Nuuskommentaar: Korrupsie nie net teen wet, maar ook teen Bybel

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

’n Groot deel van die Ramamania wat die land beetgepak het (maar sedertdien al effens afgeblaas het) was stellig te wyte aan pres. Cyril Ramaphosa se sterk standpunte teen die uitroei van korrupsie. Dis egter endemies in die land, en nie so maklik uit te roei nie, veral nie solank sy voorganger, Jacob Zuma, nog baie destabiliserende druk uitoefen en bekend is as die man wat dit as ’n Westerse konsep beskryf het nie.

Die Bybel kan kwalik vertolk word as synde in ’n Westerse omgewing geskryf. Boonop kom die enigste vier verwysings waar die woord “korrup” gebruik word, vroeg in die Ou Testament voor waar Westerse blootstelling, soos deur die Romeine, nog ongekend was.

Kom ons kyk kortliks wat sê die Bybel (1983-vertaling – die woord kom terloops glad nie in die teks van Die Bybel vir almal of die 1953-vertaling voor nie) oor “korrup”:

    1. Gen. 6:11: Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld…
    2. Gen. 6:12: Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.
    3. Deut. 32:5: “Israel is ontrou aan die Here, nie meer sy kinders nie, nie geskik vir sy diens nie, vals en korrup.”
    4. Jer. 6:28: Hulle is almal hardkoppige rebelle, hard soos brons en yster; hulle loop mekaar en beswadder, hulle is almal korrup.

[beklemtoning ingevoeg]

Met die woord “korrupsie” is dit ook nie veel anders nie.

      1. 2 Kron. 19:7: “Mag die vrees vir die Here julle bybly! Wees versigtig en doen julle plig. By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie.”
      2. Ps. 58:3: Nee, julle optrede in die land is die ene korrupsie, met geweld gaan julle deur die lewe.
      3. Ps. 94:20: U duld geen korrupsie in die regspraak nie, geen mens wat, teen u gebod in, ellende veroorsaak nie.
      4. Jes. 1:23: Jou vorste is in opstand teen My, hulle is kop in een mus met diewe. Hulle is almal versot op korrupsie en is agter omkoopgeskenke aan. Hulle laat nie reg geskied aan weeskinders nie, hulle behartig nie die regsake van weduwees nie.

[beklemtoning ingevoeg]

Word na die NetBible gekyk, word korrupsie-verwante woorde egter gereeld gebruik, ook in die Nuwe Testament. Dit staan egter dikwels eerder in verband met hoe die mense se gees gekorrupteer word, eerder as ’n daad van korrupsie, soos ons dit moreel en wetlik verstaan.

In 2 Petrus 1:4 is dit egter duidelik dat korrupsie ook as ’n onaanvaarbare verskynsel beskou word: “Through these things he has bestowed on us his precious and most magnificent promises, so that by means of what was promised you may become partakers of the divine nature, after escaping the worldly corruption that is produced by evil desire.”

Die Afrikaanse teks is insiggewend: “Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.”

“Korrupsie” word dus kort en kragtig met die duiwel gelyk gestel.

Die Wêreldbank beskou korrupsie as berowing van ’n land se toekoms.

Solidariteit stel dit so: “Oneerlike of bedrieglike gedrag deur mense in magsposisies, wat tipies omkopery insluit. Hoe meer korrup ’n land is, hoe armer, sieker, onderontwikkeld en onsuksesvol is sy mense.”

Ook die projek om artikel 25 van die grondwet so te wysig dat dit onteiening van grond sonder vergoeding moontlik maak, staan minstens ten dele in die korrupsie wat met die ou prosesse gepaard gegaan het. Korrupsie het ’n groot bydrae gelewer daartoe dat baie van die projekte misluk het of eenvoudig nooit van die grond af gekom het nie, omdat minstens een van die partye nie wou deelneem aan die korrupte praktyke nie, of nie gesnap het dat korrupsie van hom verwag is nie.

In sy jongste rubriek op Netwerk 24 meen Max du Preez dat hy al hoe meer begin verskil van die breë Suid-Afrikaanse konsensus oor hoe ’n meer egalitêre [gelykmakende] Suid-Afrikaanse gemeenskap bewerkstellig moet word. Hy sluit met sy eie oplossing af: “Die antwoord op ongelyke armoede is radikale ekonomiese transformasie – mits dit beteken al drie regeringsvlakke van regerings en staatsondernemings word radikaal getransformeer om elke sent belastinggeld aan ontwikkeling te bestee, doeltreffendheid en produktiwiteit word radikaal opgeskerp, en korrupsie word uitgeroei.”

Stellig niks nuuts nie, behalwe om ou, beproefde aannames met die woord “radikale” sterk spyse toe te dien – stellig om darem nog ’n wit vlaggie na pres. Ramaphosa uit te reik wat so lief vir die woord “radikale” geword het.

Al staan die woord “radikale” in die wêreld gewoonlik soos ’n seer duim uit.

Maar praatjies vul geen gaatjies. Korrupsie hét géén plek nie – soos blyk uit twee voormalige Sowjet-republieke wat volgens berigte hul ganse korps verkeerspolisie moes afdank en vervang omdat selektiewe wetstoepassing geblyk het nie die mas teen iets endemies op te kom nie.

Korrupsie as ’n slegte onderwerp of daad, staan egter nie alleen nie. Dit is verwant aan die werkwoord “korrupteer” wat die mens se brein verrot.

Wat soek ’n mens in die plek van korrupsie? Wat sou as die teenoorgestelde van korrupsie beskou kan word?

Minister Pravin Gordhan, voorheen minister van finansies, getuig onder meer soos volg voor die ondersoekkommissie na die Inkomstestediens: dat, tydens sy termyn as minister van finansies, “integriteit in elke afdeling van die Inkomstediens aan die orde van die dag was”. In 1 Kronieke 29 roep die skrywer uit dat hy weet God is gelukkig met integriteit. En, voeg by, “met suiwer motiewe”.

En sonder integriteit met suiwer motiewe gaan die land eenvoudig nie herstel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jakkalas ·

Na regte is die Bybel die enigste maatstaaf waarvolgens mens behoort te handel. Anders wyk mens weg van God se weë. Sonder God is ons verlore vir altyd.

Onaanvaarbare sonde ·

Korrupsie is eintlik ‘n onaanvaarbare sonde wat veronderstel is om met dekadelange tronkstraf gestraf te word, tog aanvaar die regering dit as normaal en niemand word vervolg nie. Dit sal nie verander nie maar erger word, daarom moet die Vryheidsfront asseblief net op selfbeskikking fokus sodat ons uit hierdie gemors kan kom voor die hele land aan die brand is soos Evander se mall, waaroor die hoofstroommedia nie eers berig nie.

Eish ·

En ons weet wat met Israel gebeur het vanweë hul sonde.
Pragtige Bybelse paralelle getrek, soos dit moet wees.
Diè Titanic neem nou ernstig water in.
Die beste bedoelings ter wêreld gaan dit nie red van n watergraf nie.

Verstom ·

Dit is hoekom die Here verklaar ” Hulle dien my met hulle lippe maar hulle harte is ver”. Dit gaan nie meer oor wat ons Hemelse Vader in Sy Lewende Woord vir ons sê nie, maar oor die Humanistiese uitkyk van die wêreld. Soos Rom 12:2 vir ons waarsku(Rom 12:2) En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Maar gelukkig of ongelukkig gaan elke knie eendag voor die Regterstoel moet buig en dan sal die oordele gevel word. Ons tydelike tentwoning is nie altyd aangenaam nie, maar die rykdom van Sy goedheid en guns aan Sy kinders sal openbaar word by die groot oordeel. Dit is my vertroosting.

Gerda ·

Hoekom word die 1983 vertaling wat Bybel verse uitlaat gebruik? En ook sê die Woord jy mag nie doodslaan ( moor) nie.

Jerry ·

Dit is waar Afrikanerorganisasies soos die forum die bus gemis het. Hulle kon nie die aanvanklike goeie intensies van CR raaksien waarmee daar saamgewerk moes word nie agv hulle eie onsuiwere motiewe. By implikasie het die onsuiwere motiewe veroorsaak dat die Afrikaner hom en haarself al hoe meer in n woestyn begin bevind het. Dit was n kans in n leeftyd om deel te kon word van “all our people”, maar die VF en forum het die Afrikaner se saak net verder versaak tot n regse groep irrelevante en verwaande ondermyners.

Sam ·

Tom & Jerry, jy sit die pot baie ver mis!!
Raadpleeg die Bybel.
Die 1983 vertaling is nie suiwer genoeg om iemand op ‘n waarheidsweg te lei nie, die grondteks is foutief.

Skepties ·

@Jerry, hoe meen jy die Afrikaner het nou die geleentheid gehad om te integreer as CR beaam dat grond gevat gaan word sonder vergoeding en BEE selfs nog meer diskriminerend gaan word?

Lerato ·

Twee internasionale navorsers het bevind dat korrupsie die enkel grootste faktor is wat n land aftrek.
Hulle boek: ” Why nations fail” maak vir baie interessante leesstof.

Antiestabliesment ·

Vanwee die passiewe houding van gelowiges, sit ons hier en huil. “God sal ons red” of “Tyd vir almal om te bid” of “Mag God ons bewaar” of “God sal n weg baan” is die passiewe bydrae van ‘n groep, aldus groot, wat net sit en wag op ‘n goddelike mag om sake beter te maak. Dit gaan nie gebeur nie. Die ou christen volkie bid al sedert 1994 en dinge gaan steeds slegter. Indien jou God my straf omdat jy hom nie dien nie, of indien jou God jou straf omdat ek nie in hom glo nie, is dit maar n vennynige kinderagtige god. Ek is n beter pa vir my kinders as wat hy kan dink om te wees of sy kindertjies glo hy is. Dis nou as ek alles moet glo wat in die Bybel opgeteken is.

Wie het gese “God help those that help themselves”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.