Nuuskommentaar: Kom Ebola ook na Suid-Afrika?

Dokters Sonder Grense neem 'n ebola-slagoffer in Guinee weg Foto: thewestsidestory.net

Dokters Sonder Grense neem ‘n ebola-slagoffer in Guinee weg Foto: thewestsidestory.net

Hoewel die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verklaar het dat die huidige uitbraak van Ebola ‘n wêreldwye noodtoestand veroorsaak het, en Dokters Sonder Grense noodoproepe doen omdat hulle nie kan voorbly in die enkele lande waar dit reeds aangemeld is nie, bly berigte oor die aansteeklikheid daarvan en die moontlikheid dat dit na Suid-Afrika kan versprei baie teenstrydig.

Intussen sal kundiges wêreldwyd vandag besluit of ‘n eksperimentele middel wat skynbaar met sukses in die VSA gebruik word, geskik is vir menslike gebruik. Die Amerikaanse medisyne-beheerorganisasie het toestemming verleen dat Amerikaners wat die siekte onder lede het en na die VSA vir behandeling afgevoer is, daarvan mag gebruik, al is dit voorheen nog net op diere getoets. Die gebruik op die enkele pasiënte lyk belowend.

Pres. Barack Obama het ook goedkeuring verleen dat van die eksperimentele middel dié week nog na Liberië geneem word om dokters te behandel wat die siekte opgedoen het.

Intussen is 1013 mense reeds aan die siekte dood, terwyl meer as 1 700 bevestigde gevalle aangemeld is. Hulle is veral van Sierra Leone, Liberië en Guinee, terwyl enkele gevalle in Nigerië aangemeld is wat blykbaar almal na een persoon wat uit die buiteland gekom het, herlei kan word.

Nogtans het die president van die Wêreld-Vigsstigting, dr. Michael Weinstein, die wêreld se trae reaksie op die uitbraak as grensend aan “kriminele nalatigheid” beskryf.

Die meeste literatuur oor die oordraagbaarheid van die siekte lui dat regstreekse aanraking met die liggaamsvloeistof van die siek persoon nodig is om die siekte op te doen. Iemand kan byvoorbeeld nie die siekte opdoen as die sproei van ‘n siek persoon se nies of hoes ingeasem word nie.

Tog, anders as met die MIV, word ‘n dubbele stel handskoene voorgeskryf, en die beskermde klere herinner aan ‘n ruimtepak. Gesondheidswerkers moet voor en na hulle met die pasiënte gewerk het, stort, en die lugdruk in die lokaal waar die persoon behandel word moet laer as die atmosferiese druk buite wees. Tog berig Media24 vanoggend dat gesigsmaskers en beskermde klere nie voldoende beskerming aan mediese personeel bied nie.

Mediese personeel is dus dikwels van die vernaamste slagoffers – so ook in Suid-Afrika waar ‘n verpleegkundige wat ‘n Ebola-pasiënt uit die buiteland verpleeg het, enkele jare gelede oorlede is.

Die debat oor of Ebola ‘n pandemie in Suid-Afrika kan veroorsaak, is ook nog nie volkome beslis nie. Aan die een kant, het Suid-Afrika nie ‘n klimaat wat bevorderlik is om tot ‘n epidemie te lei nie, wat egter nie beteken dat reisigers die siekte na land kan bring nie, en ander wat in kontak kom, die siekte kan opdoen nie.

Die jurie moet nog ‘n finale beslissing fel oor of wêreldwye klimaatsverandering ‘n impak op natuurlike verspreidingsgebied kan hê, en die saak is reeds verskeie kere ondersoek. ‘n Studie wat in 2002 in die Photogrammetric Engineering and Remote Sensing gepubliseer is, word as goeie vertrekpunt beskryf.

Daaruit blyk dit dat reënval, eerder as temperatuur, ‘n probleem skep. Volgens projeksies sal veral die westelike dele van Suid-Afrika droër en warmer word. Die probleem is dat daar ook juis natter periodes in dele van die wêreld, ook Suid-Afrika, kan voorkom waar die vogtigheid nou te min is vir optimale Ebola-toestande.

In sommige kringe word die toename in uitbrake sedert 1994 aan klimaatsveranderings toegeskryf, nadat daar van 1980 tot 1994 geen gevalle was nie. In 2007 is ‘n nuwe virus boonop in Uganda ontdek, hoewel die Ebola-virus, in teenstelling met MIV, nie maklik muteer nie.

Min of meer dieselfde geld volgens ander studies vir ander ernstige siektes soos malaria, knokkelkoors (Dengue) en andere.

Die kanse vir die spontane uitbreek van Ebola in Suid-Afrika word egter bitter gering geskat. Navorsing dui daarop dat die siekte van sogenaamde “bosvleis”, veral die vleis van vlermuise, na die mens oorgedra word. Die draerspesies is nog grootliks tot sentraal- en Wes-Afrika beperk.

‘n Groot probleem is dat ‘n persoon eers 21 dae na hy besmet geraak het, simptome begin toon. Hy kon dus ver reis voor hy siek word. Tog word die kanse as gering beskou dat ‘n persoon op enige ander manier as met ‘n vliegtuig uit die huidige verspreidingsgebiede na Suid-Afrika sou kon reis sonder om onderweg te siek te word om verder te reis.

Wat toegang by lughawens betref, word skandeerders ingespan wat verklap of ‘n persoon moontlik koorsig kan wees. By lughawens soos Lanseria is ‘n isolasievertrek weg van die lughawegebou. Suid-Afrika se voorsorgmaatreëls word as “op papier” in plek beskryf.

Sou Ebola op ‘n groot skaal na Suid-Afrika versprei, kan dit weens die hoë voorkoms van MIV-Vigs ‘n probleem afgee weens die persone se laer vlakke van weerstand. Navorsing toon ook dat Ebola en MIV dieselfde meganisme gebruik om te versprei.

Wat Suid-Afrika op die oomblik betref, is dit hoogs wenslik om alle moontlike voorsorg in plek te hê. Dit sal boonop help om die verspreiding van ander gevaarlike siektes ook te beperk. Die gevaar, vanuit Suid-Afrika se oogpunt, is juis dat die oog so op Ebola gehou word dat ander gevaarlike siektes speelruimte kry. Hieronder tel:

– Malaria – Meer as 600 000 mense, die meeste kinders onder vyf jaar oud, sterf jaarliks aan malaria. Meer as drie miljard mense is blootgestel aan die opdoen van malaria.
– MERS – Teen Mei vanjaar was daar al ‘n skerp toename in MERS-gevalle (Middle East Respiratory Syndrome). Volgens die jongste beskikbare syfers het dit in Saoedi-Arabië alleen meer as seshonderd lewens geëis.
– Hepatitis – eis sowat 1,4 miljoen lewens per jaar
– Vigs – Tydens die onlangse wêreldkongres in Australië boer die wêreld agteruit in die bekamping van die siekte.
– Tuberkulose – Jaarliks sterf ongeveer 1,3 miljoen mense aan TB, waarvan sowat 320 000 ook die MIV-virus onder lede gehad het.

Die oog moet ook deurlopend op ander siektes, soos voëlgriep, varkgriep en ander gehou word waar asem opgehou word oor wanneer nuwe mutasies ook die mens sou aanval. In China is ‘n ganse stad onlangs weens die uitbreek van builepes in isolasie geplaas.

Dwars oor die wêreld word groot eise aan fondse, kundigheid en innovasie gestel om teenmiddels te vind. In ‘n artikel wat vanoggend saam met die jongste Rasmussen-peilings versprei is, bespreek Joe Conason juis die probleem dat burgers in lande soos die VSA traag is dat genoeg fondse bewillig word om gesondheidsdienste in ontwikkelde land op ‘n peil te kry sodat daar voorkom kan word dat siektes, waaronder Ebola, na die ontwikkelde lande sal versprei.

Soms word heeltemal nuut gedink, soos ‘n span Europese navorsers wat met die hulp van skenkings van die Europese Unie ‘n nuwe benadering volg om ‘n entstof teen griep te vind wat nie net ‘n paar jaar doeltreffend sal wees nie, maar meer soorte griep sal kan voorkom.

Suid-Afrika se vernaamste fokus behoort steeds Vigs te wees, en nie Ebola nie. Vigs kan reeds grootliks aangespreek word as die bevolking sy losbandige seksuele gedrag laat vaar.

Met ander siektes is dit egter nie so “maklik” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.