Nuuskommentaar: Korrupsie

Terwyl die polisiehoof, Bheki Cele en sy topbestuur in die parlement kleitrap om die polisie se geldsake te verduidelik, en die hoof van die vervolginsgesag op kort kennis nie voor ‘n parlementêre komitee verskyn om verantwoording te doen nie, meen die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Willie Hofmeyr dat sy eenheid 7 000 eerder as 700 personeellede nodig het om korrupsie in die land te ondersoek.

Hofmeyr meen die omvang beloop net in die staat se verkrygingsadministrasie jaarliks tussen R25 en R30 miljard. Dit is sowat 20 % van die betrokke begroting wat jaarliks in die stof byt. Volgens ‘n onlangse berekening betaal Suid-Afrikaners gemiddeld 20 % per item meer as premie om die koste van korrupsie in die land te finansier. Volgens die Wêreldbank beroof korrupsie ‘n land van sy toekoms. Korrupsie word ook as ‘n aanslag teen demokrasie beskou.

Korrupsie teiken dikwels die mees blootgesteldes en die armes. Pas is ‘n werknemer van die Statistiekdiens gearresteer omdat hy glo omkoopgeld van mense geëis het om as sensuswerkers aangestel te word. Ander gevalle kom gereeld aan die lig oor hoe mense genadeloos werkloses uitbuit wat desperaat op soek is na werk, of ou mense uit hul beleggings-neseiers swendel.

Sulke gewetenlose mense hoort nie in die samelewing nie, laat staan nog in magsposisies en hoë regeringsposte.
Die huidige instaanpremier van België, Yves Leterne, is ‘n paar jaar gelede in die media aangehaal toe hy gesê het ‘n vrye media is die vierde, nie-amptelike been van ‘n demokratiese bestel. Dit hou die wetgewende, regterlike en uitvoerende gesag op hul tone. Ironies is pas in ‘n joernaalprogram aangedui hoe polisiekorrupsie in die Haselt-distrik in Vlaandere na twee jaar nog toegesmeer is terwyl nog slegs die fluitjiebalesers opgetree is. As gevolg van die joernaalprogram is die stappe teen die fluitblasers gestaak en is die burgemeester en ander hooggeplaastes nou onder druk om werk te maak van skynbaar baie blatante korrupsie.

In Suid-Afrika is die omstrede wapenskandaal waarskynlik die vlagskip van die korrupsiepersepsie – nie net oor wat gebeur het nie, maar hoe tot dusver probeer is om dit toe te smeer.

Dit is egter nie al nie. Die persepsie dat korrupsie aanvaarbaar is en selfs beloon word, word byvoorbeeld versterk deur die wyse waarop kaders wat uitgevang word bloot elders ontplooi word. Hieronder tel ‘n oud-munisipale bestuurder wat, terwyl hy tereg staan op aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog en rampokkery, as administrateur aangestel is om ‘n munisipaliteit in ‘n ander provinsie te probeer regruk. Selfs ‘n LUR bly in sy pos en sy amp in die ANC aan terwyl hy vir korrupsie verhoor word. Selfs die hoof van die Minister se ontplooiingspan het ‘n rits ongunstige OG-verslae in onder meer Bronkhorstspruit en Plettenbergbaai agter die blad.

Dit is nie baie behulpsaam in die stryd teen korrupsie dat die ANC so iets nie as ‘n Block aan die been beskou nie.
Die bedenklike aanspreek van korrupsie hou twee verdere gevare in: Daar kan ‘n deurlopende aanslag vanuit politieke geledere teen die integriteit en onafhanklikheid van die regbank wees, en die vryheid van die media kan onder voortdurende druk wees. Ongelukkig is hierdie simptome ook aanwesig.

Die Suid-Afrikaanse Persraad het pas ‘n nuwe gedragskode vir joernaliste opgestel. As die bontpratery hieroor beluister word, wil dit tog voorkom asof die nuwe gedragskode tog in ‘n mate deur die ANC se druk vir, soos dit gestel word, ‘n meer verantwoordelike pers ‘n rol gespeel het. Kenners is dit egter eens dat die gedragskode nie die ANC se vrese genoegsaam aanspreek om ‘n mediatribunaal en ander wetgewing te stuit nie. Die media is egter ook onder druk – enersyds is die gedrukte media wêreldwyd onder kostedruk en besparings word teweeg gebring deur onervare joernaliste teen laer koste aan te stel, en die regering se aandrang op affirmative action, wat nie met regstellende aksie verwar moet word nie. Onlangs, by ‘n werkwinkel vir nuusredakteurs, het die persombudsman ook geen geheim daarvan gemaak dat hy ongelukkig is oor die nuusredakteurs in die algemeen se vlakke van algemene kennis nie. Foute glip in en ervare joernaliste verwens die nuusvoorkeure vir dit wat gepubliseer word. Uitstekende pennevrug word dikwels oor die hoof gesien.

Nogtans bly ‘n vrye media een van die belangrikste wapens teen korrupsie. Of wetgewing die aangewese weg is om die pers meer professioneel te maak, sodat ook hierdie rol vervul kan word, is egter te betwyfel, veral as dit vir die wetgewers oor die halsbandjie eerder as die hondjie gaan. ‘n Pers wat sy lewensvartbaarheid genoegsaam kan verskans dat die beste ondersoekende joernaliste aangestel kan word, en daardie pennevrug sonder vrees vir vervolging gebruik kan word, sal dalk ‘n groter rol speel om die land van die korrupsiekanker te verlos.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae