Nuuskommentaar: Kul jou hier, kul jou daar en siedaar

Minister Mosebenzi Zwane.

As daar iets uit die Zuma-administrasie is waarsonder die land moeiteloos kan klaarkom, is dit die bontpratery van staatsentiteite. Selfs volledige kluitjies is ingespan.

Die afgelope naweek is Suid-Afrikaners vermaak met nuusberigte dat lasbriewe uitgereik is vir twee van die Gupta-broers asook min. Mosebenzi Zwane. Ná die naweek moes die verdwaasde lesers lees dat die Valke hoog en laag ontken dat dit die geval is. Die woordvoerder van die Valke se weergawe oortuig egter ook nie, en klink na ’n bontpratery.

En die akkurate waarheid is waarna Suid-Afrikaners hartstogtelik uitsien. Dit help moraal hervestig in ’n land waar die waarheid, al dan nie, se aanwending niks met moraliteit te make gehad het nie, maar vir gerief om vir die regering voordelig te wees.

Hoewel die waarheid nie altyd uitkom nie, is dit ook so dat die soort bog wat aan die publiek opgedwing word, op eie meriete as wolhaarstories sou uitstaan. In ander gevalle is die bontpratery ’n aanduiding dat bog gepraat word.

Hierdie soort omgaan met die waarheid is ’n ideale teelaarde vir wantroue in die regering, iets wat die land nie kan bekostig nie. Voorts is die tekens van herstel wat nou bemerk word, tot groot mate die gevolg van nuwe vertroue.

Mnr. Ace Magashule het as premier van die Vrystaat verskeie omstrede projekte van stapel gestuur. In ’n stadium, kort nadat hy premier geword het, het dit in die Vrystaatse Wetgewer rugbaar geword dat Magashule op die punt was om deur die Valke in hegtenis geneem te word. Dit het met Zuma se bewindsaanvaarding saamgeval.

Skielik is die Skerpioene ontbind, en het die inhegtenisneming-storie stil geword. Omstrede projekte, soos om R40 miljoen vir die ontwerp van ’n nuwe webwerf vir die provinsie te ontwikkel, het nie bygedra tot ’n gees van vertroue nie.

Suiwer kommunikasie is baie belangrik, maar onder die Zuma-bewind is die waarheid net gebruik as dit die nuttigste was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

HPV ·

Dit is ongelukkig al wat die ANC kan aanbied, leuens, dit is die beste wat hulle kan gee!

Alida ·

Glo my niemand sal tronk toe gaan nie en niemand sal in die hof verskyn nie, en niemand sal aangekla word nie. SA is die grap van die jaar.

Andre Marais ·

Alida bedoel Jy nie dalk “Grap van die Eeu” nie ?

Grassie ·

Ek glo vas hierdie dreigemente wat teen die Guptas gemaak, maar nie uitgevoer word nie, is ‘n poging om die Guptas so bang te maak dat hulle vlug. Ek het dit vantevore hier op MM gesê en ek staan daar by. As die Guptas toegesluit en aangekla word, en hulle begin praat, gaan daar ontmaskerings plaasvind wat die ANC nie kan bekostig nie. Ek glo niemand weet presies hoe diep hulle hul tentakels in al die gesagstrukture van hierdie land ingewurm het nie.

Johann ·

N “goeie” leunaar, iemand se lieg stories wat “werk”, is net n suksesville leunaar as hy n BAIE goeie geheue het. M. a. w kan Onthou vir wie hy wanneer wat gelieg het…. en dis my troos Die kader van Zumaikies en ander Zuptopia pionne is NIE noodwendig te hoog op die basiese untellek vlak om juis te kan Onthou nie.

Alida ·

Zwane lag vir ons want hy weet hy en sy mede “sterre” gaan NIKS oorkom nie.

Sloet ·

Dit is nie Ramaphosa se skuld as julle vir fake news val nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.