Nuuskommentaar: Kom hier ’n noodtoestand?

zuma-gordhan-studente-rommelstatusDie term “noodtoestand” is onlangs deur die waarnemende polisiekommissaris in die konteks van die studente-protes genoem en afgewys. Maar is daar werklik so ’n moontlikheid en wat sal die implikasies wees?

Die term “noodtoestand” het enkele dae gelede weer in omloop gekom, spesifiek in die konteks van studente-protes landswyd, sodat die waarnemende polisiehoof dit moes wegpraat. Met die dagvaarding van die minister van finansies en sy reaksie daarop, asook die ANC se reaksie dat die reg sy loop moet neem, is dit duidelik dat die land se skaakspel op ’n finaliteit afstuur wat nog ’n groot verskeidenheid uitkomste kan bied, waarvan die afkondiging van ’n noodtoestand maar een is.

Die een saak wat egter baie duidelik uitstaan, is dat die gebeure om die kop van minister Pravin Gordhan ’n uiters belangrike skuif op die skaakbord was. Politiek-gesproke is dit nou skaak, en die volgende skuif gaan bepaal of dit skaakmat in pres. Jacob Zuma se guns is, en of Zuma se opponente hom in ’n weergalose lokval gelei het.

Hoe die burgerlike samelewing gaan reageer, hoe die publiek gaan reageer, hoe die beweerde derde mag gaan reageer; alles speel saam om scenario’s te skep waarmee ontleders naam kan maak, of hul eie name met ’n plank kan slaan.

Net ter wille van duidelikheid: Die scenario van ’n moontlike staatsgreep word nie nou deur gerespekteerde kommentators genoem nie en hulle speel versigtig deur nie verder as staatskaping of algehele verval en rommelstatus te gaan nie, en word in hierdie kommentaar bloot as ’n uiterste moontlikheid genoem.

Onder die gerekende politieke ontleders wat vroeg uit die blokke is, tel prof. André Duvenhage van die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit. In ’n middelbladartikel met die titel “Is Zuma se dae getel?” in Volksblad vanoggend, skryf hy in dié uitstekende artikel onder meer: “Die dagvaarding aan Pravin Gordhan, minister van finansies, begin een van die beslissendste gevegte in die onlangse geskiedenis van die ANC. Dit hou verreikende gevolge vir die staat in.”

Die opskrif van Netwerk 24 se kommentaar is veelbetekenend: “Dagvaarding van Gordhan kan enorm wees.”

Dr. Leopold Scholtz skryf op Netwerk 24: “Die finansiële webwerf Bloomberg het die stap om Pravin Gordhan, minister van finansies, van bedrog aan te kla beskryf as ‘die jongste kronkel in die stryd met pres. Jacob Zuma wat kan beteken dat Suid-Afrika se kredietgradering tot rommelstatus verlaag word’.”

Die opskrif van Magnus Heystek se artikel op Moneyweb is: “South Africa: be afraid, be very afraid.”

Die redakteur van Moneyweb, Ryk van Niekerk, se bydrae is: “Gordhan-gate comes to a head.” (Weens Moneyweb se sensitiwiteit oor kopiereg word hier nie dieper gedelf nie.)

Gordhan self veg voort: “Finance Minister Pravin Gordhan on Tuesday ruled out resigning and called the fraud charges against him merit-less, politically motivated and timed to destabilise the economy,” som Business Day sy houding op.

IOL se opskrif dat Gordhan se taak bemoeilik word deurdat hy nou op ’n bewegende teiken moet aanlê, is baie beskrywend.

Die Nasionale Vervolgingsgesag se pogings om geloofwaardigheid te verwerf dat dit vry van politieke inmenging werk, staar opdraande stryd in die gesig solank dit met appélprosesse probeer keer dat pres. Jacob Zuma weer aangekla word in die saak wat nou algemeen as die “bande-saak” bekend staan. Gordhan is gedagvaar om in die hof te verskyn terwyl die saak teen hom se ondersoek deur die Valke nog nie heeltemal afgehandel is nie.

By ’n groot deel van die publiek sal die persepsie oor die implikasies van ’n noodtoestand waarskynlik sterk gesentreer wees om tonele uit rolprente soos Earthquake waar dit onder meer behels dat plunderaars op sig geskiet kan word. Dat ’n noodtoestand in Suid-Afrika bedoel is om uiters beperk te wees blyk daaruit dat die grondwetlike poort hiervoor, artikel 37 van die Grondwet, deel van die handves van menseregte uitmaak. Streng grondwetlike voorskrifte geld dus vir Wet 64 van 1997 wat die noodtoestande sou reël.

’n Noodtoestand mag net uitgeroep word as daar ’n oorlog is, as die land ingeval word, as algemene oproer (insurrection) heers, of in die geval van wanorde, ʼn natuurramp of ʼn ander noodgeval. Die lewe van die nasie moet bedreig word. Die noodtoestand mag nie langer as 21 dae duur nie, tensy dit deur die Algemene Vergadering vir nie langer as drie maande op ’n slag verleng word nie, en ’n tweede of verdere verlenging van die noodtoestand verg ’n 60 persent meerderheid in die Nasionale Vergadering. Met die tweespalt in die ANC kan verwag word dat die ANC en sy surrogaatpartytjies moeilik 60 persent sal haal omdat lede van die ander kamp in die ANC daardie dag “ongesteld” kan wees.

Die geldigheid van die noodtoestand kan deur die howe getoets word.

Aangehoudenes in terme van die noodtoestand se regte verskil nie veel van mense wat onder normale omstandighede aangehou word nie. Hul aanhouding kan ook ná tien dae in ’n hof betwis word.

’n Noodtoestand word deur ’n proklamasie in die Staatskoerant deur die president aangekondig. Dit kan vir die hele land, of gedeelte van die land geld.

Hoewel die fisieke uitwerking van ’n noodtoestand nie so ernstig en ingrypend is soos wat in baie persepsies bestaan nie, is die sielkundige impak van so iets op die politieke gemoed van die publiek en die land se internasionale aansien enorm. Dit is as’t ware ’n vrypas tot rommelstatus en dus nie ’n maklike uitweg om die land te stabiliseer, en studente wat wil studeer se belange te beskerm nie. Voeg hierby ander feitlik onbeperkte magte van die president soos om sy kabinetslede na hartelus aan te stel en af te dank (iets waaraan die publiek gereeld herinner is), en die saak het ’n donkerder aanskyn.

Dit bly dus gebiedend noodsaaklik dat Zuma deurlopend die besef moet koester dat sy eie kop gaan rol as hy sy hand oorspeel. Maar dit behels dat sy teenstanders op die skaakbord deeglik bemagtig moet wees. Dit sluit in dat burgerlike instellings so veel steun as moontlik moet hê en so goed as moontlik toegerus moet wees om, as die staat noodmagte misbruik en die howe ignoreer, deur vreedsame burgerlike verset genoeg druk uit te oefen om die Grondwet te beskerm.

Soos gemeld, die afkondiging van ’n noodtoestand is nou heel onwaarskynlik, maar die noem van ’n derde mag in die studente-onrus deur gerespekteerde ontleders soos Theo Venter, sonder om te noem wie agter hulle sit, maak dat die publiek tog maar veilig moet speel deur by wyse van spreke die broek hoog te hou deur ’n gordel, kruisbande en ’n stewige rek in te span. Al is dit net omdat soveel van die scenario’s op die ekonomie impakteer, en dus die klinkende munt (as daar is) in die sak.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Genoeg is genoeg ·

Ons land is in ‘n noodtoestand gedompel die dag toe Zumie onder die stortkop gaan staan het en sy sondes probeer afwas het…

Loeis ·

Dankie vir jou artikkel, Herman.

Mens besef dikwels hoe oningelig mense is, en jou artikel gee sinvolle inligting deur.

Archie Rautenbach ·

Baie dankie vir ‘n baie insiggewende kommentaar. Dit het ons so nodig maar hoeveel lees hierdie artikels werklik.

Piet Pompies ·

Nood toestand word gebruik om die mense wat wet en orde toe pas meer mag te gee en hulle te beskerm teen vervolging. Geheimhouding is ook van toepassing gevolglik kan die ware toestand van sake weerhou word soos sterftes ens.
Persoonlik dink ek dit is die regte tyd om ‘n Nood toestand aan te kondig omdat die kampus geweld niks met studie geld te doen, hierdie is ‘n revolusie wat wat deur ‘n klein groepe aangevuur word deur intimidasie . Stop dit nou voor dit te laat is.

Veritas ·

Mense wat nou-al praat van ‘n noodtoestand, gaan haal ‘n hele trop bobbejane agter die bult. In die eerste plek moet die regering doodseker wees dat dit die ondersteuning van die gewapende magte het. Op hierdie stadium is dinge so onseker dat niemand met sekerheid kan sê nie. Al wat ons op kan hoop is dat die gematigde demokrate binne die ANC, die regte ding sal doen en beheer van die regering sal oorneem.

Alida ·

Die noodtoestand is ‘n ramp terwyl Zuma toegelaat word om te poog om verantwoording te doen vir die 700 aanklagtes teen hom. Los vir Pravin uit hy red wat daar nog te redde is. Raak ontslae van NO. 1 en die Kaap is weer Hollands.

Alida ·

Die noodtoestand is ‘n ramp terwyl Zuma toegelaat word om te poog om nie verantwoording te doen vir die 700 aanklagtes teen hom nie. Los vir Pravin uit hy red wat daar nog te redde is. Raak ontslae van NO. 1 en die Kaap is weer Hollands.

Theuns ·

Dankie Herman vir ‘n baie goeie skrywe. Jy weet wanneer jy irrasionele optrede soos die heksejag teen Pravin Gordan sien dan kan ‘n ou nie help om te wonder wat die doel agter dit alles is nie en kan ‘n mens die volgende vrae vra! Wie sal baat by ‘n Noodtoestand, Staatsgreep, Rommelstatus, verwoesting van die Ekonomie, sluiting van Universteite en ander gevolge? Ek kan net dink aan een person en instansie wat sal baat vind nl Zuma en die ANC. Hoe vra julle? Dink aan die volgende scenario. n’ Noodtoestand sal heelwaarskynlik ly na ‘n Staatsgreep, Rommelstatus en verwoesting van die Ekonomie. Sluiting van Universiteite sal ‘n voldonge feit word. Al die gebeure sal help om ‘ n Diktatorskap daar te stel, Zuma behou sy job en die blaam kan verskyf word na ander instansies soos die opposie en die gewone samelewing/student ens. Hou maar dop Zuma gaan sy sekeriteits maatreels om sy eie person dramaties verskerp! Ai die man en sy planne!

Hendrik ·

Ek dink dat die meeste mense wat glo aan die demokratiese bestel dink dat daar nie ‘n noodtoestand/staatskaping/diktatorskap sal kan plaasvind nie. Hierdie gebeure is uit die verantwoordelike belastingbetalende minderheid (5-7 miljoen mense) se hande en reg in die regerende meerderheid se hande. Met die onlangse munisipale verkiesing het nog steeds 56% gestem vir die ANC al het net 16 miljoen van die 26 miljoen geregestreerde kiesers van die moontlike 36 miljoen kiesers gaan stem. Dus word die land beheer deur die ontverantwoordelike meerderheid en dit is soos prof Koos Malan se dat S.A. die mees ongrondwetlike wettige grondwet in die wereld het. Die S.A. grondwet suig want dit gee te veel magte aan die president en daar is NIKS wat die verantwoordelike minderheid daaraan kan doen nie.

Rynhardt ·

SA is reeds in rewolusie-fase! Universiteite word aan die brand gesteek terwyl Zuma weet chaos is land se voorland, want hy wil nie n tronksel sien nie! Swaard hang oor sy kop!Pretoria was ook in chaos reeds gedompel.Anc kon lankal weermag ingespan het, maar molesmakers(almal is nie studente nie) het regte by die Anc!Geweld moet verder uitkring, dit is aanvaarbaar vir Anc! Ek gaan dit weer se, Zuma gaan nie n tronksel sien nie! Onstabiliteit pas Zuma en sy trawante! Soos wat geweld floreer sal hyself nog daaronder ly!

Cola ·

Donderdag die 13 de is as vasdag en verootmoediging deur Moreleta park uitgeroep. Kom ons staan saam en bid vir die droogte, studente inluste en vir die regering

Lance ·

Zuma is seker so verheug en kan nie ophou met giggel noudat hy finaal net mooi alles in die land kon opneuk vir almal . Jy weet die mense dink hulle kan maar kyk waar sit ons nou …op n ashoop…slim vang sy baas !

Grassie ·

Ek glo nie ‘n noodtoestand sal in die nabye toekoms afgekondig word nie, maar baie moontlik oor sowat twee jaar. Zuma is nie van plan om na verstryking van sy termyn uit te tree nie om twee redes – hy is magsbehep en die tronkdeure wink vir hom as hy sy invloed as president verloor. Moontlik sal hy en sy trawante daardie tyd onrus aanstig en dit dan gebruik om ‘n noodtoestand af te kondig en sommer ook as ‘n verskoning om ‘n staatsgreep uit ter voer. Intussen moet hulle ten alle koste van Gordhan ontslae raak om die finansies te beheer en sommer ook ‘n klomp onheil te verberg wat Gordhan moontlik sal oopkrap. Ek sal ook nie verbaas wees as hy vir Van Rooyen aanstel as minister van verdediging nie. Ek dink ook ou Cyril moet maar katvoet loop en met sy een oog oop slaap.
Ek hoop van harte Zuma se teenstanders in die CNA kan ‘n sterk genoeg weerstand opbou dat ou Zoempas maar liewers tou opgooi en verkas na daardie huis in Dubai met die dertien badkamers.

Jo-anli ·

zuma moet regte ding dien. Homself lig uit daai stoel lig oorgee aan n BEVOEGDE PERSOON EN VIR PRAVIN GORHDAN UITLOS. Al wat zuma kan doen is smile en dans.

Karen van Zyl ·

Ons is al lankal in ‘n baie groot nood toestand?? Hoe kan hulle dit nou eers agterkom.

Charles Skeen ·

Hierdie baie goeie opsomming moet nie lig afgemaak word nie. Vergelyk Malema se aankondiging van ‘n masiewe optog vir 2 November in Pretoria. Die strategise datum wat byna saamval met die VSA verkising begin “Conspiracy Theory) gewys sin maak as jy in aanmerking neem dat beide Zuma en Obama deel is van die NWO se beplanning om voor einde van die jaar ‘n wêreld regering daar te stel. Albei Zuma en Obama is ge-oormerk om deel te wees daarvan. Obama as die nuwe America en Zuma as die nuwe Africa been van die NWO. Lag my maar uit hieroor, maar die magte van die duiwel is hard besig terwyl ons nog watertrap oor ons eie gedagtes wat “nice-to-have” insluit van wat ons hoop aan die gebeur is. Ons staan wêreldwyd op die drumpel van die Derde Wêreld Oorlog en niemand in ons land dink eers aan wat ons kan doen om ons mense te beskerm nie. (Uitgesluit die Suidlanders miskien). Sterkte vir almal wat nog slaap. Jou ontwaking kan traumaties wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.