Nuuskommentaar: Laat die koppe rol

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Te oordeel na mediaberigte is daar enorme druk vanuit die publiek dat ’n paar hoë koppe na die guillotine gestuur moet word. Vanuit daardie geledere is daar egter ook stuiptrekkings van spartelendes wat nie bloot gaan lê nie. Die prys op die spel is die land self.

Die lys van diegene wat bestem is om kop te verloor word al hoe langer. Aan die spits staan steeds oudpres. Jacob Zuma. Zuma se opsies om op belastingbetalerskoste uit die tronk te bly raak al hoe minder. Sy kopstampery met die vorige openbare beskermer het hom nou ná ’n appèluitspraak persoonlike regskoste wat glo ongeveer R10 miljoen beloop op die lyf laat loop. Sou hy boonop gelas word om persoonlik in te staan vir die regskoste verbonde aan sy pogings om in verband met die berugte wapentransaksie uit die tronk te bly, wat glo nou al omtrent R30 miljoen beloop, gaan iemand noustrop trek.

Veral twee ministers, Malusi Gigaba en Bathabile Dlamini, is ook onder skoot. Die bekende rubriekskrywer, Judith February, klink vanoggend op Media 24 skoon na die vuurvreter-kommentator, Rhoda Kadalie. “Onbevoegdheid” is van die makker woorde wat sy inspan om die twee te beskryf.

Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se onderonsie met min. Pravin Gordhan, lyk op die oog af na ’n terugvegpoging uit die Zuma-kamp. Die onus rus nou swaar op Mkhwebane om die teendeel te bewys.

Dit lyk of die voormalige premier van Noordwes, Supra Mahumapelo, in sy terugvegpoging sy kop kwyt is – wat formele prosesse betref in elk geval. Die vraag is nou of dieselfde lot die gladde oudpremier van die Vrystaat en nou sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, te beurt gaan val.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Ramaphosa se opsies en strategie

Pres. Cyril Ramaphosa sal, te oordeel na die middele nou tot sy beskikking, weet of adj.pres. David Mabuza ’n Trojaanse perd of politieke verkleurmannetjie is. Nie een van die opsies, veral te oordeel na sy reputasie uit sy politieke verlede, is besonder aptytlik vir die kiesers nie.

Daar is min of meer konsensus dat Ramaphosa uiters strategies te werk gaan om die omgewing om hom so rimpelloos Zuma-vry te maak. ’n Groot deel van hierdie strategie is om iemand anders, waaronder formele strukture, die afranseling te laat doen. Kan dit wees dat Ramaphosa Gigaba se selfuitgesproke presidensiële ambisies aanwend om Mabuza onder skoot te kry?

Mabuza het pas nie baie vleiende nuusdekking gekry nie toe hy Rusland besoek het. Volgens sy woordvoerder is Mabuza nie siek nie, hoewel hy met siekverlof was. Intussen blyk dit hy het glo in Rusland behandeling ontvang vir die nagevolge van ’n vorige poging om hom te vergiftig. Gaan Gigaba ’n kat se kans staan as hy sy visier op Mabuza stel en Mabuza reageer?

Tom Moyane, geskorste hoof van die Inkomstediens, is nog ’n hoë kop uit die Zuma-kamp wat spook om politieke oorlewing. Intussen kruip die aakligste wurms uit sy Pandora-boksie.

Veral met die getuienis van oudmin. Barbara Hogan voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, is daar maalvleis gemaak van Zuma se aansprake dat hy nooit by staatskaping betrokke was nie. Uit haar getuienis blyk dit dat Zuma onder meer die Grondwet geïgnoreer het om te sorg vir sleutelaanstellings in die rade van staatsinstellings, en selfs een wat ondersoek is vir strafregtelike aktiwiteite.

Verskeie waarnemers meen terwyl Ramaphosa se manier van dinge doen goed gewerk het, kan dit nou begin boemerang omdat die vasvatproses te stadig gebeur.

Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings en ANC-veteraan, maak gereed om haar getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping te lewer (12 November 2018). Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA

Maar hoeveel skade kan Zuma en sy volgelinge aan die Ramaphosa-bewind aanrig? ’n Algehele terugkeer na die rampspoedige Zuma-era lyk nie moontlik nie, maar dit is tegnies moontlik dat ’n nuwe Zuma-gesinde party met die algemene verkiesing in Mei volgende jaar genoeg stemme sal kry om die ANC tot onder 50% van die stemme te dwing.

Dié nuwe party kan dan allerlei vrywaringsvoorwaardes stel om die ANC in staat te stel om in koalisie die bewind te behou. Die ander kant van die munt is dat die ANC kan besluit om eerder ’n koalisie te vorm met bestaande opposisiepartye soos die DA, IVP en ACDP. Dan sal die kierankies van die staatskapers met die hulp van onder meer die Vryheidsfront Plus behoorlik braai.

Dit hang alles dalk af van wat Julius Malema gaan sê en besluit. Soos blits is die klip in die maag.

Nog probleme vir Ramaphosa 

Die bekampingsveldtog van die staatskaping en sy sleureffek is nie al waarmee Ramaphosa te kampe het nie. Sy aanpak van die land se ekonomiese probleme behels juis dat sy stimulusplan daarop neerkom dat hy baie met min bronne moet verrig.

Die planne vir grondonteiening sonder vergoeding is ’n gegewe deurdat dit formele ANC-beleid geword het, ondanks Ramaphosa se teenkanting daarvan. Zuma het dit as stekelrige nalatenskap vir Ramaphosa geskep. Ramaphosa se strategie is skynbaar om, eerder as om dit blatant teen te staan, dit so angelloos moontlik te maak.

Wit kiesers kan nie verwag dat (al) die swart kiesers uitermatig entoesiasties sal wees as hul leiers in hul besluitneming die baadjie van “otherness” aantrek nie. Hulle streef na ’n verwysingsraamwerk wat aan hulle bekend is, soos dat daar steeds ’n onus op wit rus om vir die verlede te vergoed.

  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pieter ·

Die groep(e) wat die “wit onus” oogklappe nou nog dra moet dit nou afhaal en om hulle, in hulle gemeenskappe en beursies kyk. Dan sal hulle (as hulle eerlik met hulself is), sien dat die droom van n sukesevolle sub-Sahara regering gebasseer op ras, propeganda en leuns net eenvoudig nie gewerk het nie!

Liberalis ·

Ons linkses besef dit maar dis nie vir ons belangrik nie want ons bly in veilige komplekse en ons sal nie huiwer om te emmigreer na ander (wit) lande as moeilikheid kom nie.

Dries du Toit ·

Tipiese liberalis. Vlug van die sinkende skip soos n rot nadat hy gehelp het om die skip te laat sink. Geen maar geen skuld gevoel oor sy slegte dade nie

Adriaan ·

Die aspek van Barbara Hogan se getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping wat vir my uitstaan, is dat sy as n “anti transformasie rassis” deur faksies in die ANC uitgebeeld is nadat sy n aanstelling by Transnet geopponeer het.

Genieve ·

Kan CR nie sien zuma hoort ini tronk nie watse bewysw soek hy nog of het hy oogklappe op.

riaan ·

CR het nie die guts om iets te doen nie.

Net nog ‘n and puppet sonder magte en te bang om een faksie ongelukkig te maak.

Petro ·

Dit gaan nie oor guts nie.. Dit is tydsberekening… Daaris nog te veel van die oorspronklike kaders in die regering wat hom kan uitskop en dan is ons terug by die Zuma spul. Gee hom kans om behoorlik verkies te word vlg jaar. As dinge dan nie begin draai nie, kan ons panic….

nico k ·

Genieve, die probleem is al weet CR dit, glo sy kiesers dit nie noodwendig nie. En hy het die kiesers nodig om te bly sit waar hy sit.
En Pieter, ek dink nie sub Sahara Afrika sal dit ooit erken nie. SA ingesluit.

LET'S FACE IT ·

DALKÍES…gaan en kán zumpie paar lelike katte UIT die sak uitlaat…wat CR op hete kole gaan plaas…?
VERMOED lsg.bly maar éérder ñ veilige/ neutrale pion,binne sy party en vir sy eie gewin,as om RÉG op te tree..

ANA ·

HAHAAAHAA…CR is té bang om enige iets RÉG of drasties te doen,want sý eie kop kán dalk dán óók waai…ás zumpie gaan terugkap…!!
Ei-en-Ceee…is ñ sirkus vol skelm narre met uitmuntende mannewallíse ?

D B ·

CR het ondersteuning gekry binne die ANC op slegs 1 voorwaarde, nl. om te verseker dat die ANC die volgende verkiesing met ten minste twee derdes wen sodat hulle die grondwet kan verander.

CR praat nou die taal van die kiesers (grondoneiening ens.), so hy doen waarvoor hy “aangestel” is. Tot en met die verkiesing volgende jaar gaan hy maar net “rustig” voort om “stemme te werf”. Hy gaan nie regtig verder iets doen nie. Sou hy “slaag” in sy “werwings proses”, dan gaan die poppe dans na die verkiesing.

John ·

Zuma het genoeg skietgoed opgehoop teen al sy vriende om hulle saam met hom te laat val. Iewers is daar ‘n vals noot wat aandui dat meer op die spel is en bloed dalk kan vloei. Sit Zuma aand na aand vrolik en kyk hoe ander sy derms uitryg of smee hy planne vir oorlewing? Wie is nou sy vriende? En wat sal hulle vir hom opoffer? CR vermy die krisis deur met die kollekte-bordjie rond te gaan en mooi te smile. Geld is die laaste van Zuma se probleme, die eintlike een is dat hy moet maak of hy nie het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.