Nuuskommentaar: Laat ons nou ‘Ernst’ maak met haatspraak, ou vlag, Malema …

Ernst Roets buite die hof.

Die verklaring van die vertoon van die ou landsvlag tot haatspraak in sekere omstandighede word nou grootliks oordonder deur die tentakels wat begin groei het, soos die klagte van minagting van die hof teen Ernst Roets, asook voortgesette vrae oor onewehandigheid as dit by rasgeklede uitlatings van wit en swart, soos Julius Malema, kom.

’n Paar jaar gelede het rubriekskrywers en ander meningsvormers ’n doodernstige speletjie daarvan gemaak om op die gebreke in die Suid-Afrikaanse demokrasie te wys deur ’n woordspeletjie waarin verskillende name en begrippe saamgevoeg is.

Hieronder tel Zuptakrasie en kleptokrasie, terwyl anarkrasie uit die VSA geleen is. Ook uit die VSA kom die woord “gatfly” as sinoniem vir perdevlieg, en almal weet waar perdevlieë om ’n perd se anatomie saamtrek. Laasgenoemde dateer blykbaar, soos coal slaw (koolslaai) en dollar vir die Nederlandse daalder, uit die dae toe New York nog Nieu-Amsterdam was.

En dis nie of Suid-Afrika in die politiek genoeg g*tvlieë het, en die Zondo-kommissie baie zonde besorg nie.

Toe word ontdek dat daar werklik ’n woord soos kakistokrasie bestaan en siedaar, die verklaring vir wat dit beteken, lyk asof dit soos ’n handskoen op die verloop van die Suid-Afrikaanse demokrasie pas.

En dalk het dit ’n slag nodig geword om die ou vlagkwessie doodErnstig te bekyk.

Hoeveel het politieke en rassistiese kwaadwilligheid daarmee te make dat Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, nou op die uitspraak op ’n klag van minagting van die hof wag?

Die saak spruit onregstreeks uit ’n plaasmoord by Klapmuts in die Wes-Kaap. ’n Vrouestudent was so geraak hierdeur dat sy die Swart Maandag-betogings gereël het. Ander rolspelers, waaronder AfriForum, het betrokke geraak. Dit is nie duidelik of van die lede van die publiek wat deelgeneem het, wel die ou vlag geswaai het nie.

Van die Engelse pers het wel foto’s geplaas waar dit op die oog af so lyk, maar van die foto’s is as ou foto’s geïdentifiseer, soms ’n bietjie gemanipuleer, en is voorgedoen of dit toe geswaai is. AfriForum, wat betrokkenheid ontken het, sou daar wel sulke gevalle gewees het, is in ’n skynbaar georkestreerde aksie as die meesterbrein daaragter uitgewys.

Van die indrukke wat toe geskets is, het daartoe gelei dat die Nelson Mandela-stigting, toe dit die ou landsvlag tot haatspraak wou laat verklaar, AfriForum as die belangrikste party in die saak laat verskyn het – dít terwyl dit by herhaling gestel is dat AfriForum nie daarby betrokke was nie en dat die fotobewyse gedokter is.

EFF-leier Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Boonop het AfriForum gemeen die hofuitspraak wat die ou landsvlag se vertoon tot haatspraak verklaar het, sou spraakvryheid aantas, terwyl erge haatspraak deur onder andere Malema tegnies nie op haatspraak neerkom nie.

Verskeie instansies het immers reeds in die openbaar verklaar dat die onewehandigheid waarmee instansies soos die Menseregtekommissie met wit en swart oor rassisme en haatspraak omgaan, self ’n bron vir die staak van haatspraak en rassisme is.

In die uitspraak van die gelykheidshof is AfriForum steeds hanteer asof dié instansie deel gehad het aan die beweerde vlagswaaiery. Die regter se uitspraak is deur verskeie instansies en rubriekskrywers onder die loep geneem en gekritiseer.

Die Nelson Mandela-stigting het ’n klag van minagting van die hof teen Roets ingedien nadat Roets die ou landsvlag op Twitter geplaas het. Roets wat onlangs sy meestersgraad in die regte met onderskeiding behaal het en nou met sy doktorale studie in die regte besig is, het verduidelik, maar die stigting wil niks weet nie en wil hom vir ’n maand laat toesluit. Minstens een instansie het die stigting daarvan beskuldig dat dit nie op reg en geregtigheid afgestem was nie, maar op haat.

Op hierdie punt sal dit onwys wees om die uitspraak wat voorbehou word, vooruit te loop. ’n Appèl, ongeag na watter kant toe die uitspraak gaan, sal waarskynlik volg.

Wat nou wel van belang is, is dat die saak in ’n grootliks ras-polariserende kwessie ontaard het. Die kritiek op Roets kom nie net uit die stigting en simpatiseerders se geledere nie, maar selfs, volgens eie aansprake, van mense wat AfriForum simpatiek gesind is.

In wese kom dit daarop neer dat Roets ’n leemte aan “bedside manners” het. Hierdie beskouing kom al ’n hele ruk aan, en spruit veral oor die wyse waarop hy die grondroofkwessie voor die parlementêre komitee hanteer het, en toe AfriForum aangedui het daar word oorweeg om Malema oor sekere uitlatings privaat te laat vervolg. Laasgenoemde het ’n ongelooflike stroom vitrioel losgelaat. ’n Bekende Stellenbosse hoogleraar het met ’n petisie teen Roets begin, waarop Roets verskeie onjuisthede oor hom in die petisie uitgewys en met regstappe gedreig het.

Hierdie hele onverkwiklike diskoers is op sy beurt voorafgegaan met lede van die Seunse Weenkoor en gaskunstenaars se stokperdjie om Solidariteit, AfriForum en Roets met die teerkwas by te dam. Die herhaalde versekerings van AfriForum dat dit teen rassisme gekant is, word nie deur hierdie groep aanvaar nie. Dié onverkwiklikhede kan nie vir altyd aanhou nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

willem Bothal ·

Ons lewe in n onstabiele land sonder leiers waar die minderhede gejag word om die meerderheid se onbevoegdheid en haat teenoor minderhede te verbloem.

ChrisE ·

Ek het nie die sage van die vlag gevolg nie. Daar was een Woensdagaand ‘n lid van die Mandela Speelgroep saam met Waldimar Pelser op Kyknet. Dit was ‘n wit persoon. Die argumente wat hy geopper het oor die vlag het op suiwer onvolwasse emosionele intelligensie gedui. Sy huidige vrou was glo in die vorige bedeling in ‘n polisiestasie op aanklagte van wie wat opgesluit. Hy moes glo onder die vlag deurloop. Dit is waar die ontstaan dink ek van die konsert is.

Anoniem ·

Ons dra Jou OP en ek glo die uitkoms gaan GOED wees ! Sterkte

SoosDitIs ·

Oh my word. En dis hoekom die betogings, verwoestings en brande aanhou, want ons konsentreer op die klas van goed ipv die fisiese dreigemente vir ons land se ekonomie.

Jerry ·

Dat die skoen aan die ANC voet is na 1994 en die NMS en alle soortgelyke menseregte stigtings asook die regbank die onreg van die verlede wil regstel deur “reverse discrimination” is n gegewe en feitelik korrek en daaroor behoort geen twyfel te bestaan nie. Dat Roets dit ten doel het om hierdie situasie uit te buit ten einde witmense se onverdedigbare vryhede moedswillig af te speel teen die regstelling van die onregte teen swartmense en om daardeur witmense op te sweep, te verdeel en uitgesluit te laat voel uit die breer SA gemeenskap en te isoleer by Solidariteit selfbeskikkingstrewe vir die bou van n sakeryk, dit is ook n gegewe en feitelik korrek! Om vir die vryhede van die Afrikaner te veg en sekere gevegte doelbewus te verloor ten einde daardie vryhede slegs beskikbaar te stel by Solidariteit, is uiters selfsugtig en veroorsaak onnodige verdeeldheid en spanning tussen Afrikaners wat daarmee ingenome is en die wie minder ingenome is daarmee! Dit het die potensiaal om nie net wit teen wit af te speel nie, maar ook wit teen swart. Roets se agenda en motiewe hou beslis n gesondheidsgevaar in vir die Afrikaner, daaroor kan daar ook geen twyfel bestaan nie, gegewe dat die Afrikaner nie gereed is vir konflik van watter aard ookal nie!

Anoniem ·

Hom laat afhaal want Hy praat snert en dit is nie geskik vir nasiebou nie ! Dankie Maroela, dit was vinnig !

Cheryl ·

Soveel tyd, energie en geld aan ‘n Vlag en intussen word die land verwoes! Ek wens ek kon verstaan maar regtig ek doen nie

Pottie ·

Mense ons praat te veel en ons kla te veel dit is ons eie skuld wanneer gaan ons wakker skrik seker nooit ons moet maak soos die mense in hong kong ons blankes moet die land tot stilstand bring ons moet n week almal by die huis bly dat ons sien wat gaan die anc doen praat gaan ons net mooi niks help nie

Marius ·

Om dalk beter te begryp – Die speletjie se naam is Divide and conquer. Enige iets wat aksie belaai is soos n simpel vlag argument help om die aandag af te lei terwyl agter die skerms geplunder word. So ja die vlag storie is maar een van baie aandag afleiers( ook die groot kabaal oor geslags geweld – asof mans glad nie MEER as enige ander vermoor word nie,) en ons mense moet eerder hulle wapens afstof en water kanne vol maak – en vir die wat glo dalk n gebed of twee opsê

Johann ·

Die antwoord is baie eenvoudig. “Ideas have consequences.” As dit vandag die vlag is, wat gaan môre verban word? (En dit is hoekom Afriforum die hofaansoek teengestaan het, nie oor die vlag nie, maar oor vryheid.) Moenie die vlag kwessie onderskat nie. Die strop word al nouer getrek.

Hans ·

Die huidige ZA vlag het spesiaal die kleure van die ou ZA vlag ingekry.

Koos de Meyer. ·

Die arme rassisme perd is al so hol gery, ‘n saal pas nie eers meer op hom nie. Die hele vlag storie is so belaglik. Pleks dat hulle kyk na ons land wat brand.

humor ·

Malema sal onaantasbaar bly, want met die jare het dit tog al klinkklaar duidelik geword dat die eff maar n handige “spanner” in die hand van die anc is. Daarvoor is daar genoegsame bewyse.

Piet parys ·

Ernst Roets het guts wat die meeste witmense nie het om die waarheid soos dit is in die land uit te wys. So doen so voort. Moenie bekommerd wees oor wat little malema se nie want hy is nog net klein snotneus wat onnosele mense kan opsweep

Petrus Heigers ·

Ek het Blou Bul vlag in my besit , maar is nou bang dat ‘n WP aanhanger my kan verkla as haatspraak!

Elsa Naude ·

Gaan die dag kom dat ons nie ons wit velle mag vertoon nie omdat dit “haatspraak” is? Gaan die dag kom dat ‘n wit vrou vir rassisme tronk toe gestuur gaan word as sy ‘n swarte wat by haar aanle, wegwys?

Jimmy ·

As doktorale student moet Roets eerder sy teorieë, menings en bevindinge in gerespekteerde akademiese joernale publiseer waar ander akademici dit kan beoordeel. Bly weg van sosiale media. Dit is ongeloofwaardig en sal nie die hof beindruk nie. Iemand met ‘n LLM (cum laude) behoort dit tog te weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.