Nuuskommentaar: Kristallisering van presidensiële termyn

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Min ekonomieë kan nog as suiwer kapitalisties of suiwer sosialisties beskou word. Byna alle stelsels dra kenmerke van ’n hibriede-stelsel, en soms skynbaar met aansienlike sukses. Teen November verlede jaar het die VSA se skuld aan China $1,2 biljoen (trillion) beloop. Kan Ramaphosa die fiskale tameletjie van Zuma ongedaan gemaak kry?

Met die aanbreek van die 1994-bedeling het daar ook groot aanpassings aan die sosiale karakter van Suid-Afrika gekom. Die impak daarvan om ’n regstaat te dra is bykans oornag gevoel. Die grondwet het soveel momentum gekry dat dit moeilik sal wees vir ’n ander ideologie om weer neus voor te kry.

’n Paar keer het selfs die president, met sy adviseurs, ’n benadering wat vir ’n groot deel van die bevolking vreemd is, probeer byhou, terwyl die antwoord eintlik reeds bestaan.

Dit is nog te vroeg om te bespiegel of Suid-Afrika nou in die Ramaphosa-era ’n fase gaan beleef waar dit wat ekonome sê, die land se rigting gaan bepaal.

In breë trekke sou dit beteken dat waar die land kort-kort vir haas amper elke bakatel in die hof beland het, ’n nuwe dogma ontwikkel waar ekonome se direktiewe die land se rigting bepaal. Die Zuma-era is juis gekenmerk deur die verkeerde dinge op die verkeerde tyd te sê en doen, en daar moet walgegooi word om te keer dat die land se rommelstatus nie nog dieper ingevryf word nie.

Dit beteken ’n era waar ekonomiese wette bitterlik genadeloos kan toeslaan.

In Suid-Afrika het ons die vreemde toepassing beleef dat keuses soms tussen ’n mate van welvaart gemaak moes word, of dat elke mens ’n sak vol regte bymekaar maak, maar wat op de aarde niks beteken nie, want dit beteken maar min om regte te hê wat nie die reg op ’n materiële en morele voordeel inhou nie.

Iets wat dikwels in die ekonomiese konteks genoem word, is die kwessie van inkomstegaping. Dit is nou veral weer baie aktueel omdat die ANC ’n beleid aanvaar het van grondgryp sonder vergoeding. Daar word geglo dat almal min of meer dieselfde welvaart sou beleef sou hulle met soortgelyke welvaart en middele kon wegspring.

Dié kwessie blyk egter nie so eenvoudig te wees nie. ’n Groep argeoloë en ander wetenskaplikes het gaan soek na die herkoms van die inkomstegaping, en die  oorsake duisende jare gelede gevind. Dit word gekoppel aan die ontwikkeling van tegnologie en hoe verskillende mense verskillend daarop reageer. ’n Familie of persoon wat gebruik sou maak van nuwe tegnologie soos die inspan van lasdiere, kry ’n voorsprong bo diegene wat tegnologies weerstand sou bied. Terwyl die een familie sou leer ploeg en so groter opbrengste sou kry, sal ’n ander familie aanhou om ’n grondjie met pikke om te dolwe, en ouer variëteite te gebruik. Die inkomstegaping is gou opmerklik.

Ander navorsers het tevore ook reeds bepaal wat die verwantskap was tussen mense wat met inkomstegapings die spit afbyt en diegene wat weer juis onder hierdie omstandighede superryk word. Kortom, hoe groter die inkomstegaping, hoe groter die tronkbevolking.

Maar gaan ekonomiese wette en die korrekte toepassing daarvan Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers vorentoe laat werk? Dit lyk net of te veel Suid-Afrikaners nie besef dat welvaart nie deur ’n vorm van sosialisme opgewek kan word nie. Veel word deesdae gemaak van die “ekonomiese cluster” in die regering, met ministers wat ideologies die teenoorgestelde wil lewer as wat die ontwikkelingsplanne vereis.

Zuma het met ekonomiese ontplooiings op kabinetsvlak voorkeur gegee aan ministers wat hetsy bekende kommuniste is, of in ’n stadium was. Dink maar aan Rob Davis, Ebrahim Patel, Pravin Gordhan en ander. Zuma self het betreklik onlangs nog gesê dis die ANC se ideaal om ’n sosialisties kommunistiese staat te skep. Dit lyk met die kabinetsamestelling of Ramaphosa glo hy sal wel die formule vind wat die ekonomie op ’n gesonde groeikoers gaan plaas, en genoeg ruimte vir kommunistiese retoriek laat.

Of gaan Ramaphosa daarin slaag om tegnokratiese wyshede die ruggraat van die land se ekonomie te maak?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Al ·

Daar is heelwat middelklasgroepe wat besluit om in sinkhuise en nederige klein huisies te bly. Hul spandeer hul geld eerder aan duur klere, drank en wegneemetes en voertuie.
Wanneer daar ñ funksie by die werkomgewing is, trek hul sprokiesagtige duur rokke en bybehore aan. Kortom hul lyk eerder of hul na die Oscars gaan.

Albaster ·

Voor ons voorouers hier aangekom het het sekere groepe nognie eers die wiel of geld as ruilmiddel ontdek nie, nou ry hulle met blink nuwe spogmoters en verdien goeie staatssalarisse en toelaes. So waarom beskuldig hulle ons vir hulle ‘armoede’?

Eish ·

Omdat dit apartheid se skuld was.
Met die duisende jare wat verloop het sedert diegene wat tegnologies aan die voorpunt was, hier aangeland het, kon tegnologiese kontaminasie nie plaasvind nie. Om die waarheid te sê inheemse tale was nie eens gekodifiseer nie, maar slegs spreektaal.
Dit is dus weereens apartheid se skuld.

Paul ·

Ons is genadiglik van die korrupte Zuma verlos wat die ekonomie met behulp van die Guptas vir eie gewin gekaap het. Nou sit ons opgeskeep met Ramaphosa wat nie korrup is nie, maar die ekonomie en eiendomsreg vir die ANC en sy stemvee wil kaap.

Wim ·

Die tyd sal leer of dit Zuma was of Ramaphosa wat die ergste destruktiewe was. En dan wag David Mabusa in die skaduwees.

jjobson ·

CR bied asb pakket aan vir 55jaar plus. Maak asb die 60jaar verpligtend dat elke staatsamptenaar op 60 die staatsdiens moet verlaat. Ons jeug het kwalifikasies en is werkloos.

Riouna Martin ·

Maar net nog een wat nie n verskil sal kan maak nie! Daar is geen hoop vir SA nie. Als sover is negatief ons sit met nog n Zummmmma!

Vergeet ·

Die goeie werk wat CR sou kon doen sal als ongedaan raak wanneer grondgrypoe begin, die hele land insluitend swartmense sal lei onder so ‘n onverantwoordelike ding. CR sal bekend word dan as die president wat die land tot ongekende ellende gelei het. Ek glo hy besef dit en sal daarom eiendomsreg respekteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.