Nuuskommentaar: Kwaad oor klimaat

aardeEen van die belangrikste navorsingstukke in die bestaan, en oor die voortbestaan van die mens, is pas bekend gemaak. ‘n Internasionale span wetenskaplikes van meer as ‘n 100 lande het in die verslag wat in opdrag van die VN saamgestel is nie net bevestig dat aardverwarming ‘n werklikheid is nie, maar ook bevind dit is 95% seker dat die mens die hoofoorsaak vir die klimaatsverwarming is.

Dis is die jongste van vyf sulke verslae wat opgestel is, en waarin wetenskaplikes al hoe meer oortuig geraak het dat die mens self die hoofoorsaak is van wat gebeur. Met die vorige verslag in 2007, was dit volgens die wetenskaplikes nog net 90% seker dat die mens die hoofoorsaak is, na dit in 2001 nog net 66% seker was.

Die opsomming van die verslag alleen is 50 blaaie dik.

Die vrystelling van die verslag volg kort op die bekendmaking in Augustus dat die aarde toe reeds in die rooi inbeweeg het. Die aarde is vanjaar twee dae vroeër as verlede jaar by dié punt verby waar die aarde en sy hulpbronne nie meer kan produseer wat die mensdom in ‘n jaar benut nie. Reeds sedert die jare 70 het die mensdom “in die rooi” begin leef. Vandag leef meer as 80% van die wêreldbevolking in lande wat minder kan produseer as die hoeveelheid mense wat dit huisves. Japan het byvoorbeeld 7,1 keer sy oppervlak nodig om “gelyk te breek.”

Oor min kwessie is daar soveel wetenskaplike konsensus as juis die kwessie van aardverwarming, en tog is daar oor min kwessies soveel wantroue, ongeloof en ontkenning onder die publiek as juis hieroor.

Die ink op die VN-verslag was skaars droog, of die beskuldigings oor sameswerings vlieg. Die ontkenners se optrede frustreer projekte soos die WWF se aarduur-projek. Die wetenskap staan egter nie stil nie, en terwyl eenkant ontken word, bestudeer wetenskaplikes, met die hulp van vrywilligers, die impak van klimaatsverandering op die omgewing, ‘n wetenskap wat as fenologie bekend staan.

Soos gewoonlik is die sosiale media goed ingespan om die verslag verdag of belaglik te maak, maar anders as wat dikwels die geval is, was dit nie net die sosiale media nie. Dwars oor die wêreld is daar ook redakteurs van publikasies wat gewoonlik ‘n stewige statuur het wat ook deur die massas data van ontkenners oortuig is, en rubrieke in hul publikasies gebruik om ander sienings te bevorder. Soos in die meeste wetenskaplike velde is daar immers ook wat klimaat betref, dissident-wetenskaplikes wat op die talle uitsonderings teer om die sake waaroor die hoofstroom ongekende konsensus het, te betwis.

Onder sulke omstandighede floreer die samesweringsteorieë. ‘n Gewilde stelling van die ontkenners is dat owerhede die tonne CO2 (en in ‘n mindere mate metaangas) wat as kweekhuisgasse vrygesel word wil blameer sodat bykomende belasting hierop gehef kan word. Van die ander kant word weer gesê dat lande wat oor groot olie- en steenkoolreserwes beskik, oliemaatskappye en verwante industrieë, die ontkenners stook en met data oor die uitsonderings voer sodat die mens so lank as moontlik rykes ryker gaan maak en op ‘n groot aantal maniere soos kwynende boerderye en gesondheid, ‘n bitter duur prys betaal. Groot bedrae geld word jaarliks deur regerings in die vorm van subsidies betaal om die alternatiewe, skoon en volhoubare kragbronne te ontwikkel, maar kritici wys daarop dat dit steeds veel minder is as die beraamde koste van klimaatsverandering.

Daar gaan volgens die verslag meer hittegolwe, droogtes, oorstromings en ‘n styging van die seevlak wees.

Volgens ‘n onafhanklike artikel deur die Amerikaanse US Geological Survey (USGS) wat pas in Science gepubliseer is, dui die meeste scenario’s daarop dat daar minder gereeld storms sal voorkom, maar dat hulle meer intens sal wees. Dit beteken dat daar meer toksiese kwik weens erosie vrygestel sal word wat in riviere en ander waterbronne sal beland. Kwik wat aan die oppervlak blootgestel word kan deur bakteriese prosesse in metielkwik omskep word, wat baie toksies is in die voedselketting kan beland.

Dit is maar een van die newe-effekte van hoe die mens self die planeet wat hy bewoon, ‘n baie onaangename plek kan maak om in te woon.

Dit is nou al jare wat wetenskaplikes van verskillende dissiplines, soos klimapaleontoloë en klima-argeoloë deur die bestudering van hul opgrawings na die implikasies van vorige periodes van klimaatsverwarming kyk. Argeoloë kyk onder meer wat daartoe bygedra het dat sommige gemeenskappe sulke periodes nie net oorleef het nie, maar selfs gefloreer het terwyl ander, soos die Hopi, na plekke verhuis het wat minder geraak is, of selfs verdwyn het. Daar  is egter een belangrike verskil – met vorige periodes het die mens nie ‘n rol gespeel nie, en nog vroeër het die mens nog nie bestaan nie.

Data oor vorige periodes kom soms uit onverwagse oord. Daar kan byvoorbeeld uit die argiewe van die VOC wat in verskillende lande bewaar word, heelwat oor vorige periodes van die El Nino-verskynsel te wete gekom word, hoewel die mense wat die verslae geskryf het, natuurlik nie van El Nino geweet het nie.

Die ou modelle oor wat gebeur het, wat van ander faktore soos vulkaniese tydperke, meteoriet-impakte, kosmiese invloede van veral die son, bekend as kosmoklimatologie, en variasies in die tilting van die aarde op sy as, soos blykbaar die vergrote impak van die Agulhaslek, werk nie 100% wanneer die mens die verskil veroorsaak nie.

Hoewel daar op tot op die laaste nippertjie aan die VN-verslag geskaaf is, was die meeste van die inhoud daarvan weens ongekende lekkasies al lankal bekend. Ten spyte van die belangrikheid van die verslag het talle van die wêreldmedia, en ook die hoofstroommedia in Suid-Afrika nie ‘n woord hieroor gerep nie. Suid-Afrika, waarvan groot dele onder die beste omstandighede ‘n marginale area is, kan juis ernstig geraak word. Bioloë doen al lank navorsing om gewasse en selfs diere so aan te pas wat onder moeiliker omstandighede steeds volhoubare produksie sal lewer, en in sommige gevalle selfs produksie sal kan verhoog. Tog, ‘n onlangse studie na gebiede wêreldwyd wat projeksies oor Mediterreense gebiede gedoen het, het bevind dat groot dele van die huidige wingerdgebiede in die Wes-Kaap uiteindelik nie meer wingerdgebiede sal kan wees nie, terwyl areas wat nou nie geskik is nie, dan wel geskik sal word.

Die mees betroubare inligting is nodig sodat behoorlik beplanning gedoen kan word, soos om nie stede te gaan beplan in gebiede wat in alle waarskynlikheid baie droog gaan wees en met watervoorsiening gaan noustrop trek nie.

Of nog beter – om praktyke wat die skynbaar onafwendbare ramp veroorsaak, die hoof te kan bied.

Die mens moet die aarde beter oppas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.