Oudpres. Jacob Zuma se sosiale kalender was die afgelope week die interessantste ding wat met ons gebeur het. Sy teepartytjie het afgespeel in die lig van die konstitusionele hof wat hom verplig het om voor die Zondo-kommissie te getuig.
In hierdie moeilike omstandighede was dit tyd om na sy grootste bondgenote te draai deur ʼn teepartytjie met Julius Malema, Dali Mpofu, Tony Yengeni, Mzwandile Masina (burgemeester van Ekurhuleni) en Vuyani Pambo (EFF-woordvoerder) te hou.
Waarom moet dié klomp nou skielik oor tee vergader? Ook nog op so ʼn openbare manier – asof hulle ʼn boodskap wil oordra.
Die antwoord hierop lê dalk in Zuma se grootste aanklag teen die Zondo-kommissie: dit is ʼn politieke instrument, eerder as ʼn grondwetlike instrument op soek na geregtigheid.
Die Zondo-kommissie is vir ons as burgers die laaste hoop op ʼn grootskaalse ontbloting van staatskaping – en hopelik ook verantwoordbaarheid.
Dié siening van die Zondo-kommissie word egter nie deur die ANC en rolspelers soos die EFF gedeel nie. Die rede waarom Zuma die heeltyd aanvoer dat die Zondo-kommissie ʼn politieke, eerder as grondwetlike instrument is, is waarskynlik omdat dit waar is – minstens vir die ANC.
Zuma self het in 2018 die Zondo-kommissie van stapel gestuur. In daardie stadium was hy onder politieke en juridiese druk om iets aan korrupsie te doen.
Die doel sou egter nooit wees dat hy of sy trawante daardeur aanspreeklik gehou word nie. Indien Zuma egter sommige teenstanders daarmee kon uitsorteer, sou dit natuurlik vir hom goed uitwerk. Sodoende kon die kommissie ʼn paar laevlak mense of politieke teenstanders skuldig bevind, sy werkinge staak en Zuma in vrede laat.
Nou dat die kommissie hom begin ondersoek, raak dit natuurlik ʼn probleem – dit was nooit die plan nie. Een van sy taktieke om geregtigheid te probeer ontduik, is om aan te voer dat die hele Zondo-kommissie hom persoonlik wil indoen. Net omdat dít nie waar is nie, beteken nie dat geen politiekery in die Zondo-kommissie betrokke is nie.
Ná dr. Sydney Mufamadi se getuienis oor die Staatsveiligheidsagentskap twee weke gelede, het Helen Zille verduidelik hoe alles in Mufamadi se getuienis reeds in ʼn 2018-verslag aan pres. Cyril Ramaphosa gegee is. Hy het destyds ʼn geredigeerde weergawe daarvan uitgegee – een waarvan al die skandaligheid en name verwyder is. Ook het hy vir drie jaar met daardie verslag gesit en niks gedoen nie.
Dit laat ʼn mens egter wonder hoeveel soortgelyke voorvalle daar nie nog kan wees nie. Hoeveel mense sit reeds vir jare met watter inligting sonder om iets daarmee te doen? Inligting wat dalk vir strategiese doeleindes op baie bepaalde tye ontbloot gaan word.
Ook het Ramaphosa nou gesê dat Zuma dalk nog van plan sal verander en wel voor die Zondo-kommissie verskyn – op sy eie tyd sal hy hopelik die regte besluit neem. In dieselde week het Ace Magashule ook gesê dat almal Zuma net moet uitlos – hy het dan niks fout gedoen nie.
Dit alles kom uiteindelik neer op politieke belange. Dit is in Magashule se eie belang om die Zondo-kommissie van Zuma se spoor af te kry. Dit wat met Zuma tans gebeur is waarskynlik die lokprent vir Magashule se toekoms. Sodoende het hy nie noodwendig Zuma se persoonlike welstand op die hart nie, maar eerder sy eie toekomstige heil.
Ramaphosa glo (hopelik) ook nie regtig dat landswette en hofbevele net opsioneel nagekom kan word nie. Tog het Ramaphosa gegewe sy party se faksiegevegte nie veel politieke ruimte om in te beweeg nie – hy moet groot morele toegewings maak vir oorlewing.
Die politiekery van die Zondo-kommissie vergestalt ook duidelik in die teepartytjie.
Floyd Shivambu het enkele dae van tevore op Twitter oor die kommissie gesê: “This factional nonsense of a Commission only chooses members and ex-members of Parliament who will justify and validate their pre-conclusions. The EFF fought for the Commission to be established and yet they will never speak to us because we are not factional puppets. Sies!”
In die jare van Zuma was die EFF heftig anti-Zuma. Nou is hulle skielik weer sy beskermheer. Dit is nie noodwendig die EFF wat van plan verander nie, maar eerder Malema wat doen wat op die spesifieke oomblik die beste vir hom is.
Die EFF se belange is so verweef met die ANC sʼn dat die ANC se faksiegevegte vir hulle saak maak. Dit is vir hulle belangrik watter faksies oorwinnings behaal en seëvier. Dit is belangrik om met ʼn eksklusiewe teepartytjie te wys met watter faksie hulle kop in een (tee)mus is.
So ook is Yengeni, een van Magashule se grootste bondgenote, se teenwoordigheid simbolies. Yengeni het net so ʼn lang geskiedenis van korrupsie soos Magashule – en ook net so lang geskiedenis van ontduiking van die gereg. Die indruk wat ʼn mens dan kry, is dat dié vergadering een van gesoute kriminele was wat almal ewe min in aanspreeklikheid belangstel.
Mzwandile Masina se teenwoordigheid getuig weer daarvan dat Zuma se uittrede – hoewel ʼn verligting – nie naastenby die begin van sy korrupsie se einde was nie. Die nalatenskap van sy faksie strek veel verder. Sodoende beoefen hy steeds tot ʼn mate invloed vanuit die politieke hiernamaals. Net soveel as wat hy aan sy faksie verbind bly, soveel bly hulle verbind aan hom en sy korrupsie.
Daar is baie goed wat Zuma nié is nie – ʼn goeie staatsman, ʼn morele kompas en ʼn eerbare mens. Die een ding wat hy wel is, is ʼn suksesvolle slinkse skelm. So, wanneer Zuma sê dat die Zondo-kommissie polities is, moet ons dié stelling minstens ondersoek.
Hy verstaan faksiegevegte en politieke belange. Dit beteken dat die onderlinge politiekery uiteindelik ʼn deurslaggewende impak op die ontblote waarheid gaan hê. Die Zondo-kommissie gaan net dalk die grootste instrument word waarmee die twee faksies mekaar kan teiken en ontbloot. Aan die begin sou almal waarskynlik so min as moontlik getuig. Aan die einde gaan almal waarskynlik soveel as moontlik wil getuig vir oorlewing.
Daar sal n einde kom,by ou Noag het dit ook gekom.
Die Kiki spreek boekdele…Finkel en Koljander… Laar wat ek kon onthou het ene Julias vir Zuma n middle vinger in die parlement gewys… nou lig hul saam pinkies op met tee… Is dit n word? Dwaasery?
Die een groter gemors as die ander een
ahahaaa is waar
Daar moet erens n groot skroef los wees as hierdie teeparty almal so op hol jaag.Hulle het seker maar net n staatsgreep sit en beplan.
Intussen glip bra Zuma in en uit die een moeilikheid na die ander so glad soos ‘n paling, terwyl die belasting betaler al meer as ‘n biljoen Rand opgedok het om hom te probeer vastrek. Nie’ n dooie sent daarvan het uit Zuma se sak gekom nie.
Daars nie medikasie vir dom mense nie.
Wonder wat en waaruit hulle sou gedrink het as kolonialiste nie tee en koppies hier aangebring het nie.
Uit kleipotte :)
Mooi raakgevat deur Monica Mynhardt – definitief ‘n spreekwoordelike dingetjie in die drinkwater wanneer dié soort saam begin dryf. Net jammer die rioolpolitiek los ‘n stank in die neus van al wat ‘n Suid Afrikaner is wat vir die gelag moet betaal.
Die sirkus en al sy nare was in KZN – Nkandla
Ek lees die artikel in Times Live dat Julius Malema die besoek ‘a meeting between black people’ beskryf. Toe Brackenfell wit leerlinge ñ groepie vriende kies vir klein matriekafskeid, was hul as rassiste uitgekryt en die EFF het omtrent kwaad gestook.
Soveel hipokrasie en skynheiligheid.
Nietemin die Bybel sê wat jy saai sal jy maai en wat jy in geheim fluister sal van die dakke afgeskree word.
Ek bid en glo en vertrou dat die dag aangebreek het.
Vinkel en Koljander die een is nes die ander! Die wiel sal draai…
Ek hoop nie oom Zoompie raak siek van al daai tee nie, want dan gaan hy wéér sy beloofde dag in die hof moet misloop.
Zuma was die hoof van die militère vleuel van die verbanne ANC. Hy is dit steeds buiten dat die soldate nou lekker huise besit en groot geld trek… alles aan Zuma & kie te danke. Die ex-prez vereis steeds totale onderdanigheid. Baie grafte lè rondom die kampe van die destydse buitelandse korps. Wie het hulle onder die kluite laat beland en hoekom? Met wie het Zuma saam tee gedrink nadat Malema en sy entourage vertrek het? Vind uit en julle het ‘n goeie aanduiding wat die rioolstr-oompie nog gaan aanvang.
Ek dink nou weer aan die Zondo kommissie. Indien bra Zuma se foefie slaag en hy verskyn nie voor die kommissie sonder gevolge nie, is Zondo se tande getrek. Dan was die kommissie pure verniet, want dan het Zuma bewys dat die kommissie geen mag het nie. Al die belasting geld in die water gegooi en die advokate lag al die pad bank toe.
Skelm, dis wat hulle is. Waar ‘n rokie trek is ‘n vuurtjie
Die hele lot is nie die aandag waardig nie. Al aandag is tronk sel aandag
Tee drink vir die eye blind. Toe die kameras weg is, word die duur whiskey uitgehaal en saam beplan hulle hoe om verder die land te plunder.