Nuuskommentaar: Kry Afrika nou ook Zumasitis?

AfrikaDie besluit van die Afrika-Unie om nié uit die Internasionale Strafhof te stap nie, maar om ‘n beroep op die Veiligheidsraad te doen dat die strafhof nie dienende regeringsleiers vervolg nie, geniet na berig word die steun van Suid-Afrika. Die voorstel dat Afrika as (mags)blok uit die strafhof stap het nie genoeg steun gekry nie.

Die uiteindelike besluit het dadelik erge internasionale kritiek ontlok wat die kontinent se beeld glad nie goed gedoen het nie. Die eerste opvallende tong-uitstekery is dat die vooruitsigte dat geen despoot na die verstryking van sy ampstermyn, sommer sy mag gaan los as hy vir misdade teen die mensdom vervolg gaan word nie.  Kortom, dit gaan demokrasie self in die voet skiet. Niemand hoef verder as Mugabe te kyk om te sien hoe iemand alles in die boek plus ‘n paar nuwe truuks kan aanwend om aan die mag te bly klou nie – en dan nog Afrika se steun daarvoor te geniet.

Dit herinner ook aan die grootskaalse manipulasie om te keer dat pres. Jacob Zuma sy dag in die hof beleef – iets wat hy eens self bepleit het.

Op die staatsregtelike terrein word die tong ver vir demokrasie uitgesteek, deur ‘n kollektiewe onbegrip te toon vir die skeiding van magte, en spesifiek die skeiding van die uitvoerende en juridiese magte van state – die grondslag van ‘n funksionele demokrasie.

‘n Derde probleem is een van blatante wanvoorstelling. Dit word graag aangevoer dat die internasionale strafhof Afrika teiken. Dit lyk, sonder om na die hele prentjie te kyk, of dit so is want die strafhof het inderdaad tot dusver net mense uit Afrika vervolg, of word gesoek en is daar lasbriewe voor uitgereik soos die president van Soedan. Die ander kant van die munt is dat die strafhof in sy wese eintlik voorkeur gee dat lande self die vervolging van menseregtevergrype hanteer, soos met die spesiale tribunaal vir die volksmoorde in Rwanda gebeur het, maar ook met die spesiale tribunale vir die voormalige Joego-Slawië en die tribunaal vir Kambodja na die Khmer Rouge-skrikbewind. Argentinië is steeds met spesiale verhore besig na aanleiding van onmenslike vergrype deur die militêre junta die mag na die Falkland-oorlog gegryp het, en pas het Libië by die Internasionale Strafhof die groen lig gekry om self Muammar Ghaddafi se spioenasiehoof, Abdallah al-Senussi te verhoor.

Duitsland het pas met die verhoor van ‘n vermeende Nazi-oorlogsmisdadiger begin na die persoon onlangs geïdentifiseer is.

Ook Irak het self die vervolging van die afgesette Saddam Hoessein behartig, en vir die vergrype soos massamoorde teen die Sjiïete tereggestel nog voor die eintlike warm patat – hy vir soortgelyke vergrype wat die gebruik van gifgas insluit, teen die Koerde – verhoor kon word.

Heelwat van die Internasionale Strafhof se personeel soos regters en aanklaers kom uit Afrika, wat ook nie op ‘n pikkery op Afrika dui nie.

Baie Afrikalande het enersyds nie die vermoë om sulke sake te verhoor nie, maar het andersyds dikwels nie die politieke wil om so ‘n warm patat aan te pak nie. Kenia, die land waaroor die saak nou wentel, het ‘n onderneming gegee dat die menseslagting na die voorlaaste verkiesing ondersoek sou word, en dat die land self die verhoor sou behartig. Van dié beloftes het dadels gekom, en twee van die hoofbeskuldigdes het onderskeidelik president en visepresident geword.

Kritici wys daarop dat die regsbeginsels, wat ook deur die strafhof nagevolg word, lui dat iemand onskuldig is tot hy met ‘n voldoende bewyslas skuldig bevind word. Iemand wat onskuldig is, het dus niks te vrees nie, en het die voordeel dat hy as’t ware skoongewas uit die hof stap, en sy lewenstaak ongehinderd kan voortsit. Om die verhoor op allerlei maniere te probeer vryspring, beteken dat die persoon nooit vrygespreek word nie, en dus met die wolk oor sy kop bly leef.

En as hy regeringshoof is, die land saam met hom.

En nou het Afrika die donker wolk as kombers oor die ganse kontinent getrek.

Dit, terwyl Kenia self verdeeld is oor die kwessie. Toe die parlement sy besluit oor onttrekking geneem het, het die opposisiepartye beswaar gemaak, en toe hulle effektief die swye opgelê is, uitgestap. Dit erodeer die argument dat die ontduiking van geregtigheid met ‘n nasionale helingsproses verband hou.

In Zuma se geval, wat nou ook die regbank in ‘n krisis gedompel het met die storm wat om regter-president John Hlope se kop woed en nou ook ‘n donker wolk oor regters Chris Jaftha en Bes Nkabinde werp omdat iemand klaarblyklik lieg, het sy regspan aanvanklik aangevoer Zuma kan regstegnies nie vervolg word nie omdat hy ‘n dienende regeringshoof is. Dit is as internasionale praktyk voorgehou. Die regspan is gou daarop gewys dat dit op Frankryk en enkele nonentiteite na nie die internasionale praktyk is nie en beslis nie in die Suid-Afrikaanse reg bestaan nie.

Die regspan het hierop van taktiek verwissel, en aangevoer dat betrokkenheid by ‘n verhoor die president sal verhinder om genoegsaam op sy werk as regeringshoof te fokus. Die teenargument hierop is eenvoudig dat iemand oor wie se kop die swaard van vervolging hang, eers klaar verhoor en vrygespreek moet wees voor hy die amp opneem. Dit maak ‘n klug van die demokrasie om eers die regeringshoof te word en dan die amp te gebruik om nie vervolg te word nie.

In teendeel, dit is konvensie dat openbare figure oor wie se kop donker wolke saampak, uit hul ampte bedank. Dit is, toegegee, ‘n konvensie wat al minder nagekom word, en selfs ‘n vorige Duitse president – ‘n seremoniële amp – het bly klou na hy met sy hande in die heuningpot betrap is – tot kanselier Angela Merkel dit duidelik gemaak het sy gaan dit nie duld nie en die president bedank en van die politieke toneel verdwyn het.

Nou het Suid-Afrika ook Afrika met hierdie besoedelde idees bevlek.

Wat Kenia betref, is daar wel versagtende omstandighede. Die nuwe president, Uhuru Kenyatta, en die visepresident, William Ruto, was met die destydse konflik in twee verskillende kampe. Die meer as ‘n duisend mense wat dood is, se impak is geweldig vererger deur die onmenslike wreedhede wat gepleeg is en oorlewendes lewenslank skend, en wat boonop gewoonlik deur lede van een stam teenoor lede van ‘n ander stam gepleeg is, wat die erg heterogene Kenia in ‘n stamkrisis gedompel het.

Kenyatta en Ruto was daarna twee belangrike rolspelers in die versoeningsproses. Die gevoel is dat dit ‘n vergelykbare proses is met die rol wat die Waarheids- en Versoeningskommissie hier moes speel, en wat ook daartoe gelei het dat aansoekers wie se getuienis aanvaar is amnestie teen vervolging verkry het.

Die probleem is egter dat Kenyatta en Ruto nie iewers gaan “lieg en bieg” het nie, maar ontken dat hulle by die wreedhede betrokke was. Die Internasionale Strafhof se inligting dui op die teenoorgestelde, en hulle meen die bewyse waaroor hulle beskik is genoegsaam sodat die verhore kan plaasvind – en die verhoor van Ruto het inderdaad reeds begin terwyl Kenyatta later vanjaar ook aan die beurt moet kom. En Den Haag is waar aan die hand van feite beslis sal word of hulle skuldig is of nie.

‘n Laaste probleem wat kenners uitwys, is dat die Internasionale Strafhof se skynbare fokus ook iets daarmee te make het oor waar in die wêreld die meeste menseregtevergrype plaasvind. Om regeringshoofde van vervolging te vrywaar stuur al wat verkeerde boodskap is uit.

Suid-Afrika het baie om Afrika te bied, dis nie nog nodig om Afrika met die verkeerde te besoedel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Somerset Morkel ·

Dis absurd – NIEMAND behoort vry te spring nie. Dis nou ‘n wonderlike Afrika-‘oplossing’: As ‘n land se leier wandade pleeg, laat hom dit aanhou doen… tot hy uittree, dan kan hy vervolg word. DWAASHEID!

Marietjie ·

Natuurlik sal Zuma die hof wil afskaf, want hy was al in die hof vir verkragting (nogal van iemand wie ander vertel van aids), so wat se voorbeeld is hy om “moord” te pleeg deur met vrou wat HIV positiewe vrou te slaap., hy staan onder verdenking vir betrokkenheid by wapen skandaal, daar is sterk vingerwysing na sy uitspattige lewenswyse en wonings (op staatsgeld). Dan praat ons nie hoe hy BBBE toepas en minderhede onderdruk, hul geloof en kultuur ontken. Slegs swart mense word bevoorreeg – omgekeerde apartheid. Mense wie onbevoeg is word aangestel in poste terwyl ‘n hele volk lei agv swak dienslewering en vuil besoedelde water met rou riool en suur water belaai met metale. So almal van ons os blootgestel aan lewer, nier en prostaat kanker weens die metale. Is dit nie ook mense slagting. Dan vra hul hoekom is daar so baie kanker. Kyk na ons drinkwater. Al ons water is besoedel.

H J Bester ·

Dis omdat die Afrikane nog nie naasteby die vlak van ontwikkeling bereik as as byvoorbeeld die Wester- en Oosterlinge nie dat hy nog nie ‘n gesofistikeerde en doeltreffende staatsbestuur kon vestig nie. Verder is daar ook nog te veel van ‘n “die sterke regeer”-benadering en ‘n aanvaarding dat alle mag in so ‘n sterkman gesetel is. Dit is daarom dat al Zuma se “oortredings” aanvaar word. Laastens is dit ook so dat, alhoewel die Afrika-leiers die demokrasie hoog opgee, hulle dit anders verstaan en toepas as wat dit bedoel is om te wees. Verdermeer verstaan die massas oningeligte Afrikane nog weiniger van die demokrasie en wat sy werkinge behels. Sogenaamde domokratiese grondwette is baie populêr in Afrika want dit gee hulle toegang tot groot somme aan Westerse donasies.

Baie van die besluite van die Afrika-leiers of dan in hierdie geval van die Afrika-Unie, word dus nie begryp nie bloot omdat hulle sake bedink en beredeneer vanuit hulle eie leefwêreld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.