Nuuskommentaar: Koning Zuma se papbroekland

Pres. Jacob Zuma. Foto: DoC

Elke dag neem die elemente van ’n vreedsame volksopstand teen pres. Jacob Zuma toe. Die groot vraag is of die opstandelinge die nodige stamina het om Zuma se verbluffende uithouvermoë stapsgewys te troef.

En daar gaan sluit die ANC se leiers die geledere om pres. Jacob Zuma, ná die president die soveelste keer sy hand oorspeel het en die land se ekonomie ’n gevoelige knou toegedien is.

Ná Nenegate, en die Groot Ses se relatiewe standvastigheid, is gehoop dat daar in die boonste ANC-strukture genoeg spierkrag en integriteit sou wees om ’n volgende keer die wa in sy spore te stuit. Selfs Derek Hanekom, toe nog minister, se mosie van wantroue in Zuma in die NUK het die hoop verder laat opvlam.

En noudat dit saak maak – noudat daar sprake van ’n vreedsame volksopstand is (’n peiling toon dat sewe uit elke tien Suid-Afrikaners voel Zuma moet die trekpas kry) en die SAKP en Cosatu formeel die president se kop eis – nou trek die saakmakende leiers wat sommer nou die dag nog rug styfgemaak het, pateties kleinkoppie. Gwede Mantashe se mantel-na-die-wind-draaiery kom vir baie as skok. Selfs die “befaamde” integriteitskomitee het sy eis dat Zuma sy goed vat en loop, teruggetrek.

Die mees aanvaarbare verklaring hiervoor sou wees dat die ontevrede leiers Zuma (al weer) voor ’n ultimatum gestel het – hy trap nou in sy spore wat die leierskorps bepaal. G’n niks afwykery van sy geskrewe toesprake nie, g’n niks populistiese uitsprake nie … hy dien nou sy termyn uit as “seremoniële” president. Die sterkste argument teen dié moontlikheid is dat Zuma gewoon kompulsiewe oomblikke beleef waar hy sy mag vertoon, en dan is alle goeie voornemens daarmee heen. En hy het genoeg grondwetlike magte wat hy daarvoor kan opeis … ongekend baie presidensiële magte wat die grondwetskrywers ingeskryf het omdat hulle opvolgpresidente soos oudpres. Nelson Mandela in die oog gehad het.

Die tweede, meer waarskynlike opsie, is dat die magsbalans in die ANC nou so onseker is dat dit vir enige kant ’n waagstuk is om sy kaarte te speel. Die situasie word dus in ’n soort “suspensie” gelaat tot die einde van die jaar wanneer Zuma as ANC-leier vervang word. Dis nou as Zuma, vol bravade, hom nie vir nog ’n termyn verkiesbaar stel nie. Die volgende “mylpaal” is die verkiesing in 2019, waarna Zuma se termyne as staatspresident uitgedien is en volgens die Grondwet vervang moet word. Dis ’n enorme risiko vir die ANC, want dan kan daar min van die ANC (en die land se ekonomie) oor wees.

Die derde moontlikheid is dat sake in die hande van die ontvouende, vreedsame volksopstand gelaat word. Boer Zuma eenvoudig uit sy amp uit deur elke denkbare grondwetlike protes in te span, sodat dit nie juridies as sedisie of hoogverraad beskou kan word nie. Maak hofsaak op hofsaak teen Zuma, soos nou deur die DA oor die president hom volgens eie aanspraak deur ’n “intelligensieverslag” laat lei het om Pravin Gordhan as minister te vervang. Dié verslag blyk ’n stuk prulwerk te wees wat enige leser moes weet vir niks anders gebruik kan word as om die braaivleisvuur mee aan te steek of vlieë mee dood te slaan nie.

’n Belangrike deel van ’n volksopstand is volgehoue en sigbare protesoptogte, wat verkieslik al meer moet word. Daar moet deurlopend petisies met derduisende name, indien nie miljoene nie, wees wat die president se kop eis. Maklik gaan dit nie wees nie, want die ANC-jeugliga (wat by Zuma staan) dreig wesenlik met geweld teen sulke optogte. Dit is wel ’n kriminele oortreding, maar met Zuma se stelsel van patronaatskap kan sinvolle regsoptrede ’n paar leeftye neem om neerslag te vind.

Privaat vervolging raak ’n al groter opsie. Benewens AfriForum se voorneme hieroor, het die DA-burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, ook soortgelyke geluide gemaak nadat hy by ’n bron gehoor het dat alle korrupsie-aanklagte wat sy raad verwys deur die omstrede hoof van die Valke, Berning Ntlemeza, in die asblik gegooi word. Die Valke het dit heftig ontken.

Het die land die stamina vir ’n volksopstand? Sekere elemente het duidelik onuitputlike stamina soos die #FeesMustFall-veldtog, maar ander, meer verantwoordelike sektore, moet nog hul uithouvermoë bewys. Selfs die #ZumaMustFall-veldtog se wind het skynbaar opgeraak. En die organiseerders van die volksopstand moet weet – om Zuma aan te durf verg uitsonderlike uithouvermoë.

’n Meer ideale geleentheid as nou om Zuma tot ’n val te bring, sal waarskynlik nie plaasvind nie. Nie alleen is Zuma reeds in die konstitusionele hof “skuldig bevind” aan minagting van die Grondwet nie; hy is al verskeie kere op rekord aangeteken dat hy sy mond oor die Grondwet uitspoel. Zuma kan dus baie moeilik die spreekwoordelik morele hoë grond betree.

Die uitkoms is onseker. Die wêreld kan vir Zuma so warm word dat hy die aftog blaas, of dit kan uitrafel totdat die “gewone” posisie herstel is waar Zuma in die parlement selfvoldaan sy teenstanders kan uitdaag.

Hê, hê, hêêê!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Johann ·

Dit is hulle vuil manier van prestasies nog die hele geskiedenis heen. Nebukadnesar het gras geëet, so niemand is verhewe bo die GOD wat hemel en aarde gemaak het nie

AL ·

God sal ons wys dat geen man magtiger as Hy is nie.
God het ons nie verlaat nie, al dink ons so.

Chrisna Botha ·

Nog nooit was ek so teleurgesteld in iemand soos gister in ons vise-president nie. Het nog altyd gehoop hy het n ruggraat – heel duidelik is hy net so diep in ‘Koning Zuma’ se sak soos die res van ons ruggraatlose top-brass.

Braille ·

Geld praat en politiek is ‘n LELIKE spul. Dit is ‘n korrupte spul mense wat vir GELD enigiets sal doen. Jou ‘opinie’ verander so vinnig soos die salaris wat jy aangebied word. Onthou vir mense met geen waardes nie, is GELD alles. Hulle gee nie om om hulle siele vir geld te verkoop nie, neem maar tot die NP waarin almal vir jare geglo het soos ‘n god, wat het Kortbroek met al hulle stemme gedoen. AS GELD praat, al is dit vir ‘n indiwidu, sal hy ‘n hele NASIE uitverkoop.

BOLANDER ·

Chrisna, ek is net so teleur gesteld. Ai dit is so jammer.

Zuma will stay ·

Glo my asb as ek vir julle se ZUMA gaan nerens heen nie. Het Mugabe al geskuif? Julle verstaan nie lekker Zuma se politiek nie. Hy het homself EERS omring met mense wat hom ondersteun en waarvoor hy sorg voordat hy al hierdie (ongewilde) besluite begin maak het. Die rand se waarde kan hom nie bekommer nie, want hy het buitelandse beleggings en die GUPTAS se geldjies word nie in SA gemaak nie, dus sal hy (persoonlik) altyd ‘n INSTROMING van buitelandse valuta hê. Grondonteiening en die tekort aan voedsel het hy OOK nie ‘n saak mee nie, hy voer dit net ten duurste in en betaal daarvoor met ONS belastinggeld. So regtig, as julle dink die MASSAS het hom daar gekry en ou Moesie en Kie gaan hom nou uit sy gemaklike blyplek met sauna en jacuzzi uitskuif met 6 vrouens en ‘n heerlike bees op die spit, maak julle ‘n GROOT fout. Hy is nie eers aan verkragting of aan enige bedrog of skuld aan SARS skuldig bevind nie, hy is untouchable, ZUMA WILL STAY!

Pellie ·

Jy slaan die spyker op die kop. As ek jou geken het, het ek nou vir jou ‘n Bells gekoop.

Sonja ·

Ek dink jy’s reg. Hy lag al die pad vir ons wat hom wil uit hê en hy klou soos ‘n neet. Hy is glad nie van plan om te gaan nie, nou nou nie, ook nie in 2019 nie. Hy is ‘n diktator en dis hoe diktators regeer. Ons sit met ‘n tweede Mugabe op hande.

Johann ·

Ek dink die ANC probeer so aandag aflei van meer ernstiger sake, wakker staan

lw ·

Ons moet nie in ons pogings verflou nie. Zuma het groot verdeeldheid gesaai en wit monopolie kapitaal die skuld gegee om sy diversion tactics te doen.
Ons as land mag nie apaties raak teenoor die geweld en morele verval nie
God is nog steeds in beheer, Hy sal ons nie verlaat nie – al lyk dit telkemale so.
Ons het al n ver pad gestap deurdat zums se knoeiery ontbloot word.
Geen man is magtiger as God nie, en Hy sal ons dit ook wys.

Lizl ·

En julle het seker nie rerig geglo dat hulle sal saamspan om Zuma uit te haal nie ? Zuma weet te veel van almal se geraamtes in die kas ( `n kontrak vir `n dogter hier, een vir `n broer daar en sake wat onder die mat ingevee word ). Dis hoe hy sy houvas het op sy mense. Ons gaan nes Zimbabwe sukkel om van hom ontslae te raak. Ek het geen geloof in enige van die wat in die parlement sit. Hulle almal is omkoopbaar.

Sw ·

News 24 het nou al Zums se skandale sedert shabir shaik se debakel in 1995 geplaas en tot waar Zums nou sit. By 2 gevalle het hy intiem verkeer met sy vriende se dogters. Dis verby siek! Die een wie verlede jaar dood is aan vigs en dat hy met die ander dogter van n vriend n kind verwek het.

AL ·

Ek lees nou vd intelligensieverslag wat n Gupta konneksie teen Gordhan en Jonas saamgestel waarin Gordhan en Jonas die president wou slegmaak – Julius Malema sê dat dit Gupta konneksie is.
Kom ons wees eerlik – Julius M ken die binnekringe vd ANC soos die palm van sy hand en hoe hul operate. Hy is tog waardevol op sy eie manier om SA te wys hoe boos die zupta brigade is.

AL ·

Jonas het nou as ANC LP bedank. Die ANC het hom nou bedank vir sy goeie diens.
Hulle lieg so hul kan nie byhou met al die leuens nie – wat vd sogenaamde intelligensieverslag!

Johan ·

Die ANC het sy eie graf gegrawe.As hulle nou vir Zuma laat gaan het kon hulle dalk die 2019 verkiesing weer gewen het.Hulle beskerm egter vir Zuma so dat niemand hulle meer gaan vertrou nie. 2019 is die ANC se einde van die pad.

AL ·

Hul wou nie leer nie, nou moet hul voel. Ons het geen probleem wie die land regeer nie solank daar morele waardes, werkskepping, stabiliteit en ekonomiese vooruitgang is.

Jordaan ·

Ek twyfel dat hulle in 2019 gaan verloor. Die meeste kiesers het geen idee wat besig is om te gebeur nie – solank hulle die toelaag kry die begin van elke maand en met ‘n ANC t-hemp en kospakkie sal hulle maar weer vir die ANC stem.

HEVW ·

Die hoogste daad van ruggraatloosheid eerloosheid en lafhartigheid is wanneer jy bang is vir die waarheid wat jy self uigespreek het. Die land se visie president staan in hierdie skoene. Dit gee nogal hoop as dit hul sterkste punt is, is hul aanvegbaar.

Marius ·

Gaan lees julle ‘n bietjie news24 die Guptas sit agter die hele gemors saam met zuma.

AL ·

Die banke is nou deur S&P na rommelstatus gegradeer. Het zum Pravin Gordhan afgedank sodat die Guptas die laaste lag kan hê omdat hul rekenings toegemaak is deur die banke?

Frik ·

Eronies hoe Zuma en sy travante die Hellen Zille voorval so kan opblaas as die grootste sonde wat nog deur iemand gepleeg kan word maar n korupte Zuma word al sy sondes ontsien .
Lizzi jy slaan spyker op die kop. Daar is te veel senior ministers en kabinetslede wat se familie’s te veel voordeel trek uit n Zuma regering. En by dit n ruggraatlose Vise President wat geblaf het soos n Jack Russel maar toe die Bulldog grom toe maak hy hom behoorlik nat.

Mauzi ·

Hierdie is een van zoempie se beste foute ooit! Mag die mosie van wantroue misluk ook….sodoende verdeel die anc se getroude volgelinge net verder. Zuma sal die ondergang van die anc wees. Lets face it,niks anders kan hulle mag so breek soos hierdie stunt van hom nie. Of hy op die stadium ry of bly dinge kan nie erger nie,almal kan net voordeel trek as hy bly want die anc gaan beslis stemme verloor as hulle nie na die “people of south africa” luister nie.

AL ·

Dis waar – maak nie saak hoe hoog die golf is nie, ons sal maar saam moet ry. Die opposisie oes in en meer suksesse sal instroom.

maryann ·

Ja die Zuma en gupta clan gaan als behoorlik opmors. Daar gaan niks oorbly om te herstel nie en sal dit SA meer as 20 jaar vat om reg te kom en nie in ‘n Zimbabwe te ontaard nie, alhoewel ons vinnig oppad is daarheen. Hy wil ook nie doodgaan nie want niemand wil hom he – die duiwel is te bang as hy daar aankom vat Zuma sy besigheid oor.

Gert ·

Ons huidige toestand in die land word verduidelik in :
Prediker 10 vers 16 – Elende wag vir die land waarvan ‘n slaaf koning is en waar amptenare vroeg in die dag begin feesvier.

Hoekom is dit die geval met ons land Siud Afrika?:
Want ons het ons verbond met God verbreek. Hy is baie ernstig wanneer daar met Hom ‘n verbond gesluit word. Ons het afvallig geword van Hom . God moet somtyds ‘n storm of berg voor sy volk plaas om hulle te vind.

Ons moet soek na wysheid sos God beveel, anders sal ons nie sy koningkryk (Sy outoriteit of heerskappy) hier op aarde kan be-erwe om die slegte en reuse in ons lewens te vernietig nie. Die Ons Vader waar die gebed verwys na sy outoriteit /heerskapy wat moet kom net soos in die hemel en net so ook op die aarde

Hosea 4 vers 6: My volk gaan ten gronde weens’n gebrek aan kennis.

Amos 9 vers 15 beskryf dat Hy ons gaan herslel nadat hy die laaste van hulle self sal uitwis en in die vers staan geskryf ” En ek sal hulle plant in hul land en hulle sal nie weer uitgeruk word uit hul land wat Ek hul gegee het nie, so sê Die Here Jou God”

En mag die volgende vers in die Bybel vir Zuma en sy geledere waar word.
Psalm 109 vers 8 : Laat sy lewe kort wees en ‘n ander sy amp oor neem.

aldie ·

Ek stem – ons moet ons weg terugvind na God dan sal Hy ons verlos van die bose. Hy is die Enigste Een wat kan uitkoms gee in die gemors.

jaco ·

@ Gert, ek hoor en respekteer wat jou seining is, maar daar is tog iets wat my hieroor pla, as jy gaan kyk na die 5 rykste lande in wereld per kapita inkomste. Qatar, Luxemburg, Singapoer, Brunei, en Kuweit, hulle almal sit met Christen polpulasies van minder as 40% en floreer, en gaan dit net beter in daardie lande! Suid Afrika sit met n Christen populasie van 80% en is ons in die diepste gemors ooit. Ek wil net graag he iemand moet dit aan my verduidelik, ek val niemand aan nie.

AL ·

Jaco dis omdat ons met n baie slinkse leier sit. Terwyl hy veronderstel is om die land te regeer en die mense eerste plaas – is hy eerder besig met komplotte en konkelwerk en hoe om sy magsbasis te versterk.

Elsa ·

Zoempie se chronies sal hom nooit laat gaan nie want dan slag hul die gans wat goue eiers in hulle neste lê.

Ek ·

Mense dis nie die Guptas nie, daar het daardie vrou van die ANC dit vir ons uitgespel dis die Kernkrag kontrak wat Zuma en sy gespuis met Rusland geteken het daarom moes Gordhan so vinnig uit want die sper datum was verlede naweek. Sou hy dit mis, verloor hy triljoene wat na hom en sy dik vet famielie gaan oor die volgende 20 jaar. Hy is Rubisch so groot as hy is.
spel

BOLANDER ·

Gert ek stem saam met jou. Maar ek moet erken, somtyds dan dwaal ek maar ook af. Maar ons moet saam glo, SY woord is die waarheid!!

UNKNOWN ·

GOD LAAT NIE MET HOM BESPOT WORD NIE!!DIE MENSDOM IS NOU BAIE GODDELOOS!!
VERAL PRESIDENT JACOB ZUMA, DIE ANC&AL.PRES.JACOB ZUMA SE POLITIEKS-LEDE!!
PLAAS DAT HULLE ALMAL&DIE DIE HELE S.A SE MENSE&REG OOR DIE WERELD SE MENSE TERUG KEER NA GOD TOE&KONSENTREER NET OP DIE HERE OM WEDERGEBORE KINDERS VAN GOD TE WORD&OP TE HOU VREES&OP HOU BEKOMMERD TE WEES OOR WAT DIE TOEKOMS IN GAAN HOU VIR DIE MENSE IN S.A (OOK OOR DIE HELE WERELD SE MENSE). SOOS DAAR INI ENGELSE BYBEL GESKRYWE STAAN IN:
1 CORINTHIANS 1 VERSE 27-INSTEAD, GOD CHOSE THINGS THE WORLD CONSIDERS FOOLISH IN ORDER TO SHAME THOSE WHO THINK THEY ARE WISE, AND HE CHOSE THINGS THAT ARE POWERLESS TO SHAME THOSE WHO ARE POWERFULL.

AL ·

Juis deur ons magteloosheid en moedeloosheid sal Christus herrys om die magtige te verslaan!
Wonderwerke gebeur juis wanneer daar geen hoop gesien kan word nie, maar wanneer die mense JUIS in daardie tyd glo in God se almagtigheid!
Glo my, ek het dit al beleef!

Hennie Theart ·

Wag vir 22 April, wanneer die volk saam bid en sien hoe groot ons God is. Suid Afrika het nog nooit so iets gesien nie. ‘N biddende volk sal meer vermag as alle opstande. Met die opstande speel die mense in Zuma se hand. Bid liewer saam met ons.
Moenie op julle menslike krag staatmaak nie
Spreuke 3:5 Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

foxi ·

Als wat NOU gebeur het ook in die Bybelse tyd gebeur. Wat nou HIER gebeur is net in n moderne vorm. Wat was sal weer wees………oor en oor.

AL ·

Dis waarom die Bybel nooit afgeskryf kan word as n stukkie antieke geskiedenis nie. Die Bybel het die unieke gawe om homself te transformeer met tye.
Die Bybel is ook vol sielkundige advies.

Piesangrepubliek ·

Moet jou nie blindstaar aan Zuma nie. Die problem is die ANC, want die meerderheid van hulle is korrup. Dis hoekom hulle Zuma nooit sal verwyder nie, want hulle is almal deel van die ZUMAFIKASIE. Almal van hulle het n vinger in die bedrog-skelm, steel so veel as wat jy kan trein.

AL ·

Hul is nie noodwendig lojaal teenoor zums nie, maar hul weet waar hul brood dik gebotter is.

Sann ·

Jaco, dis ‘n baie interessante punt wat jy opper oor Christenskap en regerings. Ek het toe gaan lees: die 80% statistiek vir Christene in SA, was vir 2001. Ek kon ook nie meer onlangse syfers daarvan raak Google nie, maar in 2016 is bepaal dat Islam die vinnigste groeiende godsdiens is, en dat dit teen 2050 die grootste sal wees, teen die huidige groeitempo. Ek glo daarom dat ons alreeds heelwat minder Christene in SA is, MAAR, die werklike probleem is eintlik dat die morele waardes wat met Eerste Wêreld ontwikkeling, (waaronder sommige christelik gewees het) geassosieer word, totaal ontbreek. Ek weet nie baie dinge nie, maar ek lees baie, en ek dink jou antwoord lê presies in dít waarvoor Helen Zille nou dissiplinêre stappe in die gesig staar.

Johannes Meintjes ·

Maar meer tragies is dat die kultuurgroep met ‘n wel bewese geskiedenis van rentmeesterskap in SA, nie daarin slaag om maksimale gebruik te maak van bestaande en wettige instrumente om plaaslike munisipale bestuur en beveiligingsdeelname ten goede te benut nie. Daarbenewens is die samewerking tussen bv. blanke instansies, nywerheid, kerke, organisasies en liggame so verdeeld en onkonstruktief wedersyds verwerpend dat geen alternatiewe selfbestuuruitdaaging voor ons mense op die grond of voor die korrupde regering en SP gestel kan word nie. Inderdaad, – lank lewe Koning Zuma en die papbroeke van Papbroekland!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.