Nuuskommentaar: Korrupsie is ʼn simptoom eerder as die siekte self

Ace Magashule (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Oor presies drie weke van vandag af moet Ace Magashule óf reeds opsy gestaan het óf skorsing uit die ANC staar hom in die gesig. Die korrupsieklok is onafwendbaar aan die tik.

Terwyl Magashule se tyd uitloop, staan die tyd dus ook nie stil vir ander korruptes en beweerde korruptes nie. Een amptenaar wat nóg ʼn omstredenheid by sy lysie gevoeg het, is Panyaza Lesufi wat nou ook by bewerings van korrupsie betrek is. Daar word berig dat City Press na ʼn opname geluister het waarin Lesufi stellings gemaak het wat daarop dui dat hy inmenging by die tenderproses aanmoedig.

Verskeie organisasies het reeds vanuit verskeie oorde ʼn beroep op verskeie liggame en mense gedoen om dit aan te raak. Die Openbare Beskermer, die menseregtekommissie asook die Gautengse wetgewer is almal versoek om óf dadelik teen Lesufi op te tree óf minstens ondersoek na die bewerings in te stel.

Korrupsie is iets waardeur Suid-Afrikaanse burgers reeds jare lank geteister word. Pres. Cyril Ramaphosa het met die aanvang van sy presidensie ʼn nuwe etiese staat belowe. Die druk word al hoe meer vir hom om dít uit te voer. So ook in die lig van oudpres. Jacob Zuma se toenemende verontagsaming van wet en orde. Dit beteken dat die vervolging van korrupsie die een ding is wat vanjaar veral groot aandag gaan geniet.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Hierdie suksesvolle aanpak van korrupsie en korruptes is een van die groot ommekere waarop talle moedeloses staatmaak. Talle politieke kommentators het die stryd tussen die sogenaamde hervormingsfaksie van Ramaphosa en die radikale ekonomiese transformasie-faksie van Magashule beskryf as ʼn stryd om die siel van die ANC. Ramaphosa wat oorwin, is ʼn oorwinning van ʼn etiese en bevoegde staat. Magashule wat oorwin, is ʼn oorwinning van die korrupte en onbevoegde staat.

Indien die “regte” helfte van die ANC net kan regeer, sal ons land se probleme opgelos word. Indien die etiese en bevoegde ANC net kan regeer, sal korrupsie finaal uitgesorteer word. Die probleem met hierdie soort denke is egter dat die simptome eerder as die siekte self aangedurf word.

Dink byvoorbeeld aan ʼn skaapboer wat deur ʼn jakkals geteister word. Elke oggend vind die boer verskeie skape doodgebyt en hy wéét dat die jakkals skuldig is. Hy het hom al verskeie kere self gesien, maar kon hom nog nooit vang nie. Eendag skiet die boer uiteindelik die jakkals dood. Hy is so oorstelp oor die feit dat hy die jakkalsprobleem opgelos het dat hy nie eens twee keer dink om die gat in sy heining reg te maak waar die jakkals ingekom het nie.

Die ANC se beleid is die gat in die heining. Die jakkals wat deur die gat kruip en skape vreet, is slegs ʼn simptoom van die probleem. Die een spesifieke jakkals wat gevang word, los slegs een simptoom van ʼn groter probleem op.

Indien jy korruptes in die regering wil uitsorteer, moet jy dus ook die probleem eerder as die simptoom aanraak. In hierdie geval is die probleem drieledig: ʼn reuse- gesentraliseerde staatsdiens, kaderontplooiing, oorregulering van álles en die ANC se Marxistiese geneigdhede. Hierdie elemente huisves korrupsie perfek. Dit skep oneindige geleenthede, stelsels en middele waardeur korrupsie gepleeg kan word.

(Argieffoto)

Kaderontplooiing kies ruiterlik ideologiese lojaliteit bo bevoegdheid. Hoe meer regulering daar in ʼn ekonomie bestaan, hoe meer geleentheid is daar om mense om te koop – indien daar nie regulering is nie, kan daar nie ʼn oneerlike pad daarom gesoek word nie. Hulle Marxistiese neigings in die vorm van die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) kies die visie van ʼn utopiese staat ten alle koste bo alles anders – selfs bo die maatskaplike en ekonomiese welstand van mense.

Die geskiedenis het reeds herhaaldelik bewys dat hierdie soort beleid ʼn staat in onbevoegdheid en korrupsie laat verval. Die nodige voorwaardes vir ʼn doeltreffende en etiese – sover moontlik, minstens – staat bestaan bloot nie.

Hierdie beleid is ook iets wat deur albei kante van die ANC ondersteun word. Dit is ʼn mite dat die een kant van die ANC eintlik die vrye mark, die liberale grondwet en ander elemente van ʼn liberale demokrasie fundamenteel ondersteun en wil beskerm. Hoewel Magashule se faksie aansienlik moeiliker is om moreel te verteer, steun Ramaphosa se faksie nietemin dieselfde beleid. Ramaphosa self het gesê dat ons die beste kaders moontlik moet ontplooi – ons moet nie van die beleid ontslae raak nie, maar eerder dit “so goed moontlik” aanwend.

Dit beteken dat ʼn daadwerklike radikale ommekeer en verbetering van die land en die staat nie by die ANC gevind gaan word nie. Selfs al wil sekere lede van die ANC regtig opreg goeie veranderinge teweegbring, sal selfs hulle beleid altyd op langer termyn in meer korrupsie en onbevoegdheid vergestalt word. Dit is bloot die aard van die beleid wat hulle aanhang.

Verder is die ANC tans so in faksiegevegte betrokke dat die meeste energie en kapasiteit hieraan bestee word. Die kanse dat lede binnekort die land se belange bo die ANC se belange gaan plaas, lyk ook nie goed nie.

Daar waar die ANC sy eie belange telkens bo die welstand van die land gaan kies, gaan ons self na ons eie welstand moet begin omsien. Daar waar die ANC aan uitgediende en slegte idees vasklou, moet ons met innoverende oplossings vorendag kom. Daar waar die ANC toenemend verval, moet ons nuwe ruimtes en oplossings bou. Indien ons ʼn goeie en suksesvolle toekoms wil sien, gaan ons onsself soveel moontlik van die staat moet ontkoppel en so staatsbestand moontlik maak. Ten einde ʼn beter ekonomie, openbare en politieke orde te wil hê, gaan ons dit self in die leemtes van die regering van onder af moet opbou.

Dít is wat ons generasie se taak en uitdaging is. Indien ons ʼn beter toekoms wil sien, gaan ons dit self moet bou. Nes elke generasie voor ons sy eie taak en uitdagings gehad het, moet ons hierdie kwessie as ons sʼn aanvaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

gatgogga ·

Ek sal redeneer dat, wat hierdie artikel glo wat die probleem is, is op sy beurt ook maar net die simptoom van die werklike onderliggende probleem.
Die werklike probleem, is daardie waarheid wat ons nie wil, of mag raaksien nie. Vra jouself: wat is die gemeenskaplike deler?

Roedolf Johannes ·

Wat nog,nou word MISDAAD sommer simptome en siekte ook genoem.

Nie Verbaas ·

Daar is geen regte ANC kant of faksies wat die land kan regeer nie. ANC in totaliteit onbevoeg en korrup en BEE vererger dit net in die fisiese werks omgewing. As BEE gewerk het en onderwys op standaard was was die ekonomie nie nou in huidige staat van verval nie.

Fedup ·

It’s a virus that sits on the brain.
Time this circus is dragged before The Hague.

Aai ·

Hy en Zumpie se kaders gaan nog amok maak voor einde van maand.

Werner ·

Ja hulle gaan defnitief moeilikheid maak.Daar is genoeg teepartytjies gehou daarvoor

Jannie van Niekerk ·

Magashule gaan nie sy pos ontruim nie en hy sal ook nie geskors word nie. Hulle gaan wel een of ander verskoning uitdink waarom dit nie gaan gebeur nie. “Mark my words.”
Panyademie Liegsufie gaan ook niks oorkom nie.

Anoniem ·

Korrupsie is die simptoom van die gevreesde breinsiekte, genaamd ANC. Niks, absoluut niks wat hulle ookal sê kan hulle korrupsie regverdig nie. Ons voorouers was ook arm, maar het nie korrupsie gepleeg en hulself verryk nie. Die skielike toegang tot baie geld maak hulle blind van hebsug. Hou maar gerus ‘n sekere trop “van iets” dop, hulle sal selfs kos van kleintjies afneem om dit self te vreet.

Dries ·

Hierdie bewys net weer dat n mislukte staat oppad is. Die enigste oplossing is dat ons hard moet veg vir n onafhanklike eie grondgebied.

JohanR ·

Watter siel!?Jacob Regop en die Gupta’s het hom lankal uitgeruk!

Pot se lepel ·

Nou hoe moet ons vir onsself sorg? Kan tog nie bly belasting betaal aan die vrot kant en ook nog “selfbeskik” nie? Dit is volstruis sindroom en wensdenkery. Selfbeskikking midde in n disfunksionele staat kan nie volhoubaar werk nie. Die selfbeskikte suksesverhale gaan met jaloesie na gesmag en gevat en gebrand en ge toyi toyi op word. En dan? Moet weer ge “heropbou” word? Nee wat. Dit is ook net die simptoom of die pleistertjie op die diep wond.

Jan ·

‘n Etiese staat impliseer nie ‘n bevoegde staat nie. ‘n Bevoegde staat kan net gebeur as mense op meriete aangestel word en nie agv BBBEE (aka kaderontpooing) nie. ‘n Onbevoegde staat is maar net so sleg as ‘n korrupte staat. Ek weet nie watter een is slegter nie. Die twee gaan waarskynlik hand aan hand soos ons nou sien. So, as die ANC nie altwee aspekte gelyk aanspreek nie, sien ek geen verbetering nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.