Nuuskommentaar: Korrekte mediakommunikasie, maar ‘skisofreniese ANC’ baklei teen homself

Argieffoto

“Die ANC se besluit om ’n optog teen homself te hou teen onder meer e-tol deur na die Uniegebou in Pretoria op te ruk, is tekenend van ’n party wat verval het in ’n ernstige toestand van skisofrenie en ’n ongesonde onderskatting van die intelligensie van kiesers.”

Met hierdie woorde vat adv. Anton Alberts die vernaamste kontemporêre kenmerk van die ANC saam. Dié eienskap van skisofrenie vind vandag ook neerslag in die hoofartikels van drie Media24 Afrikaanse dagblaaie.

In sy bespreking van Eskom se rol in die feit dat satellietdata besoedelingsoortreders “verklap”, skryf Beeld onder meer: “Eskom kan nie eens hieraan voldoen nie. Die Groen Skerpioene, wat Eskom se luggehalte moet monitor, is hoofsaaklik afwesig en het nie die politieke wil om dit af te dwing nie. Dit is maar een voorbeeld van swak regering wat meebring dat menseregte geskend word. En moenie vergeet van Eskom se reuse bydrae tot klimaatsverandering nie.” 

Voorts word daarop gewys dat pres. Cyril Ramaphosa steeds nie ’n minister van omgewingsake aangestel het nie. Die ANC se onverskilligheid oor omgewingsake pas die omgewingskenders.

Volksblad het dit vanoggend oor die skynbare lamlendigheid van die ANC om teen sy sekretaris-generaal en toutrekker in die Vrystaat waar hy premier was, Ace Magashule, op te tree, terwyl die ANC se integriteitskomitee byvoorbeeld aanbeveel dat die ANC teen lede optree wat by die VBS-bank se bedrogspul geïmpliseer word.

Dit is egter nie net Magashule wat skynbaar onaantasbaar is nie. Op die oomblik tree die ANC erg selektief op teen ampsdraers by munisipaliteite wat betrek word. Gewoonlik is dit die burgemeesters wat ANC-argwaan vryspring, terwyl amptenare in die slag bly.

Die Burger bespreek die breekspul binne die Nasionale Vervolgingsgesag: “Die netwerk van NVG-hoës wat Zuma byna ’n dekade lank in staat help stel het om aanklagte van korrupsie te ontwyk, strek veel wyer.”

Terug na adv. Alberts se woorde: “Die minister van finansies, Tito Mboweni, het dit baie duidelik gemaak tydens die aanvullende begrotingstoespraak dat die e-tolstelsel hier is om te bly. Die ANC het dus sy vlag in die grond geplant oor die kwessie en die Gautengse ANC se optog gaan nie enige persepsies wysig dat die ANC die vark in die verhaal is nie.

“Daar is ’n goeie kans dat minister Mboweni met sy besluit oor e-tol die ANC in Gauteng verdoem het tot ’n verkiesingsuitslag van onder 50% wat hom sal noop om koalisie-vennote te neem om te oorleef indien hy gewilliges kan vind.”

Waar laat hierdie soort skisofrenie die kieser?

Daar is ’n paar goue reëls waarna die kieser behoort te kyk, veral waar die betreklik suiwer proporsionele kiesstelsel en veronderstelde koalisiepolitiek in Suid-Afrika geld:

  • Maak seker jou stem gaan aan die party wie se beleid die naaste met ’n mens se eie beginsels en ideale ooreenstem. Dit maak immers nie sin om sterk oor Afrikaans te voel, maar vir ’n party te stem wat sy mediaverklarings net in Engels uitreik nie.
  • Maak seker die party wat vir ’n mens se kruisie oorweeg word, het ’n geskiedenis waar die leiers se oggend- en aandpraatjies ooreenstem.
  • Anders as wat ’n ANC-politikus eens gesê het, is dit nie vir politici in die haak om kluitjies te bak nie. ’n Politikus het nie ’n vrypas om selektief met aspekte van integriteit te wees nie. Dit beteken die kiesers moet die media taamlik nougeset volg om vas te stel watter politikus se mond met koeksoda uitgespoel moet word, met ander woorde, watter party verdien nie jou stem nie.
  • Geen party kan alles vir almal probeer wees nie, en te veel pas hul boodskap vir die gehoor aan.

Was die ANC se voldoening aan dié vereistes? Eisj!

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se voorsitter.

En as die kieser besluit om op selektiewe basis sy blinde oog op gevaarligte te werp, of die slagoffer word van kafpraatjies soos “moenie jou stem op klein partye mors nie”, of “ons sal jou (bitter stil) stem binne die ANC wees”, of “leen ons jou stem”; die beleggingsgemeenskap in die buiteland loop in die reël gewoonlik met wyd ope oë.

Die uwe besef dat hierdie nuuskommentaar klink of dit die Vryheidsfront Plus voortrek. Die doel daarvan is om te demonstreer hoe belangrik ’n mediapoging is wat daarop gemik is om dinge reg te doen. Dit neem byvoorbeeld kennis van die feit dat die opkoms van gemeenskapsradio en tokkelosse (Afrikaans vir knock and drops) beteken dat ’n groot deel van die gemeenskap nie enige nuus van partye te siene of te lese kry nie omdat daardie media dikwels nie oor die luukse van vertalers beskik nie. Verslaggewers het selde die tyd om nog vertalings ook te doen.

Dit is boonop vermetel om te verwag dat ’n ander instansie mannekrag vir vertaalwerk moet inspan.

Kwaliteitmediawerk behels egter veel meer as net die taal, of tale van mediaverklarings. Die strewe behoort te wees dat dit van so ’n gehalte behoort te wees dat dit elektronies net so in ’n nuusbulletin geplak kan word. Sommige politici (en ander leiers) is egter so lief vir hul eie stemme dat hulle hul mediabeamptes “dwing” om die mediaverklarings onaanwendbaar lank te maak. Veral die gedrukte media het gewoonlik by verre te min publikasieruimte vir al die beskikbare nuus.

Vertalings laat dikwels allerlei foute deurglip, onder meer die gebruik van die verkeerde woorde.

Een so ’n nuusagentskap, Penorent Nuus, het volledige Afrikaanse nuusbulletins aan gemeenskapsradiostasies met ’n gesamentlike luistertal van ’n miljoen mense, gehad. Herhaalde versoeke aan ’n groot opposisieparty om ook mediaverklarings in Afrikaans uit te reik is met ’n erge bontpratery begroet. Toe die partyleier daaroor genader is, is Penorent eenvoudig van die verspreidingslys vir mediaverklarings verwyder. (Penorent het onlangs ontbind. Die een vennoot, Willie Visagie (73) is verlede week oorlede en Vrydag ter ruste gelê.)

Die Vryheidsfront Plus wys vanoggend op ’n erge daad van skisofrenie aan die kant van die ANC: “President Cyril Ramaphosa se jeugbemagtigingsnetwerk, Yes4Youth, is blatante rassediskriminasie teen jong werklose wit Suid-Afrikaners en die VF Plus het by die Menseregtekommissie (MRK) ’n klag van diskriminasie ingedien rakende die program wat jong wittes bloot op grond van hul velkleur uitsluit. Die program help jong mense om werk te kry.

‘Wit aansoekers kry ’n boodskap wat lui: “Jammer, Yes (4Youth) is slegs beskikbaar vir Swart, Indiër of Bruin Suid-Afrikaners.” Die skakel na die webblad: https://www.yes4youth.co.za/for-youth/.”

’n Mediaverklaring wat korrek opgestel is, verhoog eenvoudig die kanse dat dit gebruik sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hans ·

Ek dink die ander 2 minderheidsgroepe moet so seker wees dat hulle applikante baie suksesvol gaan wees nie.

elizna ·

ek voel hartseer vir ons kinders. ons word letterlik in die see in terug gedwing..oorsee sl hul werk kry.maar ook net tot die emmers vol is..daar is ook net soveel werk oor die waters.

Sloet ·

Groenewald van die VF+ lieg openlik in Brussel dat hulle “on behalf off” die Afrikaners en boere praat. Geen skaamte, self op You Tube. Google dit maar. By Unpo. Alberts gaan baas wees van 2 setels ná die verkiesing.

Dries du Toit ·

Sloet stem jy net vir n party wat goed sal doen ongeag of hulle jou belange verteenwoordig of nie. ??????. Jy het nie n idee wat het daai 2 setels in die Parlement onder moeilike omstandighede al vir ons beteken nie. As jy die “winning party” wil ondersteun stem vir jou vyand die ANC

Jerry ·

In SA stem witmense op nasionale vlak vir die sterkste opposisie party wat daar wit belange die beste kan dien en op plaaslike vlak vir die VF wat daar wit belange die beste kan dien. Dit gaan nie oornag verander nie.

Alida ·

Die meerderheid anc aanhangers verstaan nie hierdie hoë taal wat gepraat word nie. Hulle sien uit na die kospakkie en T hemp op stemdag. Ek wonder wat die EFF gaan aanbied hulle het skuld om te betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.