Nuuskommentaar: Kommerwekkende Zuma se rol in komkommertyd

Foto: www.america.aljazeera.com

Foto: www.america.aljazeera.com

Die #ZumaMustFall-veldtog is soos ’n oorryp vy wat met ’n plof die grond getref het. Suid-Afrikaners moes net té lank die skandes van ’n giggelende en grinnikkende president verduur terwyl die ANC se beeldpoetsers oortyd werk om die onverkwanselbare president fatsoenlik en presidensieel te laat voorkom.

In die media staan Desember as die komkommertyd bekend. Dan is nuus bitter skaars – veral die soort nuus waarop bepaalde publikasies fokus. Die polisie, die verkeersdepartement en die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens word dan by herhaling geskakel om te hoor of daar nie dalk ’n bruikbare storie is nie. Die geringste saak in die plaaslike landdroshof word opgeblaas en aangebied asof dit die burgemeester se bloedfamilie is wat skandes gemaak het.

Moderne tegnologie het dié situasie grootliks verander. Iewers in die wêreld is daar altyd iets nuuswaardig aan die gebeur, en hierdie nuus word blitsvinnig en wêreldwyd deur nuusnetwerke versprei. Gemeenskapskoerante wat gewoonlik slegs plaaslike nuus dra, is hierdie tyd van die jaar gewoonlik gesluit en word dus nie so erg geraak deur die skaarste aan nuus nie – plaasaanvalle uitgesluit.

Internasionale nuusberigte is daar egter altyd.

Sommige koerante, veral dié in die binneland, raak plankdun weens die gebrek aan advertensies, veral ná Kersfees, terwyl die koerante wat aan die kus verskyn, weens die talle binnelandse besoekers nie so erg geraak word nie.

Wyse redakteurs bêre ook gewoonlik ’n paar tydlose rubrieke en artikels vir die komkommertyd.

’n Groot deel van Zuma se teenspoed is ook juis in hierdie komkommertyd gebore. Met sy adviseurs ook met vakansie, het Zuma nie geskrewe toesprake wanneer hy groepe in die omgewing van Nkandla in Zoeloe toespreek nie. Maar joernaliste van die omgewing wat Zoeloe magtig is, volg getrou sy doen en late en berig oor dinge wat die president vir bepaalde gehore gesê het.

En van daardie opmerkings, soos sy berugte honde-uitspraak en sy “aankondiging” van ’n nasionale reinigingsdag, is soos manna in die komkommertyd. Dit haal maklik wêreldwyd die hoofopskrifte en veroorsaak in die sosiale media ’n vloedgolf van kritiek.

Gewone Suid-Afrikaners se ergernis bou op terwyl hulle nie weet waar om hul koppe in te steek oor die onhebbelikhede wat hul president (al weer) kwytgeraak het nie.

Dis egter nie net in komkommertyd wat die media Zuma se meevallertjies verwelkom nie. Hy wyk gereeld af van die geskrewe teks van sy toesprake en in die proses beland hy in sy eie gemors. By geleentheid was dit so erg dat die ANC hom weens “vermoeidheid en gesondheidsredes” ’n ruk uit die openbare oog moes haal om die beeldpoetsers kans te gee om hom weer in ere te herstel.

Vanjaar het Zuma (weer eens) mildelik komkommers in die feitlik leë mediamandjie gepak. Maar nou het die wrewel oorgekook.

Dit is moeilik om te oordeel hoe die protes verder gaan verloop. Die regering en sy aanhangsels se propagandamasjiene is voluit daarteen oopgedraai, en protesoptogte, veral op Versoeningsdag, is ook nie alle bevolkingsgroepe se styl nie. Die oorlog in die media, en veral die sosiale media, raak veel eerder die styl. Die bors word goed skoongemaak, soms in uiters kru taal, en die “sensors” het ’n groot werk om alle haatspraak uit te haal.

Die frustrasievlakke is ooglopend hoog. Tog, met die optogte het ons tekens van protes as kunsvorm gewaar, soos byvoorbeeld die oorspronklike bewoording van plakkate. Rhoda Kadalie het veral een uitgesonder: “Zu Ma se Moer.”

Op Maroela Media het die nuuskommentare wat die ANC as “Zuma bashing” sou beskryf, duidelik veel meer Facebook “shares” van die hoofblad gekry as nuuskommentare wat oor ander tersaaklike onderwerpe gehandel het.

Hier is die syfers vir die jongste aantal nuuskommentare:
• 9 Desember (voor Zuma se Nene-debakel): Trekpas vir Zuma om SA te red – 3 900;
• 10 Desember (na aanleiding van die jongste Versoeningsbarometer): Haat rasse in SA mekaar al meer? – 201;
• 11 Desember (in reaksie op die Nene-voorval): Het Zuma nou sy eie galgtou geknoop? – 1 000;
• 14 Desember (na Gordhan se skielike aanstelling): Pravin of nie, Zuma moet trekpas kry om SA te red – 2 000;
• 15 Desember: Kon Zuma-ramp voorkom gewees het? – 354;
• 16 Desember (Geloftedag / Versoeningsdag): Moet Versoeningsdag afgeskaf word? En wat van Geloftedag? – 575 (Zuma en ander politici se rol in die opmors van versoening het ter sprake gekom).
• 17 Desember: Zuma-verslaafde ANC verklaar hom tot vyand van die land – 523 ten tyde van die skryf hiervan.

Wat duidelik hieruit blyk, is dat daar nog heelwat leeskrag in Zuma-bashing is. Tog is die tekens daar dat dit al hier en daar afgesaag word. (Die “shares” vir normale nuuskommentare wissel gewoonlik tussen ’n 100 en 200, en soms selfs minder as 100 wanneer emosionele kwessies soos die toekoms van Afrikaans aan die bod kom).

Dis ook duidelik dat Maroela se lesers nog voor die Nene-debakel reeds keelvol was vir Zuma. Die bedaring daarna het dus nie gedui op ’n afname in belangstelling nie. Inteendeel, die stortvloed ander berigte en nuuskommentare was om die aandag oor verskillende publikasies en webwerwe te verdeel.

Die nuuswêreld het egter nie gaan stilstaan nie en ander belangrike sake sal weer (en word reeds) in nuuskommentare en hoofberigte verskyn en onder die loep geplaas word.

Daar moet ook teen “oordosering” gewaak word. Volgende week sal die fokus noodwendig na die komende Kerstyd begin verskuif, en daar is interessante nuus soos hoe die meerderheid mense in die VSA voel Christus moet steeds sentraal in Kersfees staan. Daarna sal ’n jaaroorsig of twee aan die orde kom voordat ’n vooruitskouing van 2016 gedoen gaan word.

Maar soos ons Zuma ken, sal hy juis nou weer sorg dat komkommertyd nie te veel aan ’n nuusdroogte herinner nie, tensy, natuurlik, die ANC die kans gaan gebruik om hom in belang van die party uit nuussirkulasie te haal. ’n Opdrag soos: “Hou wyd van omstrede onderwerpe” sal op Zuma geen effek hê nie, want hy verstaan gewoon nie dat van sy opvattings omstrede of blote twak is nie.

So het hy onlangs ’n klomp sakeleiers meegedeel dat Afrika die grootste kontinent is (in werklikheid is dit Asië), en dat al die ander kontinente saam in Afrika sal inpas. Kort tevore het hy verkondig dat hy meer lojaal aan die ANC as aan die land is, en staan sowaar by hierdie stelling. Hy het reeds voor die Nene-insident die ekonomie onder druk geplaas deur te sê die ANC streef na ’n sosialistiese en kommunistiese staat. Voeg hierby sy stelling kort daarna dat hy nie aan ’n ekonomie glo waar vraag en aanbod die pryse bepaal nie, maar dat die prys deur die arbeid bepaal moet word. Selfs die gevolglike polemieke oortuig hom nie dat sy opmerkings omstrede is nie, soos ook die geval vroeër met sy Jan van Riebeeck-uitlatings was.

Dus, maak maar reg vir ʼn paar Zuma-juweeltjies wat sy adviseurs se somervakansie met genoeg nagmerries gaan teister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Miskien kap hy ‘n ordentlike lat vir sy eie bas gedurende komkommertyd! Dan kan sy eie mense genoeg rede hê om hom te laat gaan – as iemand genoeg “guts” sal hê om teen hom op te staan! Vaarwel o mooie Suid-Afrika!

Berhalet Beukes ·

Ai Mnr. Toerien, jou artikels last ‘n mens altyd glimlag. Skerp, baie baie skerp!

HEVW ·

Herman ek hoop nie ons word gedurende hierdie komkommertyd en veral kersfeestyd verder met zuma belas nie. Ek het al n oordosis aan die skepsel se doen en late.Maroela plaas eerder vir ons meer fotos van Rolien Strauss.

arie plaasboer ·

Pragtig Mnr Toerien. Jy laat ongelukkig na om te se wat duidelik uit jou kommentaar straal. Z is te dom om te weet dat hy D is, vandaar sy D uitsprake

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.