Nuuskommentaar: Laat Zondo-kommissie ook na wapentransaksie kyk – A luta continua!

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: ANA.

Is daar ’n verband tussen die staatskaping wat die Zondo-kommissie ondersoek, en die wapentransaksie wat soos ’n spook aan die verwikkelinge in die land by kleef?

Ongelukkig sal ’n mens nooit weet nie, tensy die Seriti-kommissie se verslag oor die wapentransaksie in die hof ter syde gestel word en dié keer onbevooroordeeld herbesoek word.

Seker een van die verdoemendste bewyse dat die Seriti-kommissie minstens ten dele die kat aan die stert beetgehad het, en dus ongeloofwaardig is, is die “bevinding” dat niemand aan enige deel van die wapentransaksie skuldig bevind is nie. Minstens twee mense is wel skuldig bevind en tronk toe gestuur, naamlik Schabir Shaik wat ook die latere president, Jacob Zuma betrek het, en die ANC se voorbanker-LP, Tony Yengeni. Zuma is nog nie vir sy betrokkenheid verhoor nie weens ’n omvattende strategie om te verhinder dat hy sy dag in die hof kry.

Maar wat het dit alles met die staatskaping te doen?

In Junie 2016 het die bekende nyweraar en aktivis, Terry Crawford-Browne, ’n petisie aan die Konstitusionele Hof gerig met die versoek dat die Seriti-kommissie se verslag ter syde gestel word. Hy het aangevoer dat die wapentransaksie ’n kultuur van korrupsie ontketen het.

“Die verdere gevolge (van hierdie korrupsie) is volgens die beëdigde verklaring ’n massiewe toename in werkloosheid, die ineenstorting van die rand op buitelandse wisselkoersmarkte, daaglikse betogings oor dienslewering regoor die land en die vooruitsig dat Suid-Afrika se beleggings tot rommelstatus verlaag kan word – ’n vooruitsig wat die land se armoedekrisis verder sal vererger.”

Hy het die hof versoek om die kommissie se verslag ter syde te stel en om die minister van finansies opdrag te gee om ’n geraamde R70 miljard te verhaal wat irrasioneel en bedrieglik op die wapentransaksie uitgegee is. Volgens hom is die wapentransaksie eintlik gesluit vir die omkoopgeld wat daarmee gepaard gegaan het. (Lees meer hier).

Dit was 2016. Pas het die bekende ekonoom, Dawie Roodt, in ’n artikel in Rapport min of meer dieselfde gesê: “Maar na ’n belowende begin het die ANC se onderrok begin uitsteek met die wapenskandaal, waarvoor ons steeds op antwoorde wag.”

Zuma leef dus in ’n droomwêreld as hy meen Seriti het alle agterdog uit die weg geruim en die saak vir altyd afgesluit. (Lees die volledige artikel hier). Korrupsie, onbevoegde kaders en vergrype is van die kenmerke waarmee die land oorspoel is. Roodt meen ook die land het in sy geskiedenis nog nooit so ’n vernietigende mag ervaar nie.

Schabir Shaik. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die VF Plus het die bevindinge van die Seriti-kommissie seker die beste opgesom: “Die Seriti-kommissie se bevinding dat geen bewyse van bedrog of omkopery in dié multimiljardrand-wapentransaksie gevind kon word nie, is ʼn klug en was bloot ʼn vermorsing van belastingbetalers se geld,” sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.

Hy sê die bevinding dat absoluut niks ongerymd was nie, dat al die vereistes nagekom is en dat al die wapentuig wat aangekoop is ten volle benut word, is eenvoudig onwaar. Tans is ongeveer twintig Gripen-vegvliegtuie op stoor en geensins in gebruik nie.

“As daar geen ongerymdhede was nie, kan met reg gevra word hoekom was Schabir Shaik, en Tony Yengeni as destydse voorsitter van die gesamentlike staande komitee op verdediging skuldig bevind en tronk toe gestuur vir ongerymdhede wat verband hou met die wapenskandaal. Die Seriti-kommissie het weereens getoon dat die wapenskandaal net nog ʼn verdere korrupsieskandaal sal wees wat ʼn litteken op die ANC-regering sal laat.” (uitgereik 21 April 2016)

Maar is die gees van korrupsie wat losgelaat is genoegsaam om ’n verband met staatskaping te trek?

Die Zondo-kommissie is geen hof nie, en dit is ook telkemale duidelik gemaak. Dieselfde geld die Seriti-kommissie. Maar Zondo is ’n regter van die Konstitusionele Hof, en boonop adjunk-regterpresident. Seriti is ’n regter van die appèlhof, en volgens onlangse verwikkelinge staan dit nou soos ʼn paal bo water dat die Konstitusionele Hof ’n hoër status as die appèlhof het, en dus ’n tipe appèlhof van die appèlhof geword het.

Zondo is dus ongetwyfeld Seriti se senior in regspraak, en die lastigheid van protokol bestaan nie.

En sonder ’n objektiewer beligting van die wapenskandaal, sal Zondo nie behoorlike insae kry in waar die vrybuit-gees van staatskaping vandaan kom nie.  In die ruk wat die Zondo-kommissie met sy sittings begin het, boesem Zondo se kommissie baie vertroue in. Dit word boonop gerugsteun deur ander kommissies wat ook ondersoek doen na bepaalde aspekte van die staatskaping, en getuienis word boonop soms gekruiskontroleer.

Dis ’n heel ander saak as die Seriti-kommissie, toe Seriti sy eie geloofwaardigheid reeds vooraf vir ’n ses geslaan het, en sy mede-voorsitter, regter Francis Legodi, asook die getuienisleier en verskeie ander personeellede uit protes teen die duidelike voorafblyke van ’n voorgenome toesmeerdery bedank het.

Crawford-Brown se aansoek is op regstegniese gronde afgekeur, en geen kostebevel is gemaak nie. Die hof het bevind dit is nie in belang van regspraak dat die petisie om die hof regstreeks te nader slaag nie.

Crawford-Brown het aangedui dat hy die saak internasionaal deur ander jurisdiksies gaan voortsit in ’n proses wat as “a luta continua” bekend staan. Dit is streng gesproke nie ’n regsterm nie, en ook nie Latyn nie, maar Portugees. Dit is ’n korruptering van ’n Frelimo-slagspreuk wat beteken: “Die stryd gaan voort”.

Oudpres. Jacob Zuma in die hof. Foto: ANA

Later die jaar het twee nie-regeringsorganisasies, die Right2Know-veldtog en Corruption Watch, aangedui dat hulle die hof gaan nader om die Seriti-kommissie se verslag ter syde gestel te kry. Dit is destyds hier op Maroela Media onder die loep geneem.

In Oktober 2018 het die organisasies hul aansoek by die hooggeregshof ingedien. MSN News motiveer soos volg: “The lobby groups are alleging that the commission lied to the public, failed to access information abroad and failed to investigate new allegations which have come to light.”

Dit is moeilik om te bepaal wat die eerste prys sal wees – dat die Seriti-kommissie se verslag ter syde gestel (en oorgedoen word), of dat die Zono-kommissie die magtiging kry om sy net wyer te span.

Wat seker is, is dat enige van die twee opsies deur die regering in alle moontlike loopgrawe tot die bitter einde beveg gaan word. Dit lyk of daar net te veel ANC-lede en aanhangers is wat hulle nou in die Ramaphosa-kamp bevind, wat ook op ’n manier by die wapentransaksie betrokke was. Hierdie mense word klaarblyklik ook nadoods verbete beskerm.

Nog ’n goeie voorbeeld is dat een van Ramaphosa se ondersteuners minister Lindiwe Sisulu is. Sy was een van die voorbokke wat die optog van ondersteuning gelei het toe Yengeni hom by die tronk moes gaan aanmeld het.

Zondo lyk egter ongesteurd in die soort getuienis wat aangebied word ongeag wie geïmpliseer word. Vytjie Mentor het wel gesweet, maar dis te verstane teen die agtergrond van haar bontpratery.

Intussen moet ons weet: Daar is geen alternatief as vasbyt nie. A luta continua!


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marco polo ·

“a luta continua” klink eerder vir my soos “the looting continues”

koos1 ·

Die wapen skandaal was die begin van die groot korupsie. Ek is seker dis in opdrag van hoë persone gedoen om pensioen vir die ampsdraers, wat net 1 termyn kon dien, te voorsien. Ironies genoeg is dit Zuma se naam wat orals opduik. Hier is nie net meer ‘n rokie nie, Letuli huis staan in ligte laaie!!!!

Johan ·

Wat help die kommisies as niemand al in die tronk sit nie?Dis n mors van belansting betalers se geld.Een van die dae is daar n kommisies van ondersoek oor die kommisies van ondersoek…..hoe dom is die mense wat weer vir die ANC regering gaan stem….

ANNA ·

Ons ZONDO hier en ZINDA dáár…
Van kommissie tot komitee…
WAT heerlik belastinggeld opeet…
WAARMEE niks gebeur nie!!!?

Fonnie ·

Ja hulle DNA is deurtrek met korupsie. kan nie lewe sonder korrupsie moord en doodslag nie.

Jerry ·

ANC Kommissies, die Zondo kommissie ingesluit gaan mense wat dink dat geregtigheid daaruit sal voortvloei, erg teleurstel. Die kommissies het vertragingstaktiek ten doel, eerstens om geimpliseerdes se regspanne tyd te gee om teenargumente uit te dink, bewyse wat nog gesoek word te vernietig en getuies vir geimpliseerdes se getuienisse te fabriseer. Slegs die klein vissies sal gearresteer en vervolg word. Tweedens het kommissies dit ten doel om die ANC se beeld te poets voor die verkiesing en vir buitelandse investering. Om te wil he dat die Zondo kommissie die wapentransaksie moet herondersoek om met n ander bevinding vorendag te kom wat tot suksesvolle vervolging sal lei, is blote wensdenkery. As mense nou nog deur die ANC mislei word om te dink dat CR deur n ander ANC gelei word as die ANC wat Zuma gelei het, dan is ek bevrees dat groot ontnugtering nog voorle. Met Zuma het die ANC die radikale mombakkies opgesit om met plundering die klimaat te skep vir verandering. Met CR het die ANC die gematigde mombakkies opgesit om met buitelandse investering en binnelandse beleggings verandering te implimenteer. Die ANC kan nie vertrou word nie, hulle kommissies is geskoei op misleiding en is n klug! Die ANC se visie van n sosialistiese staat vir die revolusioneres, uitgesluit die teenrevolusioneres, het nie verander nie!

Johan H. ·

Jerry,ek wens dit wat jy se kan almal lees,,dis die waarste waar nog uit jou rekenaartjie uit. Dus alles wensdenkery om te dik n groot vis gaan uit die pitsweer gelig word. Die anc treason speel vir tyd!!!!

JohanL ·

Jerry – dankie vir die inset waarmee ek ten volle saamstem. Sal graag jou opinie wil hoor oor die “ANC se visie vir n sosialistiese staat”.

Sover my beperkte kennis strek, het die ANC toe hy gestig is (in 1912 as ek reg onthou) nie sulke doelstellings gehad nie. Gegrond daarop is my vraag dus, wanneer het die ANC “geswaai” na die sosialistiese denkrigting? In hoe ‘n mate het die SAKP (en daarmee die Kommuniste van Rusland en China) ‘n invloed gehad op die sosialistiese idee? Was die ANC se stryd “al die jare” (na hulle geswaai was) dus om sosialistiese staat in SA te plaas? Hoe korreleeer dit dan met die Rooi Gevaar wat ons na moes luister as jongmense? Was die sg Rooi Gevaar nie dus wel wesenlik ‘n “issue” nie?

Klomp opmerkings/vrae en hoor graag jou denkrigting.

Anoniem ·

Ek wens Gerrie Nel kon die geldigheid van Shabir Sheik se mediese parool teenstaan en hom terugstuur tronk toe.

Maljan ·

My beskeie mening … Sjeik was n pop. Hoekom moet hy tronk toe terwyl die poppemeester losloop? Elke keer dat jy of ek in elk rybewys gaan hernieu, glimlag Sheik, want daatuit kry hy ruim sy deel.

Akademi Buktu ·

Seriti moet ook ondersoek word. Hier is moontlik veel meer as onbevoegdheid ter sprake.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.