Nuuskommentaar: Kruise langs die pad

Argieffoto

Argieffoto

Paasnaweek is vir Christene wêreldwyd ’n baie belangrike herdenkingsgeleentheid. Mense onthou die kruisgebeure op Golgota, die verskriklike lyding en dood van Christus ter wille van die mensdom, en sy opstanding tot redding van gelowiges. Hier in Suid-Afrika het Paasnaweek bekend en berug geraak vir die talle sterftes op ons land se paaie.

Motorongelukke is vreesaanjaend. Niemand van ons wil in ’n motorongeluk betrokke wees nie. Ernstige motorongelukke is in baie gevalle grusaam. Die gevolge van ernstige motorongelukke kan nie bereken word nie. Baie mense se lewens verander ingrypend. Blindheid, verlamming en ander gestremdhede as gevolg van beserings verander slagoffers van motorongelukke en hul gesinne se lewens onomkeerbaar.

Die dood van ’n geliefde in ’n motorongeluk is altyd onverwags en ontydig. Die smart en verlies wat dit meebring, het ’n lewenslange invloed op dié wat agterbly. Dit is verskriklik om te dink dat motorongelukke op ons land se paaie jaarliks duisende mense se lewens eis. Die kruise oral langs die paaie herinner voortdurend aan onnodige lewensverlies en die seer van geliefdes.

Daar is verskeie redes vir motorongelukke. Die swak toestand van paaie, hoë spoed, alkoholmisbruik, onpadwaardige voertuie, onwettige bestuurders, roekelose bestuur, woede en menslike oordeelsfoute dra alles by tot die hoë sterftesyfer op die paaie. Dit lyk asof mense ’n persoonlikheidsverandering ondergaan wanneer hulle agter ’n voertuig se stuurwiel inskuif. Almal is haastig, ongeduldig en onverdraagsaam. Boonop lyk dit asof al die inisiatiewe van die verkeersowerhede niks help nie.

Miskien het dit tyd geword dat bestuursopleiding (teoreties en prakties) as deel van Lewensoriëntering op skoolvlak aangebied word. Wanneer mense opgevoed en onderrig word om verantwoordelike padgebruikers en bestuurders te wees, kan ongelukke verminder en selfs voorkom word. Owerhede behoort ook hul verantwoordelikhede na te kom deur die land se paaie te herstel en in stand te hou. Meer mense sterf op die land se paaie as in sommige oorloggeteisterde lande. Die prys is net te hoog en menselewens te kosbaar.

Die kruise langs die pad herinner aan smart en seer en dood. Die kruis van Jesus Christus staan in die teken van die mensdom se sonde en die gebrokenheid van hierdie wêreld. Jesus se kruis herinner aan sy lyding en opofferende dood sodat daar vir ons vergifnis van sonde kan wees.

Paassondag herinner ook aan sy opstanding en die oorwinning oor die dood. Dit is ons troos – dat die dood oorwin is en dat wie op die pad van God is, veilig bewaar word vir sy of haar eindbestemming.

Die nuuskommentaar is geskryf deur Ds. Willem Kok van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Potchefstroom en word gebruik met vergunning van die e-Hervormer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.