Nuuskommentaar: Kry Ramaphosa lewensboei by Lagarde?

Christine Lagarde, uitvoerende hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, saam met pres. Cyril Ramaphosa tydens haar besoek aan Suid-Afrika. Foto: GCIS

Lofprysers van pres. Cyril Ramaphosa wat sy deugde besing, maar die vlieg in die salf, grondonteiening sonder vergoeding, verswyg, doen niemand ’n guns nie. Ekonome (en dus beleggers) kyk dit nie ook mis nie, soos pas geblyk het uit die besoek aan Suid-Afrika deur Christine Lagarde, uitvoerende hoof van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Omdat dit formeel ’n welwillendheidsbesoek was, moet ook tussen die lyne gelees word wat Lagarde eintlik kom oordra het, en daardie beleidsraamwerk is nie te versoen met selfs die dikste suikerlagie wat om die planne vir grondonteiening sonder vergoeding aangebring word nie.

Die publiek sal waarskynlik nooit weet presies wat tussen Ramaphosa en Lagarde gesê is nie. Dat die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding wel aan die bod gekom het, is uit mediaberigte duidelik, en dis ook nie die eerste keer dat die onderwerp tussen die twee ter sprake gekom het nie.

Lagarde onderneem jaarliks ’n reis na Afrikalande, en die bestemmings wat wel aangedoen word, word streng uitgesoek om haar beskikbare aandag te optimaliseer. Suid-Afrika het vyf jaar laas aan die beurt gekom. Nou het sy, op uitnodiging van Ramaphosa, ’n welwillendheidsbesoek aan die president gebring, en ook samesprekings met die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, gevoer.

Dat die twee van hulle, volgens Kganyago, weer samesprekings met Ramaphosa gevoer het, dui daarop dat die Suid-Afrikaanse ekskursie meer as net ’n welwillendheidsbesoek was.

Tydens ’n mediakonferensie het Lagarde, volgens Fin24, gesê Ramaphosa het tydens hul gesprek ’n paar idees geopper oor hoe om grondonteiening sonder vergoeding “behoorlik aanvaarbaar” te maak ten spyte van die probleme wat diegene wat hul grond kwyt gaan wees eventueel gaan ervaar. Sy het bygevoeg dat Ramaphosa tydens hul vorige ontmoeting aan haar die agtergrond vir die noodsaak van die grondonteiening, asook die konsultasieproses wat gevolg word, verduidelik het.

Christine Lagarde, uitvoerende hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, tydens haar besoek aan Suid-Afrika. Saam met haar op die foto is Lesetja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank, sy adjunk Daniel Mminele, Dondo Mogajane, die direkteur-generaal van die tesourie, en Trudy Makhanya, die president se ekonomiese adviseur. Foto: GCIS

Volgens die gedeelte van die nuuskonferensie wat deur die SAUK uitgesaai is, klink dit egter of die aanhoorder ’n diplomatieke gehoorapparaat moet inspan om te hoor wat presies sy tussen die lyne gesê het. Die vernaamste fokus is dat die IMF ’n groot rol by internasionale beleggers speel om hul beleggingskeuses uit te oefen.

Met die “vertaling” van die diplomatieke taal beteken dit die IMF kyk nie gunstig na die opsie van ’n lening om Suid-Afrika uit sy verknorsing (weens die Zupta-strooptog) te red nie, omdat ’n dreigende buitelandse skuldlas van $171 miljard die land op die randjie van die fiskale afgrond bring. Suid-Afrika het ’n groot behoefte aan beleggings.

En dan noem sy ’n hele verskeidenheid faktore wat die IMF in sy advies aan beleggers onder die loep neem. Die IMF is dus nie ’n spaarvarkie waaruit onbepaald geleen kan word nie, dit fasiliteer ook beleggings, maar onder voorwaardes wat gesonde ekonomiese beginsels as voorwaardes insluit.

Volgens Fin24 het sy veral drie aspekte met Ramaphosa bespreek: werkloosheid onder de jeug, wat aandag moet kry; staatsuitgawes en die noodsaak vir kompetisie om bottelnekke in die ekonomiese prosesse uit te skakel.

Uit verdere bronne blyk dit egter dat sy subtiel, of dalk nie eens so subtiel nie, die boodskap van goeie regeerkunde, staatsuitgawes en die regte stappe vir ekonomiese groei aan die Suid-Afrikaanse regering wou tuisbring.

Ekonome is dit min of meer eens dat grondonteiening sonder vergoeding ’n ekonomiese ramp is, en dat selfs net die sprake daarvan die ekonomie reeds geskaad het.

James Hamill, lektor in politieke wetenskap en internasionale betrekkinge aan die universiteit van Leicester, skryf in Mail & Guardian in ’n besonder simpatieke artikel oor Ramaphosa dat die grootste struikelblokke wat Ramaphosa ervaar om sy agenda ten uitvoer te bring, in die ANC self gesetel is. Hy meen egter dat die president se tyd uitloop wat hy kan terughou om die regte ding te doen ter wille van remmende en teenstrydige kragte in die ANC.

Christine Lagarde, uitvoerende hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, saam met pres. Cyril Ramaphosa tydens haar besoek aan Suid-Afrika. Foto: GCIS

Dit is egter moeilik om te bepaal hoeveel Hamill se skrywe werd is teen die agtergrond van sy duidelike bewondering vir Ramaphosa. Die deugde wat hy noem, mag alles geldig wees, maar die kwessie van grondgryp sonder vergoeding ontman al die positiewe.

En juis hierin faal Hamill met lof – hy verswyg die planne vir grondgryp sonder vergoeding soos blyk uit die volgende aanhaling: “Ramaphosa has been actively seeking to address this array of problems. His agenda is both congested and complex. He is trying to restore clean, orderly and functional government and to build a state capable of driving development.

“He’s also working to halt and reverse the state capture and corruption of the Zuma era which is now being exposed by the Zondo commission. But instead of having a party that’s working with him, the ANC often acts as a drag on his ability to fix things, and is often at odds with his agenda.”

Dit blyk ’n taamlike algemene verskynsel te wees dat Ramaphosa-aanhangers van buite die ANC, die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding ignoreer wanneer die president se deugde besing word. En tog is dit die grootste enkele faktor wat gaan bepaal of Ramaphosa se agenda om die land weer op sy voete te kry, gaan slaag of nie.

Ongelukkig is daar te min tyd voor Kersfees om Ramaphosa sy grootste Kersgeskenk waarop hy kan hoop te gee, naamlik ’n uitspraak van die konstitusionele hof wat die hele kwessie en proses om die Grondwet te verkrag, in die ban te doen.

Boonop is die “konsultasieproses” wat Ramaphosa graag opper, soos sy stert se dinges gedoen. En solank die howe nie die donker wolk verwyder nie, gaan Ramaphosa se regrukplanne grootliks teen die sterk stroom van ekonomiese realiteite swem.


  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Eléne Wentzel ·

Die tyd wat m Lagarde hier was in SA kon sy net die ? op die koekversiersel sien want sy het verseker nie tyd gehad om die versiersel en vrot koek daaronder sien nie want sy het nie tyd gehad nie! Sy sou haar vlgde vliegtuig vlug mis.

John ·

Dis mos amper Kersfees en Afrika weet hoeka hoe om die sakie te speel… byna soos ‘n slim seuntjie wat Pa bearbei vir daai duur speelding. CR probeer so hard om Mandela se mantel om sy skouers te hou tussendeur al die nuus wat die waarheid uitblaker. Arme Lagarde weet niks van ons geskiedenis af nie en as sy so in die apartheidsjare se lieflike ou staatsgeboue getrakteer word en moet glo dat alles, ja alles, deur Afrika alleen geskep en in stand gehou is… ja… met onse bloed en… kyk hoe lyk ons nou. Die lewensboei… hoor boei… gaan die ou landjie nog laat bloei in al sy boeie…

Jerry ·

SA gaan n lewensboei kry, mits CR eers die voorwaardes nakom wat grond en eiendomsregte waarborg. Net soos in die geval van Theresa May hoef Lagarde nie by CR uit te vind wat aangaan nie. Hulle weet presies wat aangaan in SA, dit is hoekom hulle hier besoek afle. Hulle stel voorwaardes wat nagekom moet word voordat enige lewensboei sal realiseer! CR gaan die voorwaardes nakom en die lewensboei gaan realiseer omrede die ANC se opdrag aan CR is om die rand weer op te tel!

Adam ·

Jerry, jy mag dalk reg wees met jou opinie oor die reddingsboei, maar dit sal veel meer kos om die rand op te tel. Ek glo die rand is onderwaardeer en Goldman Sachs is van dieselfde mening, maar dit is teorie. In die praktyk sal die rand volatiel bly en dalk self verswak oor die volgende 12 maande. CR se gesukkel om die ANC te verenig en sy manteldraaiery is nie bevorderlik vir ‘n goeie beleggingsklimaat nie.

Paul ·

En wat vir my soos ‘n dolk in die hart is, is dat CR knip nie ‘n oog as hy disinformasie betreffende die nodigheid van grondgryp en onteiening sonder vergoeding die wêreld in stuur nie. Die groot motiveerder is mos dat die grond van die swart mense afgevat is. Hierdie man het geen integriteit nie.

Spike ·

Bly asb weg uit sa. Onbevoegde leuenaar comrades sal als weer vernietig.

Stephen Namibia ·

CR het weer gelieg oor die situasie in SA en die heuningkwas mildelik gebruik!

LR ·

Stem saam met Jerry. Lagarde het al lankal deur CR en die ANC gekyk.

Jan ·

Wel dit lyk vir my of RW Johonson se voorspelling begin waar word. Ons buiteland se skuld is $171 Miljard. Dis ‘n hoop geld kan nie eers dink hoeveel is dit nie. Geld is baas en wie dit beheer is die werlike regeerders van lande.
Gaan kyk RW Johonson op you tube en dan lees jy weer die artikel. Ek dink dan sal die impak van haar besoek baie sin maak. SA staan nou op afgrond van ‘n groot besluit en dit gaan massiewe impak he op die politieke veld.
Elke jaar leen ons nog geld om SA aan die gang te hou en nou begin dit ons inhaal. Mens kan nie vir altyd partyjie hou en niks vir dit betaal nie.
Die IMF sal die geld leen om SA skuld te betaal maar dit gaan kom met streng voorwaardes. Soos RW Johnson se dit sal heel montlik ‘n ANC / DA kolisie of ANC / EFF kolisie wees. Ons moet hoop dis die eerste kombinasie en nie die tweede een nie. Ten minste sal die een party die ander dop hou wel kom ons hoop.

Jerry ·

CR moet dinge se wat die radikales wil hoor met aanloop tot die verkiesing en moet prosesse hulle gang laat gaan. Wat egter gaan uitspeel na die verkiesing gaan n scenario wees wat voldoen aan voorwaardes vir lewensboei investering. Grondhervorming gaan met vergoeding gepaard gaan en eiendomsreg gaan gewaarborg word. CR kan die aap uit die mou laat na die verkiesing, nie voor die verkiesing nie! Dat CR egter wel sy mes in het vir Solidariteit/AfriForum wie nie wil versoen tot nasiebou nie, is nie te betwyfel nie en dat die ANC strategie om Solidariteit/AfriForum te isoleer deur witmense uit te sluit, reg in die hand van Solidariteit/AfriForum speel, is ook nie te betwyfel nie! Dat grondhervorming en uitsluiting voordele inhou vir Solidariteit/AfriForum se agenda, is ook nie te betwyfel nie! Alle vorme van diskriminasie teen minderheidsgroepe strek tot voordeel van Solidariteit/AfriForum agenda! Om die vuur te stook, om CR te beswadder, om die regering te ondermyn, om skoor te soek, om nie versoenend op te tree nie, om diskriminasie en uitsluiting uit te lok, strek alles tot voordeel van Solidariteit/AfriForum en nie noodwendig die Afrikaner nie, want die ervaar ellende, wat Solidariteit/AfriForum hoop sal net op korttermyn voortduur! Ellende oor langtermyn behoort egter eerder die maatstaf te wees, aangesien die ANC ook slimmer raak en met die meerderheid in die parlement en veranderde wetgewing kan Solidariteit/AfriForum in hulle spore gestuit word en die Afrikaner se doppie geklink word!

Adam ·

Jerry, jy het ‘n interressante perspektief of die aangeleentheid en ek stem grotendeels saam met jou. Hoe enige mens wat deel uitmaak van ‘n minderheidsgroep van 7-8% van die bevolking en wat by sy volle positiewe is, kan dink dat hulle die kitaar kan slaan, is gewoon ondeurdag. Jy kan howe toe hardloop tot die perde horings kry, maar meerderhede klou aan mag tot die dood. Ons moet ophou om ons te steur aan die oorlogpraatjies van ‘n klomp bangjanne en aan die ander kant van die spektrum na die ideologiese snert van politieke dwergies en eerder konsentreer om die welwillendheid wat ons daagliks tussen mense ervaar uit bou. Ongelukkig het die enorme werkloosheid en die verrotte morele weefsel van ons gemeenskap daartoe gelei dat ons in wetteloosheid verval het en dit gaan etlike dekades neem om uit die moeras te kom.

Grassie ·

Dit lyk vir my CR is gewild onder die ouer tannies van Europa. Die kwien het hom ‘n hele paar miljoen pond in die hand gestop, me May was so meegevoer dat sy terstond aan’t danse gegaan het (as ek haar toekoms in Engeland so beskou was dit moontlik haar “last dance”) en nou was me Lagarde te tegemoedkomend met hom na my sin. Hulle sit nie hul voete neer oor gronddiefstal nie. Me May het geen kwaad daarin gesien nie. Miskien vertel hy vir hulle die storie wat hy hier op geloftedag kwytgeraak het. “they (dis nou die Voortrekkers) were killing 3000 Zulu warriors who were brutally crushed and their land was taken away at the barrel of a gun.” Ek dink hy het hulle oortuig dat die ANC grondroof regverdig is. Hierdie man is venynig en vol haat – hy gaan ons harde bene laat kou. Ons is nie deel van sy “our people” nie, Ons gaan hulp van nêrens af kry nie. As ons nie na onsself begin omsien nie gaan ons sink.

Anne ·

Grassie, ek self kon dit nie beter stel nie, daar le beslis ‘n moeilike pad vir ons voor met die jakkals cr

Jerry ·

Jammer Adam, die rand wat CR moet optel se betekenis is revolusioner van aard, ek moes dit beter omskryf het. Die ANC het die rand “ekonomie” laat val met Zuma se staatskaping om die klimaat te skep vir verandering, die ANC gaan die rand “ekonomie” weer optel met CR wat n lewensboei moet bewerkstellig om verandering te implementeer. Die rand wat jy ingedagte het behoort n bietjie te versterk na Brexit asook wanneer die Amerikaanse ekonomie gaan verswak met Trump se skandes wat op die lappe gaan kom.

hahahaha ·

Snaaks dat hulle altyd hierdie liberale VROUE stuur, nooit ‘n man wat weet wat om hom aangaan nie .. maar ja .. MORS Nog geld, SA is ‘n bodemlose put, ek kan net lag vir julle.

RG ·

Ek het baie respek vir Christine Lagarde. Dis een vrou wat haar nie om die bos laat lei nie. CR kan maar mooi verduidelik al is die nie Vrydag nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.