Nuuskommentaar: Koppestamp van die e-tollenaars en Gautengse “imperialisme”

Argieffoto

Argieffoto

“Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad?” Die antwoord van hierdie ou grappie is “teerpaaie”. Maar terwyl die land sukkel om die stryd teen slaggate te wen, verrys ’n nuwe netwerk van puik (geteerde) paaie in Gauteng. Maar dan word die mat uitgeruk en ʼn nuwe vloekwoord kom tot stand: e-tol.

Die E-tol-hersieningskommissie wat deur die Gautengse premier ingestel is, en na verwagting sy bevindinge aan die einde van November aan die premier sal oorhandig, het verseker dat die weerstand teen e-tol ’n uitlaatklep gekry het.

Dit het egter ook duidelik ontbloot hoe wyd die kloof tussen die Gautengse ANC en die ANC in die res van die land is, al word hard werk daarvan gemaak om dit onder die mat in te vee.

Die besware teen tolpaaie, en e-tol in die besonder, is wydlopend, en byna elke dag word nuwe besware geopper. Dit veroorsaak onder meer dat baie mense alternatiewe roetes gebruik, en eintlik paaie voos ry wat nié deur die tolgeld in stand gehou word nie. Nou word dit munisipaliteite se verantwoordelikheid.

Items wat vervoer word, word weens die hoër vervoerkoste duurder, met die grootste impak op die middelklas, maar ook die armer deel van die bevolking kry met verhoogde kostes te kampe.

Daar is ’n groot onlekkerte oor die reusebedrae wat buiteland toe vloei vir die bedryf van die tolpaaie – ’n ongemak wat al begin het met die groot bedrae wat onder soortgelyke omstandighede weens die Lotto voete uit die land kry.

Daar is hardnekkige gerugte oor voordele wat mense kry wat dit nie moet kry nie uit die toeken van tenders rondom e-tol, met ’n populêre weergawe dat die sogenaamde Nkandla-hoofweg ook hieruit baat gevind het. ’n Lang spoor van dopmaatskappye wat uit woonhuise bedryf word, en geen bates het nie, is moeilik te verklaar.

Uiteindelik word e-tol, verdiend, of onverdiend, as iets ervaar wat alles verteenwoordig wat verkeerd is. Die chaos met die rekeningestelsel, en die dowe ore wat vooraf gedraai is op die probleem van gekloonde nommerplate – deels ’n probleem weens Suid-Afrika se voertuigdiefstalvoorkoms, byt nou aan die doeltreffendheid van die stelsel. Mense dwars oor die land wat jare laas in Gauteng was, word nou aangeslaan omdat hulle kwansuis op die e-tolpaaie sou kerjakker het.

Die paaie is egter gebou, en die geld daarvoor geleen. Op die een of ander manier moet dit terugbetaal word.

Die regering se argument dat diegene wat dit benut, daarvoor moet betaal, vind daarom buite Gauteng nie onsimpatieke ore nie. Weliswaar is daar onvrede oor so iets op die oog af agter die publiek se rug gedoen kon word, en die niksvermoedende publiek elders ook net op ʼn dag daarmee gekonfronteer word wanneer die koeël reeds deur die kerk is. Elders in die land is mense se oë nou wawyd oop, en word alles in die stryd gewerp om te keer dat ook ander dele van die land met sulke (duur) verrassingspakkies getref word.

Onder die oplossings wat aangebied word, is verhoogde belasting of ’n bykomende brandstofheffing. Om verstaanbare redes is mense elders in die land onwillig om deur brandstofheffings te betaal vir paaie wat hulle moontlik nooit sal gebruik nie. Maar ook in Gauteng sal vuisvoos motoriste langlippie wees as die regering die dalende internasionale ru-oliepryse (lees gerus hier) se voordeel omsit in ’n bykomende brandstofheffing om vir e-tol te kompenseer.

Die teenargument is dat Gauteng die land se ekonomiese hartland is, en dat Gauteng in wese die begrotings van ander dele van die land subsidieer. Die hele land trek dus hieruit voordeel.

Daar is egter weer teenargumente hieroor. Ekonomiese geograwe is krities daaroor dat suiwer ekonomiese modelle die ekonomiese ongelykheid in verskillende dele van die land kan verklaar, en fokus op sekere geografiese aspekte soos afstand. Hiervolgens sou dit beteken dat ’n ekonomiese hartland soos Gauteng op ’n sekere radius juis die ekonomie van daardie “ring” sal “leegsuig” eerder as aanhelp. Dit groei en floreer dus eerder ten koste van, en nie ten bate van ander dele van die land nie. Streekhoofkantore word gesluit en die funksies regstreeks uit die hartland behartig, tenders wat die plaaslike ekonomie ’n hupstoot sou gee, word aan firmas vanuit die ekonomiese hartland toegeken (dikwels op erg omstrede manier en te midde van baie bewerings van onder die tafel deur onderhandelinge).

’n Provinsiale hoofstad sit steeds met ligjare se probleme na ’n Gautengse firma die nuwe waardasierol teen ʼn astronomiese bedrag opgestel het. Met die firma betaal, en weg, is regstellings moeilik, en appèlle wil nie behoorlik vorder nie. Onder meer is daar ten duurste lugfoto’s geneem, om presies dieselfde data te bekom wat gratis en boonop drie-dimensioneel via die Amerikaanse Landsat-stelsel van die internet getrek kon word. Trouens, dit het ’n bykomende voordeel omdat ook “teruggekyk” kan word om te vergelyk of onwettige strukture nie sedert die vorige waardasie opgerig is nie.

In die vind van oplossings vir die bestaande e-tol, moet gewaak word dat nie nuwe probleme geskep word nie.

E-tol, of soortgelyke en selfs meer regverdige stelsels, is wêreldwyd omstrede en neig om selfs tussenstaatlike verhoudinge onder druk te plaas, soos tussen België en Nederland aan die een kant, en Duitsland aan die ander kant. Dit veroorsaak dat reeds-aangekondigde planne aangepas, en toegewings gemaak word.

Dat die ANC hier te lande, selfs te midde van interne druk soos vanuit Cosatu, hardnekkig vasskop, laat noodwendig vrae ontstaan oor watter ondernemings teen watter prys aan wie gemaak is – ooreenkomste wat nou ten alle koste beskerm moet word.

En selfs al sou dit blyk dat alles pluis is, help die regering se bottoe ore nie dat die vermoedens besweer word nie. Die wyse waarop die regering met Nkandla en die omstrede wapentransaksie omgaan, help nie om persepsies van gereelde konkelwerk te besweer nie.

ʼn Oplossing moet gevind word, maar die oplossing is nie maklik voor die hand liggend nie, omdat dit reeds gedoen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Max ·

Rose Martin verduidelik reeds in 1946 mooi in jaar boek “The Fabian Freeway” die konsep van E-Tol. Dit is maar net ‘n vorm van sosialisme.

Nico ·

Ek verstaan een ding nie. Ek weet ek ry nie elke dag Johannesburg toe nie en dit raak my nie, so miskien moet ek niks sê nie. Maar ek verstaan nie wat is die verskil tussen e-tol en alle ander tolpaaie die land vol. Ook daar ry baie vragmotors nou alternatiewe paaie stukkend om tolhekke te vermy. Ook daar moes mense nou ou stukkende paaie ry wat elke dag werk toe op ‘n snelweg gery het en daar skielik ‘n tolhek gebou is. Soos die mense wat in Middelburg bly en in Witbank werk. Of die mense in Montana of verder noord wat altyd met die N1 Pretoria middestad toe gery het en nou die oorvol ou Warmbad moet ry.

Ek weet die groot beswaar is die koste en ek stem saam dat daar baie groter toegewings moet wees vir gereelde gebruikers. ‘n Soort seisoen kaartjie. En die tolhek mense se argument dat dit nie lonend gaan wees as dit te goedkoop is nie, is vreemd. Daar is ‘n tolhek tussen Pretoria en Hartbeespoort dam wat R6 kos. Ek kan nie dink dit betaal die tolhek beampte se salaris nie, maar hy bestaan.

En ek stem nie saam met Afriforum dat ons dit by die (reeds oorlaaide) petrolprys moet voeg nie. Die beginsel is tog dat die persoon wat die pad gebruik, die pad moet betaal. Ek ry min lughawe toe, maar ek onthou hoe het ‘n mens 5 jaar terug gestaan tussen Pretoria en die lughawe en nou gaan dit darem baie lekkerder. En dit is die persoon wat dit elke dag gebruik wat daardie voordeel daaruit kry.

Ek stem saam dit is sosialisties. Maar moenie dink die Nasionale PArty regering het nie ook sosialisme toegepas nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.