Nuuskommentaar: Kom veilig tuis …

Ongeluk in Modderweg, Benoni, op 15 Desember 2013. Twee persone is na 'n hospitaal geneem vir verdere behandeling. Foto: @ER24EMS, Twitter

Ongeluk in Modderweg, Benoni, op 15 Desember 2013. Twee persone is na ‘n hospitaal geneem vir verdere behandeling. Foto: @ER24EMS, Twitter

Komkommertyd is daardie tyd van die jaar wat joernaliste tradisioneel sukkel om hul koerante of nuusbulletins vol saakmakende nuus te maak. Die ergste komkommertyd is gewoonlik rondom Kersfees en Nuwejaar.

Twee nuusbronne is egter dan goed benut – die Verkeersowerhede om te verneem waar die vakansie se padsterftesyfer dan al staan, en die Bloeddiens om te hoor hoe groot die krisis is.

Danksy die internet is daar nie werklik meer ‘n komkommertyd nie. Iewers in die wêreld gebeur daar wel iets wat sal sorg dat die nuusvloei nie opdroog nie. Daar is natuurrampe soos aardbewings en tsunami’s, siklone, erge bosbrande… Maar steeds bly die verkeersituasie in Suid-Afrika ‘n belangrike onderdeel om bewustheid oor verkeersveiligheid te kweek.

Vanjaar was baie anders weens die afsterwe en begrafnis van oud-president Nelson Mandela. Die nuusstilstand is nie veroorsaak weens die afwesigheid van nuus nie, maar omdat in veral sommige nuusmedia bykans alles moes eenkant staan vir huldeblyke op huldeblyke.

Teen 8 Desember is 261 mense al in 218 noodlottige ongelukke landswyd sedert 1 Desember dood. Volgens die jongste inskrywing van die Bloeddiens op sy Facebookblad het die diens drie tot vier dae se bloedvoorraad. Met of sonder ‘n behoorlike bewusmakingsveldtog bly dit egter steeds belangrik om veilig te bestuur, te sorg dat die voertuig padwaardig is, en dat opgelet word vir ander verkeer en (beskonke) voetgangers wat roekeloos is. Let op na padtoestande.

Wetstoepassing behoort ook veel meer te wees as die blote vastrek van vakansiegangers om munisipaliteite se geldkoffers te vul. Die jongste misdaadstatistiek toon steeds dat wetstoepassing vir dronkbestuur in sommige provinsies maar baie effentjies geskied.

Tog vertel ander padgebruikers maar weer jaar na jaar hoe sommige motoriste hul voertuie vol mense soos kamikazevlieëniers hanteer – jaag teen hoë snelhede, jaag ander motoriste op blinde hoogtes verby, wag nie hul beurte af in die rye agter stadige verkeer nie… Die varkpakke word eenvoudig aangetrek, en die paaie aangedurf sonder inagneming van die veiligheid van ander, onskuldige padgebruikers, of selfs die veiligheid van hul eie gesinne.

Uit 192 lande het Suid-Afrika die 72ste hoogste sterfteratio op die paaie – 20,2 per 100 000 per jaar. Dit is aansienlik beter as Namibië se eerste plek met ‘n sterfteratio van 53,4 per 100 000 per jaar, maar veel swakker as Australië se 6.8, Duitsland se 5,7, Israel se 4,1 en Japan se 3,8.

Statistiek verklap inderdaad baie oor die verband tussen wetstoepassing, die motoris se wetsgehoorsaamheid en die waarskynlikheid van ‘n noodlottige ongeluk. Volgens nuwe data uit Nederland is daar ’n regstreekse verband tussen bestuurders wat ’n geneigdheid het om verkeersboetes op die lyf te loop, en om ongelukke te maak.

Volgens die Stigting vir die Wetenskaplike Ondersoek na Verkeersveiligheid, maak motoriste wat nege verkeersboetes per jaar kry, ’n halfpersent van die bevolking uit, maar is vir ses persent van die ongelukke verantwoordelik. Die navorsing dui nie op ’n eweredige toename tussen die aantal boetes en die kans om in ’n ongeluk betrokke te raak nie. Vir nege boetes is die kans tien keer so groot om ’n ongeluk te maak as net vir een boete. By 17 boetes is die kans ’n 100 keer groter.

Dié syfers vind ook in die aantal padsterftes neerslag. Die norm is dat die kans vir ’n sterfte vir elke 50 000 kilometer wat gery is, een uit 10 000 is. By motoriste met nege verkeersboetes per jaar, is die kanse egter een per duisend. Die studie in Nederland word as baie verteenwoordigend beskou, omdat Nederland die land met die meeste “flitspale” per inwoner is. (‘n Volledige uiteensetting kan hier gelees word.)

‘n Behoorlike padveiligheidsveldtog kan vrugte afwerp. In Australië, wat ‘n omvattende strategie van stapel gestuur het, was daar byvoorbeeld in 1970 altesaam 3 796 padsterftes, maar dit het teen 2012 tot 1 303 afgeneem ten spyte van ‘n groot bevolkingstoename en dat daar in 2012 drie keer soveel voertuie op die pad was as in 1970.

Onthou, dieselfde voertuig wat jou en jou gesin na die groot dam toe moet neem om te gaan uitspan, kan in jou hande ‘n moordtuig word.

En onthou om te gaan bloed skenk…

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Nico ·

Die probleem is dat spoed, onpadwaardige motors en alkohol gebruik al is waarvoor die owerhede mense beboet. En al verlaag die wetgewers elke keer die minimum alkahol in die bloed, lyk dit nie of die wetstoepassers meer mense vang nie. En spoed alleen sê ook nie alles nie. Spoed is gevaarlik, maar dit hang af van omstandighede. Ek hoor so ruk terug van ‘n man wat gevang is teen 160km op die pad tussen Aberdeen en De Aar. Ek ken nie daai pad nie maar ek het die gevoel dit is een van daai lang, reguit paaie sonder ‘n voeruitg op. Daarenteen is daar mense wat net 120km ry, maar op ‘n besige pad en dan onverskillig tussen die verkeer deurvleg en verbysteek. En dit is baie moeilik om daardie ouens te vang. Jy het letterlik ‘n verkeersbeampte elke kilometer nodig. En daar is geen konkrete bewyse in die hof nie. Onverskillige bestuur is ons probleem en ek weet nie hoe die owerhede dit kan stop nie.

Eksenet ·

Jy kan 160 km/h ry en dit veilig doen, dan kry jy die ander wat 60 km/h ry en ‘n gevaar vir enigiemand anders op ons paaie is, want hulle is net doodeenvoudig ROEKELOOS.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.