Nuuskommentaar: Kolisi, kwotas en menswaardigheid vs. kwota-toe-eiening

Argieffoto

Daar is ’n goeie rede waarom die meeste groot sportsoorte ’n verbod geplaas het op regeringsinmenging in daardie sportkodes, asook op rassisme.

Fifa het al verskeie lande soos Griekeland, Kenia en Iran hieroor geskors. Suid-Afrika word egter nie net oorgesien nie, maar in wese openlik van dié bepalings kwytgeskel. Pas is Siya Kolisi, Springbokkaptein, deur politici as rassis gebrandmerk omdat hy hom teen rassekwotas uitgespreek het.

Selfrespek het al verskeie kere in sportsoorte soos rugby en krieket te staan gekom teen toe-eiening en kwotas. In krieket was daar onder meer die Charl Langeveldt-geval wat ’n politieke storm ontketen het. In rugby het verskeie swart en bruin spelers aangedui dat hulle hul sou skaam as hulle Springbokke geword het op grond van hul velkleur eerder as op verdienste.

Langeveldt het as speler in die politieke wildernis beland toe hy agtergekom het hy het op grond van sy velkleur die Proteaspan gehaal voor André Nel. Nel was in daardie stadium ongetwyfeld die Proteas se beste skokbouler terwyl De Lange moontlik die beter naatbouler was.

Toe die redes bekend word oor waarom Langeveldt in die krieketwoestyn beland het, het hy oor ’n breë front baie respek gekry – en dit verdien.

Verskeie swart en bruin rugbyspelers het hierna aangedui dat hulle sou aanstoot neem om bekend te staan as kwotaspelers. Selfrespek het beteken dat hulle nie as kwotaspelers bekend sou wou staan nie. Hulle het gevoel hulle wil net Springbokke wees as hulle dit op meriete bereik het.

Die regering was woedend. Min of meer dieselfde het met krieket gebeur.

In die afgelope toetsreeks teen Pakistan het Duanne Pretorius net die Proteaspan gehaal omdat Vernon Philander beseer was. Niemand sal ontken dat Philander die Proteaspan op meriete haal nie. Hy word immers gewoonlik, as mediumsnelbouler, as openingsbouler ingespan, eerder as ’n werklike blitsige skokbouler.

In die beseerde Philander se afwesigheid het Olivier gewys hy kan nie meer weggelaat word nie nadat hy in die eerste toets elf Pakistani’s se paaltjies ingeoes het. Hy is egter as aflosbouler ingespan. Met Philander se terugkeer is Olivier behou, maar steeds as aflosbouler.

’n Swart speler, Kagiso Rabada, het hom reeds as een van die voorste snelboulers ter wêreld bevestig. Rabada, wie se pa ’n mediese dokter is, kan egter kwalik as ʼn kwotaspeler beskou word want hy was as skolier in een van die beste krieketskole in die land, nog altyd ’n speler wat spanne op meriete moes haal.

Met die eendagreeks moet een van die snelboulers die trekpas kry omdat die eendagreeks baie moeilik sonder ’n draaibouler wat die lopievloei kan beperk, aangepak kan word.

Maar watter een? En dan is daar nog ’n paar skokboulers, soos die beseerde Lungi Ngidi, in die prentjie.

Op provinsiale vlak het die krieketbase ’n blatante rassekwota ingestel. Die kwotavereiste kon nie (meer) behaal word deur te maak of bruin spelers eintlik swart spelers is en die kwotas so behaal word nie. Om te keer dat spanne hierdie uitweg volg, is bepaal dat ’n bepaalde aantal “African”‑spelers moet wees.

Die krieketbase het ook aangedui dat hulle verkies om nie met kwotas geassosieer te word nie, en verkies dit om na teikens te verwys.

Die regering het egter by herhaling aangedui dat hulle niks voel vir selfrespek nie, en dat ras ’n belangrike kriterium is. Kolisi is ’n Springbokkaptein, en regeringslui het aangedring dat Kolisi dit as kwotaspeler vermag het, en skaamteloos trots daarop moet wees.

Hy het Suid-Afrika vir die eerste keer op 9 Junie op die veld gelei.

Toe Kolisi egter aandui dat hy op meriete die span gehaal het, is hy deur politici in die ANC se dampkring verkwalik en gestriem. Maar is hierdie benadering van die regering dan minder rassisties as oorle apartheid?  Kolisi, wat met ’n wit vrou getroud is, kan immers baie moeilik as rassis beskou word.

Verskeie Amerikaanse studies wys daarop dat ’n persoon se ras dikwels met natuurlike talent en kulturele werklikhede verband hou. Amerikaanse voetbal word byvoorbeeld proporsioneel sterk oorheers deur Polinesiese spelers. Swart spelers is ook “oorverteenwoordig” in voetbal asook basketbal. (Amerikaans-Samoa is ’n Amerikaanse afhanklikheid.) Bofbal word deur wit spelers oorheers.

Die beskikbaarheid van Polinesiese spelers verseker feitlik dat Nieu-Seeland rugby oorheers. Om mededingend in die Super-reeks te wees, het Australiese spanne ook talle Polinesiese spelers begin koop. In Europa is bitter min van die voorste spanne sonder minstens een Polinesiese speler. Maroela het die kwessie reeds in 2016 opgeneem. Lees hier.

Die ekonoom, Chris Hart, het by sy destydse werkgewer die trekpas gekry nadat hy na die toe-eiening deur sommige swart mense verwys het. Sedertdien het verskeie mense egter heel openlik na toe-eiening begin verwys, en daar was selde ’n gebrom oor dié politieke inkorrektheid. Spanne oorpresteer dikwels weens selfrespek en gemotiveerdheid teenoor spanne wat doodgewoon gekoop word. Die Noord-Vrystaat het byvoorbeeld lank daarin geslaag om die Natallers uit die Curriebekerreeks te hou tot Louis Luyt as SA rugbybaas Natal by verstek gepromoveer het.

Die Cheetahs oorpresteer ook teenoor hul getalle, tot beroepsrugby die span eenvoudig te veel laat bloei het. Dit het tot die ontstaan van ’n grappie gelei. As die Haaie in Bloemfontein kom speel, waar gaan hulle tuis? Die antwoord is: “In hul ouerhuise.”

Om sport en politiek te meng is soos om turksvye met die skil en al te eet. Maak nie saak hoe lekker die turksvye is nie, die ongemak van ’n mond vol fyn dorinkies is bitterlik sleg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Felix ·

En natuurlik, omdat daar ‘n stigma aan kwotas kleef, buiten die wit spelers van ‘n jong ouderdom wat nou nie gekies word nie, op watter vlak ook al en juis as gevolg van die kwotas waaraan die span moet voldoen, is baie van hulle voortydig vir die provinsie of Springbokke verlore, in effek het van hulle na skool, of nie lank daarna nie, al oorsee verkas.

Dit is jammer dat juis as gevolg van die kwotas, waar dit geld, dit die kwotaspeler in daardie spanne bevoordeel, juis omdat hy nou in daardie gevalle waar hy nie na verdiente gekies is nie, die ander speler wat hy uit die span hou, die geleentheid ontneem om verder te ontwikkel. En die dag as daardie kwotaspeler sodanig gevorder het dat hy nou op meriete bv vir die Springbokspan gekies kan word, was dit nie maar agv kwotas dat hy uiteindelik daar beland het nie?

Felix ·

En natuurlik, per my kommentaar hierbo verwys ek na my laaste sin waar ek dit stel dat die kwotaspeler uiteindelik eendag op meriete in die Springbokspan kan beland, dan moes ek bygevoeg het, dis nou na alle opposisie langs die pad hoop opgegee het agv die kwotas, of elders gaan speel het.

chrisp ·

Dankie Felix jy vat dit raak wit kinders word op laerskoolvlak al benadeel en verloor belangstelling,baie tragies.

Felix ·

Chrisp, jy is 100% reg, en so verloor hordes belangstelling langs die pad. Baie mense ontwikkel mos ook maar eers laat, of bereik laat hul potensiaal. Ek hoop dit laat die manne wat beduie daar is nie kwotaspelers in die provinsiale of watter span ook al nie, weer dink, selfs die Bokke, hoe hulle hierdie een tebowe gaan kom, miskien moet hulle aan iets ander dink om ons te oortuig.

kolla ·

Steyn en Philander is ‘n beproefde openingspaar, dis hoekom hulle begin het. Philander is uit en uit ‘n naatbouler en is op sy effektiefste wanneer die bal nuut en hard is. Ons beste bouler tans (Rabada, die wereld se nommer een) het as aflosbouler gespeel in die toets. Dit hang ook af van die kolfblad, ens. wie wanneer gaan boul. Olivier het die laaste dag begin met die boulaanval. So – die boulers wat in die begin gaan boul is nie noodwendig die beste boulers in die span nie. So terloops – Rabada en Philander is onderskeidelik eerste en derde op die wereldranglys vir toetsboulers, klas.

kolla ·

Wat sal die Proteas sonder Rabada en Philander wees, eerste en derde op die IKR se ranglys vir toetsboulers? Fantastiese spelers. Ek kan ‘n gekleurde toetsspan kies wat die wit outjies sal laat les opse. Dink net daaraan: as ons nog apartheid gehad het, het fantastiese talent soos Rabada by die venster uitgegaan.

Herman Toerien ·

Hallo Kolla. Ek het nie bedoel gekleurde spelers moet, ongeag kleur, gekies word nie. Trouens, ras is nie al norm wat vir diskriminasie gebruik is nie. Dink maar hoe moeilik dit vir ‘n Arikaanssprekende was om die krieket-Springbokspan te haal in die tyd toe André Bruyns tot niks verder as die twaalfde man vd Springbokke kon vorder nie. Op provinsiale vlak het Bruyns baie beter as nr3-kolwer as Alie Bacher gevaar. Kepler Wessels het na sy terugkeer uit Australië vd Wes-KLaap na die Oos-Kaap verhuuis omdat Afrikaanse spelers vir die WP se B-span gereserveer was. Hottie Niewoudt het dié “tradisie” verbreek en sedertdien word krieket amper deur Afrikaanse spelers gedomineer. Maar daar is troppe Afrikaanse spelers soos Vaatjie Nel wat nie die WP-span kon ruik nie. Vaatjie, ‘n draaibouler, kon van ‘n draaiboul-aanloop snel-opslagballe afstuur. Die Esybiesie glo egter steeds almal by die krieket is Engelssprekend.
Oor die afgelope paar jaar kan ‘n mens boeke skryf oor die gehalte van veral sommige bonde se kolfblaaie. Die Vrystaat moes selfs akademici inkry om te kyk wat fout met die kolfblad is. Die blaaie in Potch, Paarl, Kimberley en ‘n hele rits ander het al erge skandes gemaak. As ‘n toets na net meer as twee dae verby is, was daar beslis groot fout Dikwels bevoordeel hierdie vreemde blaaie die oorsese spanne. Van die voorste Proteas het al gesê die gehalte v provinsiale krieket is swakker as klubkrieket in die dae v Polock, Rice, Kuyper ens.

Ai ja jai ·

Nou toe kolla, sit vir ons jou gekleurde toetsspan hier neer en sommer ‘n wit span ook dat ons kyk of jy weet waarvan jy praat. En of hulle die beste wit span sal ore aansit.

kolla ·

Ek het my gekleurde span gegee maar Maroela plaas dit nie, so gaan nie verder tyd hier mors nie.

bollie ·

Namens Kolla – Maroela plaas nie my goed nie, ek gaan nie weer my gekleurde span gee nie. Useless kommentaar-seksie.

alwyn burger ·

Wanneer sien ons wit kwotaspelers in die nasionale sokkerspan?

Manie ·

Die reaksie van die regering op wat hy gesê het laat geen twyfel dat kwotas seëvier in rugby. En ek dink hy is een van die kwotas want hy’s beslis nie die beste flank beskikbaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.