Nuuskommentaar: Kom daar regtig vrede in die Koreas?

Kim en
Moon skud blad. Foto: Korea Summit Press Pool via AP

Kan die jongste inisiatiewe op die Koreaanse skiereiland werklik tot permanente vrede lei? Nie as daar na die invloed van ’n antieke Chinese generaal, Sun Tzu, se werk op Kim Jong-oen, en wat dit leer, gekyk word nie. Katvoet loop is aangewese.

Soveel ontleders, soveel menings bestaan daar oor die kwessie of die Koreaanse sprokie wat hom nou ontvou, werklikheid gaan word.

Als is te danke aan die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, wat nou die dag nog wild beduie het hoe hy die VSA binnekort met interkontinentale ballistiese missiele en selfs waterstofbomme sou kon bestook. Dis dieselfde man wat ’n senior amptenaar tereg laat stel het deur hom met ’n lugafweerkanon te laat skiet. In Noord-Korea word derduisende mense in strafkampe aangehou. Dit is die land waar Christene vir die 14de agtereenvolgende jaar die meeste verdruk word (ongeveer 30% van die Suid-Koreane is Christene).

Natuurlik was Kim ook die teiken van Suid-Koreaanse propaganda. Maar kan dieselfde wreedaard, wat ’n wrede oupa en ewe wrede pa as leier van die kluisenaarstaat opgevolg het, so skielik in ’n gemoedelike mens verander? Die kernmateriaal gaan sommer dadelik opgeruim word, lui die jongste versekering van Noord-Korea. Koreane sal mekaar vrylik oor en weer oor die grens kan besoek.

Op die oog af vertrou die Suid-Koreaanse regering die vrede, by wyse van spreke, ten volle. Tipies grootbek verklaar ’n Amerikaanse generaal dat pres. Donald Trump vir Kim tot ander insigte gedwing het. Daar is egter ’n totaal ander perspektief.

‘n Standbeeld van Sun Tzu in Japan. Foto: Wikimedia

’n Groeiende besef het ontwikkel dat Kim en sy stratege hulle sterk laat beïnvloed deur die antieke Chinese generaal, Sun Tzu. Trouens, die leërhoofkwartier van die VSA het sy eenhede in Suid-Korea aangeraai om eksemplare van Sun Tzu se werk in hul biblioteke aan te hou en te bestudeer. Dit is wel bestudeer, en verskeie kommentare van weermagleiers kan op die internet gelees word. Hulle het dit bykans eens dat Kim ’n strategie volg waar Sun Tzu nougeset die pad aandui.

Sun Tzu se werk kan nie in ’n nuuskommentaar tot sy reg kom nie. Destyds was sewe Chinese state in ’n min of meer permanente staat van oorlog gewikkel, en konvensionele oorlogvoering het die status quo min of meer laat voortduur.

Stagnasie wat periodiek en plek-plek ingetree het, herinner nogal aan die gebrek aan ’n vredesluiting tussen die twee Koreas lank nadat die oorlog de facto tot stilstand gekom het. Nuwe metodes waar mobiliteit, terrein en die holistiese inspan van verstand sleutels geword het, het die lig begin sien. Opsommend kan gesê word dat onkonvensionele denke aan die orde van die dag is. So is ’n generaal wat sy vyande aanval sonder om van ’n oorwinning verseker te wees bloot ’n dom, allermins dapper, generaal. Die dapper generaal sal konfrontasie vermy tot hy seker is hy het die oorhand.

Sun Tzu se wyshede is ook deur Mao Zedong ingespan, en spesifiek die lang mars. Dit, sodat hergroepeer kon word en ’n nuwe sterk vesting ingerig word van waar die hele China, afgesien van Taiwan, verower kon word. Sun Tzu het meer as een keer “voorbrand” gemaak deur na “reise” (eintlik terugval) van ’n duisend Li te verwys. Dit, selfs as dit nodig sou wees, al het die terugvallende generaal ’n reuseleër van duisende strydwaens en derduisende voetsoldate tot sy beskikking. (Li het ook sterk simboliese betekenis, soos dat dit aan die groot Chinese muur gekoppel word, en ook die afstand wat ’n gevalle soldaat se lyk moet aflê na sy laaste rusplek om van ’n salige hiernamaals verseker te wees.)

As hierdie soort denke Kim s’n onderlê, sal dit wys wees om die hele aangeleentheid uiters katvoet te betrag.

Min inligting is bekend, maar dit blyk dat minstens ’n gedeelte van die berg waar Kim sy ondergrondse kerntoetse gedoen het, ingestort het. Hoeveel skade aangerig is, en hoeveel opgepotte materiaal vasgeval het, is nie bekend nie. Die feit bly dat Kim baie ernstige teenspoed by sy Chinese bondgenoot op die lyf kan loop as van die kernmateriaal in die atmosfeer ontsnap en oor die nabygeleë Chinese grens dryf. Ook Japan en Suid-Korea sal ongemaklik wees, en dit kan in Noord-Korea katastrofies wees.

Kim en Moon stap verby ‘n erewag in Panjonmun. Foto: Korea Summit Press Pool via AP

Daar is egter te min bekend. Wat wel bekend is, is dat verskerpte sanksies wat die VN oor die kern- en missieltoetse ingestel het, Noord-Korea nou ernstig knou. Die VSA het byvoorbeeld die bykans ongehinderde smokkelary tussen China en Noord-Korea grootliks tot stilstand laat knars deur doeltreffende vlootaktiwiteite.

Wat offer Noord-Korea werklik op deur nou (skynbaar) witvoetjie met die suide en die VSA te soek, en met ’n oorvloed goedgesindheid van Suid-Korea beloon te word? Suid-Korea is ’n bondgenoot van die VSA en Japan, en behoort sy bondgenote ook positief te kan beïnvloed. Handelsboikotte kan oornag verkrummel. Die gehate propaganda-uitsendings van die skietstilstand-lyn af gaan gestaak word, indien dit nie reeds gestaak is nie.

Maar besef die bondgenote, en veral Suid-Korea, nie dat Kim waarskynlik met ’n strategie uit die boek van Sun Tzu besig is nie? Die Suid-Koreane is immers, tot onlangs in elk geval, net so blootgestel aan Sun Tzu se werk. Heelparty Amerikaanse militariste het duidelik wakker genoeg geskrik toe hulle Sun Tzu se werk in besonderhede begin bestudeer en besef het Von Clausewitz (vader van mobiele oorlogvoering) se werk kan, wat Noord-Korea betref, eers stof vergaar.

Of voel Suid-Korea dat hy oor genoeg kundiges oor Sun Tzu beskik om Kim met sy eie spel te troef?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet Snot ·

Herman, jy’t nou nuwe lig gewerp op ‘n probleem waarmee ek al weke worstel: wat motiveer Kim se skielike vriendelikheid.
Sun Tzu was ‘n baie wyse man, en heel moontlik is hierdie ‘n goed deurdagte strategie van Noord-Korea.
Wel, dalk lei dit tot vrede. Kom ons bid.

Casper Labuschagne ·

Die kans op ‘n blanke volkstaat is effens groter as wat die kans op vrede is in die Koreas. Noord Korea is geensins ‘n normale land nie, dit is ‘n persoonlikheidskultus van die regerende familie wat die land of met ‘n ystere hand moet regeer of self ondergaan.

Donald ·

Elke militere leier studeer Sun Tzu se werk tot i n die VSA o ook. Dalk het die VSA n dodelikker en meer akurate wapen as n atoombom gewys toe die sekretarisgeneraal besoek gaan af le het n paar weke terug. 2 miljoen “weaponised drones” met A.I funksie en met face recognition wat uit n vliegtuig ontplooi word oor n stad of dalk iets ergers nog?

PJC ·

Duidelik voer hierdie Noord Koreaanse leier iets in die mou en dit sal ń groot fout wees indien die VSA vir sy praatjies val.

Gerhard ·

Ek reken elke regering betrokke is oortuig dat Kim Jong-oen besig is met ‘n streek. Niemand vertrou hom nie al se hulle wat ook al voor die kameras. Die vraag is eerder gaan Donald Trump tevrede wees met die afskaling van kernwapens en hoe sal hy optree om te verseker dit vind plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.