Nuuskommentaar: Kom ons om, so kom ons Eskom

Argieffoto

Argieffoto

Die land is Sondag weer deur beurtkrag geslaan nadat ’n steenkoolsilo by die Majuba-kragsentrale gekraak en ingestort het. Die ontstellende is dat Solidariteit reeds in Januarie die strukturele skade onder Eskom se aandag gebring het. Eskom word onder meer van vaardigheidstekorte blameer. Kommentators blaas stoom af oor die miljoene rande wat bestuurders in Eskom verdien.

Die domino-effek van ’n onbetroubare kragvoorsiener is veel groter as wat gewoonlik besef word. Toe Ethiopië ’n aantal jare beurtkrag beleef het, kon verskeie nywerhede nie hul internasionale markte herwin nie. Suid-Afrika is nog verder van sy markte af, en die vervaardigers hier sit boonop met ’n nie-te-al-te-voorbeeldige en betroubare werkerskorps nie.

Boonop moet Eskom teen die agtergrond van ’n nie-bevorderlike institusionele opset die kers weerskante aan die brand hou, by wyse van spreke. Munisipaliteite skuld Eskom miljarde rande vir krag gekoop, terwyl so iets wetlik en tegnies nie behoort te kan gebeur nie. In Augustus is aangekondig dat die bedrag toe R10,85 miljard beloop het. Munisipaliteite is  veronderstel om eers Eskom te betaal voor surplusfondse elders aangewend kan word. Munisipaliteite het op hul beurt te kampe met wanbetalings en onwettige afsluitings, kabeldiefstal en ander kragverwante uitgawes. Baie huishoudings het eenvoudig nie die inkomste om vir die krag wat hulle gebruik, te betaal nie.

As die regering gedink het hierdie krisis kom as tydige wakkerklap van die kiesers oor die “noodsaak” van sy kernprogram, het hy dit mis. Daarvoor loop die beeldskade aan die regering se swak beplanning, en swakhede in Eskom, net te diep. Boonop voorspel Deutsche Bank in ’n onlangse verslag dat sonenergie reeds teen 2016 net so goedkoop soos fossielbrandstof kan wees. Die bedryf verbeter tegnologies deurlopend wat dit al lonender maak.

Teen 2050 sal sonenergie die grootste energiebron in gebruik op aarde wees, teenoor die minder as 1%  wat nou gebruik word, aldus ʼn onlangse bevinding van die Internasionale Energie-agentskap.

Suid-Afrika is besonder ryk aan dié “grondstof” en die sonlig is boonop gratis. Én dis deel van die sogenaamde “groen energie”.

Voorts het Suid-Afrika ’n groot potensiaal met windkrag, en met sy lang kuslyn, behoort ook gekyk te word na die tegnologiese vordering met tegnologie om golf- en branderkrag, asook getykrag op te wek, asook ander opsies voortspruitend uit die wisselende ladings waar koue en warm water naas mekaar in die see voorkom. Die Anaconda-tegnologie het die potensiaal om met slegs een “Anaconda” ’n groterige kusdorp van krag uit golfwerking te voorsien. Sedert 2009 is egter min van hierdie bepaalde tegnologie gehoor, hoewel daar juis toe verwag is dat dit teen 2014 in onder meer Brittanje operasioneel sou word. Die ontwerpers kon waarskynlik nie beleggers vind nie.

Hierteenoor is Suid-Afrika onder baie groot internasionale druk oor sy afhanklikheid van steenkool as energiebron. Dit druis in teen die Kyoto-protokol wat die vrystelling van kweekhuisgasse in die atmosfeer probeer hokslaan, hoewel Suid-Afrika, soos ander ontwikkelende lande, nie onder dieselfde druk as die nywerheidslande verkeer nie.

Maar die steenkoolafhanklikheid sou nog verskoon kon word as dit doeltreffende kraglewering sou kon ondersteun. Dit rem eerder ontwikkeling, omdat dit sukkel om by te hou by ʼn erg verlangsaamde groeikoers van net meer as 1%. Sou Suid-Afrika se groeikoers soortgelyk gewees het as Afrika suid van die Sahara se gemiddelde groeikoers, sou dit ’n krisis van steenkooltronomiese omvang afgegee het. In April vanjaar nog het die Wêreldbank gemeen Afrika suid van die Sahra se groeikoers kan vanjaar 5,2% haal.

Die hoede af vir die kundige en toegewyde personeel wat ongeag die strukturele probleme in Eskom self daarin slaag om elke dag ’n wonderwerk te verrig, en met min middele en min erkenning die wiele aan die rol hou – dikwels van ou sentrales wat reeds moes gaan rus het.

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae