Nuuskommentaar: Kyk Ramaphosa in regte rigting, maar vat die verkeerde spoor?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Phando Jikelo/ANA

Dit help niks as ’n regering weet watter koers hy behoort in te slaan, maar dan die verkeerde spoor vat nie. Die verkeerde bestemming gaan bereik word. Is dit nie waarmee pres. Cyril Ramaphosa nou besig is nie? Kan sy idee van ekonomiese herstel bereik word deur ’n dooie donkie op te saal en op ’n dwaalkoers saam te sleep?

Minstens een Amerikaanse peilingsagentskap meet gereeld wat genoem word, en of hulle meen die president/regering is op die regte koers, maar vat die verkeerde spoor daarheen.

So iets is die afgelope paar dae ook mooi met die ANC se nasionale lyskonferensie gesien. Die mooi ideale wat gestel is waaraan ANC-kandidate vir die Nasionale Vergadering moet voldoen, dui daarop dat die ringkoppe in die regte rigting kyk, maar die praktyk dui bloot daarop dat volhard word om die verkeerde spoor na die ideaal te volg.

Met die gestelde vereistes is baie klem gelê op integriteit om die aftakelingsproses wat deur die Zupta-staatskaping veroorsaak is, te probeer omkeer. Suksesvolle kandidate mag byvoorbeeld geen misdaadrekord hê nie, volgens die grootskrif.

Die duiwel is egter in die fynskrif. Die uiteensetting dat “misdaadrekord” beteken die persoon moes deur ’n hof tot minstens 12 maande gevangeskap sonder die keuse van ’n boete gevonnis gewees het, word deur nasionale wetgewing bepaal. ’n Kandidaat wat tot 11 maande sonder die keuse van ’n boete gevonnis is, is dus wel welkom as kandidaat, al was die misdaad waaraan hy skuldig bevind is baie ernstig.

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: ANA

Maar die ANC het verder gegaan, en sy NUK-lid, Tony Yengeni, as voorsitter van die komitee verkies wat na die integriteitskwessie moes omsien. Yengeni het juis sy setel as parlementslid verloor nadat hy weens omkopery wat met die wapenskandaal verband hou, tronk toe gestuur is. Hy is onlangs ook weer aan dronkbestuur skuldig bevind.

Dat Yengeni as parlementslid gediskwalifiseer is, was bitterlik teen die ANC se sin. Hy is byvoorbeeld onderweg tjoekie toe deur ’n groot ANC-skare begelei, en die huidige minister van internasionale betrekkinge was een van die voorbokke in die optog. Sy verkiesing tot die integriteitskomitee-voorsitter is vurig deur die ANC verdedig. Dat hy in die ANC se NUK dien, spreek boekdele.

Boonop het die lyskonferensie verskeie twyfelagtige kandidate opgelewer, waarvan oudpres. Jacob Zuma stellig die pikantste is. Nog ’n naam wat die ANC se verklaarde erns met integriteit vir ’n ses slaan, is Malusi Gigaba.

Sekere ANC-praktyke veto eenvoudig die voorneme tot integriteit. So word wesenlik verhinder dat pres. Ramaphosa een van die mees bedenklike ministers, Bathabile Dlamini, kan afdank, al het ’n hof bevind sy behoort vir meineed aangekla te word. Ramaphosa sal tog ook weet dat hy, deur te verklaar dat sy goeie werk as minister doen, sy naam met ’n plank slaan. Sy is naamlik president van die ANC se Vroueliga, en ondanks misstap op misstap soos peperduur hotelverblyf terwyl haar vorige portefeulje juis die versorging van armes in die oog gehad het, maak dit haar immuun teen stappe teen haar. Verskeie ander bedenklike name is blykbaar ook danksy takke se nominasies op die voorlopige lys, soos Faith Muthambi en Mosebenzi Zwane.

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

Ramaphosa wil die ekonomie laat regruk, wat op die regte koers dui, maar hy wil dit onder meer doen deur die ekonomiese dood in die pot, grondgryp sonder vergoeding, as alternatiewe dis voor te berei. Die ekonomie pluk reeds die vrugte van hierdie brousel. Dat daar nou positiewe tekens in die ekonomie is, is ten spyte van die heksebrousel wat gekook word, en dui eenvoudig aan waar sake kon staan as dit nie hiervoor was nie. En wag maar dat die stinkende konkoksie uit die oond kom – kyk net wat word dan van potensiële beleggers …

Dit is interessant om te sien hoe ontleders en ander meningsvormers op die uiteenlopendheid van die regte koers maar verkeerde spoor reageer. Daar is die volle spektrum – diegene wat nougeset die gaping tussen ideaal en werklikheid ontleed, terwyl ander gewoon meen die werklikheid is besig om die Ramaforie-ideale te verwoes, en die ander wat verkies om die vermanings, met onheilspellende syfers gestaaf, van die land se voorste ekonome te ignoreer en net die silwer randjie raaksien.

Uit hierdie dampkring kom ook die ontleders wat meen dit is in die land se beste belang dat soveel moontlik mense vir Ramaphosa moet stem om sy hand teen sy vyande te versterk. In die praktyk meen hulle dat dit beteken die ANC onder Ramaphosa se bewind moet so 65% of meer van die stemme in later vanjaar se algemene verkiesing kry.

Ramaphosa loop die gevaar om gepos te word as die ANC nie van sy ou steun herwin nie. ’n Rubriek van Henry Jeffreys vandag adem heelwat van hierdie denkstroom. ’n Paar van sy opmerkings wek die indruk dat hy vir sy gevolgtrekking sy mediabronne baie selektief moes gekies het, soos die opmerking dat opposisiepartye vanjaar minder krities teenoor die ANC was oor die matriekuitslae.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

In sy rubriek laat skemer dr. Danny Titus sy Ramaforie selfs sterker deur deur te wys op die “voordeel” sou Ramaphosa die ANC se meerderheid vergroot.

Laasgenoemde verskynsel word hoofsaaklik toegeskryf in die konteks van “enige verandering is ’n verbetering op Zuma”. Daar is ook ontleders wat meen die beste moet bloot van die beter een van twee euwels gemaak word.

In die finale instansie is daar ontleders wat daarop wys dat Ramaphosa nie algemene kiesersteun moet kry solank die ANC self die verkeerde spoor bly vat nie. Die regte koers beteken immers niks as die verkeerde spoor tot die verkeerde bestemming lei nie.

’n Belangrike les is uit die Suid-Afrikaanse kontemporêre geskiedenis te leer, toe die NNP deur die ANC ingesluk is. Die laaste NNP-leier, Marthinus van Schalkwyk, het dit aan die kiesers probeer regverdig deur te verklaar “ons sal julle stem wees”. ’n Dawerende stil stem inderdaad gewees.

Die redenasies om “vir Ramaphosa te stem” is ’n politieke foefie in dieselfde dampkring as “moenie jou stem op ’n klein partytjie vermors nie” of “leen ons jou stem”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Genieve ·

Spreekwoord se; n nuwe besem vee skoon maar as dit veil is kan dit nie meer skoongemaak word nie ja CR is reeds verkeerde spoor want hy moet die ANC ondersteun en dit gaan lank nie meer oor die land en sy mense nie maar oor sy party en zuma hoe op dees aarde kan jy iemand ondersteun wat bedrog gepleeg het en n donker wolk wat oor sy kop hang CR is nie meer vir SA maar vir die ANC.

Willie ·

Die hele ANC faksie is korrup.. Hulle is tegemoedkoment met mekaar se korrupsie. Die een blyk skelmer as die ander te wees, en baie slinks.. Daar is ongelukkig nie omkeer nie… Ek kannie se almal is so nie, maar die meerderheid..

Jerry ·

ANC strategie is gebaseer op misleiding. Die skrywer vat dus raak as hy se dat CR in die regte rigting kyk, maar die verkeerde spoor vat. Dit word doelbewus en volgens misleidende strategie gedoen. JZ was die ANC en die ANC was JZ. Tans is CR die ANC en die ANC is CR. JZ (ANC) het die rand doelbewus laat val om die klimaat te skep vir verandering en CR (ANC) moet nou daardie verandering implementeer en terselftertyd die rand weer optel. Waar JZ (ANC) presies die teenoorgestelde van alle goeie beleid en planne moes uitvoer ten einde politieke onstabiliteit te weeg te bring, moet CR (ANC) meer selektief te werk gaan met die implementering van programme vir verandering ten einde binnelandse politieke stabiliteit te herstel en te verseker en nie buitelandse investering te erg te ontmoedig nie. JZ (ANC) het die rol van “the bad” vertolk en was dit nie nou vir Delille wat die rol van “the good” gekaap het nie, sou ek kon se dat CR (ANC) die rol van “the good” moet vertolk totdat verandering teweeg gebring is en die ekonomie weer lekker op dreef is. Na CR se termyn kan die proses van plundering “the bad” weer herhaal word indien nodig om weer die klimaat te skep vir “the good” vir verdere verandering. Die ANC se eindbestemming het nie verander nie, dit bly “sosialism in our lifetime”!

ZAR ·

Raakgevat Herman, jou laaste paragraaf is belangrik. Daar is steeds Afrikaners wat sê hulle gaan vir die DA stem, want hulle wil die 2de grootste party steun, met die hoop om dit na die wenparty te verander, selfs mense wat Cope wil stem, want Lekota het die Afrikaners ondersteun. Dis absolute waansin. Ons het nodig om ons mense op te voed oor politiek en hoe dit werk. Mense het nodig om te stem vir ‘n party wie se waardes/missie/vissie naaste is aan hul eie.

Cornelia ·

Wanneer mens na ‘n toneel kyk waar verwoesting skokkend voor jou uitstrek is die man of vrou wat langs jou staan en dieselfde toneel in ‘n “positiewe” inkpot doop, dalk die groter ontnugtering as die “begraafplaas” wat jou toewuif in die verslae panorama wat voor jou uitgestrek lê. Wie die ANC én sy bedmaats nog met ‘n regeer knuppel wil ondersteun, bedink en bedroom fantasie. Hoeveel moet nog in die ANC erosie weggesleur word voordat mense die skande van sulke weë, skade en koelbloedige bedrog van die tafel vee en standpunt inneem wat eer verdien op elke gebied? Tot die diereryk wag.

Koos ·

Kyk ‘n mens na al hierdie gebeure van die afgelope paar dae mbt die ANC se 107 jarige bestaan se toesprake, ens., asook die gebeure in die tydperk van CR se optredes as president van die RSA, dan kom daar ‘n paar vrae by my op, soos bv.:

1. Hoe gaan CR korrupsie in ons land uitroei met sy openlike verklarings dat daar geen kwade gevoelens tussen homself en JZ is nie?
‘n Man gaan mos nie die verwagte streng stappe neem teen ‘n sg. vriend van hom en andere betrokke by korrupsie, sou diesulkes wél skuldig bevind word nie, of hoe?

2. CR se dubbele standaarde of dan uitsprake wat hy maak by verskillende geleenthede – kan mens werklik so iemand vertrou?

3. Mense onthou tog sekerlik dat CR al ‘n lang pad met die ANC saamkom en sonder twyfel kop in een mus is met die organisasie se lede, hulle korruptiewe optredes en doelwitte, hoekom nou skielik iets anders van hom te wagte wees?

Dit maar net enkele klein puntjies sonder om nou beledigend te raak en té diep polities betrokke te raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.