Nuuskommentaar: Kwyn die ANC?

Argieffoto

’n Nuwe huishoudelike peiling van die DA wat uitgelek het, dui daarop dat die ANC se steun in Gauteng tot minder as 50% gedaal het, en landswyd tot 54%. Die berig deur die vryskut-verslaggewer en analis Jan-Jan Joubert gee nie net belangrike feite weer nie, maar ook waardevolle ontledings.

Die leser moet in gedagte hou dat by peilings daar dikwels heelwat waardevolle inligting in die “kleinskrif” opgesluit is, soos steun vir kleiner partye, veral vir belangepartye. Ongelukkig gee dit slegs data oor die Vryheidsfront Plus se steun in Gauteng, waar dit op 2% dui.

Politieke verslaggewers neig om na die VF Plus as een van die een-persentpartye te verwys. Sou die party egter konsekwent die 2%-merk en hoër kon begin aandurf sal dit die VF Plus basies in ’n kategorie van sy eie plaas wat ’n rimpeleffek kan hê om dié party vir baie “los” kiesers ’n stembare opsie maak, en die leuen oor stemme vir klein partye wat op ’n vermorsing van stemme neerkom, effektief kan neutraliseer.

Wat dit betref staan die VF Plus egter nie alleen nie. Volgens tussenverkiesingsuitslae in KwaZulu-Natal het dit in ’n stadium gelyk of die IVP weer van sy historiese steun begin terugwen het. As dit minstens tot die verkiesing volhoubaar sou wees, is daar verskeie faktore wat daartoe bygedra het, byvoorbeeld Mangosuthu Buthelezi se voorgenome aftrede, die NFP wat skynbaar sy eie rug gebreek het, die veranderde status van oudpres. Jacob Zuma wat KwaZulu-Natal as springplank vir ’n magsbasis gebruik het, en boonop nou allerlei moeilikhede met die reg aan die versamel is.

Verder is daar heelwat aanduidings dat Cope se steun weer aan die groei is, ook onder wit mense. Om die skynbaar toenemende steun van wit mense te verklaar is nie so maklik nie, maar die aangekondigde samewerking tussen Cope en AfriForum oor sekere buitelandse projekte om druk op Suid-Afrika te plaas, soos oor die voorgenome grondonteiening sonder vergoeding, kon hiertoe bydra.

Moiuoa Lekota. Foto: Reint Dykema

Die Front Nasionaal speel ook ’n rol hierin, veral op provinsiale vlak. Dit sal ook interessant wees om te sien of Mosiuoa Lekota se beskuldiging dat Ramaphosa hom uitverkoop het en dit tot sy tronkstraf gelei het, vir Cope stemme gaan beteken, en of dit gaan boemerang. Om iemand die titel van askari om die nek te hang is selde sonder gevolge.

Die steun vir die ANC het deels historiese sentimente (baie daarvan Mandela-gevestig) en deels ander faktore soos belangepolitiek, deels die “broad church”-konsep, en deels weens propaganda wat die “goeie verhaal” verkwansel.

Werklike probleme soos die land se gradering, sy plek op die korrupsiepersepsieindeks, misdaad, agterstande met behuising en vele meer begin ook al swaarder weeg.

Voor 1994 het verskeie politieke wetenskaplikes die model verkondig dat met onafhanklikheid/bevryding, die nuwe regering sowat tien jaar het waartydens hy alles wat verkeerd loop, voor die vorige regering se deur kan lê. As verkiesings elke vyf jaar plaasvind, beteken dit dat die derde verkiesing binne die tien jaar periode plaasvind, en dat die regering eers voor die vierde verkiesing ander deuntjies moet begin sing as die geykte blamering van dinge wat verkeerd loop.

Die ANC, en veral Zuma, het egter te lank hierdie koei probeer leegmelk. ’n Tipiese alternatief, volgens die model, is grondgryp, en Zimbabwe het die teorie onderskryf. En werklikwaar, dit het in Suid-Afrika ook gebeur, hoewel een verkiesing later. Dit het voordat die ANC die beleid formeel oorgeneem het, partye soos die EFF, en later die BLF van brandstof voorsien.

Die magstryd in die ANC help ook nie veel nie.

Trouens, dit sou as verrassing kom as die ANC nie iewers skade op die lyf sou begin loop nie.

Ramaphosa se onlangse staatsrede het getoon hoe kompleks sy posisie is. In sy staatsrede het hy groot klem geplaas op die gebruiklike “goeie storie”. Wanneer die syfers genoem word oor hoeveel huise gebou is, hoeveel paaie opgegradeer is ensovoorts is dit eintlik konteksloos soos hoe goed of sleg enige ander regering sou gevaar het, al was dit ook ’n swak regering.

Dit sê nie hoeveel tenderbedrog in die proses gepleeg is nie, of hoe swak die bouwerk was nie. En enigiets wat suksesvol rooskleurig geskets word, dui daarop dat Zuma eintlik ’n goeie president was, terwyl die gevolglike moeilikhede se sleureffekte die land eers nou ten volle tref ná Ramaphosa se bewindsaanvaarding, en dus weer maklik op sy brood gesmeer kan word.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede (7 Februarie 2019). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Boonop, Suid-Afrika is ’n heterogene land, en Ramaphosa se bontpratery afhangend van die gehoor wat hy toespreek, het die Ramaforia laat verdamp, en sommer baie gou ook, met enkele naïewes wat soos weeluise bly klou.

Maar die Mandela-euforie het ook grootliks ’n knou weg. Die gedagte dat Mandela die wit mense te maklik vergewe het, groei. Die konsep dat vrede, vergifnis en geregtigheid (wat nie sonder selfverarmende restitusie moontlik is nie) nie oor een kam geskeer kan word nie, word sterk deur baie gepropageer.

Die opkoppeling van vergeefbaarheid aan restitusie maak deel uit van die swartbewussynsbeweging in die VSA, maar is deur baie in Suid-Afrika hul eie gemaak. Die kwessie is onlangs weer op Maroela Media onder die loep geneem toe die skrywer Sisonke Msimang die Nelson Mandela-gedenklesing in Nederland gaan aanbied het. Wit mense word byvoorbeeld verkwalik omdat hulle sou klou aan hul grond en nie afstand wil doen van grond wat gedurende die apartheidsjare van swart mense “gesteel” is nie.

Minstens twee groterige koerante het vooraf-onderhoude met haar gepubliseer. Die blatante leuens wat sy oor die geskiedenis van grondeienaarskap gaan verkwansel is, is nie geopponeer nie, en bemoeilik gevolglik AfriForum en ander se pogings om die regte feite onder Europeërs te versprei.

Feit is, onder al hoe meer swart mense is die naam Nelson Mandela nie meer die towerwoord nie, en word hy al hoe meer verkwalik dat hy swart mense “uitverkoop” het. Dit raak ook die steun vir die ANC negatief.

Dit beteken ook dat dit ’n al komplekser saak raak vir partye om steun te behou of by ander partye af te rokkel.

Die inspan van kommunikasie in ’n omgewing waar feite en mites verweef is, is gevolglik uiters belangrik, en is die onderwerp van ’n ander bydrae later.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Dries du Toit ·

Ek is oortuig die VF+ gaan baie beter doen as wat verwag en voorspel word

B ·

1.) Volgens teorie bly ‘n rewolusionere / bevrydingsbeweging net sowat 25j (??) in bewind na oorname?

2.) Ek vermoed die meeste van die radikale stemme wat tans gehoor word is NA 1995 gebore, die sg ‘born frees’? Hulle het nie vir een dag onder apartheid gelewe en is inteendeel net bevoordeel deur raswette, toegifte (bv aandele skemas), ens.

HPV ·

Tot die verkiesing, dan stem almal weer vir die anc want wie anders sal hulle toelaat om te betoog, winkels te plunder, eiendomme af te brand, motors met klippe te bestook? Die antwoord is die anc en sy eff en blf meelopers. Lekker man stem anc en maak soos jy wil!

Vaalseun ·

Goeie ontleding, baie dankie, Herman.

Stalin het gesê, “Dis nie belangrik hoe die kiesers stem nie; al wat belangrik is, is wie ‘tel’ die stemme.”

Die waaksaamheid van die kleiner partye se stemopsieners in die stem- en tellokale om die merk, seël, stoor, vervoer en oopmaak van elke stemboks te monitor van begin tot end deurentyd, en die omruil van stembokse met vervalste stemme te monitor en te verhoed, kan nie oorbeklemtoon word nie. Daarvoor moet elke kleiner party noual vir genoeg stem- en tellokaal-personeel beplan, hulle deurnag-werkroosters opstel en die persone indeel en hulle oplei. Anders is al hulle stemwerwingsveldtogte tyd- en geldmors gewees.
Ons het in die 1994-verkiesing al vervalste ANC-stemme in omgeruilde stembokse gesien.

B ·

Jepetto wat van die stembriefies en vele houers wat al na stemmery op ashope, in de veld ens gekry word? ?

Vaalseun ·

Jepetto,
SA het ‘n baie goeie sisteem van wat? Anti-korrupsie? Korrupsie in SA vind in helder daglig plaas, maar jy sien dit nie want jy word nie genooi na waar die komplot gesmee word nie, en ook nie na waar die geld uitgedeel word nie. So, jy dink en weet nie dit vind plaas nie, want jy het dit nie self gesien nie.
Jy hoor maar eers toevallig agterna daarvan wanneer die konkelaars mekaar verkla uit jaloesie, soos met Bosasa en vele ander. Maar dan is dit te laat. Jou en my belasting- en BTW-geld het politici en staatsamptenare verryk ipv om spesialis dienste en instandhouding vir jou en my by hospitale, skole, rioolwerke, strate en paaie, brûe, damme, pyplyne, ens. te lewer.

Dieselfde vind plaas met stembedrog. Die regte stembriewe word verbrand of beland op die ashoop. Jy weet nie daarvan nie, want jy sien dit nie. En die IEC verklaar die stemmery vry en regverdig, solank niemand beswaar aanteken nie. So, vir jou lyk alles goed.
In geen land kan jy enige party in enige verkiesing vertrou teen stembedrog nie. Die partye se waarnemers moet heeldag en heelnag mekaar, die stembokse en die stembriewe met valkoë dophou. In die stede, maar veral ook in die afgeleë gebiede. Korrupsie begin by stembedrog, want die wenner wat daarmee by die stembus weggekom het, glo hy gaan by die volgende verkiesing weer daarmee wegkom. So, na die volgende verkiesing is hy nog steeds in beheer van sy korrupsie planne.

Tante ·

Dis beslis so Dries: DA gaan baie stemme inboet stemme afstaan aan Good party na VF+ na Cope en na ACDP veral aan VF+ dis beslis my nuwe ou tuiste soveel jare my stem gemors op DA wat niks vir ons blankes doen of voel nie die mense van minderheidsgroepe wat steeds vasklou aan DA leef in n droom word wakker dis nie te laat moet nie jou beginsels dooddruk om vir DA te stem en net omdat hul op oomblik grootste oposisie party is nie

Steun vir Mosiuoa Lekota ? ·

Mnr Herman Toerien. Is jy eerlikwaar verbaas om die blankes se steun vir Mosiuoa Lekota te begryp??

Benewens die VF+ is daar geen politikus wat meer gekoggel word in die parlement, omdat hy vir blankes se regte baklei nie. Hy raak driftig & die josie in wanneer anti-blanke populistiese retoriek in die parlement gedy.

Ek gee toe; Hy hét ‘n “struggle” geskiedenis . . . . maar ons almal het al goed gedoen of gesê, wat ons later van afgesien het. (met grysheid kom wysheid & daar’s minder testosteroon vir aggressie)

Die man kry my stem, want hy baklei vir my reg vir bestaansreg in ons land. AfriForum baklei vir ons voortbestaan, dit spreek boekdele dat hulle wil hande wil vat met Mosiuoa Lekota, eerder as die DA wat gekaap is deur populistiese politiek (ons weet almal wat die DA jeugleier se gesindheid jeens blankes is)

Ek hou van Mangosuthu Buthelezi, omdat hy altyd aan die kant, van die stem van gematigdheid is; hoop Inkatha gee die ANC bloedneus in KZN

Sterkte met jou gesondheid; ons bid vir jou & jou gesin tydens dié moeilike tyd.

Jerry ·

Swartmense se historiese menswees, struggle en uitkyk op die lewe teenoor kolonialisme, veral teenoor Afrikanerleiers verhoed dat swartmense deur wit leiers beinvloed kan word, of die witleier reg is of nie. Die historiese wantroue en haat/wraak faktor strek baie verder en dieper en mense wat dit besef, besef dat beinvloeding van swartmense net kan geskied deur swartmense self en dus bied n swartleier wat witmense goedgesind is, soos Cope of ACDP, daardie opsie en geleentheid. Enige witleier kan so bekwaam, bevoeg en populer wees soos geen ander, swartmense sal nie vir hom stem nie en hy of sy sal nie hondhaaraf maak nie. Ons sien dit in die parlement, daar word blatant en doodeenvoudig geen ag geslaan op witleiers se spreekbeurte met die punte wat hulle as belangrik beskou. Indien die VF nie genoegsame Afrikaanssprekendes kan trek met die komende verkiesing sal hy vir oorlewing moet saamsmelt met n party wat n swartleier het en wat die Afrikaner goedgesind is, om watter redes ookal. Om te wil aanhou skop teen die prikkels en realiteite gaan ons in n doodloopstraat laat opeindig. Ek dink die besef van n doodloopstraat het reeds deurgedring, die dat Pieter Marais nadergetrek word, maar ons moet ingedagte hou dat hy ook n minderheidsgroep verteenwoordig en ook nie swart genoeg is nie! Een party met n swart, wit en bruin leier is dalk nou wensdenkery, maar dalk nie in die, nie te verre toekoms nie!

Judge Dredd ·

Se al lankal daar moet ‘n minderheidsparty wees. Wit , bruin, Khoi-San(swart) en Indier.

Judge Dredd ·

Meer belangrik om na die links/Sosialistiese groepering ANC/EFF en nou ook BLF the kyk.
Eerste verkiesing – ANC 63%
Suksesvolste verkiesing 2004 – ANC 69%
2014 Verkiesing – ANC 62% + EFF 6% = 68%
Peiling vir 2019 – ANC 54% + EFF 12% + BLF ??? = min of meer 67%

So daar is bitter min steun deur die groepering verloor – selfs na die rampspoedige Zuma jare – daar is wel beweging na die meer radikale linkse partye.

DA se groei is ten koste van ander kleiner partye en het heel moontlik nou ‘n platoe bereik.
2014 Verkiesing – DA 23%
Peiling 2019 – DA 24%

Indien die VF+ sy Gauteng peiling 2% nasionaal kan behaal dan sal dit meer as verdubbeling van sy 2014 prestasie wees.

John ·

Afrika wil in beheer wees… die oppermag hè. Al trek die VF+++++++++ sal dit geen duit verskil maak aan die Afrokane se ingesetelde drang nie. Meer is ter sprake as ‘n paar bont gesigte en ‘n papier met baie woorde en beloftes. Die booty… is die prys en die wortel voor in die pad… al brand die ligte nie meer nie… En begin ander partye opgangmaak, is ‘n blitzkrieg altyd die antwoord…

Frik Lotz ·

VF Plus gaan baie meer stemme trek as in vorige verkiesings en baie mense wat DA gestem het gaan VF Plus stem. VF Plus is in elk geval enigste party wat onbeskaamd veg vir Afrikaans en die regte van minderhede.

Vaalseun ·

Frik,

Maak jou maar reg vir ‘n teleurstelling.

Die IEC/OVK het nie die mannekrag of vermoë om stembedrog uit te skakel by elke stempunt nie. Hulle soek net ‘n uitslag sonder teëspraak.

Tensy elke party dag en nag elke stembrief en elke stemboek en stemboks se geldigheid en beweging in en vanaf die stemlokaal volg en monitor totdat dit in die tellokaal geverifieer, oopgemaak, getel en gerekonsilieer word, gaan die magsewewig dieselfde bly.

Al die kleiner partye by elke stempunt moet saamstaan om minstens drie keer meer opgeleide waarnemers as die ANC dag en nag op diens te hê op stemdag en totdat al die stemme en uitslae geverifieer en bekendgemaak is.
Anders gaan niks of min verander.

Frik Lotz ·

Vaalseun, daar wag n teleurstelling op die DA, nie die VF Plus nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.