Nuuskommentaar: Koning Zuma VIII 

Pres. Jacob Zuma tydens die Vryheidsdagvieringe op 27 April 2017 in KwaZulu-Natal (Foto: GCIS)

Pres. Jacob Zuma is lank nie die eerste Suid-Afrikaanse regeringshoof wat hom aan die groen gras aan die anderkant van die draad verlustig nie, maar selfs in die wêreld van “mooi mense” waarin hy hom bevind, is die omvang van sy werklike en beweerde sekskapades uitsonderlik.

Tussen 1509 en 1547 het die Britse monarg van destyds sy naam verewig deur ses keer vrou te vat. Die sekskapades van koninklikes is vandag nog gereeld in die nuus.

Reeds in 2012 skryf Tim Cohen die volgende in Daily Maverick: “Like King Henry VIII, President Jacob Zuma is accumulating wives at a furious rate. But unlike the monogamous Henry VIII, who was faced with the uncomfortable duty of disposing of his wives, Jacob is having them all together.

“And the more we learn of Zuma, the closer he compares to the famous English king, whose voracious appetite for things physical and emotional enmeshed themselves into statecraft of the time, adapting culture and religion to suit his personal purposes.”

Maar pres. Jacob Zuma is geen koninklike nie. Sy ma was ’n huishulp en sy pa afwesig. Trouens, hy moes die skool bitterlik jonk verlaat om vee vir sy oom op te pas.

Dit het die jong Zuma egter nie verhinder om ’n volwasse lewe te volbring wat sterk aan dié van die tradisionele leiers herinner nie. Hy het self vyf keer in die huwelik getree, is een keer geskei en een vrou is oorlede. Dit is nie presies seker hoeveel kinders Zuma binne en buite die eg het nie, maar dit word op sowat 22 geraam. Hy het, soos ’n tradisionele koning, vir ’n eie paleis gesorg waarvoor belastingbetalers die grootste deel van sy “estate / compound” opgedok het. So dok belastingbetalers ook jaarliks miljoene rande bykomend vir sy poligame huwelike op.

Die reg en die Grondwet is lank mee gewoer-woer voordat die konstitusionele hof voet neergesit het.

’n Mens staan werklik verstom oor wat een mens alles in sy leeftyd kan vermag, veral as in ag geneem word dat hy lank weens tronkstraf “uit sirkulasie” was, en ook die ANC in sy buitelandse strukture gedien het.

Wanneer het dié man die tyd gekry om so ’n “ryk” op te bou, terwyl hy meer struikelblokke as oorgeërfde wegspringkapitaal gehad het?

Hy het eenvoudig baie versamel, ongelooflik baie as aanvaar sou word dat alles wettiglik sou gebeur het. Daar hang wel meer as 700 aanklagte oor sy kop, wat bedrog en korrupsie insluit, maar hy het sy posisie só verskans dat dit na ’n bitter moeilike taak lyk om hom uiteindelik hiervoor sy dag in die hof te laat kry.

Al is Zuma nie meer ’n jong man nie, het hy hom in ’n klag van verkragting vasgeloop. Die “Kwesi”-saak het wye belangstelling gewek. Zuma se verweer was dat dit owerspel, nie verkragting nie, was, en het die voordeel van die twyfel gekry. Dit sou egter soos ’n stortkop vir die res van sy lewe oor sy kop bly hang.

Net om sake te vererger maak hy ’n familievriend se dogter swanger.

Maar dis nog nie al nie. Sommige media het Zuma feitlik reguit daarvan beskuldig dat hy nog ’n nyatsi, of meer, aangehou het. In die proses kon die SAL nie sy sake regruk, en by wyse van spreke vlerke kry nie.

Dis dié man uit Afrika wat onlangs nog skouer geskuur het met die leiers van die wêreld se G20, en ’n koets met die queen gedeel het … ons president (al is daar ’n massiewe poging om van hom ontslae te raak).

Om sout in die wonde te vryf, ruk Vytjie Mentor met ’n nuwe boek die president se lewe onder die lakens behoorlik onder die einste lakens uit. Zuma het glo twee keer, terwyl sy nog ’n prominente ANC-LP was, seksuele toenadering tot haar gesoek en hom glo aan seksuele teistering skuldig gemaak. Sy is, sê sy, reg vir hofsake sou iemand oor dít wat sy geskryf het wil moeilikheid maak.

Vytjie het onlangs prominensie gekry toe sy beweer het sy is ’n kabinetspos deur die Guptas aangebied. Sy hou nog by dié storie, ’n storie wat al hoe meer geloofwaardig word namate die #GuptaLeaks al hoe meer onheilighede uitbroei.

Zuma staan, so ver bekend, daarby dat hy met die Guptas bevriend is.

Of Zuma die jongste druk, wat kritiek van adj.pres. Cyril Ramaphosa insluit, sal kan absorbeer sal net die tyd leer. Tot dusver het hy daarin geslaag om sy eie Monica Levinsky-sagas heel goed te Clinton. Maar die druk bou op, en die respek wat hy in sekere kringe geniet het, verdamp geleidelik.

Maar regtig, wie wil nou so ’n sekspert as president hê?

Dit is nou bo-en-behalwe die feit dat hy, ook nou volgens ’n redaksionele stuk deur die redakteurs van Bloomberg, ’n “wrecking ball” is wat die gevaar inhou om die land te vernietig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kannaland ·

Sluit die 700+ klagtes hierdie seksuele teisteringklagtes en soortgelyke manawalis van hom in? Is dit nie genoeg om hom al op te sluit nie?

Koning Demokrasie Vlakvark VIII ·

Wys maar net die waarde en nut van “demokrasie” en hoe die konsep” gebruik en misbruik kan word.

Die begrip “demokrasie” is seker die grootse drogbeeld-begrip (“misnomer”) in die mens se geskiedenis. Om nie eens oor die toepassing daarvan te skrywe nie.

Minnie van Blerk ·

Passop Vytjie Mentor net-nou word jy “afgebump”

John ·

Die meerderheid lief hom en sy mannewales en sy kaders kader om hom om so hul eie ‘Nkandla’s’ te beskerm. Dis tragies maar dis Afrika se gister en vandag. En die volgende president gaan weer die drs se stoele laat vol sit van al die skokke en stres… want hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde (nie deur my uitgedink nie)….

al ·

Hy sal dit net weer afmaak dat die Weste hom probeer onttroon as daar na vytjie se seksuele onthulling verwys word.

Siener van Melbourne ·

Well, die koning van korrupsie aard beslis na albei sy ours; hy is besig om die koffers van Suid-Afrika letterlik skoon te maak en is afwesig van sy verpligting teenoor die land. Welgedaan!

Eish ·

Jy kan nie n vis as nutteloos afskryf net omdat die deel van die skepping nie nie kan boomklim nie. In sy element is dit n multibiljoen rand industrie. Nadat ek in die sewentigs begin werk het, was deel van die werksoriëntering n vak genaamd Volkekunde. Dit was onontbeerlik aangesien in die vorige bedeling daar weinig kontak tussen rassegroepe was. Indien jy uit die aard van jou werk betrokke gaan wees by ander bevolkingsgroepe, is dit logies dat jy minstens van hul manier van dink, tradisies en gewoontes bewus is. Die sisteem van hoofmanne werk so dat as jy Saterdag wil dorp toe gaan, gaan vra jy die hoofman toestemming en druk hom R5.00 in die hand vir sy moeite om jou te sien. Veelwywery is ook deel van die tradisie. Terloops in die Bybel was daar ook niks fout mee nie tot rondom Moses se tyd. Forseer nou die agtergrond, tradisies, bygelowe en ontwikkelingsvlak wat millenia voortgeduur het binne 300 jaar in n Westerse mileu. Jy kry eenvoudig n stamhoof wat met n Duitse motor ry, in n Italiaanse snyerspak uitgedos is, en sy kraal verfraai met die beste van die Westerse boumetodiek. Vandaar no 1 se gevleulde woorde dat korrupsie n Westerse beginsel is, dat net die slim mense kla oor Nkandla. Die man glo eenvoudig die baas van die plaas maak soos hy goeddink! Hy sit soos n neet aangesien n groot gros van sy ondersteunersbasis dink soos hy.

Ou Vryheid Gelykheid Broederskap Veldvark XIV ·

Die Suid-Afrikaanse Grondwet is vele keer in die media besing as die beste en die wonderlikste grondwet in die wêreld.
So, wat is die probleem? As die staatspresident die reg oortree het, kla hom aan ingevolge die Grondwet. Waarom nog kla?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.