Nuuskommentaar: Kwotas in krieket en DA kan sake ontspoor

Argieffoto

Argieffoto

Die landwye rasseherrie het nog nie gaan lê nie en te midde hiervan het die DA rasteikens gestel wat baie kenners niks anders as kwotas wil noem nie. Met die Proteas wat so teen die Engelse kleitrap, kyk oud-Proteas en oud-Springbokke onder meer krities na die impak van stywe kwotas op die standaard van provinsiale en bedryfsregspanne, en die impak wat dit op die nasionale span het.

Môre begin die laaste van vier toetse in die huidige reeks tussen die Proteas en die Engelse in Centurion. Die reeks is reeds vir die Suid-Afrikaners verlore nadat die bleekbene hulle in twee toetse deeglik afgeransel het, en die derde op Nuweland se verebed (waarop selfs Stevie Wonder glo ’n vyftigtal sou kon moker) onbeslis geëindig het.

Daar is na berig word groot ongelukkigheid in die Proteakamp, en die spook van kwotas wil maar nie gaan lê nie.

En terwyl die storm opsteek probeer die DA die kiesers oortuig dat sy beleid van (ras)teikens nie op kwotas neerkom nie, maar min mense byt hieraan.

Daar is velerlei probleme in die Proteakamp, waarvan ’n groot deel op Krieket Suid-Afrika (KSA) se brood gesmeer word.

Een van die probleme wat sportskrywers noem, is dat daar op provinsiale en bedryfsregvlak nie meer diepte is nie, en hiervoor kry die afgedwingde kwotas grootliks die skuld. Die gevolg is, volgens verskeie oud-Proteas en oud-Springbokke, dat die standaard van krieket op bedryfsregvlak glo laer is as dié van klubkrieket van ouds. Daar is egter ’n politiek-korrekte omsigtigheid om nie die standaard regstreeks aan kwotas te koppel nie.

Van die huidige seisoen af moet die spanne sewe gekleurde spelers, waarvan drie etniese swart mense moet wees, in die finale elftal insluit.

Van die wit spelers wat voorheen, volgens hulle weens die bedreiging wat die kwotas vir hul kanse inhou, oorsee gaan speel en ander lande gaan verteenwoordig het, draai egter nie doekies om oor die invloed van kwotas nie. Van hulle het al die Proteaspan in kritieke situasies gekelder.

In ’n stadium het vier gebore Suid-Afrikaners, Andrew Strauss, Kevin Pietersen, Jonathan Trott and Matt Prior, tegelyk vir Engeland toetskrieket gespeel. En wie sal vergeet hoe Grant Elliot Suid-Afrika in ’n wêreldbekerwedstryd teen Nieu-Seeland geknou het? Elliot het, soos Pietersen, die blaam regstreeks voor die deur van kwotas geplaas.

Indien dit wel so is dat die standaard op bedryfsregvlak erg gedaal het, skep dit ’n hele kettingreaksie van probleme. Kolwers in die Proteaspan wat die kluts kwyt raak, kan nie maklik na hul tuisspanne teruggestuur word om hul slag te herwin nie omdat die standaard glo te laag is. En om onder sulke omstandighede die wonderlikste boulsyfers te hê kan erg misleidend wees. Iemand kan gereed lyk om die sprong na toetsvlak te maak, maar dan te veel los balle boul en die toetsspan se kanse beduiwel. Of hy boul gewoon te stadig en word op ʼn goeie toetsblad verniel, terwyl hy op die soms bedenklike blaaie waarop bedryfsregspanne moet speel na ’n ster lyk.

As die bedryfsregspanne nie ’n betroubare voedingsbron kan wees om die toetsspelers op hul tone te hou, en te vervang as hulle uittree of vorm verloor nie, van waar gaan die nuwe bloed dan kom?

’n Verdere probleem is dat afgestudeerde matrikulante met kriekettalent nou eenvoudig agente aanstel om vir hulle buitelandse kontrakte te beding. Hulle sien eenvoudig nie kans om hul talent teen die rassistiese politieke inmenging op te weeg nie.

Net een van die keurders het toetskrieket gespeel. Die afrigter was ook nie ’n toetsspeler nie. Dit op sig self waarborg nie mislukking nie, maar kelder ’n tradisie van uitnemendheid en open die deur vir politieke infiltrasie.

Kwotas stroop nie net die benadeeldes van hul geleenthede en menswaardigheid nie, maar plaas te dikwels ongeregverdig ook die pet van “kwotaspeler” oor al wat gekleurde speler is se kop – en stroop hom só van menswaardigheid. Verskeie swart en bruin spelers het die regering reeds warm om die kraag gehad deur reguit te sê hulle is geen kwotaspelers nie, en wil dit ook nie wees nie.

Daar is ’n regte manier om jong talent van alle bevolkingsgroepe vir senior krieket te vind – ontwikkel geïdentifiseerde talent. Daar is inderdaad talent onder alle bevolkingsgroepe, soos ook in die huidige reeks blyk met Kagiso Rabada. Die blitsbouler, Mfeneko Ngam, was ’n verskrikking vir veral Indiese kolwers tot ’n besering sy loopbaan kortgeknip het.

Met krieket is dit belangrik om ’n speler te kies wanneer hy op stryk is. Om hom dan oor die hoof te sien, laat hom dikwels in middelmatigheid verval, ironies wanneer hy dan soms gekies word omdat hy nou “meer ervare is.”

Die DA se ras- en ander teikens kan maklik op hom inplof, in dié sin dat dit sommige bestaande lede kan vervreem en ook ’n afskrikeffek hê op diegene wat weens “pragmatiese” eerder as beleidsredes vir die DA stem. En dis volgens opnames ’n groot persentasie van die DA se stemme.

Raskwotas, in watter gedaante ook al, skiet die beginsel van nie-rassigheid in die voet – ’n beeld wat die DA juis nou probeer versterk.

Baie mense moet nog hul koers vind na die huidige rasseherrie hulle die kluts effens laat kwyt raak het. Baie moes nou met ’n skok beleef dat dinge wat hulle self nie as rassisties of ras-neerhalend ervaar het nie, wel as sodanig geïnterpreteer word. Baie van die goed wat die ANC nou so as rassisme veroordeel, is hoegenaamd nie rassisties nie en maak eerder van diegene wat die beskuldigings maak rassiste.

Maar tref die DA dié onderskeid genoegsaam om al sy nie-rassistiese lede gerus te stel?

Vir nie-rassige partye bly dit ’n fyn, en dikwels onmoontlike balanseertoertjie. Lede van een rassegroep ervaar dikwels dat hulle skielik soos vreemdelinge in hul eie party voel wanneer ’n ander rassegroep die sogenaamde kritiese massa bereik, en ’n stempel begin afdruk wat vir hulle bekend en huishoudelik is. Eens nie-rassige partye soos die UDM en Cope het bykans eksklusiewe swart partye geword. In Cope se geval sou die neiging selfs nog meer merkbaar gewees het as die Shilowa-faksie die pyp gerook het.

Tydens die era waar oorlopery moontlik was, het opportuniste dikwels hul kleinnoodstatus gebruik om opgang – tot selfs in die parlement te maak, om dan na die ANC oor te loop. Die ACDP is só hard getref. Nou vereis die wetgewing ’n omvattender strategie om op hierdie manier politieke opgang te maak.

Die DA word reeds dikwels die ANC Lite genoem. Die party moet daarteen waak om nie in sy ywer die beeld van die pasbekeerde wat meer Rooms as die pous probeer wees, op die lyf te loop nie. Een ANC is meer as erg genoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Arie ·

En so verloor die DA blanke stemme, hulle is net so kwota behep soos die ANC

Loeis ·

Dis net ‘n game, dis al wat dit is. As hulle wen, goed. As hulle verloor, ook goed. Dis net ‘n game.

Trots Afrikaans ·

Dis nie net eintlik ‘n “game” nie. Die ekonomiese inpak is verrykend. Vele toeriste word of gelok of verstoot. Verder kan die “game” ‘n nasie bou of breek.

Nee Loeis, om dit opsy te vee as net ‘n “game” is om te sê die effekte beurs is net ‘n bordspel.

Loeis ·

Nee Trots Afrikaans, dit is net ‘n Game, nes rugby. Dis mense wie dit iets maak wat dit nie is nie.

In 1992 het soveel mense “JA” gestem nie omdat hulle probleme met die sisteem gesien het nie maar omdat hulel internasionale deelname aan kriket wou sien. Toe Mandela in 1995 saame met Francois Pienaar in ‘n groen rugbytrui op die podium verskyn het, het hy mense se harte gewen. Hy beskryf dit self in sy sy boek Playing the enemy.

Dis net ‘n game, kom daaroor.

Chris ·

Sport word te veel beklemtoon Loeis, maar hier is jy verkeerd. Die feit dat krieket ‘n sport of dan nou ‘n game is, het niks met die hele saak te make nie. Jy mis die punt.

Loeis ·

Ek weet, Chris. Ek wil eintlik uitwys hoe sport uit verband geruk en gebruik word om politieke doelwitte te bereik. Die reaksie hierbo wys dat ek reg is.

Dirk Breytenbach ·

Terwyl ons mekaar op semantiese terrein aanpak word ons regte en toekoms dieper begrawe. Die “game” waarvan jy praat is taktieke wat mense toepas om sekere uitkomste te verseker so jy kan die woord “game” gebruik maar jy kan dit nie gebruik om alles af te maak as iets wat nie bestaan nie. Die”games” wat mense speel beinvloed jou en my toekoms daarom moet ons maar deelneem om te verseker dat ons ook invloed kan uitoefen op sake wat op ons van toepassings is.

m ·

Snaaks dat daar net kwotas vir krieket en rugby is. Niemand brul oor enige kwotas vir sokker nie. Gelukkig stem ek lankal nie meer nie want almal is maar ewe rassisties.

Nico ·

Wanneer gaan mense verstaan dat kwotas in sokker nie nodig is nie want die hele span is omtent swart en dit is wat hulle wil hê.

Christo Visagie ·

‘n Game maar ‘n ernstige een,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,veral as jy Sportmal is. Dit was altyd lekker om sport te kyk voor politiek ingemeng het. Al wat gaan gebeur is die mense gaan al hoe minder sport kyk wat tot gevolg gaan hê dat die geld ook opdroog en dan is daar niks oor van die sport nie.

Oom Piet ·

Christ ek stem saam. Die DA se kwotas is maar net ‘n veleng stuk van die ANC se beleid.
Ek het myself eers van Rugby en nou van Krieket gespeen. Braai vleis sonder TV.
Belangriker die DA is my stem kwyt.
Die nuwe SA is maar diesefde Sirkus, net die Narre het verander.
Groetnis broer.

Trolle ·

Te veel politiek in sport ek het jare terug al belangsteling verloor.Julle kan dit maar n all black team ook maak traak my nie.

Jan ·

Ek dink sportsanksies behoort weer in gestel word deur buiteland

pieter ·

Jammer vi politiek in sport dit jaag ons goeie sportmanne/vroue oorsee – het al gese boikot stadiums vi n paar games ; jy sal sien,ma di regering gee ni om nie ,kyk watse goeie sport het zimbabwe opgelwer en wa is dit vandag ,pasop suid afrika

Martin Mey ·

Dit is duidelik dat transmormasie ons na n baie middelmatige standaard laat val. Ons gaan sukkel in opkomende Super Rugby reeks en merk my woorde, stadiums gaan leeg raak en borge gaan begin ontrek. Sport is besig om n stadige dood te sterf.
DA het homself ook nou in die voet geskiet met laaste opmerkings. Hulle is beslis my stem kwyt.

Liewe heksie ·

Wragtag rugby is my hele bestaan maar Ek begin nou om nie meer so opgewonde te wees nie want dit raak al hoe swakker met die kwota stories daar is wel kwota spelers wat wragtag kan speel maar nou gaan dit oor geld en political en dit maak alle sport onaangenaam Vat nou maar als en neuk dit op en DA julle neuk julself op nice man

Nico ·

Ek het dit al gesê en ek sê dit weer skoliere wat voel hulle het ‘n loopbaan in sport moet dadelik oorsee gaan waar keuses darm sowat 90%+ op meriete is. Kyk waar het KP gekom. Net sy arrogansie verhoed dat hy nou nog vir Engeland speel.
As iemand soos CJ Stander na skool Ierland toe is het hy al in verlede jaar se wêreld beker gespeel. As ek voel ek het ‘n kans om internasionaal te speel in enige betalende sport trek ek sodra ek graad 12 voltooi het.
Verder het ek ook gevra waarom word iemand nou op grond van sy vertoning in die Sunfoil reeks in die nasionale span in gesluit want teen wie het hy hom nou eintlik getoets?

Flippie ·

Wie ondersteun nog enigsins SA sport? Ek kyk lankal nie meer enige rugby Springbok(?) tot klubvlak nie. Ook nie enige SA krieket nie.

Nee, ek kyk en onder steun nog sport maar ek ondetsteun nou oorsese nasionale spanne en klubspanne, waar die beste van die bestes geidentifideer en geslyp word – anders as die lamsakkige gedommel hier plaaslik.

humor ·

Almal wil uit die geldkoffers skep. Hoe goed of swak hy speel gee hy nie n flenter om nie. Hy kry aplous as hy as swartspeler tussen die wit spelers is en dit is vir hom genoeg. Nog n belangrike bousteen in n volk se lewe verkrummel en daarmee sal die huidige regering baie tevrede wees. Gelukkig dink nie alle swartspelers so nie.maar dit is die persepsie van baie.

GES ·

Laas toe ek die opmerking gemaak het is my kommentaar verwyder. Henri ek stem saam.

GES ·

En daar begin die sirkus. Daar is geen motivering om na ‘n gemiddelde kwota spannetjie te kyk nie. Sedert geldsport oorgeneem het word daar net gespeel vir die vergoeding. Dit verklaar ook die plaag wat “match fixing” genoem word. Niemand speel meer vir die eer van hulle land nie.

Eddy ·

Dis nie n game nie,dis n beroep. Jy sit tog nie n gewigstoot atleet in die 100m olimpiese span nie. Trots en respek gaan verlore en op die einde sterf die sport soos in Zimbabwe. Hulle kan nie eens Bangladesh meer wen nie. Dit als vir magsbeheptes. Hulle gee vir niemand om behalwe hulself nie

david ras ·

Enige SA sportspan wat onderhewig is aan enige vorm van kwotakeuses is ‘n Politieke Uitnodigingspan.
Die politici bepaal HOE die span daaruit moet sien, en die keurders moet slegs bevele uitvoer.
Geudrende die Apartheidsjare het mens baie kennisgewings gesien : gereserveer vir Blankes.
Dit was wit apartheid.
Vandag word bevel dat se maar 8 spelers in ‘n span swart moet wees. Dus 8 plekke gereserveer vir swartes’
Swart Apartheid .
Jammer, die SA spanne kry nie my steun nie.
Ek wonder net wat het van Afrifforum se veelgeroemde klag by die IRR oor die rassisme in SA rugby geword het?
‘Skuus, ek het vergeet–die wereldbeker was in die pad !

Gesneuwelde Suid Afrikaanse sport,kwotas = rassisties! ·

Tata my sport tata my bokke, tata my krieket.
Suid Afrika se sport trots het finaal gesneuwel met die inmenging van jul weet wie.
Ek het altyd gese aan die buitelanders dat ek Suid Afrika sal ophou ondersteun die dag as hul sukkel oor kwotas, wel hier is dit nou aan volle toepassing en die eind resultate is te verwagte…….hehehheee power!!!
Weg is my ondersteuning en geld ok… Ek sal nie terug sit en kyk hoe ons verniel word en myself dan nogsteeds n Springbok ondersteuner of protea noem nie, want daai spannetjies is nie gekies op meriete nie maar op kwotas en daars geen trots daar nie net n vergruiping van geld en mag, wat n grap…..
Verander maar gerus asb die Springbok en Proteas naam na iets meer gepas want dit is in elk geval maar net n rond ge~tjommelry en ons gaan nog lekker lag/ huil in die nabye toekoms…..wag kyk..
Ek betaal nie vir n sport of ondersteun dit nie waar rassekwotas toe gepas word nie dit is inelk geval maar nie omgedraaide rassisme en diskriminasie versteek as “kwotas” nes ” Bee , nes ” affirmative action” nes “positive dicrimination” noem dit maar eerder reguit PAY-BACK .
Ons sal nou sien hoe hipokraties die buiteland se sport ondersteuners is en natuurlik nou nie die suid afrikaanse sport sal boycot soos gemaak is deur die apartheidsjare nie. Hul is te besig om hulself te verlekker en te skuit bang om RSA sport op volle krag te hou. So dis weet hul hul sal nooit weer teen n opregte Springbok span of Protea span speel nie, ek glo dit pas hul want kompitiesie is nou verby.
Dit is suiwer rassisties van die anc en da nes die dubbel standaarde op baie ander vlakke wat tans toegepas word.
. Hul gee nie n dooie duit om nes die res van afrika waar hul staan op die ranglys nie want hul het geen trots daarop nie. So dit is wel net n geval om die wittes se neuse daarin te vryf. Hier kom die Aussies!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Te minste is daar trots!!

Eish! ·

Politiek het my anti sport gemaak. DA was volgens my gewees. Geen stem van my vir ANC OF DA. As my vel te wit is, is hy te wit. Dit is nou maar so.

Kerneels ·

Wat bly oor. Ons geen plek meer in hierdie land waar ons gebore is nie. Daar is geen hoop. Nerens om heen te gaan.

karen ·

Nou wat het geword van die DA se gelyke geleentheid vir almal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.