Nuuskommentaar: Korrupsie bederf geluk van menseregte

Argieffoto

Argieffoto

’n Goeie Handves van Menseregte wat op papier gevange gehou word, bring niks van die idilliese geluk wat die liberale gemeenskap daaraan toedig nie.

“Ek dink ’n mens kan enige plek gelukkig wees as jy vryheid het – iets wat ons nie in Suid-Afrika het nie – ons leef in tronke.” Só skryf ’n Maroela-leser gister in haar kommentaar op ’n berig in Maroela Media oor die jongste VN-gelukkigheidsindeks, wat pas die lig gesien het.

Ja, Suid-Afrika het ’n veelgeroemde Handves van Menseregte (op papier minstens) maar die land is uit 155 lande, die 101ste gelukkigste ter wêreld. Op die Afrika-indeks vir die periode 2014 tot 2016 is Suid-Afrika 7de, met selfs Somalië wat Suid-Afrika klop. (Met die huidige hongersnood en geëskaleerde terreuroorlog sal dit stellig nie nou meer die geval wees nie).

Reg of verkeerd, Suid-Afrika se welstand word baie dikwels in terme van korrupsie gemeet. By die subindeks oor korrupsie is Suid-Afrika een van drie Afrika-lande wat korrupsie as die grootste faktor aandui wat die elemente wat die land se geluk bepaal, afwaarts rem. Ook ander misdaad maak heelwat menseregte eenvoudig tot niet.

Vermeende korrupsie was weer pas groot nuus in Suid-Afrika oor die onverkwiklike Sassa-debakel. Sou dit gebeur (en dis gelukkig skynbaar afgeweer) dat daardie toelaes nie betaal word nie, sou daar groot ongelukkigheid wees. Eintlik ’n baie groot ramp. Dit is nou naels kou om te sien of alles vlot gaan verloop, en tot watter mate die ongemagtigde en skynbaar kriminele aftrekkings hokgeslaan is – ʼn probleem wat die regering nou eers begin skeel het toe dit blyk hoe groot die weerstand hieroor teen die huidige diensverskaffer opgebou het.

Tog is dit nie heeltemal waar om te sê menseregte in Suid-Afrika slegs op papier bestaan nie. Die feit dat hierdie stuk geskryf en gepubliseer kan word, is ’n bewys van persvryheid en meningsuitdrukking, hoewel daar onheilspellende stemme uit die veiligheidsgeledere opgaan om die sosiale media te beheer. Dit is ’n onderwerp op sy eie – as dit net daaroor gaan om laster en die verspreiding van fopnuus aan bande te lê is dit goed. Wie is nie al so dik vir die wolhaarstories, soos groot oproer in die hoofstraat, wat op ’n mens se selfoon opduik nie? Op ’n dag gebeur dit dalk regtig, en niemand glo dit meer nie, en beland in groot gevaar.

Elke mensereg is immers aan beperkings onderhewig, maar daardie beperkings mag nie van so ’n aard wees dat dit die oorspronklike reg vernietig nie. Soos “affirmative action” nou toegepas word, kom dit baie na-aan die vernietiging van die verbod op diskriminasie op onder meer ras.

Wanneer dit kom by gelykheid voor die reg, lyk sake nie meer so rooskleurig nie. Die ryke kan die beste regspan huur, en iemand met politieke konneksies kry te dikwels voorkeurbehandeling, soos nou die geval met pres. Jacob Zuma self in die sogenaamde bande-saak. ’n ANC-LP gaan skynbaar wegkom daarmee dat hy parlementêre privilegie gebruik het om in die debat oor plaasaanvalle kon uitroep: “Begrawe hulle [die boere] lewend!” In ’n ander konteks sou dit waarskynlik suiwer haatspraak wees. Hierteenoor staar die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, nou skynbaar dissiplinêre stappe in die gesig oor ʼn plasing op Twitter, oor ’n inhoud wat sy self meen sy nie teenspoed sou gekry het as sy nie wit was nie.

Die hartseer is dat ’n handves van menseregte eers behoorlik kan neerslag vind as daar genoeg welvaart is. Die reg op lewe beteken niks as die staat nie meer die geld het om gratis dialise aan ’n arm persoon te verleen nie. As iemand se mediese fonds weier om ’n peperduur geneesmiddel oorsee te betaal, sal slegs private fondsinsamelings kan uithelp – as daar tyd voor is. Die verbod op kinderarbeid kan rampspoedig wees as daar nie alternatiewe versorging vir daardie kinders, en dikwels hul werklose ouers is nie.

Die impak daarvan dat die Suid-Afrikaanse Handves van Menseregte die reg om (vreedsaam) te staak erken, maar nie die reg om te werk nie, is tydens onstuimige stakingseisoene duidelik waarneembaar wanneer nie-stakers van hul werkplekke verwilder word, en dikwels aangerand word. Suid-Afrika het wel enkele jare gelede ’n internasionale verdrag geratifiseer na dit sowat 20 jaar gelede onderteken is, waarin die reg om te werk erken word, maar Suid-Afrika se rekord met die nakoming van verpligtinge oor geratifiseerde verdrae is nie baie goed nie. Die debakel oor pres. Omar al-Basjir van Soedan is ’n sprekende voorbeeld.

Buitendien maak die verdrag wat die reg op werk erken, onder meer voorsiening vir streng beperkings op regstellende aksie op grond van ras, die verbod op kwotas en stel ’n bepaalde sonsondergangklousule daar – en nou ja, die regering weet nie wat hy geteken en geratifiseer het nie, of steur hom nie daaraan nie.

Op die oomblik is daar litigasie oor die gebruik van Afrikaans as ’n onderrigtaal by drie voormalige Afrikaanse universiteite aan die gang. As na die grondwet en die erkenning van minderheidsregte, en taalregte gekyk word, moes die sake nooit eens naby die hof gekom het nie. Tog is minstens een saak al op hooggeregshofvlak verloor.

Nog ’n kommerwekkende tussenval is dat Zuma nou self aan die spits staan van diegene in die ANC wat grond sonder vergoeding wil laat onteien. Die grondwetlike bepaling wat eiendomsreg, en die reg op vergoeding bepaal, maak ook deel van die Handves van Menseregte uit. Hier word nou ideologies gekarring met iets wat op valse historiese persepsies gevestig is, en wat die land se ganse ekonomie skouspelagtig sal laat inplof.

As die regering erns het met menseregte, en veral die menseregte met ’n sosio-ekonomiese impak, sal hy sy ideologiese gepeuter met die ekonomie staak en die ekonomie toelaat om volgens sy kragpunte te groei. Korrupsie sal met mening en sonder aansien des persoons aangepak word.

Die bepalings en bedoelings van die Handves van Menseregte kan ook nie maar net ondergeploeg word deur dit ondergeskik te stel aan die kwalik afgebakende verskynsel van “transformasie” nie.

Vandag is daar wel baie te vier, maar dit is ook nodig dat vandag dien as opskerping oor waar sake nog haper, en besin word oor maniere hoe om dit aan te spreek.

Minderheidsregte, al is dit in Suid-Afrika se geval merendeels onregstreeks deel van die reg, en nie voldoende deur die Handves van Menseregte nie, beteken immers min as dit nie ’n duidelike afgebakende eindbestemming oor wat moontlik is uitspel nie. Dit kan byvoorbeeld tot uitgerekte litigasie lei om die voortgesette onderrig in Afrikaans in skole te bevestig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

lw ·

Korrupsie stroop ñ land en sy mense van waardigheid. Inderdaad.
Taalmiskenning ook. Ons het tog ñ reg.

lw ·

Ons mag nie gaan lê nie. Ons moet ons demokrasie ten alle koste beskerm.

Werner ·

Weereens dankie Herman. Ek geniet jou skrywe en leer baie daaruit.

Heinrich ·

Die ANC se wortels en waardes is diè van ‘n terroriste organisasie. As jy bomme geplant het om jou saak te bevorder, en die allesbelangrikste reg op lewe kan misken, hoe maklik is dit nie om minderheidsregte van die tafel af te vee nie? In alle bevrydingsorganisasies in Afrika bestaan die woord ” korrupsie” glad nie, dit is die alledaagse manier van dinge doen, hoekom sal die ANC enigsins anders wees, as die president die dan self erken het dat korrupsie ‘n westerse konsep is?

Henry ·

Terwyl die mees eenvoudige beginsels vir ‘n verantwoordelike/verantwoordbare regering deur die huidige regime ge-minag word, kan daar tog geen sprake van agting vir enige vorm van menseregte in hierdie droewe land wees nie.

Afgesien van die mees ernstige minagting vir menseregte denkbaar, soos ongebreidelde korrupsie, roof, moord en doodslag wat die lewens en vryhede van alle lede van die bevolking 24/7 bedreig, kan die regime se onbevoegde kaders nie eers ‘n slaggat herstel, of verhoed dat winkeltrollies daagliks onder die outoriteite se neuse weg gedra, vernietig of gesteel word nie.

Daarom kan daar nooit as te nimmer oor sogenaamde menseregte gesels word, in hierdie land wat deur talle kundiges as ‘n rampokkerstaat beskryf word.

SARIE VAN HEERDEN ·

Maak nie saak hoe en wat ons doen om hierdie land te red van korrupsie nie, dit sal nie gebeur nie. ‘n Vis vrot van die kop af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.