy hom nie. En daarvoor sal op veel groter skaal saamgestaan en kragte in burgerlike instellings saamgevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Isak ·

Dis wensdenkery om te dink dat ‘n liberaal demokratiese party soos die DA ooit beheer sal kan oorneem of ‘n volhoubare oplossing kan bied. Die feit dat die ANC na 20 jaar steeds 62% kry en met die EFF se 6% ‘n twee derde meerderheid het, beteken dat ons nog lank aan die tirannie van die meerderheid uitgelewer gaan wees.

Minderhede se situasie gaan toenemend benard raak vorentoe. As entoesiasties ondersteuner van beide Solidariteit en die VF+ asook Afriforum, is dit vir my duidelik wat nou behoort te gebeur. Dis tyd dat al hierdie organisasies staatsmanskap aan die dag le en ‘n totale strategie vir oorlewing vir ons mense uitwerk. Dit sluit sterk burgerlike aksies in, maar ook ‘n stem in die parlement en aktiewe politiek. Met die VF+ se herposisionering en uitreik na ander gemeenskappe dink ek dat hulle ook beter geplaas is om ‘n aanvaarbare alternatief te bied. Ten spyte van reuse begrotings van opponente, media vyandigheid en die feit dat hulle nie die openlike steun van ander organisasies gehad het nie, het die VF+ tog gegroei.

Ek dink as hierdie organisasie begin saamwerk en wedersyds insette lewer, gaan hulle veel verder kom. Dit sal dom wees om nou van voor af nog ‘n politieke party te begin. Die broedertwis wat noodgedwonge sal volg op so ‘n stap sal tot niemand se voordeel wees nie.
Alle betrokkenes van al die instansies sal hulle persoonlike agendas op die agtergrond moet plaas en ter wille van die groter saak wysheid aan die dag moet le. Moenie dat ons oor tien jaar van nou terugkyk en se: “Het ons maar….” nie.

Hendrik ·

Net nie nog ‘n politieke party vir Afrikaners nie, asseblief! Konsolideer eerder die wat daar reeds is in ‘n eenheid onder sterk leierskap wat ook steun vanaf die DA af kan terugwen.

Terloops, is Sisonke Msimang verwant aan die berugte Manto T Msimang? Dit neem al haar/sy kredietwaardigheid weg in my oë.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.