Nuuskommentaar: Koos Kombuis se Damaskus-oomblik oor plaasaanvalle

Die Swart Maandag-optog in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Swart Maandag se protesaksie teen plaasmoorde het vir minstens een persoon wat voorheen die weerlig op hom getrek het oor sy uitsprake oor plaasmoorde, en veral die oorsake daarvan, ’n Damaskus-oomblik gebring.

Ja, van alle mense het Koos Kombuis daardie Maandag swart gedra nadat hy vroegoggend beelde van die saamtrekke gesien het wat sy stereotipes oor boere afgetakel het.

Dit klink inderdaad na ’n ander Koos Kombuis wat in sy rubriek op Netwerk 24 oor plaasmoorde skryf. Weg is die skille van liberalisme en die selfoordeel van “oopkop” wat jare lank sy denke oor boere en plaasmoorde oorheers het.

Wat maak dat Koos se dramatiese bieg so belangrik is dat dit swaarder weeg as om in vanoggend se nuuskommentaar die ANC se nasionale kongres onder die loep te neem?  Daar is immers sake wat ’n belangrike invloed op die kongres kan hê, soos vandag se uitspraak in die hooggeregshof in Bloemfontein, wat volgens die advokaat vir die beswaardes, Dali Mpofu, kan veroorsaak dat die nasionale kongres ook onwettig is.

Miskien is dit simbolies belangrik om op hierdie manier te demonstreer dat Suid-Afrika nie ’n eenpartystaat is soos wat die ANC in sy optrede wil laat blyk nie. Al het pres. Jacob Zuma die grondwet liederlik uitgebuit of geminag, het die howe telkemale duidelik getoon dat Suid-Afrika ’n grondwetlike demokrasie is, en dat die howe ernstig is oor hul waghondfunksie om oor die grondwet te waak.

’n Nuuskommentaar kan egter nie om beginselgronde ’n irrelevante saak uitlig nie. Oor in hoe ’n mate Koos Kombuis (nog) vir die openbare mening in Suid-Afrika van belang is, sal mense wat aktualiteite volg, hemelsbreed verskil. Die uwe is een van die mense wat nog bitter selde Kombuis se rubrieke gelees het. Dat dit ’n baie ernstige saak is (plaasmoorde) wat hom sy Damaskus-oomblik besorg het, is egter ongetwyfeld so.

‘n Swart Maandag-optog in die Wes-Kaap.

Hoewel ’n mens nie met alles wat Koos in die rubriek skryf sal saamstem nie, het hy dit geskryf teen die agtergrond dat ’n regse in ’n artikel geskryf het hy gebruik dwelms. Hieroor is Koos duidelik seergemaak, aangesien hy twintig jaar laas met dwelms deurmekaar was.

Koos vra onder meer die vraag of renosters meer werd is as die lewens van boere; vir renosterstropery is daar immers ’n uitgewerkte bekampingstrategie.

Gaan die rubriek as sneller dien om hom meer dikwels as spreker na geleenthede te nooi, en oor sy nuwe beskouing oor boere en plaasmoorde te kom praat? Dit sal eintlik verregaande wees as dit nié gebeur nie teen die agtergrond dat mense soos Max du Preez, Piet Croucamp en ander uit die linkse dampkring gewilde sprekers by landbougeleenthede is.

Môre is dit Geloftedag en amptelik Versoeningsdag. In dié stadium is die regerende ANC se versoeningsfokus die tweespalt in die party. Die hou van ’n Versoeningsdag is ’n absoluut leë gebaar as veral die leiers nie elke dag van die jaar versoening uitleef nie. ’n President wat verskeie klagtes van haatspraak op die lyf geloop het, is alles behalwe ’n goeie voorbeeld.

Die Gelofte self dien tegelykertyd as verenigende faktor onder Afrikaners, en as verdelende faktor. Die wortel van die verdelende faktore kan gesoek word in ’n verskynsel wat tot ’n reeks preke van ’n gemeente gelei het met die tema min of meer: “In die begin het God die mens geskape – nou skep die mens God.”

Die begrip van die Gelofte word tot ’n groot mate bepaal deur ons Godsbeeld. Gelukkig het die gewoonte om Geloftefeeste vir politieke doeleindes te kaap baie minder geword, hoewel dit plek-plek nog nie heeltemal verdwyn het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Madelein ·

Als in ag geneem is more GELOFTE dag..wat aan God gewy moet word…die naam Versoening is niks werd as daar nie versoening is of bewerkstellig word nie.

Jacques venter ·

Sê ek het nier probleme. Nou gaan ek dokter toe en hy gee vir my hoes stroop. Sal dit my probleem oplos. Nee die teendeel is waar.

Ons sit met n heweldige probleem deurdat boere vermoor word.

Die hoesstroop wat gegryp word is optogte na orals.

Wat word daardeur bereik? Sal die buiteland ingryp? Nee.

Die plaasmoordenaars sien hierdie optogte as n oorlogs verklaring. Direk na die optogte is 5 boere vermoor.

Slotsom die optogte is publisiteit vir sommige en noodlottig vir ander

Bert ·

Die vraag is eerder hoe op aarde iemand soos Koos ‘Kombuis’ kan kwalifiseer as kommentator wat ‘n eie rubriek in ‘n koerant het? Hy kan geen waarde toevoeg nie.

Werner ·

Stem Madelein as ons nie ons geloftes betaal nie kan ons maar bid dat die kraanse antwoord gee God sal nie na ons luister nie

Adam ·

Ek glo so. Koos Kombuis is ‘n uitstekende skrywer en lewer ‘n groot bydrae tot Afrikaans. Dit is uiteraard nie nodig om ‘n klakkelose naprater van hom te wees nie, maar dat die skrywer dit nodig vind om na sy “relevantheid” te verwys, is gewoon onnodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.