Nuuskommentaar: Laat regering boere in steek met droogte?

droogte

Argieffoto

In die droogte wat plek-plek as selfs droër as 1933 se droogte beskryf word, lyk dit of groot dele van die provinsie ook eers Vrydag oor ‘n week ‘n lafenis te wagte kan wees.

Die droogtehulp  wat die 23 600 aansoekers in Noordwes te wagte kan wees wanneer die vingerfout reggestel is, beteken dat elke aansoeker ses of sewe sakke voer gaan kry – genoeg om 16 beeste ‘n dag lank te voer. Dit is kwalik van simboliese waarde.

Noordwes is nie al deel van die land waar dit bitter droog en warm is nie.

Suid-Afrika is grootliks ‘n marginale landbouland, waar die hoogste reënvalgebiede se reënvalgemiddeld met die wêreld se reënvalgemiddeld ooreenstem. Reënval-kaarte en kaarte van die voormalige tuislande toon dat die gebiede met die hoogste reënval tot ‘n groot mate met die ou tuislande ooreenval, waar tradisionele boerderymetodes nie juis bekend is vir optimale kosproduksie nie.

Die regering se amptelike grondhervormingsplanne is daarop gerig om die rassesamestelling van grond persentasiegewys te verander, sonder om met hierdie persentasies die reënval en landboupotensiaal in ag te neem. Dit word dikwels as die uitverkoop van voedselsekuriteit beskryf, maar ‘n ideologiese benepenheid het hou dikwels die dood in die pot in vir opkomende boere.

Persepsies praat dikwels harder as die werklikheid. Enkele maande gelede het pres. Jacob Zuma een van sy juwele kwytgeraak toe hy gesê het tradisionele swart grondbesit val grootliks in die droër en onvrugbaarder dele van die land. Dié twyfelagtige “eer” is tot ‘n groot mate die bruin mense beskore, waar reënval in groot bruin landelike gebiede soos Mier, die Richtersveld en Oppermans maar skraps is.

Om suksesvol in groot dele van Suid-Afrika te kan boer vereis ‘n besondere gehalte boer, en selfs die beste boer kan deur opeenvolgende droogtes en enige ander landbouramp, soos voëlgriep onder volstruise, nie meer die pyp rook nie. Vee-, gewas- en implementediewe stroop jaarliks miljarde rande – aldus die landbousensusse – uit die boere se sakke.

Plaasmoorde het ‘n omvang pro rata van ongeveer drie keer die land se hemelhoë moordkoers, en dubbel die moordkoers op lede van die polisie. Tog beskryf die minister van polisie die veldtog om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar – soos wat dit onder die presidentskap van Nelson Mandela was – as goedkoop propaganda.

Tussen 2008 en 2013 het renosterstropery die land R1,1 miljard aan inkomste gekos, aldus die professionele jagtersvereniging van Suid-Afrika.

Projeksies dui daarop dat namate aardverwarming toeneem, sal die land uit die weste droër word. Wetenskaplikes werk baie hard daaraan om gewasse so aan te pas dat dit onder minder goeie toestande selfs ‘n hoër opbrengs lewer. Landbounavorsers werk hard aan die ontwikkeling van boerderypraktyke wat ongunstige klimaatstoestande die hoof kan bied. Terwyl aan die een kant hard gebou word, word aan die ander kant gesloop met kaderontplooiing by munisipaliteite wat rou riool in waterbronne – ook die boere se lewensare – laat beland. In die dolomietgange wat in groot dele van die land voorkom kan heelwat gevaarlike besoedeling ook ver ondergronds versprei. Maar kaders wat die wet oortree word nie sommer met die lang arm van die gereg bygekom nie.

Die lot van boere kan nie los gemaak word van die res van die land nie. Hoewel landbou se regstreekse aandeel in die BNP baie klein is, is die onregstreekse impak, veral wanneer die landbouverwante bedrywe bygewerk word veel groter. Baie dorpe, en selfs provinsies soos die Vrystaat, se ekonomieë trek baie swaar wanneer die landbou noustrop trek. Landbou dra ongeveer tien persent tot die land se inkomste uit uitvoere by.

Baie ontwikkelde lande subsidieer die landbousektor. Selfs wanneer die subsidies hervorm word soos in die Europese Unie, is die wegdoen daarvan nie ‘n opsie nie.

Die plaaslike behoeftes neem toe. Aan die begin van die 20ste eeu moes die landbou kos aan sowat 4 miljoen mense voorsien, nou is dit meer as 50 miljoen.

Klimaatsverandering gaan, volgens die VN se deskundiges, veroorsaak dat die wêreld elke dekade twee persent minder mielies, koring en rys sal kan produseer, terwyl die vraag daarna teen 14 persent per dekade gaan toeneem.  Teen dié agtergrond sou verwag word dat goeie landbouers as kleinode beskou sou word, en met alles tot die regering se beskikking gerugsteun sou word. Kortom, die landbou in Suid-Afrika moet gekoester word, en die kundigheid om dit te laat vlot op die hande gedra word.

Maar hierdie nuuskommentaar is seker ook maar goedkoop propaganda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.