Nuuskommentaar: Laat John McCain se dood ’n leemte?

John McCain tydens ʼn geleentheid in Philadelphia in Oktober 2017. Foto: Matt Rourke/AP

Min mense wêreldwyd wat na die harde werklikheid kyk en wat die wêreld rig, sal daarvan verskil dat die Amerikaanse politikus/militaris, John McCain, die leier van die wêreld se intervensioniste was. McCain word ook as robuuste internasionalis beskou.

Intervensioniste is diegene wat meen dat die wêreld se goeie mense nie maar agteroor kan sit terwyl slegte leiers op groot skaal ander mense doodmaak, laat doodmaak, of hul regte kru verongeluk nie.

Die Amerikaanse skrywer, Patric J. Buchanan, beoordeel in sy jongste artikel, “Are interventionists now leaderless”, die leemte wat McCain se dood gelaat het, en lys daarin die oorloë en amperse oorloë waarin McCain glo ’n aandeel sou gehad het. Dit sluit die aanslag teen Ghaddafi in, asook Sirië en Irak.

McCain moes geweldig baie invloed op ’n hele aantal Amerikaanse presidente uitgeoefen het, maar tydens die presidentskap van onder andere Barack Obama het dit getaan. Sy invloed onder die Amerikaanse kiesers was ook beperk, en by geleentheid het McCain se invloed die Republikeine albei huise van die kongres gekos.

Sondag word McCain, heel gepas, by sy alma mater, die befaamde Naval Academy, ter ruste gelê.

McCain se invloed het, tipies van ’n internasionalis, na die buiteland gestrek. ’n Hele gedagtegang het voortgespruit waar die ganse VSA se buitelandse ekskursies feitlik strykdeur onder kritiek deurgeloop het weens sy “neusinstekery” in ander se huishoudelike sake. In die proses het daar ook in veral sekere lande ’n baie sterk pro-Russiese sentiment ontstaan.

Veral pres. Wladimir Poetin het ’n wye heldestatus ontwikkel. Aan die ander kant is daar diegene wat glo Rusland, deur sy propagandadienste, bevorder self Poetin se beeld deur onder meer fopnuusberigte deur “stringers” elders in die wêreld te versprei. Deur die taalgebruik is die “berigte” ook maklik herkenbaar, soos die “stringers” se volgehoue spellingkeuses, soos om die Engelse Putin in plaas van die Nederlands/Afrikaanse Poetin te gebruik. Hierdie “berigte” is gewoonlik ook deurspek met die Engelse naamkeuses soos Ukraine en selfs USA.

Met die keuse van Donald Trump as nuwe Amerikaanse president, het Trump in weerwil van ’n massiewe media-aanslag teen hom ook ’n aanhang verwerf wat talle mense alle sweempies van objektiwiteit laat verloor het. Trump se naam hoef bloot in ’n neutrale konteks in ’n berig voor te kom, dan lees hierdie aanhangers iets kwaadwilligs daarin, en kritiseer die skrywer. Min ontleders het nog nie onder dié soort twak deurgeloop nie.

John McCain en sy vrou Cindy in 2008. Foto: AP Photo/Charles Dharapak

McCain het heel waarskynlik geen bedoeling gehad dat sy soort intervensionalisme tot dié soort konfliksoekery sou lei nie.

McCain was waarskynlik eerder die manifestasie van diegene wat teleurgesteld geraak het met die groeiende leemtes wat “suiwer” demokrasie begin openbaar het. Verskeie soorte intervensionalisme is in verskillende lande ontwerp om hierdie leemtes aan te raak en te neutraliseer. Dit is immers ondenkbaar dat demokrasie “reggedokter” kan word deur diktators en moordenaars net uit te los.

In die Afrikanerbond se eeufeesgedenkboek word heelwat ruimte ingespan oor hoe dié organisasie te midde van die veranderende omstandighede die verlies aan onder meer leierskap vir die Afrikaner die hoof sou wou bied. In die proses is ’n pragtige samevatting van die tegnokrasie en selfs korporatiewe selfbeskikking gedoen, sonder dat die betrokke name gebruik is.

Dit beteken onder meer dat die kiesers hul tevredenheid op meer maniere toon as die leemtes, soos deur nepotisme en korrupsie veroorsaak, deur reddingsaksies aan te pak en deur kundigheid te bring na waar dit oral nodig is.

Dit waarvoor McCain hom beywer het en dit waarvoor die meeste vorme van tegnokrasie hulle beywer, is waarskynlik elk in bepaalde omstandighede iets wat positief beskou moet word, solank dit ten doel het om benewens kundigheid ook demokrasie te herstel, en moraliteit te bevestig. Die praktyk leer dat die McCain-benadering ’n amper onbegonne taak is.

Die tegnokrasie soos deur die AB uitgespel, en dikwels deur ander ingespan soos Freedom under Law, Outa en AfriForum (soos die herstel van besoedelde riviere) is duidelik meer positief en noodsaaklik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Charles ·

Dit klink dalk onsensitief, maar dankie tog die trotse Republikeinse party is ontslae van die opperste internasionalis (en globalis) en geswore vyand van die leier v/d westerse renaissance- President DJ Trump-, in kort, verseker ‘n meulsteen om die nek wat die trotse Party van Lincoln en Trump die Amerikaanse midtermyn verkiesings van 6 November 2018 SOU kos indien sy dweperigheid, manteldraaiery en die onderduimse agenda van die RINOS die Republikeinse Party sou bly aankleef.

Dankie die Here vir President Trump.

Paul ·

Ek het ‘n idee ons het, in hierdie tyd in die land, ‘n intervensionis dringend nodig, en dan moet CR ook hierdie artikel lees, mens weet nooit, dalk raak hy ‘n aanhanger van die tegnokratiese regeringsvorm, wat ‘n plesier sal dit nie wees nie.

John ·

Nee wat, die ou met die vreemde maar bekende van was ‘n egois van formaat wat dalk nie verniet daarvan beskuldig is dat hy die groot held wou wees nie. Hy het alle linkses en grootse idees aaangegryp… om die volmaakte big apple homself te word. Natuurlik moes hy Trump opponeer want hyself kon nie president word nie. Suurdruiwe.

Marthinus Willemse ·

John McCain was nie `n intervensionis nie, hy was `n oorlogsugtig, vredehatende kleinsielige ou mannetjie. Hy het die verwarde idee gehad dat Amerika die huidige wêreldstelsel ontwerp en gebou het, en dat almal vandag beter daaraan toe is. Slegs Amerika kon bepaal wie en wat demokrasie is, en wie en watter land met geweld verander moet word. Miljoene mense oor die aardbol leef in armoede en duister weens McCain en sy mede-valke se inmenging.

Kosie Kramer ·

Herman, `n stringer is enige persoon wat as insamelaar van inligting vir `n nuusdiens, werk. Daars niks sinisters daaraan nie. Stringers is gewone mense wat gewoonlik eerste by `n gebeurtenis is, en dit dan opneem, en aan die nuusdiens verkoop. Jy sien sameswerings waar dit nie is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.