Nuuskommentaar: Kry die realiteit in SA nou vlerke?

Argieffoto

Beteken die regering se besluit om die SAL in ondernemingsredding te plaas dat ideologie nou eers ʼn bietjie eenkant toe moet staan sodat die tegnokrasie eers sake kan bestendig? Want soos dit tot nou gegaan het, kan dit nie aanhou nie.

Afgesien daarvan dat staatskaping die land miljarde regstreeks, en nou meer onregstreeks gekos het, is ’n groot deel van die land se ekonomiese probleme gesetel in ’n soort sosialistiese ideologie waar die staat moet pa staan dat onwerkbare ekonomiese modelle, steeds afforseer word.

Bowendien word die bestuur oorgelaat aan kaders wat weens allerlei oorwegings in die hoë poste aangestel word waar bekwaamheid om die werk te kan doen, nie een van die posvereistes is nie. Dinge soos ideologiese oriëntasie, senioriteit as kader, rassisme, nepotisme, nyatsi-bande (skelmpie) en lang vingers weeg eenvoudig baie swaarder.

Die SAL, wat onder die nuwe bedeling net as SAA bekend staan, se reputasie as goeie lugdiens het gou in die slag gebly. In 1998 was die SAL reeds so in sy peetjie in dat die omstrede Saki Macozoma die Amerikaner, Coleman Andrews, nie net as hoof- uitvoerende beampte van die SAL aangestel het nie, maar sommer ook as president. Andrews het met hoë aansien as regrukker hier aangeland, en groot verwagtinge oor regrukkery is gekoester. Vir sy reputasie blyk dit is hy glo minstens R200 miljoen belastingvry betaal vir die twee en ’n half jaar wat hy hier gedien het, en voordat hy ’n jaar en ’n half voor die verstryking van sy kontrak vir alle doeleindes voet in die wind geslaan het.

SAA-toonbank by Kaapstad- Internasionale Lughawe (14 November 2019) (Foto: Henk Kruger/African News Agency/ANA)

Wat Andrews baie goed gedemonstreer het, is dat ’n mens minstens twee soorte leiers kry – die een wat die werk kan doen, en eerder sy onderneming of instansie wat hy lei, bemark, teenoor dié wat oor die ongelooflike vermoë beskik om hulself te bemark, maar glad nie die werk self kan doen nie. Soms word ’n ondergeskikte wat wel die werk kan doen, misbruik om die indruk te wek die aangestelde kom die mas op, en soms kry die aangestelde groot kop en verbeel hom hy kan die werk wel self doen … met rampspoedige gevolge. Om sake nog taaier te maak – sou so ’n kader wel weens onvermoë in die slag bly, word hulle gewoon in soortgelyke (of hoër) poste herontplooi. Die belastingbetalerswaghond, Outa, het een so ’n geval skynbaar doeltreffend uit die sirkulasiepoel gehaal deur die hof te nader om Dudu Myeni tot misdadige direkteur te laat verklaar. Sy was ’n vorige en erg rampspoedige raadsvoorsitter van die SAL. Haar persoonlike vriendskap met die destydse president het dit onmoontlik gemaak om sake by die kern van die probleem reg te maak.

Myeni is ten spyte van die skade wat sy die SAL berokken het as ondervoorsiter van die Mangaung‑nutsmaatskappy vir kragverspreiding, Centlec, herontplooi. Daar verdien sy minstens R274 000 per jaar, en kla sy het nie geld om haar verhoor in die Outa-saak by te woon nie. Nodeloos om te sê… Centlec is kniediep in die moeilikheid.

Daar is die kaders wat ontplooi word, en skynbaar goed regkom solank daar “onnodige bates” is wat verkwansel kan word. In ’n feitlik regstreekse verband is die skikking wat oor twee Transnet-pensioenfondse en baie Transnet-pensioenarisse bereik is. Van die pensioenarisse is verwag om met ’n 2%‑verhoging per jaar oor die weg te kom nadat die fondse erg gestroop was deur “ondeurdagte beleggings”. Intussen is heelwat van die pensioenarisse onder die haglikste omstandighede oorlede.

Die vreemde het nou gebeur – nadat Solidariteit met ’n regstryd begin het om die SAL onder ondernemingsredding te plaas, het twee van die onwaarskynlikste vakbonde, Numsa en die vakbond vir kajuitpersoneel, laat blyk hulle gaan Solidariteit steun. Nou het die kabinet ook kopgegee.

Natuurlik is die SAL nie die enigste semi-staatsinstelling wat onder ondernemingsredding geplaas moet word nie. Eskom is seker die vernaamste voorbeeld, maar daar kerm die EFF onder andere omdat ’n blanke as nuwe uitvoerende hoof aangestel is.

Dat remediërende stappe gedoen moet word, veral omdat die radikale vakbonde privatisering blindelings teenstaan, is ’n gegewe, maar die ideaal bly om te kon hou by voorkoming is beter as genesing.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kerneels ·

Raak gevat, Herman! SA seker een van die laaste lande waar sosiologiese ideologie nog deur ‘n sogenaamde bevrydingsorganisasie toegepas word – ten koste van al sy burgers. Hopelik sal die wiel draai met CR se insig tot ‘n meer kapitalistiese ideologie vir die toekoms. Tyd sal leer…

André-Chris ·

Wat Feite hier onder skryf is die realiteit, hulle kan nie anders nie en sal nooit van hul ideologie gered kan word nie, wat hulle nou probeer doen is om nog vas te klou aan beheer, vandaar die ‘vrywillige’ sakeredding.

Hef aan vir die NGV lê nog voor. Vertel jy nou vir ‘n leeu hy is eintlik ‘n lammetjie, of hy is ‘n vegetarier, hy mag nou nie meer jag nie, maar net staan en wei.

André-Chris ·

Dinge sal nie in die land verander nie, hulle probeer nog steeds met die ‘vrywillige’ sakeredding, beheer oor SAL behou en sal dit dalk regkry, juis waar hulle sommer nou al weer R2 miljard gewaarborg het en ‘n verdere R2 miljard aan die SAL gegee het. Hulle moet eers van hul ideologie gered word voor dinge beter sal gaan.

André-Chris ·

En hef aan mbt die NGV lê nog voor, daar is nie ‘n manier hoe hulle van hul ideologie afstand sal doen nie, hierdie is maar net ‘n tydelik terugslag.

Feite ·

Die realiteit in SA kry nou vlerke uit n desperate situasie uit omdat daar nie meer geld oor is wat geskep kan word. So was dit ook met die poskantoor waar die regering uit blote desperaatheid toe n bekwame persoon aangestel het. Die oomblik toe die poskantoor weer effektief begin funksioneer het en die regerende party weer kon asemhaal, toe gaan staan hulle en begin weer inmeng met die stel van onrealistiese sosialistiese voorwaardes en eise vir kaderbevoordeling en die hoogsbekwame persoon bedank toe sommer net daar en dan op dieselfde dag. Dit gaan ook die patroon wees wat gevolg gaan word met die SAA en Eskom. Die oorsaak van die probleme by SOE’s is die regerende party se onrealistiese sosialistiese voorwaardes en eise vir kaderbevoordeling die oomblik wat daar weer geld is wat geskep kan word. Om die probleem op te los moet die oorsaak (regerende party) verwyder word en dit kan net gedoen word deur die SOE’s heeltemal te laat sink en om eerder alternatiewe privaat entiteite in die plek daarvan te stel waarin die regerende party geen belang het nie, of dan nou maar n minderheidsbelang met geen seggenskap nie. Om die SAA in sakeredding te plaas met die regerende party wat steeds die meerderheid aandeelhouer bly, sal die oorsaak van die probleem dus nie aangespreek word nie en op die lange duur sal die politieke inmenging ditself weer herhaal en die SAA weer problematies raak!

Zachrys ·

Nou dít maak skielik sin wat jy @feite hierbo geskryf het… Min dat ek iets nuuts leer deesdae. Herman dit wat jy geskryf het was ook sinvol, dankie :-) dit het hierdie kommentare uitgelok.

koos ·

Die regering is super slim om die SAA onder sakeredding te plaas.
Al die druk word nou van hulle af gehaal en oorgeplaas na die “kurator”.
As die regering dit reg wil doen moet hy die ministers van openbare ondernemings, vervoer en finasies van hulle magte oor SAA stroop, en dan kyk wat gebeur.

J ·

“We will rather incorrectly govern ourselves than be correctly governed by others.” Kan nie onthou wie dit gesê het nie, dink dit was Joshua Nkomo.

ap ·

skande wat die ‘ in beheer” alles kwytgeraak het , alles diefstal op groot skaal

Dirk ·

Vlerke gekry? Eerder bene gekry, sou ek sê… ons vlieg nie meer nie, ons loop nou :-)

Adam ·

Uitstekend saamgevat Herman. Wat my egter pla is dat indien Solidariteit nie hul rug styfgemaak het nie, sou die regering waarsky nlik weinig gedoen het. Eskom is ‘n ander voorbeeld wat in dieselfde kategorie geplaas kan word. Die regering het SA bykans op hul kniee en toon geensins dat hulle bevoeg is om die gemors wat slegs aan hulle toegedig kan word, te remedieer. Wat egter soos ‘n paal bo water staan is dat SA burgers nie SAA se dienste moet gebruik nie en hulle dwing om hulle deure te sluit, iets wat nie lank sal neem om reg te kry nie. Sakeredding is in elk geval net die uitstel van die onvermydelike.

André-Chris ·

Nog ‘n K-woord = korrupsie
die L-woord = landheer
die F-woord = feudale stelsel

Johann M van Heerden ·

Afforseer? Wat van afdwing? Asseblief mense! Let op ons brose taal.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.