Nuuskommentaar: Kommunis agter elke bos uitskop

SAKP

SAKP

Die klag wat die SAKP teen die hoof van die Valke, lt.genl. Mthandazo Ntlemeza, ingedien het omdat dié glo gesê het die Valke gaan nou kommuniste teiken, is hoogs interessant. Dit val min of meer saam met die SAKP se veroordeling van die ANC oor die “toesmeer” van die ondersoek na staatskaping teen die Guptas (en wesenlik teen pres. Jacob Zuma). Dit was inderdaad al ’n ruk duidelik dat die ANC se ringkoppe nou ’n ander deuntjie oor die Guptas sing, en byvoorbeeld die banke wat alle sake met Gupta-ondernemings opgeskort het, erg kritiseer.

Kenners meen die alliansie tussen die ANC en die SAKP is nie nou werklik in gedrang nie. Moontlik was dit ook ’n soort finale armdrukkery om SAKP-lede op soveel moontlike invloedryke posisies op die ANC se kandidatelyste te kry – ’n proses wat gistermiddag 17:00 gesluit het.

Dit is nietemin insiggewend dat die klag teen die Valke gelê is, en wel by die kantoor van regter Essa Moosa, wat klagtes teen die Valke ondersoek. Daar was die afgelope aantal jare verskeie kere aanduidings van krake tussen die SAKP en die ANC, wat gou weer met kitsmengsels toegesmeer is.

In die ou Suid-Afrika het dit soms gevoel of dit mode is “om ’n kommunis agter elke bos uit te skop”. Die SAKP was, soos die ANC en ander, verbode organisasies, en baie van die leiers agter tralies. Jong seuns het aan die grens en selfs in buurlande geveg om die kommunistiese bedreiging in die vorm van ’n totale aanslag die hoof te bied.

Met die val van die Berlynse muur in 1989 is geoordeel dat die kommunistiese bedreiging vir goed iets van die verlede is.

In Suid-Afrika het kommunisme in verskeie vorme egter bly floreer. Die bekende kommunis, wyle Bram Fischer, se naam pryk op talle geboue. Selfs die oud-Kubaanse diktator, Fidel Castro, se naam pryk op die hoofsetel van die Vrystaatse provinsiale regering. Talle plakkerskampe is na Joe Slovo vernoem.

Soms lewer die verweefdheid van die SAKP met die ANC tikkies ironie op. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC en die man wat die Gupta-ondersoek moes lei, en toe ook die aankondiging gedoen het, is self ’n kommunis.

Oudpresidente Nelson Mandela, Thabo Mbeki en pres. Jacob Zuma was almal in stadiums ingeskrewe lede van die SAKP. Trouens, Zuma het onlangs nog gesê dat die ANC daarna streef om ’n kommunistiese, sosialistiese staat daar te stel. (Die ekonomie het nie baie van hierdie stelling gehou nie.)

Zuma hys skynbaar na willekeur verskillende vlae. Hy gaan laai die kabinet met kommunistiese ministers in sleutelportefeuljes, maar veral die ekonomiese portefeuljes. Dan bewys hy weer lippediens aan die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Maar lê die eintlike kommunistiese gevaar nie nou elders nie? Dit wat die EFF, Cosatu, Numsa en ander as radikale sosialisme voorhou, klink dikwels na suiwerder kommunisme as waarmee die SAKP vorendag kom. Kommunistiese retoriek is deel van die algemene woordeskat, en kommunistiese “helde” word vereer, selfs al is sommiges, soos Mao en Stalin, al in hul eie lande behoorlik gediskrediteer. In hierdie allegaartjie is daar ook nog enkele “nuttige idiote”, asook inhalige opportuniste wat so in poste beland het en besonder ruim skep.

Die enkele wit en bruin lede (drie lede elk), en die enkele Indiërlid van die ANC se NUK is op ’n enkele uitsondering of twee na lede van die SAKP. (Marius Fransman is/was ex officio-lid, maar die woelinge in die Wes-Kaap marginaliseer hom.) Nadat die Marthinus-generasie op so ’n paar uitsonderings na uit die kabinet gefaseer is, geld dieselfde min of meer in die kabinet ook.

Dit sou stiksienig wees om die kommunistiese gevaar in die land slegs te meet aan die hand van die vermoë van die SAKP om hom binne die ANC te laat geld (’n soort staatskaping). Al dra diegene in die EFF en ander instansies nie formeel die kommunistiese hoed nie, is hul ideologie en strategie daarop gevestig. En op die oog af lyk dit na ’n groter gevaar as die handjievol SAKP-lede waar die stert die hond swaai.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

vermeende ·

Herman ek lees graag wat jy se, die EFF en selfs SAKP in nie die grootste kommunistiese bedreiging nie maar wel die ANC want hulle het die steun. Die Anc wil net mooi alles kontroleer en bestuur, eers was dit ondergrondse regte toe water regte (meters op boorgate) en nou grondregte (eindomsreg) wat is dit anders as kommunistiese bestel. Was dit nie vir die grondwet nie dan was SA al lankal n kommunistiese staat in volle gang.
Met die wetgewings teen alles wat blank is, is die grondslag ferm gele vir kommunisme.
Ons is oppad daar heen.

Henry ·

Goeie skryfsel Herman!

Jy verwys tereg na die meerderheid van die huidige regime wat ook lede van die SAKP is, of was. Per slot van sake het die ou spulletjie destyds hul politieke skoling direk vanuit die USSR en Oos Duitsland ontvang. Dit het ooglopend so tot die ou spulletjie gespreek, dat hulle tot vandag toe die uitgediende Marxistiese retoriek gebruik, om hul korrupte magsvergrype te vergoeilik.

Maar nouja, op hierdie donker agtergeblewe vasteland, gryp magsugtige regerings en hul heersers altoos na enige strooihalm of uitgediende ideologie, om hul skelmstreke te regverdig. Soos ons reeds ervaar, word Apartheid en rassisme ook in die mieks gooi. Met ‘n paar geestelikes se hulp, sal hulle selfs enige van die godsdienste as motivering gebruik.
De skaai is de limmit

Ons droewe land is deesdae een van die beste voorbeelde van ‘n staat wat die laaste stuiptrekkings van mislukking toon – selfs besig om ou Bob se streke in Zim verby te steek. Die EFF olv Malema, sal waarskynlik die coupe de grace lewer. Met die F simbool wat hy vir houtwerk behaal het, behoort hy geen moeite te ondervind om die laaste spykers in ons droewe land se doodskis te slaan nie.
Met of sonder ‘n ideologie…

Theuns ·

Herman, dankie dat jy die waarheid aan ons mense vertel en so katvoet om die rasse “potholes” loop. Ek wens net ons mense en die media wil jou kommentaar met die nodige aandag lees. Dit is ons plig om ons vyande te ken en ons planne daarvolgens te maak. Jy maak dit vir ons moontlik omdat jy die gesamentlike geheue van die verlede lewendig hou! Die geheue is besig om te verwyn omdat daar soveel jong mense is wat nie ‘n geheue het van wat voor 1994 gebeur het nie en omdat hulle ook padgegee het uit die land uit!

John ·

Faksies is die in-ding in Afrika, wat ook al die benaming van sulke groepe. Alles gaan oor mag, rykdom en wapens. Terroriste wat in ‘n land op ‘n sekere tydstip beheer word skielik edele burgers met edele bedoelings maar hul knoei in die donker vir die vale en pers almal rondom hulle af vir enige voordele of belange. Voormalige president Mbeki moes op ‘n stadium ‘n ondersoek loods na die miljarde wat Afrika op ‘n onwettige wyse verlaat. Jaloesie, haat en nyd en ‘n onvergenoegdheid met die daaglikse taak en besoldiging, le te grondslag van kommunisme/sosialisme. Misdaad word in Afrika gesien as ‘n wettige manier om dit wat jy glo jou toekom, te bekom. Oppertuniste sien gou hoe die swart leiers se koppe werk, speel viool met hul ego’s en sodoende raak die kontinent deurdrenk van korrupsie op alle terreine.

Rupert Ashford ·

Kommunisme was toe nooit dood nie maar het homself net vermom en kom nou met sterk aanslae wereldwyd deur die bewegings wat hy infiltreer het. Party bewegings lyk soos waatlemoene: Buite groen en rooi van binne. Ander noem hulleself deel van die VN. Die ou karnallie is wereldwyd spekvet en gesond.

christine ·

Destyds toe Mandela uit Victor Verster gestap het kon hy nie wag om dadelik Oos Duitsland toe te vlieg om sy pelle te gaan haal nie hulle het daagliks teruggekom hordes van hulle. Dood nooit gesien nie nou net verplaas van Oos na Suid daarvoor sal die geldmagte sorg glo my. Wat ek se is ons myne se geld vloei reguit in hul sakke en hulle gebruik die geld ons geld om ons mee te beveg. Die antwoord sou wees nasionaliseer die myne. Sodat die geldmag kan bly waar dit hoort maar onder die SAKP en ANC bid ek dit gebeur NOOIT OOIT nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.