Nuuskommentaar: Kwotas in krieket en DA kan sake ontspoor

Argieffoto

Argieffoto

Die landwye rasseherrie het nog nie gaan lê nie en te midde hiervan het die DA rasteikens gestel wat baie kenners niks anders as kwotas wil noem nie. Met die Proteas wat so teen die Engelse kleitrap, kyk oud-Proteas en oud-Springbokke onder meer krities na die impak van stywe kwotas op die standaard van provinsiale en bedryfsregspanne, en die impak wat dit op die nasionale span het.

Môre begin die laaste van vier toetse in die huidige reeks tussen die Proteas en die Engelse in Centurion. Die reeks is reeds vir die Suid-Afrikaners verlore nadat die bleekbene hulle in twee toetse deeglik afgeransel het, en die derde op Nuweland se verebed (waarop selfs Stevie Wonder glo ’n vyftigtal sou kon moker) onbeslis geëindig het.

Daar is na berig word groot ongelukkigheid in die Proteakamp, en die spook van kwotas wil maar nie gaan lê nie.

En terwyl die storm opsteek probeer die DA die kiesers oortuig dat sy beleid van (ras)teikens nie op kwotas neerkom nie, maar min mense byt hieraan.

Daar is velerlei probleme in die Proteakamp, waarvan ’n groot deel op Krieket Suid-Afrika (KSA) se brood gesmeer word.

Een van die probleme wat sportskrywers noem, is dat daar op provinsiale en bedryfsregvlak nie meer diepte is nie, en hiervoor kry die afgedwingde kwotas grootliks die skuld. Die gevolg is, volgens verskeie oud-Proteas en oud-Springbokke, dat die standaard van krieket op bedryfsregvlak glo laer is as dié van klubkrieket van ouds. Daar is egter ’n politiek-korrekte omsigtigheid om nie die standaard regstreeks aan kwotas te koppel nie.

Van die huidige seisoen af moet die spanne sewe gekleurde spelers, waarvan drie etniese swart mense moet wees, in die finale elftal insluit.

Van die wit spelers wat voorheen, volgens hulle weens die bedreiging wat die kwotas vir hul kanse inhou, oorsee gaan speel en ander lande gaan verteenwoordig het, draai egter nie doekies om oor die invloed van kwotas nie. Van hulle het al die Proteaspan in kritieke situasies gekelder.

In ’n stadium het vier gebore Suid-Afrikaners, Andrew Strauss, Kevin Pietersen, Jonathan Trott and Matt Prior, tegelyk vir Engeland toetskrieket gespeel. En wie sal vergeet hoe Grant Elliot Suid-Afrika in ’n wêreldbekerwedstryd teen Nieu-Seeland geknou het? Elliot het, soos Pietersen, die blaam regstreeks voor die deur van kwotas geplaas.

Indien dit wel so is dat die standaard op bedryfsregvlak erg gedaal het, skep dit ’n hele kettingreaksie van probleme. Kolwers in die Proteaspan wat die kluts kwyt raak, kan nie maklik na hul tuisspanne teruggestuur word om hul slag te herwin nie omdat die standaard glo te laag is. En om onder sulke omstandighede die wonderlikste boulsyfers te hê kan erg misleidend wees. Iemand kan gereed lyk om die sprong na toetsvlak te maak, maar dan te veel los balle boul en die toetsspan se kanse beduiwel. Of hy boul gewoon te stadig en word op ʼn goeie toetsblad verniel, terwyl hy op die soms bedenklike blaaie waarop bedryfsregspanne moet speel na ’n ster lyk.

As die bedryfsregspanne nie ’n betroubare voedingsbron kan wees om die toetsspelers op hul tone te hou, en te vervang as hulle uittree of vorm verloor nie, van waar gaan die nuwe bloed dan kom?

’n Verdere probleem is dat afgestudeerde matrikulante met kriekettalent nou eenvoudig agente aanstel om vir hulle buitelandse kontrakte te beding. Hulle sien eenvoudig nie kans om hul talent teen die rassistiese politieke inmenging op te weeg nie.

Net een van die keurders het toetskrieket gespeel. Die afrigter was ook nie ’n toetsspeler nie. Dit op sig self waarborg nie mislukking nie, maar kelder ’n tradisie van uitnemendheid en open die deur vir politieke infiltrasie.

Kwotas stroop nie net die benadeeldes van hul geleenthede en menswaardigheid nie, maar plaas te dikwels ongeregverdig ook die pet van “kwotaspeler” oor al wat gekleurde speler is se kop – en stroop hom só van menswaardigheid. Verskeie swart en bruin spelers het die regering reeds warm om die kraag gehad deur reguit te sê hulle is geen kwotaspelers nie, en wil dit ook nie wees nie.

Daar is ’n regte manier om jong talent van alle bevolkingsgroepe vir senior krieket te vind – ontwikkel geïdentifiseerde talent. Daar is inderdaad talent onder alle bevolkingsgroepe, soos ook in die huidige reeks blyk met Kagiso Rabada. Die blitsbouler, Mfeneko Ngam, was ’n verskrikking vir veral Indiese kolwers tot ’n besering sy loopbaan kortgeknip het.

Met krieket is dit belangrik om ’n speler te kies wanneer hy op stryk is. Om hom dan oor die hoof te sien, laat hom dikwels in middelmatigheid verval, ironies wanneer hy dan soms gekies word omdat hy nou “meer ervare is.”

Die DA se ras- en ander teikens kan maklik op hom inplof, in dié sin dat dit sommige bestaande lede kan vervreem en ook ’n afskrikeffek hê op diegene wat weens “pragmatiese” eerder as beleidsredes vir die DA stem. En dis volgens opnames ’n groot persentasie van die DA se stemme.

Raskwotas, in watter gedaante ook al, skiet die beginsel van nie-rassigheid in die voet – ’n beeld wat die DA juis nou probeer versterk.

Baie mense moet nog hul koers vind na die huidige rasseherrie hulle die kluts effens laat kwyt raak het. Baie moes nou met ’n skok beleef dat dinge wat hulle self nie as rassisties of ras-neerhalend ervaar het nie, wel as sodanig geïnterpreteer word. Baie van die goed wat die ANC nou so as rassisme veroordeel, is hoegenaamd nie rassisties nie en maak eerder van diegene wat die beskuldigings maak rassiste.

Maar tref die DA dié onderskeid genoegsaam om al sy nie-rassistiese lede gerus te stel?

Vir nie-rassige partye bly dit ’n fyn, en dikwels onmoontlike balanseertoertjie. Lede van een rassegroep ervaar dikwels dat hulle skielik soos vreemdelinge in hul eie party voel wanneer ’n ander rassegroep die sogenaamde kritiese massa bereik, en ’n stempel begin afdruk wat vir hulle bekend en huishoudelik is. Eens nie-rassige partye soos die UDM en Cope het bykans eksklusiewe swart partye geword. In Cope se geval sou die neiging selfs nog meer merkbaar gewees het as die Shilowa-faksie die pyp gerook het.

Tydens die era waar oorlopery moontlik was, het opportuniste dikwels hul kleinnoodstatus gebruik om opgang – tot selfs in die parlement te maak, om dan na die ANC oor te loop. Die ACDP is só hard getref. Nou vereis die wetgewing ’n omvattender strategie om op hierdie manier politieke opgang te maak.

Die DA word reeds dikwels die ANC Lite genoem. Die party moet daarteen waak om nie in sy ywer die beeld van die pasbekeerde wat meer Rooms as die pous probeer wees, op die lyf te loop nie. Een ANC is meer as erg genoeg.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Arie

En so verloor die DA blanke stemme, hulle is net so kwota behep soos die ANC

Loeis

Dis net ‘n game, dis al wat dit is. As hulle wen, goed. As hulle verloor, ook goed. Dis net ‘n game.

m

Snaaks dat daar net kwotas vir krieket en rugby is. Niemand brul oor enige kwotas vir sokker nie. Gelukkig stem ek lankal nie meer nie want almal is maar ewe rassisties.

Christo Visagie

‘n Game maar ‘n ernstige een,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,veral as jy Sportmal is. Dit was altyd lekker om sport te kyk voor politiek ingemeng het. Al wat gaan gebeur is die mense gaan al hoe minder sport kyk wat tot gevolg gaan hê dat die geld ook opdroog en dan is daar niks oor van die sport nie.

Trolle

Te veel politiek in sport ek het jare terug al belangsteling verloor.Julle kan dit maar n all black team ook maak traak my nie.