Nuuskommentaar: “Kyk, net my seuntjie is in pas!”

Pres. Jacob Zuma en Li Keqiang, China se premier. Foto: DOC

Pres. Jacob Zuma en Li Keqiang, China se premier. Foto: DOC

As deel van die SAKP-geleide “strategie” om statuur aan pres. Jacob Zuma se presidentskap te probeer gee, word die president so ver moontlik uit landspolitiek (en die parlement) gehou, en internasionaal (op belastingbetalerskoste) skouer aan skouer aan skouer met wêreldleiers geparadeer.

Die keuses van hierdie wêreldleiers is sterk SAKP-getint, wat beteken dat dit dikwels maar muishond-leiers is, despote wat maklik ’n groep jubelende jong mense kan opkommandeer in die beste “rent a crowd”-tradisie om Zuma se ego voor TV-kameras te streel.

Net jammer die “strateë” kon nie voorsien dat China – Zuma se jongste bestemming – op die vooraand van die besoek op die korrupsie-persepsie-indeks met ’n allemintige twintig plekke sou agteruitboer tot die 100ste plek nie. Dit is nie so maklik om op hierdie indeks agteruit te boer nie – Suid-Afrika het selfs sy posisie effens verbeter op hierdie indeks – iets wat baie plaaslike waarnemers die kop laat skud.

Eie kokonne bestaan oral, soos op die skool se rugbyveld waar die kadette marsjeer en ’n ma trots uitroep: “Kyk my seuntjie is al een wat in pas is!”, of Gorbatsjof en Poetin wat die wêreld met Rusland se buitelandse beleid uitdaag en ander vir die hervatting van die Koue Oorlog blameer; elke mens skep sy eie werklikheid binne ’n sekere “realiteit.”

Ander ouers skud die kop as die skool se grootste boelie se ma kla dat daar so op haar seuntjie gepik word, want die arme kind is so sensitief. Onlangs moes ’n ma geskok erken haar seun is ’n boelie na iemand sy optrede op ’n selfoon opgeneem het en die ma darem nie teen dit wat sy toe met haar eie oë gesien het, kon stry nie.

Vandag, met die eerste herdenking van oud-pres. Nelson Mandela se afsterwe, gaan heelwat politieke partye met mekaar meeding om aan te toon dat hulle die werklike erfgename van Mandela se nalatenskap is. Koerante is vandag reeds vol berigte om te toon hoe grypsug en ander euwels die ANC self diskwalifiseer om hierdie mantel te dra. Die ANC self gaan egter steeds aanspraak maak daarop dat alles wat gedoen word (en aangejaag word) presies in pas met Madiba se nalatenskap is.

Mandela self was lank nie meer daar, of teenwoordig in gees, om rigting te gee oor of sy nalatenskap verslons is nie. Dit herinner aan die eertydse Argentynse president Juan de Perron wat nadoods ’n magdom Perronistiese organisasies opgelewer het – organisasies wat wissel van ver regs tot ver links, en waarvan een linkse manifestasie, die Montenero’s, selfs wêreldleiers in die ontwikkeling van stedelike terreur geword het. Maar almal het daarop aanspraak gemaak dat hulle sy nalatenskap verteenwoordig.

Uit die aansprake vir Mandela-nalatenskap kom ook baie teenstrydighede en selfs bog, soos die Tshwane-burgemeester wat ’n klomp naamsveranderinge wou deurdruk terwyl Mandela nog in die hospitaal was, as Mandela nalatenskap “ter wille van versoening.”

Oor Suid-Afrika se ander nalatenskap, apartheid, is daar te midde van ʼn wêreldwye veroordeling teen dit wat as misdaad teen die mensdom verklaar is, veral plaaslik wyd-uiteenlopende menings. Terwyl een groep dit blindelings veroordeel en die ore bottoe druk vir enige ander argumente, is daar ook mense wat self net die beste motiewe daarmee gehad het, en soveel daarin belê het dat selfs Julius Malema by geleentheid oor die ontwikkeling van sekere universiteite gesê het apartheid het ook goeie dinge opgelewer. Daar was baie goeie mense met baie goeie bedoelings, wat goeie kinders grootgemaak het – kinders wat nou wysgemaak word hoe boos hul ouers in werklikheid was…

Onlangs het oud-pres. Mikahael Gorbatsjof van die Sowjet-Unie, nou 83 jaar oud, in ’n onderhoud met die Russiese nuusagentskap Tass, ’n kykie gegee van hoe Rusland die hervatting van die Koue Oorlog beskou. Gorbatsjof skaar hom, skynbaar teensinnig en foutvinderig, vierkantig agter pres. Wladimir Poetin en blameer die Weste, en veral die arrogante Amerikaners. Gister het Poetin sy weergawe van ’n staatsrede gelewer, en onder meer gesê soewereiniteit is geen luukse nie. Hierdeur probeer hy sy aggressiewe buitelandse beleid regverdig, wat die wêreld reeds nader aan ’n derde wêreldoorlog gebring het, en steeds die gevaar daarvan inhou. Maar sy klem op Russiese soewereiniteit, en dié van etniese Russe elders, klink taamlik pikant teen die agtergrond dat daar weer onrus in Tsjetsnië uitgebreek het, en minstens negentien mense reeds die lewe gelaat het toe Poetin die woord gespreek het. Soewereiniteit, so klink dit, is vir Russe bedoel, nie vir ander wat teen wil en dank deel van die Russiese federasie moet wees nie. Poetin het sy vyande met Hitler vergelyk wat Rusland wil vernietig.

Peilings toon dat die reënboog in Suid-Afrika erg verdof het (pikswart geword het skryf een kommentator) en die redes hiervoor lê veel dieper as net Zuma. Uit internasionale ondervinding en verskeie leerstellinge weet ons dat minderhede dan ’n sterker drang het om hulself uit te druk, of minstens te handhaaf. Maar die wyse waarop dit geskied bepaal ook die (internasionale) kanse vir die ontvanklikheid daarvan. Selfs binne die Russiese Federasie sou die Tsjetsniërs ’n baie groot mate van outonomie kon behaal, maar die poging is gereeld deur radikale elemente (Moslem-ekstremiste) gekaap wat bande met Al Kaïda en die Taliban het. In plaas van internasionale steun vir ’n grootliks outonome staat, is die organisasies nou verklaarde internasionale terreurorganisasies, en word die streek regeer deur ’n despotiese Poetin-marionet.

Die Afrikaner moet nie sy eie drome vernietig deur onnodige platvloersheid nie. Ongelukkig is daar nou oorgenoeg wat aandring op die reg om juis dit te wees, en so alles wat dierbaar is op die altaar van platvloersheid plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanno Visagie ·

Reg. En “platvloersheid” is ‘n meer tersaaklike, genuanseerde begrip as die platvloerse haelgeweer-beskuldiging van “rassisme”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.